T.T. Cloete
In haar artikel ‘Intertekstualiteit: van skipbou na Monroe na Warhol’ gee Carina van der Walt ‘n oorsig oor die verskillende maniere waarop dié enigmatiese figuur in die Afrikaanse poësie gestalte aangeneem het: van die sekssimbool tot lykskouing. Sy verwys onder meer na die volgende gedigte (ek kon nie altyd die presiese foto opspoor nie, maar hoop dié wat ek hier gebruik, is ‘n goeie wegspringplek):
Marilyn Monroe foto in blou
T.T. Cloete
een jonge dame draagt haar lippen op haar mond – Pierre Kemp
volskaamte skrylings sit Marilyn Monroe
in 'n volstrek
leë blou
ruim vertrek
die spanbroek van plooilose blou materiaal
is 'n vliesdun vel
wat alles wat binne is kaal
na buite egalig sag gestrek nerfeus vertel
asof dit by alles pas
– die kop hang geluidloos effens laggend agteroor –
hou sy 'n leë glas in die linkerhand vas
wie luister kan goed in die volstrekte stilte hoor
hoe skaamtegroot die lippige mond
oop lag pront
pruilend nat rooi rond
gewelf soos 'n gekoesterde soet kriewelige wond
vir die nakende detail in die bygesprek
– met 'n omweg kan bysake die aandag trek
op hoofsake – is slegs die een skoen uitgetrek
elke besonderheid is op sy plek
deur die volstrekte stilte heen hoor groot
praat die deurgefluisterde skoot
oop en bloot
nakont vlesig groot
wat gloei onder die vals-egte dubbele huid
juig deur alle lippe en wange uit
dat dit tuit dat dit tuit
uitjubelend gierig uitnodigend uit
vrouwees Simone de Beauvoir
is deur huid en deur haar
oop en openbaar
gekleed sigbaar
oog en oor laat hulle nie bedrieg nie
huid en haar weet nie van lieg nie
[‘Marilyn Monroe foto in blou' deur T.T. Cloete in Angelliera (1980).]
*
Monroe: foto in rou
Joan Hambidge
Beskeie waag ek
vanaand 'n gedig
oor jou Nee eintlik vir jou
ek wou begin:
die argetipiese seksgodin
wat ander voor en na
leepoog weg laat kyk
besluit: té dramaties
gewigtig lomp
ensovoort
my onvermoë word nou
net 'n oomblik lank
opgehef
wanneer ek met 'n skok
Bert Stern se L.A.-foto
sien
dat toeval hier net toevallig
was, glo ek nie
Marilyn Monroe in rou!
net die skouers wys effe
lyf (verder niks)
soos ons gewoond was
jou kop skalks weg áfgedraai
jou hand voor jou mond
asof jy stil waarsku: ek word nie meer gebruik
jou linkeroog bot toe
selfs die wimpers glimmend swart
dan: die immer wit gebleikte hare
O altyd witter ja witter as sneeu
begin swart uitskif
in jou sagte swanenek
hiervolgens moes jy wel weet
(kyk selfs die moesie wit)
of was jy reeds tot-die-einde-toe
moeg?
die dood is net 'n droom
[‘Marilyn Monroe: foto in rou' deur Joan Hambidge in Hartskrif (1985)‘.]
*
mooi marilyn monroe foto in rooi
T.T. Cloete
Nè pur le creature che son fore
d’ intelligenza, quest’arco saetta,
ma quelle c’hanno intelletto ed amore.
Par. I 118-120
Ne le sue braccia mi parea vedere una
persona dormire nuda, salvo che
involta mi parea in uno drappo san-
guigno leggeramente...
Vita nuova
sy lê diagonaal
op 'n plooi
op plooi fluweelrooi
kleed somaties geniaal
haar huid kyk
het van rosig tot sag
blosend tot teer gesproet soos die vag
van 'n abessynse kat diep tyk
sy is gemoduleerde lug
wynrooi sag golwend asof
van diep binne uitgepof
holrug asof sy elasties dans of ekstaties vlug
die lewende omtrek
tref dié nofret
met haar silhoeët
fundamenteel perfek
'n fenomeen
liefderyk
deur 'n lenige Volmaakte Vinger gestryk
skrander van skedel tot skeen
[‘mooi marilyn monroe foto in rooi' deur T.T. Cloete in Idiolek (1986).]
*
Marilyn Monroe foto in grou
Tom Gouws
op 'n smal tafel lê sy oop en ongetooi
en wag op die patoloog se flitsende lem, wie
sou kon raai dat dit marilyn m dié is? nie
eens die ademlose minnaars wat haar mooi
en warm liggaam gestreel het, sal haar só
herken nie. uit hierdie somber grou
foto sal selfs jfk met moeite probeer onthou
dat hy haar eens geken het. so is dit glo
met dood die geval: dit is die sagte bang asem
wat jy bemin, nie die naakte feite van die lyf
nie, die gespitste toon, die soepel been verdryf
die hartstog hier, die oop wond sluit sy himen
dig. gestol in wit en swart is die kop sonder effek
agteroor gegooi, die hare ongekartel teruggevee.
sonder die masker van maskara het sy ongeklee
met net 'n ligte jassie van parfuum haarself onbedek
aan almal wat so begerig wou sien, volkome oorgegee.
uit die toe mond klink geen kloklaggies of gedempte gille,
die oë bly gesluit. geen bykomstigheid of frille
hier en nou, just marilyn, op haar naakte beste onverleë.
vir dié huiwerende oomblikke so binne bereik
en tog so los van kyk en ruik en van gebruik.
[‘marilyn monroe foto in grou' deur Tom Gouws in Troglodiet (1995).]
*
Marilyn Monroe: foto in goud
Lina Spies
Die kleur van heuning en van hars,
van seesand by 'n somersee:
kartels ougoudse rooi streel
à la Botticelli se Venus
die slank nek.
Die badjas gee niks bloot
wat dit bedek:
daar is tinte branderblou
waar die skuimwit handdoekstof
oor hals en skouers vou
en waar dit wegskuif is onopsigtelik
die regterbors toevallig effens oop,
'n paar los hare vee tot teen
die lagplooitjies om die linkeroog
met sy helder, onbevange blik
onder die breë wenkbrouboog.
Die hande palms op mekaar
is soos van 'n kind wat inslaap
die kenmerkende gebaar
of soos vir handeklap gelig,
die glimlag is skaars kyker- en kameragerig:
“Dit is maar skyn dat ek poseer:
mooi is ek – lewensbly en eg.”
Oor jou, Marilyn, het ek nooit geswymel:
as tiener jou nie in my sterboeke geplak,
maar nou meteens deur dié een foto geraak,
wil ek vir die duur van die gedig
jou ook as ikoon vereer:
laat digters vir wie jy muse en kultus is
– wat met die dood flankeer,
met slaappille speel en met die see –
besef: voor die blond gebleikte prikkelpop
– groot geverfde mond, beauty spot, pendun wenkbroue –
was jy 'n goue meisie rossig in die son.
[‘Marilyn Monroe: foto in goud' deur Lina Spies in Die skaduwee van die son (1998).]
*
Maar sy sou ook kon kyk na Lonely lady’ deur Lucas Malan uit Tydspoor (1985):
Lonely lady
Lucas Malan
Kyk net hoe inskiklik bied
sy haar aanraakbaarheid,
brutaal en mensig deur
'n feromone gloed omring:
so oop en dy-ontbloot,
die oordaad van die bors
frontaal geskink, terwyl
die labiale vrug net proe
aan 'n verbode woord:
wat vol is, is gesond
en als wat rond is,
vul die mond – die wit
van 'n gewapende gebit
haar enigste verweer,
want juis nie net die mond
maak haar die prooi
van soogdier MARILYN:
dis
Norma Jean
wat bleek en bang
pleit om haar wond
[Lucas Malan. 1985. Tydspoor. Kaapstad: Tafelberg.]
*
‘Mej. Monroe in die oggend’ deur Peter Louw in Tantalus (1989). Hier is dit interessant hoe Peter Louw se vers in gesprek tree met N.P. van Wyk Louw se ‘Aprilis’ & ‘Wordende naakt’ in Tristia (1962): Mej. Monroe in die oggend
Peter Louw
Marilyn eet 'n melkontbyt
en druk die laken stywer vas,
maar skuins-af styg vanuit 'n plooi
'n breë dybeen, sak 'n kuit.
Marilyn kom uit die kussings
wat rondom opgestapel was;
sy gly verby die leë skinkbord:
sy sit 'n voet op die tapyt.
[Peter Louw. 1989. Tantalus. Kaapstad: Tafelberg.]
*
My vertaling van Ernesto Cardenal se ‘Gebed vir Marilyn Monroe’ opgeneem in Nagsweet (1991) beweeg weg van Monroe se vleeslikheid & word ‘n aanklag teen ons almal se aandadigheid aan haar dood:
Gebed vir Marilyn Monroe
Ernesto Cardenal
Heer, ontvang hierdie meisie
dwarsdeur die wêreld bekend as Marilyn Monroe
hoewel dit nie haar regte naam was nie
(U ken haar regte naam)
wat nou in u teenwoordigheid ingaan
sonder grimering,
sonder haar agent,
sonder haar foto’s of om iets te onderteken,
eensaam soos ‘n ruimtereisiger
voor die allesomvattende swart heelal.
In ‘n jongmeisiedroom was sy kaal in ‘n kerk
(volgens Time)
voor ‘n knielende menigte,
voorkoppe teen die vloer,
en sy moes mooi trap om hulle te vermy.
U ken ons drome beter as enige psigiater.
Heer, in hierdie wêreld
ewe veel besmet deur radioaktiwiteit as sonde,
sal U sekerlik nie ‘n winkelmeisie
haar sterredroom verkwalik nie.
En haar droom het werklikheid geword
(Technicolor-werklikheid).
Al wat sy gedoen het,
was om die teks te volg wat ons haar gegee het,
dié van ons eie lewens,
maar dit was betekenisloos.
Vergewe haar, Heer, en so ook ons almal
vir hierdie óns 20th-century
en die groteske Superproduksie
waaraan ons almal deel gehad het.
Die ster is lankal dood
maar sy flikker nog in donker teaters.
Sy was die rot wat tol in die filmspoel.
Sy was honger vir liefde
en ons het kalmeerpille voorgeskryf.
Sy het verlang na geselskap
en ons het psigoanalise aanbeveel.
Haar lewe was onwerklik soos ‘n droom
wat ‘n sielkundige lees en liasseer.
Haar romanses was tonele met toe oë
onder skietligte uitgespeel,
maar die skietligte is uitgedoof
en die twee mure van die stel is afgeslaan
terwyl die Regisseur wegstap notaboek in die hand,
die toneel veilig vasgelê.
Of soos ‘n rit op ‘n seiljag,
‘n soen in Singapoer,
‘n dans in Rio,
‘n onthaal in die herehuis
van die Hertog en Hertogin van Windsor
herroep in die treurige opgesmuktheid van ‘n goedkoop kamer.
Die film het geëindig sonder die laaste soen.
Hulle het haar dood gekry op die bed,
hand op die telefoon,
en die speurders het geweet wie sy wou bel.
Dit was asof
iemand die enigste vriendelike stem gebel het
net om ‘n bandmasjien “Verkeerde nommer” te hoor sê;
of soos iemand deur rampokkers beseer
wat ‘n hand uitsteek na ‘n gediskonnekteerde foon.
Heer, wie ook al
dit mag wees wat sy wou bel
en nie het nie (en dalk was dit niemand nie
of lemand nie gelys in die Los Angeles-gids nie),
Here, antwoord daardie foon.
[Johann de Lange. 1991. Nagsweet. Pretoria: Taurus.]
*
Sedert die skryf van hierdie blog het ek sélf 'n nuwe gedig oor Monroe geskryf wat opgeneem is in die keur uit my poësie wat in Julie onder die titel Judasoog by H&R verskyn. Ter wille van volledigheid voeg ek dit by bostaande gedigte. Die vers fokus op Monroe se 'off camera' bestaan, & van sg. private 'outtakes', foto's geneem weg van filmstelle.
Marilyn Monroe: foto buite beeld
’n optelgedig
Marilyn Monroe ongestorwe
silwerdoek-legende
word bloot- & vrygestel
in Berlyn
se sjiek Einstein Kaffee,
gekiek deur vriend Sam Shaw.
Dié foto’s getuig glo
van gelukkiger tye:
hier is sy teen sononder
in ’n roeiboot in Central Park,
hier eet sy ’n hot dog
saam met Arthur Miller.
Geen spoor van depressie,
van selfmoordpogings
& huwelike wat misluk.
Die fokus val intiem
op die Marilyn buite beeld:
buiteskote op filmstelle,
’n tyd toe sy “sereen” voorgekom het
aldus haar uitgewer. ’n Besonder
gelukkige tyd, & die begin
van huwelik nommer 3.
Die foto’s vermy die cliché
van die uitgebrande ster,
hou by die beeld van ’n vreugde-
volle & selfversekerde vrou,
haar bekendste foto,
dié een uit The Seven Year Itch
waar sy haar wit rok vasdruk
as dit boontoe klok in ’n skielike sug
warm lug uit die moltrein se ventilasieskag.
“Films is my loopbaan,”
pruil sy, “maar Arthur is my lewe.”
Oor die totale afwesigheid
van teks sê die uitgewer: “Alles
oor Marilyn is reeds geskryf.
Hierdie foto’s vertel
die liefdesgeskiedenis
tussen haar & ’n eks,
die intellektueel. Die res
het weggeval. Bestellings loop
flink. Dank God ons het
oorgenoeg papier gekoop.”
Bronne
T.T. Cloete. 1980. Angelliera. Kaapstad: Tafelberg.
T.T. Cloete. 1986. Idiolek. Kaapstad: Tafelberg.
Johann de Lange. 1991. Nagsweet. Pretoria: Taurus.
Johann de Lange. 2010. Judasoog. Kaapstad: Human & Rousseau.
Tom Gouws. 1995. Troglodiet. Kaapstad: Human & Rousseau.
Joan Hambidge. 1985 Hartskrif. Kaapstad: Human & Rousseau.
Peter Louw. 1989. Tantalus. Kaapstad: Tafelberg.
Lucas Malan. 1985. Tydspoor. Kaapstad: Tafelberg.
Lina Spies. 1998. Die skaduwee van die son. Kaapstad: Human & Rousseau.
Bert Stern; Annie Gottlieb. 1992. Marilyn Monroe: The Complete Last Sitting. Munich: Schirmer Art Books.
Carina van der Walt. 2007. ‘Intertekstualiteit: van skipbou na Monroe na Warhol’. Afrikaans in Europa, November 2007.
(C) Johann de Lange, 2010