Sunday, March 28, 2010

Uit hierdie Valkenburg



Ingrid Jonker, foto in rooi

Pres. Nelson Mandela het tydens sy eerste opening van die Parlement op 24 Mei 1994 ’n gedig van Ingrid Jonker aangehaal, & daarmee opnuut die aandag op dié enigmatiese digter & persoonlikheid gevestig. Sy was “’n Afrikanervrou wat ’n spesifieke ervaring transendeer het & ’n Suid-Afrikaner geword het, ’n Afrikaan & ’n wêreldburger”, het hy gesê. “Sy was beide digter & Suid-Afrikaner. Sy was beide Afrikaner & Afrikaan. Sy was beide kunstenaar & méns. Te midde van wanhoop het sy hoop gevier. Gekonfronteer met die dood, het sy die skoonheid van die lewe bevestig.”

Wie wás Ingrid Jonker, die Afrikaanse digter & Afrikanerdogter wat pres. Nelson Mandela só ontroer het met haar gedig “Die kind”? ’n Gedig wat kultusstatus in Afrikaans & ook in die buiteland geniet.

In die vroeë oggendure van 19 Julie 1965, ’n jaar ná haar terugkeer uit Europa, depressief as gevolg van die einde van verhoudings met Jack Cope & André Brink, sonder geld & met haar roem alreeds aan die verdof, het Ingrid Jonker in Drieankerbaai verdrink. Hoewel die romantiese weergawe dit wil hê dat sy die see ingestap het, het sy waarskynlik eerder onder die invloed van drank & pille op die sand aan die slaap geraak “in wier en gras”, & is later deur die gety weggedra & weer teruggegee. Dit is die deel van haar verhaal waarvan die meeste mense iets weet. Maar daar is veel meer.

Sy is in die lente van 1933, op 19 September in Douglas, ’n dorpie naby Kimberley, gebore. Haar pa, Abraham Jonker, was ’n jong skrywer & ambisieuse politikus, & haar ma, Beatrice Cilliers, ’n lid van ’n gesiene Hugenotefamilie. Die gesin het verbrokkel, & op driejarige ouderdom het Ingrid saam met haar ma & ouer suster, Anna, na Durbanville, buite Kaapstad, verhuis waar hulle by haar oupa & ouma ingewoon het. Ná haar oupa se dood het hulle in armoede geleef, onderhou slegs deur haar ouma se ouderdomspensioen & ’n karige toelaag van haar pa wat intussen weer getroud is.

Op Somerset-Wes, Strand & Gordonsbaai het hulle ’n byna nomadiese bestaan gevoer, geteister deur armoede & ontbering. Ná die dood van hul ma & ouma het dié twee in ’n kinderhuis beland, & later by hulle pa ingewoon. Ingrid se ouma was ’n sterk, vormende invloed in haar lewe. Sy was ’n afstammeling van ’n ou Hugenote familie, hardkoppig & deugdelik, maar met min trek vir hulle stugge godsdiens. Sy het haar meer aangetrokke tot die eenvoudige, openhartige kleurlinggemeenskap gevoel.

Elke Sondag het Ingrid haar ouma deur die sand & struike rondom Valsbaai vergesel wanneer sy gaan preek & Sondagskool hou. Tydens dié informele dienste is Ingrid se herskrywings van die hallelujaliedere voorgelees & gesing. Haar eerste gedigte het reeds op sesjarige ouderdom in skoolblaaie & later Die Jongspan verskyn. As skooldogter aan die Wynbergse Hoër Meisieskool, ’n skool met Engels as voertaal, het die jong Ingrid Jonker steeds gedigte geskryf. Sy het later onder die invloed van die gedigte van N.P. van Wyk Louw & D.J. Opperman gekom, & op sestienjarige ouderdom het sy haar eerste manuskrip, getiteld Na die somer, aan ’n uitgewer voorgelê. Hoewel dit afgekeur is, het die verse die aandag van die keurder, D.J. Opperman, getrek & in die volgende jare word hy ’n soort mentor-figuur wat haar aanmoedig & help.

Ses jaar later, in 1956, het haar debuut, Ontvlugting verskyn, ’n dun bundel van 25 verse wat nie veel aandag getrek het nie, hoewel skrywers soos Jan Rabie & Uys Krige onmiddellik haar potensiaal raakgesien het.


Ingrid & Simone

Sy is in 1957 met die digter Pieter Venter getroud & die paartjie het Johannesburg toe verhuis. Aan die einde van daardie jaar is haar enigste kind gebore, ’n dogter wat sy Simone gedoop het.Die huwelik het na drie jaar verbrokkel & Ingrid het met Simone alleen teruggetrek na Kaapstad.

In daardie tyd het sy verhoudings gehad met beide Jack Cope & André Brink, & een van hierdie verhoudings het in ’n swangerskap & uiteindelik aborsie geëindig. Die stres van die aborsie gekoppel met die konflik met haar pa & vrees dat sy straks dieselfde geestesongesteldheid as haar ma kon ontwikkel, het ongetwyfeld daartoe bygedra dat sy haarself in 1961 by Valkenburg ingeboek het, dieselfde inrigting waar haar ma jare vantevore oorlede is.

Haar tweede bundel, Rook en oker, verskyn in 1963 te midde van reaksies wat gewissel het van vyandigheid tot stilswye. Die poëtiese krag & oorspronklikheid van die gedigte kon egter nie geïgnoreer word nie. Dis ’n intens erotiese bundel waarin, volgens John Kannemeyer, “gesoek word na ’n verlore geliefde, in so ’n mate dat die verhouding tussen die ek en die afwesige jy tot enigste werklikheid verhef en die omringende wêreld en mense tot illusie gereduseer word”.

In 1964 word Rook en oker bekroon met die Afrikaanse Pers-Boekhandel prys, & Ingrid het besluit om die prysgeld van £1000 tesame met ’n toelaag van Anglo American Corporation te gebruik om oorsee te gaan. Sy vertrek op die Union Castle na London met die bedoeling om ’n tyd lank daar te bly. Maar Jack beëindig kort daarna sy verhouding met haar, per brief, & Ingrid se fragiele gemoed het heen & weer tussen uiterstes beweeg. Vandag sou sy straks as bipolêr gediagnoseer & behandel kon word, maar in die Sestigerjare was daar nie vir haar uitkoms nie.

Ook die reis na Parys & Barcelona in die geselskap van André Brink het nie verloop soos sy gehoop het nie, & hy het haar meegedeel dat hy besluit het om nié sy vrou vir haar te verlaat nie. Ingrid het in ’n diep depressie verval & is uiteindelik deur André Brink na ’n Paryse hospitaal geneem.

Ná haar terugkeer het sy aan ’n vriend geskryf dat sy uitgeskryf is & nie beter as Rook en oker kan doen nie. Maar die gedigte wat sy geskryf het in die periode tussen haar terugkeer & haar dood ’n jaar later is ongetwyfeld van haar beste ooit, gedigte wat getuig van ’n buitengewone taalaanvoeling, tegniese vaardigheid, metaforiese vermoë & ’n onmiskenbare eie stempel.


Die Sharpeville-slagting

’n Koerantberig oor ’n baba wat in sy ma se arms deur die kop geskiet is tydens die onluste van 1960, het ’n geweldige indruk op die gemoed van Ingrid Jonker gemaak. Sy sê hieroor in ’n onderhoud: “I saw the mother as every mother in the world. I saw her as myself. I saw Simone as the baby. I could not sleep. I thought of what the child might have been had he been allowed to live. I thought what could be reached, what could be gained by death? The child wanted no part in the circumstances in which our country is grasped. He only wanted to play in the sun at Nyanga”.

Uit die persoonlike van dié insident ontstaan die universele gedig, tegelyk ’n aanklag & ’n kreet, & sekerlik een van Ingrid Jonker se bekendste gedigte: "Die kind", vertaal in meer as nege tale, onder meer Engels, Nederlands, Duits, Pools, Frans, Zoeloe & Hindi. En dit is hieruit dat pres. Mandela meer as dertig jaar later aanhaal:

Die kind wat dood geskiet is deur soldate by Nyanga

Die kind is nie dood nie
die kind lig sy vuiste teen sy moeder
wat Afrika skreeu skreeu die geur van vryheid en heide
in die lokasies van die omsingelde hart

Die kind lig sy vuiste teen sy vader
in die optog van die generasies
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van geregtigheid en bloed
in die strate van sy gewapende trots

Die kind is nie dood nie
nòg by Langa nòg by Nyanga
nòg by Orlando nòg by Sharpville
nòg by die polisiestasie in Philippi
waar hy lê met ‘n koeël deur sy kop

Die kind is die skaduwee van die soldate
op wag met gewere sarasene en knuppels
die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings
die kind loer deur die vensters van huise en in die harte van moeders
die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals
die kind wat ‘n man geword het trek deur die ganse Afrika
die kind wat ‘n reus geword het reis deur die hele wêreld

Sonder ‘n pas

Maart 1960

’n Gedig wat tegelykertyd ’n profesie was, & in vervulling gegaan het; die gestalte van die onskuldige kind groei uit tot dié van ’n reus wat “reis deur die hele wêreld”.

Hier volg vertalings in Engels, Nederlands & Duits:

The child who was shot dead by soldiers at Nyanga

The child is not dead
The child lifts his fists against his mother
Who shouts Afrika ! shouts the breath
Of freedom and the veld
In the locations of the cordoned heart

The child lifts his fists against his father
in the march of the generations
who shouts Afrika ! shout the breath
of righteousness and blood
in the streets of his embattled pride

The child is not dead
not at Langa nor at Nyanga
not at Orlando nor at Sharpeville
nor at the police station at Philippi
where he lies with a bullet through his brain

The child is the dark shadow of the soldiers
on guard with rifles Saracens and batons
the child is present at all assemblies and law-givings
the child peers through the windows of houses and into the hearts of mothers
this child who just wanted to play in the sun at Nyanga is everywhere
the child grown to a man treks through all Africa
the child grown into a giant journeys through the whole world

Without a pass

Translation from the original Afrikaans by Jack Cope

***

Het kind dat doodgeschoten is door soldaten bij Nyanga

Het kind is niet dood
het kind heft zijn vuisten naar zijn moeder
die Afrika schreeuwt de geur schreeuwt
van vrijheid en heide
in de townships van het omsingelde hart

het kind heft zijn vuisten naar zijn vader
in de optocht van de generaties
die Afrika schreeuwen de geur schreeuwen
van gerechtigheid en bloed
in de straten van zijn gewapende trots

Het kind is niet dood
noch bij Langa noch bij Nyanga
noch bij het politiebureau van Philippi
waar het ligt met een kogel door zijn hoofd

Het kind is de schaduw van de soldaten
op wacht met geweren pantserwagens en knuppels
het kind is aanwezigbij alle vergaderingen en wetgevingen
het kind loert door de vensters van huizen en in de harten van moeders
het kind dat alleen maar wilde spelen in de zon bij Nyanga is overal
het kind dat een man is geworden trekt door heel Afrika
het kind dat een reus is geworden trekt door de gehele wereld

Zonder pas

(Uit Ik herhaal je, die biografie deur Henk van Woerden, Podium Uitgewers, 2000. Die vertaling is deur Gerrit Komrij)

***

Das Kind das erschossen wurde von Soldaten in Nyanga

Das Kind ist nicht tot, nein
Das Kind hebt die Fäuste gegen deine Mutter
Die Afrika schreit, schreit der Geruch
Von Freiheit und Heide
In den Ghettos des umzingelten Herzens

Das Kind hebt die Fäusste gegen seinen Vater
In dem Zug der Generationen
Der Afrika schreit, schreit der Geruch
Von Gerechtigkeit und Blut
In den Straßen seines bewaffneten Stolzes

Das Kind ist nicht tot, nein
Weder in Langa noch in Nyanga
Noch in Orlando noch in Sharpeville
Noch auf der Polizeistation in Philippi
Wo es liegt mit einer Kugel durch den Kopf

Das ist der Schatten der Soldaten
Auf Wache mit Gewehren Sarazenenpanzern und Knüppeln
Das Kind ist da in allen Versammlungen und beim Beschluß über Gesetze
Das Kind schaut durch die Fenster der Häuser und in die Herzen der Mütter
Das Kind das jetzt in der Sonne bei Nyanga spielt ist überall
Das Kind das zum Mensch geworden ist zieht durch ganz Afrika
Das Kind das zum Riesen geworden ist reist durch die ganze Welt

Ohne Pass.

In sy opstel skryf Uys Krige: “Die kind is geen politieke, maar ’n menslike protes teen wit geweld sowel as swart geweld.” En dit is dus in ’n sekere sin nie vreemd dat pres. Mandela juis uit hierdie gedig van Ingrid aangehaal het nie: Sy was, in ’n tyd toe dit nog nie mode was nie, volledig ’n inwoner van Afrika. Sosiale onreg van enige aard was vir haar ’n persoonlike affront. In ’n artikel in Drum sê sy: “I have never been conscious of racial feelings. I have seen people simply as people. I think it has been an advantage to my development as a writer and as a human being.”

Daar word vertel dat sy eenmaal tussenbeide getree het om te keer dat ’n gekleurde passasier uit ’n bus gesit word, deur die kondukteur se arm vas te gryp. Gegrief deur haar inmenging het hy hom losgeruk & haar gevloek. Sy het al haar krag saamgebol & hom geklap. In die worsteling wat daarop gevolg het, het sy op die vloer beland & van die ander passasiers het haar opgehelp.

Haar politieke uitlatings was vir haar pa ’n groot verleentheid & het ’n verdere wig ingedryf tussen hulle. N.P. van Wyk Louw skryf na haar dood: “Ek vra my af of ek al ooit iemand ontmoet het wat só van die begin af alles teen haar gehad het, iemand wat so ’n swaar lewetjie moes deurmaak. En dan tog iemand wat só relatief vrolik binne daardie swaar omstandighede kon lewe”.

In ’n huldigingsbundel wat ná haar dood verskyn, Oggendlied, verskyn die volgende huldigingsgedig deur Wilma Stockenström, die enigste soortgelyke gedig deur Stockenström na my wete:

By die selfmoord van jong skrywers
Ter nagedagtenis van Ingrid Jonker en Nat Nakasa

Want wanneer hulle sterf
is daar nie formasievlugte nodig nie
gillende spreeus begelei hulle en die makaber meeue
hoef daar nie 'n kanonwa gesleep te word nie
gedigte dra hulle
sketse vertel klein intieme besonderhede
lank na die laaste berig oor die ontslape politikus

Maar wanneer hulle te jonk sterf
– afgeskeurde tak van 'n stralende perskeboom –
is dit 'n arm wat afgeruk word
drup die bloed op ons ontbyttafel
koes die huise, krimp die godspaleise ineen
waai 'n bitter rook oor die land uit eindelose spelonke.

Bibliography

Ontvlugting, Culemborg, Kaapstad, 1956
Rook en oker, Afrikaanse Pers, Johannesburg, 1963
Kantelson, Afrikaanse Pers, Johannesburg, 1966
'n Seun na my hart; 'n drama in een bedryf, Johannesburg, 1968, Dalro
Versamelde Werke, Perskor, Johannesburg, 1975
Collected Works, vertaal deur Jack Cope & William Plomer, Kaapstad: Human & Rousseau, 2001
Black Butterflies, vertaal deur Antjie Krog & André Brink, Kaapstad: Human & Rousseau, 2007

(C) Johann de Lange, 2010