Met die dood van Ernst van Heerden, 20 minute oor 7 op Dinsdagoggend, 30 September, het daar 'n einde gekom aan die skeppende lewe van een van Afrikaans se bekendste & mees gerespekteerde digterstemme. 'n Skeppende loopbaan wat gestrek het oor ses dekades: sedert sy debuut in 1942 met Weerlose uur, het hy onder meer 17 digbundels, 2 reisbundels, 2 outobiografiese vertellings & 7 literêr-teoretiese tekste gepubliseer.
'n Ou spreekwoord lui: As 'n ou man sterf, is dit soos 'n biblioteek wat afbrand. Dit is 'n uitspraak wat veral op Ernst van Heerden van toepassing gemaak kan word.
Ernst van Heerden is op 20 Maart 1916 op die Oos-Kaapse dorp Pearston gebore, 'n wêreld & sy mense waarna hy dikwels in sy verse teruggekeer het. Beide sy B.- & M.-grade slaag hy met lof aan die Universiteit van Stellenbosch. Daarna studeer hy vir twee jaar aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam voordat hy as gevolg van die uitbreek van die oorlog vroeër na Suid-Afrika moet terugkeer.
In 1951 kon hy met 'n uitruilbeurs van die Belgiese regering sy doktorale studie aan die Rijksuniversiteit te Gent hervat. 'n Reisbeurs in 1959 stel hom in staat om aan verskillende Amerikaanse universiteite kursusse in die moderne letterkunde te volg, & dis ook tydens hierdie studiereis dat hy bekende Amerikaanse digters soos Randall Jarrell, Theodore Roethke, Richard Wilbur & e.e. cummings ontmoet. Vanaf 1960 tot & met sy aftrede in 1981 was hy verbonde aan die Departement Afrikaans & Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand.
Hy ontvang in 1962 die Hertzogprys vir Die klop, & in 1975 die W.A. Hofmeyrprys vir Teenstrydige liedere. Amulet teen die vuur word in 1988 met beide die CNA- & die W.A. Hofmeyrprys bekroon, & in 1991 ontvang hy die Gustav Preller-prys vir sy literêr-wetenskaplike bydrae. Ernst van Heerden se gedigte is in onder meer Engels, Duits, Frans, Portugees & Italiaans vertaal, & in 1948 by die Kunsfees ten tyde van die Olimpiese spele in London word ses van sy Afrikaanse sportgedigte met 'n silwer medalje & ere-diploma bekroon. Hy was ook die ontvanger van vier eredoktorsgrade.
My eerste kennismaking met Ernst van Heerden was, soos dié van vele generasies voor & na my, deur sy digkuns. Sy gedigte “Die gewigopteller” & “Fusillade” het my as hoërskoolkind aangegryp. Hier was twee verse waarin die mens hom opgestel het teen twee onoorwinlike magte, swaartekrag & die dood, & nietemin, hoe tydelik dan ookal, triomfeer.
Dat ek hom later in my lewe sou ontmoet, & méér nog, as vriend sou kon reken, het ek nooit kon droom nie. Ek is dankbaar vir die geleentheid om te kon leer van sy menslikheid, sy vasberadenheid & sy positiewe lewensfilosofie; vir die kans om kontak te kon hê met een van die pioniers van die Afrikaanse poësie, een van die Titane van ons letterkunde. Sy passie vir die lewe & die letterkunde was tot maande voor sy dood steeds onblusbaar, & in kontras met die opvatting van die jonger generasie, was letterkunde & skryf vir hom 'n adelike bedryf, iets wat met erns & respek bedryf moes word.
Vir Ernst was die lyf reeds van die begin af nou verbonde met skryf, soos blyk uit die gedig “Vers” opgeneem in Die sewe vrese waarin die liggaam self helende gestalte gee aan 'n gedig:
Wat drup in blinde hart en nier,
gesyfer uit verborge klier:
geheime intog in die bloed
van vrees, begeerte wrang en soet
- die lus se hemel, walging hel,
in rooi, in wit kiem uitgetel; -
dit golf (brilglase vasgepaar)
langs dun doolhowe van die aar,
om traag-opstuwend uit te mond
by ruwe kerwe van die wond,
en oor die sny stol daar 'n wig:
met limf en roof 'n klein gedig.
Later sou hy besef dat skryf ook 'n vorm van geweld is, dat die digter ook moet sny aan die ervaring, dit moet onderwerp aan die “streng tug van die dink”:
Sal ek met streng tug van die dink
die snelle vreugdespel laat slink,
en deur die woord se dwinglandy
'n hele hart tot klein gedig vermink?
Hoe seer die poësie later in sy lewe fisiese & geestelike verminking sou moes heel, het hy straks nie geweet nie. Maar die siel is ouer & wyser, & party digters & sielkundiges glo dat die lewe die kuns naboots & nie andersom nie, & dat digters onbewustelik hulle lot vooruit weet. In die werk van Ingrid Jonker kan ons in retrospek tekens van haar dood aflees, so ook in die werk van die Engelse digter Sylvia Plath.
In sy omgang met vriende was dit sy fyn estetiese gees wat opgeval het, die genot wat skoonheid & die aardse hom gebring het, die versamel van mooi dinge, sy liefde vir kos & wyn, & die vertroosting wat hy uit vriendskappe geput het.
Dis veelal in die kuns dat hy troos gevind het:
Aan hierdie hart se tenger kelk
het U getik en fyn
uitdeinend sing die glas
sy melodie van pyn.
U lê 'n vinger op die rand
wat skrynend, weerloos tril,
en skielik word my hart
se fyne smartsang stil.
(Reisiger, “Musiek”)
Toe hy op 'n keer noem dat hy 'n ekstra tikmasjien soek om in sy studeerkamer te gebruik (die ander een was in die stoepkamer waar hy soms sit & skryf het), het ek hom my heel eerste tikmasjien gegee. Dié het hy laat diens, & nooit 'n geleentheid verby laat gaan om te sê hoe lekker hy daarop skryf nie. Hy was 'n lojale & bedagsame vriend.
Hy het ook groot plesier daaruit geput om my literêre kennis te toets of my met ’n verwysing te laat kopkrap. Ek sien hom nou nog in sy stoel sit, onderkant ’n pragtige stillewe van Wenning, & glunderend na my kyk & sê: “Johann, nou sê bietjie vir my uit watter gedig kom....?”
Sy kunsversameling was legendaries & hy het graag vertel oor sy kontak met die kunstenaars, waar & wanneer hy ’n betrokke kunswerk gekoop het. Daar was onder meer werke van Pierneef, Irma Stern, Maggie Laubser, Pieter Wenning, Jean Welz, te veel om op te noem. Dit was ’n wonderlike ervaring om hierdie werke tydsaam & van naderby te kon verken.
En dan was daar sy boeke. Hy is die enigste persoon wat ek geken het wat ’n volledige versameling gehad het van die Afrikaanse poësie! Menige daarvan onderteken & met inskripsies. En sy kennis van die Afrikaanse poësie was ensiklopedies. ’n Jaar of wat voor sy dood het hy vir my ’n kopie present gegee van die eerste druk van Sy kom met die sekelmaan. Hy het ook gesorg dat ek 'n volledige versameling van sy eie boeke het & dat hulle geteken is. Hy was een van daardie vriende wat, as mens gelukkig is om selfs net één op jou pad te kry, jou lewe verryk op soveel vlakke.
’n Ander herinnering wat my altyd sal bybly, was die kersete wat ek & Lucas Malan een jaar by hom deurgebring het. Maggie, sy huishulp, was ’n voorslag-kok & die lang eetkamertafel het gekreun onder die kos. Boerekos soos ek dit uit my kinderdae geken het: daar was drie groot vleisdisse, gebakte aartappels & nog meer bakke & skottels met heerlikhede. En agterna ’n skeutjie van sy 10-jaar-oud KWV brandewyn wat my ’n verskriklike hoofpyn gegee het. Ons het heerlik geëet & geklets, drie alleenlopers, & kort-kort, net as ek mooi vordering maak met my bord kos, sal hy vir Lucas sê, “Lucas, skep vir die kind nog in, wat eet hy vandag soos ’n vinkie!”
Op 'n dag kry ek 'n dikkerige koevert in die pos & skeur dit opgewonde oop: binne was 'n klompie foto’s van Ernst as student, as jongman, as gewigopteller. Wat my veral getref het, was die foto van hom as gewigopteller, met die twee massiewe bene effens uitmekaar geplant, die reguit blik waarmee hy teen die son in na die fotograaf kyk. Die “voortreflikheid en enkelvoudige strewe” van sport het vir hom sy sin vir die volmaakte, & later die poëtiese aangewakker. Vir hom het skryf ‘n plaasvervanger geword, 'n soort bevryding uit sy gestremde wêreld.
Want die verlies van eers sy linker-, & toe sy regterbeen vanweë 'n vaskulêre siekte in 1973-74, het verreikende gevolge vir sy lewe gehad. Ook vir sy poësie: met die publikasie van Tyd van verhuising in 1975 was dit duidelik dat daar 'n wending ingetree het: die verse het 'n persoonliker klank gehad, 'n meer gelouterde skoonheid. Die persoonlike tragedie het sonder twyfel sy poëtiese vermoëns gefokus, sodat hy in die laaste 8 bundels van sy beste & onvergeetlikste gedigte geskryf het. Deur sy ganse digkuns loop die besef van verganklikheid.
In die gedig “Boek” uit 'n vroeë bundel Reisiger (& met 'n toespeling op 'n vers van Yeats rondom dieselfde tema) voorsien hy reeds 'n tyd wanneer “al dié goue dae” slegs 'n herinnering sal wees, “dié vreugde net 'n ou vergeelde boek”, & dat die oopslaan van so 'n boek, die herroep van gelukkiger tye, die soeke na sin, ook 'n daad van selfontferming sal wees.
As al dié goue dae herinnering word,
dié vreugde net 'n ou vergeelde boek
wat ek al peinsend oopslaan om
'n glansende woord of sin te soek,
dan sal dit selfontfermend wees,
as skemer oor my mure daal,
om ál gereelder voor die vuurherd saans
die ou boek van die rak te haal.
Daarom dat die spreker in “Afskeid” kan sê: “Ek… weet slegs dat die aarde / kleiner en ryker met die jare word.” In die latere bundels sal hy as ingekluisde (voorheen “wanderlustige” reisiger) vir sy verse al hoe meer op herinnerings teer.
In sy vroeër bundels staan dikwels verse oor erotiese ontwaking of die meer makabere simbiose van begeerte & dood, soos die volgende twee verse getuig:
Seun in vyeboom
“Plesier my nou
en gaan pluk
die adamsvye,”
beveel Ouma
tussen rituele van seepkook,
bak-vir-die-basaar en biltong-sny;
en ek drentel
verveeld werf toe
en klouter dikbek
teen die knoestige takke op,
my mandjie leeg
en uitnodigend;
sien
die ryp, gebarste vrugte
druppeltaai
teen dofgroen blare nestel:
borsies,
dytjies,
spleetjies –
van nou die dag
se klein ontdekkingstog.
(Teenstrydige liedere, “Seun in vyeboom”)
Ontmoeting
Dié koue bors vannag soek vuur,
die vlees wat klop soek warm vlees;
bloed wil deur bloed sy las verduur,
saad wil in saad weer blomknop wees.
Die rowersnag is vasgevang
in klein sinjaal van sigaret –
die maan strak op 'n oog en wang
wat uitnooi na 'n solderbed.
Die maagdelike lyf is maer en wit,
tot bekkendrif en –draf gereed;
my walg en hunkering word pit –
ek slag die soetvleislam… en eet.
(Die klop, “Ontmoeting”)
Dit moet sekerlik staan as een van die skrynendste ironieë in ons digkuns dat die skrywer van die treffendste sportgedigte in Afrikaans (eintlik in enige taal), later sy lewe as gehalveerde mens moes slyt. In sy hande het dié soort gedig 'n miniatuur geword van die mens se stryd teen bomenslike magte, 'n fyn balans tussen weerloosheid & weerbaarheid.
Dit is in Teenstrydige liedere & Tyd van verhuising wat ons vir die eerste keer verse kry waarin Ernst op kreatiewe wyse die verlies van sy bene konfronteer:
Lêgemaak, binnegestoot, opgekatrol,
is ek
bo-vels en binnenshuids
gesteriliseer: asepties, kuis;
van kop tot toon so goed gesuiwer
met Dettol, jodium, purgasie,
mondgorrel en karbolseep –
be-X-straal, be-bloedtoets,
ge-lipogram, ge-arteriogram, ge-ander-gramme,
hokgeslaan, dronkgespuit,
onthaar, ontlas, ontwater en ontkos,
ver-skoon, ver-rein, ver-puur –
dat ek,
ontdaan van alle vuil,
retrogressief vloei
na 'n verre verlede,
terug na die moederlike waters,
na die wurmpie in sy sak –
en al die lyding,
voorbereiding,
wyding (ook toewyding),
alles net
vir die so vlotte,
saaklike, geoefende, doel-treffende
gebaar
van die snyershand
in sy kondoom-handskoen
met 'n stiletto-skerp
priemende mes
platter as 'n knipmes
kleiner as 'n eetmes
langer as 'n jagtermes
venyniger as 'n skeermes
oopklowender as 'n slagtersmes:
Anatomiese Les
se Mes.
Selfs die geliefde word in die gedig “Slaghuis” in slagtersterme beskryf:
Filet en harslag,
lende, niere,
prima kruisskyf,
soetvleis, boud:
hoe kry ek elke stuk
– deur mes en saag
en byl geskend –
weer ongeskonde
terug tot
die voormalige
wat jy, my liefling,
eenmaal was.
In Teenstrydige liedere staan dan ook van Ernst se aangrypendste & gewildste gedigte: “Aan die verhuisingsmanne”, “Algemeene handelaar”, “Vrae”, “Droom”. Ek lees “Vrae”:
Sal jy my nog liefhê,
noudat ek onvolkome is,
en die wuiwende liggaam
se fyn haaraartjies
en polsende arterieë
langsaam gestol het;
Sal jy my nog liefhê,
noudat ek verbrysel is
en ingekerker soos 'n dier
aan 'n magtelose ketting
wat net kan kerm
en ongeneeslike wonde lek;
Sal jy my nog liefhê,
noudat ek gevonnis is,
gedoem tot 'n eiland,
ontoereikend en verlate,
met die onagterhaalbaarheid
van leë horisonne;
Sal jy my nog liefhê,
noudat ek die donker man ken,
daagliks die bitter brood eet
en verskriklik weet:
die lewe is eensaam,
soos die dood.
Regdeur sy lewe het die liggaam na sy vroeëre staat van heelheid terugverlang, hetsy deur fantoombelewings, of drome of pyn. 'n Wonderwerk wat egter net in die poësie kon gebeur.
Droom
Helder herinnerde heerlikheid
van beurende
tone, knieë, dye
van destyds…
Dit was my droom vannag:
ek kyk by my verminkte dye langs,
en sienderoë
word 'n klein mirakel
onder my voltrek:
soos kruise
waaruit die wonderrose bloei,
spruit uit my stompies,
uit die afgekapte onderlyf,
gaaf en heel,
die bene roserooi.
Hy het in sy verse gestalte gegee aan die skoonheid van die liggaam & die suiwerheid van menslike aspirasies. Net 'n mens van uitsonderlike innerlike krag kon so 'n tragedie te bowe kom, & dan op so 'n manier dat mens in jou kontak met hom totaal van sy gestremdheid kon vergeet.
Ernst was iemand met wie ek my leesontdekkings kon deel. Een so 'n ‘ontdekking’ was die Amerikaanse digter Thom Gunn, vir wie ek tydens my besoek aan San Francisco in 1987 Engelse vertalings van Ernst se gedigte saamgeneem het. Gunn se gedigte oor sy sterwende & gestorwe vriende het Ernst diep geraak, in so 'n mate dat hy daarvan in sy laaste bundels gebruik het: Die titel “Come out into the cold” wat die slotreël is van Gunn se aangrypende gedig oor die dood van Christopher Isherwood, of die aanhaling uit “Memory unsettled” wat Ernst as motto voorin Die herfstelike lig gebruik het:
When near your death a friend
Asked you what he could do,
‘Remember me,’ you said.
We will remember you.
(Uit: The Man with Night Sweats, “Memory Unsettled”)
Die slotparagrawe van Die ligtende trein is terugskouend 'n goeie opsomming van Ernst se lewensfilosofie (ek haal aan):
Al sou ek in 'n “gewone” goeie fisieke toestand kon bly voortleef het, al sou ek my bene behou het, die lewe bepaal dat jy weerloser word met die toenemende jare. Jy word makliker fisiek én geestelik seergemaak, jou gelatenheidsdrumpel begin wankel, jou begrip van oorgang en betreklikheid word verskerp. Dít is die waarheid, 'n waarheid wat hom elke dag by jou aanmeld.
Nostalgie word 'n soort lewenspatroon waaruit jy poog om steeds die positiewe te haal. Jy wil gereeld iets besonders onderneem, iets wat vir jou betekenis inhou en die enkele dag sy voorraad vreugde gee – soos om na 'n simfonie van Mozart te luister, 'n vergete boek van die rak te haal, na een van Maggie Laubser se oeslandskappe te kyk, 'n dood-gewaande ou vriend op te bel.
Wat bly oor? Die liefde: g’n wonder dit staan éérste in die Bybel nie. Die Amerikaanse digter Theodore Roethke skryf êrens: “Love is not love until love’s vulnerable” – 'n insig wat 'n ondeurgrondelike wysheid bevat. Ek sal effens meer prosaïes wees en net herhaal wat soos 'n klein lewensrefrein in my geheue náklink: “Liefde is ons deernis vir mekaar”. Dis ook genoeg.”
Sy laaste twee bundels, Najaarswys & Die herfstelike lig, is beide sterk elegies, beide staan in die seisoen van afskeid. Daar was by Ernst 'n droefheid oor wat van ons land geword het, & oor sy greep op die lewe wat sienderoë begin glip het. Ten slotte, in sy “weerlose uur”, was hyself die gefusilleerde wat in sy laaste verse momente van vreugde opgeroep het, maar dan gesien in 'n herfstelike lig; wat die laaste maande & weke voor sy dood soos 'n veroordeelde daardie sekondes voor die skietbevel as 'n ewigheid ervaar het.
Maanreis
Miskien is dit ons weg na vrede
na 'n ander soort liefde
wat net in die verste blou
buitenste duisternis bestaan;
Miskien is daar êrens
tussen maankraters en droë geule
die aanskemering van 'n liefde
wat ons hier nie geken het
of kon ken nie;
Miskien is dáár ander woorde
vir jy, en ek, en ons twee,
en ek het jou nodig,
en jy is begin en einde vir my,
en ek het jou lief;
Miskien kan 'n bar en leë wêreld
dié soort liefde verdra,
en dit uitsê,
en dit wedersyds herhaal,
dit in die lugloosheid
na mekaar toe kaats,
en dit met die opgang van die aarde
in 'n nuwe straling vang.
Ek sluit af met 'n gedig wat ek begin skryf het voor Ernst se dood, maar eers maande na sy dood kon voltooi:
Ernst van Heerden (1916 - 1997)
voorlaaste besoek
Selfs net gaan
sit word
’n kragtoer:
om die bo-
lyf te hys
van rol-
na leun-
stoel,
te laat
sak, & weer
te lig
om die kussing
reg te skuif.
Ek kyk sy-
delings na
die ver-
kapte onder-
lyf rou
teen die growwe
tyk (geluk-
kig is daar-
die wond
ten minste
al geyk.)
Hy vou
’n sagte
trypkombers
oor gapende
broekspype,
die been-
stompies
& geslag.
Sy oë lag
na my op,
twee fel
regters
wat nog
so vriendelik
gesel.
Ek dink aan jou
dood, Ernst:
Gaan ons
jou eendag
drywend
in die swembad
kry, gewig-
loos in die dood
se greep?
Of dalk oop-
oog op jou
bed waar jy
vir oulaas
in verbeelde
spel
met bene
wyd-
geplant
jou swaarte-
punt
vir goed
verstel?
Verwysings
Ernst van Heerden. 1951. Die sewe vrese. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
Ernst van Heerden. 1953/1977. Reisiger. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
Ernst van Heerden. 1961. Die klop. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
Ernst van Heerden. 1972. Teenstrydige liedere. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
Ernst van Heerden. 1975. Tyd van verhuising. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
Ernst van Heerden. 1988. Die ligtende trein. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
Thom Gunn. 1992. The Man with Night Sweats. Faber & Faber.
***
Biografies & Bibliografies
Pryse en toekennings
1948: Silwermedalje by die Internasionale poësiekompetisie van die Olimpiese Spele vir Ses gedigte / Six poems
1949: SAUK Prys vir ’n gedig wat hy later publiseer as Die bevryding
1962: Hertzog Prys vir Die klop (1961)
1975: Hertzog Prys vir Teenstrydige liedere (1972)
1977: Diploma van die União Brasileira de Escritores van Manaus
1981: ’n Spesiale uitgawe van Standpunte, gewy aan Ernst van Heerden verskyn in Maart 1981.
1981: Hulsels van kristal (opstelle byeengebring deur A.J. Coetzee en gepubliseer ter herdenking van die digter se 65ste verjaarsdag)
1982: Doctor honoris causa: Universiteit van die Witwatersrand
1985: Doctor honoris causa: Rhodes Universiteit
1988: W.A. Hofmeyer Prys vir Amulet teen die vuur (1987)
1988: C.N.A. vir Amulet teen die vuur (1987)
1991: Gustav Preller Prys vir Literêre Kritiek
1991: Doctor honoris causa: Universiteit van die Oranje Vrystaat
1991: Verse vir Ernst, ’n geleentheidsbundel met gedigte in sy eer deur kollegas
1995: Doctor honoris causa: Universiteit van Stellenbosch
Poësie
1942: Weerlose uur
1946: Verklaarde nag
1951: Die sewe vrese
1952: Die bevryding (epiese gedig in drie dele)
1953/1977: Reisiger
1956: Koraal van die dood
1961: Die klop
1963: Op die mespunt (1982: nuwe uitgawe van hersiene gedigte, saamgestel deur A. P. Grové)
1966: Anderkant besit
1972: Teenstrydige liedere
1975: Tyd van verhuising
1976: Die ysterwoud (faksimilee-uitgawe ter herdenking van sy 60ste verjaarsdag, later opgeneem in Kanse op 'n wrak, 1982)
1981: Kleur van donkerte: Verse 1942-1956 (Versameling van eerste 6 bundels gepubliseer ter herdenking van sy 65ste verjaarsdag)
1985: Die swart skip
1986: The runner and the shadow (’n seleksie van verse vertaal deur Jean Branford et al)
1987: Amulet teen die vuur
1990: Kwadratuur van die sirkel
1993: Najaarswys
1996: Die herfstelike lig
Outobiografies
1966: Die aamborstige klok
1988: Die ligtende trein
Reisboeke
1961: Etikette op my koffer
1964: Wolk van die mooi weer
Literêre Kritiek
1963: Rekenskap
1963: N.P. van Wyk Louw
1969 : Die ander werklikheid
1977: Digterlike diagnose
1984: Huis van stemme
(c) Johann de Lange, 2010