Showing posts with label Human en Rousseau. Show all posts
Showing posts with label Human en Rousseau. Show all posts

Tuesday, November 22, 2016

Johan van Wyk, Drie onderdrukte verse


XLV

eers onsekerheid: ag nee man dit kan nie so wees nie

later luister jy met woede na die liegstories oor die radio
lees jy die liegstories in die koerante
word jy verbluf deur toesprake

die woede
laat jou te vinnig begin breek
aan jouself en hulle

jy breek met opregtheid
hulle arresteer jou in die middel
van ‘n lesing

hulle martel jou vir 180 dae sonder verhoor
hulle beveel jou om van die 10de verdieping te spring
van jou vriende gly in die stort en sterf
party bly naamloos

dankie dat dit op hierdie manier moet gebeur
so behou ons opregtheid
so sal ons onthou word

nie soos hulle ons bekend gemaak het nie

*

XLVI

Teen die tonnellig
vlug silhoeëte droewig
met sakke en tasse oor die treinspoor
– gedoemdes voor

‘n wit skare. Bevestigings van hulle menswees
verban verbrand, hulle is gedoem
om met minder as ‘n mens tevrede te wees
ek bevestig hulle. Met my toedoen

word die rewolusie bevorder, roep
hulle vir regte. Soos David
word ek gevang gesnoer.
Soos Marat, vermoor in badwater

met my wit vel soos melaatsheid sweer ek trou
om die gedoemdes van hulle ellende te bevry
ek verkondig ek is ‘n sosialis
ek sing dit. Afrika hulle mag my

van jou wegstuur maar my gees
sal bly ons
sal oorwin. Wees
vry van wraak

wat ‘n siekte is
soos my vel behandel
hulle wat julle beledig het goed
hulle het geen slaapplek nie.

*

XLIX

na gedigte van agostinho nato

wie maak die witman ryk?
boss boy

die boss boy slaap met luise in die kampong
sy vrou se heupe beweeg op ‘n karos
in die stroois,

hy byt moederaarde daagliks
reg in die hart
met bore wat teen sy hart stamp

sy een oom is ‘n waiter
sy ander oom ‘n plaasarbeider
sy ander oom ‘n driver
wie maak die witman ryk?

hy wonder of hy messe en vurke moet koop om mee te eet
die kinders speel met ‘n sakbal

die kinders van baie pa’s

wie maak die witman ryk?
wie gee die witman ‘n swanger maag,
‘n kar, ‘n huis, messe, vurke
en kos vir die honde en die asblik

(Uit: Deur die oog van die luiperd Johan van Wyk)


Hierdie drie verse is uit die gepubliseerde bundel weggelaat as gevolg van sensuur, & vrees vir die reperkussies wat die publikasie daarvan kon hê: op sy minste 'n verbod op die boek of, op sy ergste vervolging van die digter en/of uitgewer.

Dis moeilik om te glo dat hierdie verse die Nasionale Party bedreig het, maar die harnas van die onderdrukker is onverwags broos, die nerf dun. Dit was ‘n ander tyd, een wat die jong skrywers van vandag eers nóú, met wat om ons gebeur, begin verstaan. Dis moeilik om 'n verskil tussen die NP & die ANC te sien 22 jaar later.

Sunday, September 18, 2016

Resensie. Johann de Lange – ’n Hunkering se grein (Daniel Hugo)

18 September 2016 00:00

De Lange is een van die fynste formuleerders in die Afrikaanse digkuns, skryf Daniel Hugo.

’n Hunkering se grein deur Johann de Lange. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R175.

Die Hertzogpryswenner Johann de Lange se jongste digbundel het eintlik twee titels: ’n Hunkering se grein (’n versreël van Sheila Cussons) en Pulvis et umbra sumus (ons is stof en skaduwees).

Die laasgenoemde is ’n uitspraak van die Latynse digter Horatius (65-8 v.C.) en vorm ’n deel van Judith Mason se skildery Roman Africa, wat op die omslag van die bundel verskyn.

Hierdie twee titels, die amptelike en nieamptelike, vat die temas en toonaard van die gedigte goed saam. Die hoogtepunt van die bundel is inderdaad ’n lang nostalgiese en ontnugterde gedig, “Twee vryverse vir Joan op 60”, oor die digter se viriele verlede en valer hede in die styl van Allen Ginsberg. Die afname van seksualiteit in sy lewe noem hy “die eerste dood”. De Lange se slotsom is: “vir wié of wát, in gódsnaam skryf ek nog?”

Hierdie gedig is terselfdertyd ’n ongeëwenaarde uitbasuin van De Lange se ongeremde gaywees. Later in die bundel staan daar ’n gedig met die titel “Allen Ginsberg se boeke”, waar dié Amerikaanse gay beat poet in ’n droom aan hom verskyn. En dié ontmoeting loop ook op ’n ontnugtering uit.

In die Horatiaanse gees van die mens wat net stof en skaduwees is, skryf De Lange in memoriam-gedigte aan T.T. Cloete, prinses Diana, Marilyn Monroe, Michael Jackson, Nelson Mandela en Hennie Aucamp. Aan laasgenoemde wy hy ’n hele afdeling: “Rust-mijn-ziel: ’n hartseerwals”.

Rust-mijn-ziel is die plaas in die Oos-Kaap waar Aucamp grootgeword het, en “Die hartseerwals” een van sy bekendste kortverhale. Die beste van die Aucamp-verse is “Dagreis” wat so eindig:

Met Rust-mijn-ziel ’n soet spesmaas,
het jy ingekruip onder ’n grou karos
& met jouself gaan lepellê op langelaas.

In “Binêr” vrees die digter vir sy eie “weg-raak in die niet, / die niks-wees / ná die dood”.

Maar dit is nie ’n morbiede versameling gedigte nie. Niks wat goed verwoord is, kan ’n mens werklik bedruk maak nie, selfs al gaan dit oor die verganklikheid en dood. En Johann de Lange is een van die fynste formuleerders in die Afrikaanse digkuns. In “Standaardtoer” (na Robbeneiland) staan byvoorbeeld die volgende treffende beskrywing: “In die hawe lê die ­seiljagte vasgemeer in visgraatsteek”.

As antidoot teen enige moontlike swartgalligheid is daar ook uitbundige boutades in die bundel, soos die besonder plesierige “Die mafia-wywe”: “Hulle suip soos Kosakke / & spandeer geld soos Dominikaanse koppelaars.” Vir sy vriendin, die digter Joan Hambidge wat vanjaar 60 word, skryf hy die kwatryn “Joan on the town”:

Die dinge wat jy aanvang!
Die plekke waar jy uithang!
Vir jou jare nog steeds
die ene Sturm und Drang!

Die groot getal kwatryne in die bundel is nogal opvallend, nadat De Lange vyf jaar gelede reeds Weerlig van die ongeloof, ’n bundel wat uitsluitlik uit vierreëllige verse bestaan, die lig laat sien het. Vir my gevoel is die kwatryne in die jongste bundel oor die algemeen ’n bietjie flou – blote nawater van daardie vorige versameling.

Veel boeiender is die twee sonnette met ongewoon lang versreëls waarin hy Nelson Mandela huldig.

De Lange is ’n uitmuntende natuurdigter, en die gedigte in die eerste afdeling getuig weer van sy uitsonderlike beskrywingsvermoë. Veral “ ’n Murmurasie van spreeus”, ’n vrye sonnet, is ’n meesterstuk. In die selfportret “Die digter as ronkedoor” (’n alleenloperolifant of ongesellige man) sê De Lange: “Gestaak / kontak met medemens, selfs die natuur / vervang met hoëdefinisie-TV uur na uur”.

Maar dit maak uiteraard nie saak waardeur die digter geïnspireer word nie – die vrye natuur of digitale natuurbeelde – ­solank die vers die leser oortuig. Hierdie leser is beslis oortuig.

Die gedig oor die hoenderhaan “Blink Stefaans” is een van die min werklik geslaagde villanelles in Afrikaans.

Die villanelle is ’n vaste versvorm van 19 versreëls met ’n ingewikkelde refreinpatroon en slegs twee rymklanke. Om dit in die rymarm Afrikaans te laat slaag, verg bomenslike vernuf. “ ’n Haan soos Blink Stefaans / laat die ander hoenderhane ­eierdans”. Inderdaad.

In byna al sy bundels klink daar bewuste eggo’s van N.P. van Wyk Louw op. Ook hier in “Blink Stefaans” vertoon die parmantige haan ’n ooreenkoms met Louw se “Beeld van ’n jeug: duif en perd” waarin “die goue haan wat al sy henne trap” sy verskyning maak. By De Lange trap die blink haan met “sy geel geskubte pote elke lê-hen op die werf”.

In ’n Hunkering se grein word die Louw-interteks aangevul met verwysings na Boerneef. Soms word dié spel darem net te oordadig en selfs gedwonge, soos in die herskrywings van onderskeidelik ’n Boerneef- en Louw-gedig in “Twee blaaie geskeur uit Groot verseboek”. Dié intertekste help wel om die bundel tot ’n eenheid saam te bind. Die digter is self, soos die swermende spreeus in die openingsgedig, “ ’n energie wat dink en weef”.

Ondanks my bedenkinge oor heelwat van die kwatryne sal ek nie die volgende een, met die veelseggende titel “Weef”, wou mis nie. Gedigte in ’n bundel vorm ’n weefwerk wat aan die digter skuiling bied tussen hemel en aarde, tussen tyd en ewigheid:

Die vinkneste wieg bo die watervlak
soos druppels immer gereed om te val.
Ons drome reik deur tydlose ruimtes
terwyl ons geanker bly aan ’n wal.

(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Friday, May 9, 2014

Galeie van die dye: 'n terugreis deur die tye




Digbundels


Akwarelle van die dors
Human & Rousseau: 1982
Kunswerk: Geen
Waterwoestyn
Human & Rousseau: 1984
Kunswerk: Sheila Cussons
Snel grys fantoom
Human & Rousseau: 1986
Kunswerk: Walter Battiss
Wordende naak
Human & Rousseau: 1990
Kunswerk: Judith Mason
Nagsweet
Taurus: 1991
Kunswerk: Walter Battiss
Vleiswond
Human & Rousseau: 1993
Kunswerk: Judith Mason
Wat sag is vergaan
Human & Rousseau: 1995
Kunswerk: Nic de Jager

Die algebra van nood
Human & Rousseau: 2009
Kunswerk: Christiaan Diedericks
Judasoog - 'n keur uit die gedigte van 
Johann de Lange
Human & Rousseau: 2010
Kunswerk: Geen
Weerlig van die ongeloof
Protea Boekhuis: 2011
Kunswerk: Judith Mason

Vaarwel, my effens bevlekte held
Human & Rousseau: 2012
Kunswerk: Christiaan Diedericks
Stil punt van die aarde
Human & Rousseau: 2014
Kunswerk: Judith Mason

















Prosa: kortverhale

Vreemder as fiksie
Human & Rousseau: 1996
Kunswerk: Simon Ford
Tweede Natuur
Homerus-uitgewers: 2000
Kunswerk: Justin Bradbury

















As samesteller


Soort soek soort
Human & Rousseau en Tafelberg: 1997
Kunswerk: Simon Ford
Die dye trek die dye aan (with Antjie Krog)
Human & Rousseau: 1998
Kunswerk: Walter Battiss
Die skyn van tuiskoms: ’n keur uit die poësie 
van Lina Spies
Human & Rousseau: 2010
Kunswerk: Geen
As die woorde begin droom: ’n keur uit die poësie van Wilhelm Knobel
Bel Monte Uitgewers: 2011
Kunswerk: Wilhelm Knobel

Tuesday, March 19, 2013

Wystan & Chester: Epifanie

W.H. Auden & Chester Kallman


Epifanie*
Nor sorrow take
his endless look.

W.H. Auden, “This lunar beauty”

In Athene sterf Chester
intestaat.
Warm, gevatte, opregte,
slordige, kamp Chester
(Wystan se vriend).
Ek onthou ’n toneel (1950?)
in Venesië: drankies by Florian
– Chester, Wystan & Cecil (dink ek).
Toe, in die middel
van die gesprek, Chester
wat opstaan & ’n matroos
volg oor die plein.
Wystan het voortgegaan
asof niks gebeur
terwyl trane oor sy wange stroom.

Op die vergane plein
waar die middag
soos ’n hart leegklop
lag Liefde gul & lig
sy pragtige kop.


* Gebaseer uit 'n episode in Dorothy J. Farnan se boek Auden in love, 'n móét vir Auden liefhebbers.

[Uit: Vleiswond, 1993]

(c) Johann de Lange

Sunday, March 27, 2011

Die Hertzogprys vir poësie 2011

Omslagontwerp: Christiaan Diedericks

Die toekenning van die Hertzogprys vir poësie aan Die algebra van nood is 'n onverwagse & baie plesierige hoofstuk in die storie van 'n bundel waarvan die ontvangs groot verdeeldheid gebring het onder resensente. Van lesers was daar 'n gulhartiger ontvangs & getroue volgelinge van my werk het ruimskoots vir die "slings and arrows" vergoed met ruimhartige reaksies.

My uitgewer & goeie vriendin Alida Potgieter (wat sedert Vreemder as fiksie deur vuur geloop het vir my & heeltemal skokvas geraak het in die proses) het baklei vir 'n omslag wat baie gevrees het lesers sou vervreem. Dit bly vir my nog een van die mooiste omslae van enige van my boeke. Dit het my vir die eerste keer aan die werk van Christiaan Diedericks bekendgestel, & ek het sedertdien 'n ywerige versamelaar van sy werk geword.

Daar het 13 jaar verloop tussen die publikasie van my laaste digbundel, Wat sag is vergaan, in 1995 & Die algebra van nood in 2009. In dié dertien jaar het ek nie op my hande gesit nie. Ek het aanhou skryf maar die behoefte om te publiseer, was nie meer daar nie. Op 'n stadium het ek H&R genader oor die moontlikheid van 'n keusebundel aangesien al my bundels uit druk was & ek dikwels deur lesers & universiteite genader is rondom die beskikbaarheid & gebruik van my werk. H&R was baie geesdriftig, mits ek so 20-30 nuwe verse het om by te voeg as aansporing vir voornemende kopers.

Ek het omtrent 200 gedigte in my vriend prof. Henning Snyman se hande gestop & gevra dat hy my help om 20 gangbares te kry waaraan ek dalk kan werk sodat hulle by die keusebundel gevoeg kan word. Dit was hy wat H&R gekontak het & gesê het daar is 'n bundel iewers tussen al daardie gedigte & dat die keusebundel vir eers kan wag. Ek was maar langtand vir die idee, want die gedigte was te veel & wydlopend vir my om 'n bundel te visualiseer & dit sou beteken dat ek die lang & moeilike pad sou moes loop van kies, orden & slyp, van gestalte gee aan 'n bundel. Maar toe ek eers begin het, toe ek eers 'n seleksie gemaak & die verskillende afdelings aangelê het, het daardie ou energie ingeskop & die plesier van worstel met 'n manuskrip het oorgeneem. Ek het báie hard, maar báie lekker gewerk aan die bundel.

Henning het kort-kort 'n nuwe weergawe van die manuskrip gekry, & ook vriendin Joan het insette gelewer. Toe ek klaar was, het ek besef daar bly een stap oor: ek het sedert my debuut dikwels die manuskripte van my bundels vir André Brink ter insae gestuur omdat ek groot waardering & respek het vir hom as poësieleser. Sy reaksie op die manuskrip van Die algebra van nood het onmiddellik ál my vrese & onsekerheid besweer. In 'n e-pos aan my skryf hy:

Beste Johann

Nie ‘n “bespreking” nie! Net ‘n dankiesê. Vir wat, dink ek al meer, waarskynlik die beste is wat jy nog geskryf het. Jisses, dis mooi! Die soek na heiligheid en skoon-heid, die visenteer van skaduwees, die verkenningstogte deur die dood, die altyd bewus bly van verganklikheid, die deernis met mens-wees, die in-dig na die pit toe – tot in die kleinste verse, soos die groot “Rembrandt”, die odes en palinodes, die her-dink en óór-dink en deur-dink van vroeër digters… Dit alles is ‘n fees van herkenning, en tegelyk van nuwe kennismaking. ‘n Enkele keer was daar ‘n vragie:  iets hinderlik oorbodigs omtrent die frase “eensame isolasie”? Jou gebruik. ‘n paar keer, van “fonkel” eerder as “vonkel”?

Nie vir ‘n oomblik hoef jy bekommerd te wees oor trefsekerheid nie. Dis ‘n glansende bundel dié. En daarom, regtig, net DANKIE. (My enigste werklike jammerte is dat ek dit nie vroeër kon gesien het om in te sluit in die nuwe Verseboek wat nou by die drukker is nie. Maar uiteindelik maak dit seker ook nie saak nie: hy kan rustig en gloeiend wag op die volgende.

Daarom hoop ek jy sal vergewe dat dit nie ‘n deurdagte besinning is dié soos wat jy ongetwyfeld verdien nie. Maar die dankie kom diep uit die hart uit. Ek kan nie wag om dit in my hande te hou nie. Hoop dis binnekort!

Baie hartlike wense,

André

Dié bekroning is die eerste keer sedert 1937 met I.D. du Plessis se bekroning vir Vreemde liefde dat die Hertzogprys vir poësie aan 'n gay bundel/digter toegeken word. Ek neem die prys eweneens in ontvangs namens die generasie van Tagtig wat, met die uitsondering van Etienne van Heerden, tot dusver grootliks verwaarloos & oor die hoof gesien is.

Johann de Lange
Kaapstad, 27 Maart 2011


Lees ook:
Susan Cilliers - De Lange kry Hertzogprys
Joan Hambidge - Van rand tot kanon [Die Burger]
Joan Hambidge - Suiwerheid van intense paradoks [Beeld]
Hertzogprys-fokus Johann de Lange [LitNet]
Aankondiging Akademiepryse 2011 [Die Afrikaanse Taalraad]
Johann de Lange wen 2011 Hertzogprys vir Poësie [Versindaba]
Hertzogpryswenner vir poësie is …[De Kat]
De Lange wen Hertzogprys [Volksblad]
Akademie vereer skrywers [Die Burger]