Sunday, September 18, 2016

Resensie. Johann de Lange – ’n Hunkering se grein (Daniel Hugo)

18 September 2016 00:00

De Lange is een van die fynste formuleerders in die Afrikaanse digkuns, skryf Daniel Hugo.

’n Hunkering se grein deur Johann de Lange. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R175.

Die Hertzogpryswenner Johann de Lange se jongste digbundel het eintlik twee titels: ’n Hunkering se grein (’n versreël van Sheila Cussons) en Pulvis et umbra sumus (ons is stof en skaduwees).

Die laasgenoemde is ’n uitspraak van die Latynse digter Horatius (65-8 v.C.) en vorm ’n deel van Judith Mason se skildery Roman Africa, wat op die omslag van die bundel verskyn.

Hierdie twee titels, die amptelike en nieamptelike, vat die temas en toonaard van die gedigte goed saam. Die hoogtepunt van die bundel is inderdaad ’n lang nostalgiese en ontnugterde gedig, “Twee vryverse vir Joan op 60”, oor die digter se viriele verlede en valer hede in die styl van Allen Ginsberg. Die afname van seksualiteit in sy lewe noem hy “die eerste dood”. De Lange se slotsom is: “vir wié of wát, in gódsnaam skryf ek nog?”

Hierdie gedig is terselfdertyd ’n ongeëwenaarde uitbasuin van De Lange se ongeremde gaywees. Later in die bundel staan daar ’n gedig met die titel “Allen Ginsberg se boeke”, waar dié Amerikaanse gay beat poet in ’n droom aan hom verskyn. En dié ontmoeting loop ook op ’n ontnugtering uit.

In die Horatiaanse gees van die mens wat net stof en skaduwees is, skryf De Lange in memoriam-gedigte aan T.T. Cloete, prinses Diana, Marilyn Monroe, Michael Jackson, Nelson Mandela en Hennie Aucamp. Aan laasgenoemde wy hy ’n hele afdeling: “Rust-mijn-ziel: ’n hartseerwals”.

Rust-mijn-ziel is die plaas in die Oos-Kaap waar Aucamp grootgeword het, en “Die hartseerwals” een van sy bekendste kortverhale. Die beste van die Aucamp-verse is “Dagreis” wat so eindig:

Met Rust-mijn-ziel ’n soet spesmaas,
het jy ingekruip onder ’n grou karos
& met jouself gaan lepellê op langelaas.

In “Binêr” vrees die digter vir sy eie “weg-raak in die niet, / die niks-wees / ná die dood”.

Maar dit is nie ’n morbiede versameling gedigte nie. Niks wat goed verwoord is, kan ’n mens werklik bedruk maak nie, selfs al gaan dit oor die verganklikheid en dood. En Johann de Lange is een van die fynste formuleerders in die Afrikaanse digkuns. In “Standaardtoer” (na Robbeneiland) staan byvoorbeeld die volgende treffende beskrywing: “In die hawe lê die ­seiljagte vasgemeer in visgraatsteek”.

As antidoot teen enige moontlike swartgalligheid is daar ook uitbundige boutades in die bundel, soos die besonder plesierige “Die mafia-wywe”: “Hulle suip soos Kosakke / & spandeer geld soos Dominikaanse koppelaars.” Vir sy vriendin, die digter Joan Hambidge wat vanjaar 60 word, skryf hy die kwatryn “Joan on the town”:

Die dinge wat jy aanvang!
Die plekke waar jy uithang!
Vir jou jare nog steeds
die ene Sturm und Drang!

Die groot getal kwatryne in die bundel is nogal opvallend, nadat De Lange vyf jaar gelede reeds Weerlig van die ongeloof, ’n bundel wat uitsluitlik uit vierreëllige verse bestaan, die lig laat sien het. Vir my gevoel is die kwatryne in die jongste bundel oor die algemeen ’n bietjie flou – blote nawater van daardie vorige versameling.

Veel boeiender is die twee sonnette met ongewoon lang versreëls waarin hy Nelson Mandela huldig.

De Lange is ’n uitmuntende natuurdigter, en die gedigte in die eerste afdeling getuig weer van sy uitsonderlike beskrywingsvermoë. Veral “ ’n Murmurasie van spreeus”, ’n vrye sonnet, is ’n meesterstuk. In die selfportret “Die digter as ronkedoor” (’n alleenloperolifant of ongesellige man) sê De Lange: “Gestaak / kontak met medemens, selfs die natuur / vervang met hoëdefinisie-TV uur na uur”.

Maar dit maak uiteraard nie saak waardeur die digter geïnspireer word nie – die vrye natuur of digitale natuurbeelde – ­solank die vers die leser oortuig. Hierdie leser is beslis oortuig.

Die gedig oor die hoenderhaan “Blink Stefaans” is een van die min werklik geslaagde villanelles in Afrikaans.

Die villanelle is ’n vaste versvorm van 19 versreëls met ’n ingewikkelde refreinpatroon en slegs twee rymklanke. Om dit in die rymarm Afrikaans te laat slaag, verg bomenslike vernuf. “ ’n Haan soos Blink Stefaans / laat die ander hoenderhane ­eierdans”. Inderdaad.

In byna al sy bundels klink daar bewuste eggo’s van N.P. van Wyk Louw op. Ook hier in “Blink Stefaans” vertoon die parmantige haan ’n ooreenkoms met Louw se “Beeld van ’n jeug: duif en perd” waarin “die goue haan wat al sy henne trap” sy verskyning maak. By De Lange trap die blink haan met “sy geel geskubte pote elke lê-hen op die werf”.

In ’n Hunkering se grein word die Louw-interteks aangevul met verwysings na Boerneef. Soms word dié spel darem net te oordadig en selfs gedwonge, soos in die herskrywings van onderskeidelik ’n Boerneef- en Louw-gedig in “Twee blaaie geskeur uit Groot verseboek”. Dié intertekste help wel om die bundel tot ’n eenheid saam te bind. Die digter is self, soos die swermende spreeus in die openingsgedig, “ ’n energie wat dink en weef”.

Ondanks my bedenkinge oor heelwat van die kwatryne sal ek nie die volgende een, met die veelseggende titel “Weef”, wou mis nie. Gedigte in ’n bundel vorm ’n weefwerk wat aan die digter skuiling bied tussen hemel en aarde, tussen tyd en ewigheid:

Die vinkneste wieg bo die watervlak
soos druppels immer gereed om te val.
Ons drome reik deur tydlose ruimtes
terwyl ons geanker bly aan ’n wal.

(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)