Showing posts with label Hartskrif. Show all posts
Showing posts with label Hartskrif. Show all posts

Friday, June 3, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 23. Francis Bacon (Joan Hambidge)

Diego Velázquez - Pous Innocentius X / Francis Bacon - Pous Innocentius X

Francis Bacon

Joan Hambidge

Dit lol dit snou

nòg mens nòg dier
die lewe afgryslik meer
verklaar
die kuns geleen geskaai
Ha!

Die brein eb en vloed

’n swart gety
klam teen die kamermuur

’n Pous gil bloedstollend

stil        Velázquez lispel
woordeloos oor sý pous Innocentius
(regtig só onskuldig?) ’n beseerde
verpleegster naai uit Potemkin

Kom draai die wiel

van sukses        een, twee, drie
Hokaai!
Geluk het geen perke
 – nes angs


Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.

Die huwelik van woord & beeld. 22. David Hockney (Joan Hambidge)

David Hockney - Paul Kasmin & Jasper Conran, 1982

David Hockney

Joan Hambidge

Jy is elke digter se droom: ’n mens droom tog in beelde

jou reële asuurblou swembaddens
laat mens wonder: is dit ’n skadu
of lê ’n ander man op die bodem
dood (geskiet in haat?)

’n metafoor is so deel van my bestaan: soos spoeg in die mond

hierom gryp jy my aan
                                   want ek het spoeg in my mond nou
en spoeg in my mond word ’n metafoor
vir skryf

toevallig vanaand op ’n Sondag verveeld

sien ek Paul Kasmin en Jasper Conran (geliefdes, meen ek,
van jou?) beide moffiemooi (te goed om waar te wees)
gekiek links regs links
honderd-en-twintig keer geblokkie-
raaisel     ’n neus ’n hand ’n mond word selfs drie
maal weergegee     dit lyk amper asof jy mens wil dwing
om gom te neem     te knipper knapper
spoeg en plak om ’n ander
prent te maak     die seun links stap kompleet uit
’n Raphael-skildery                                   a, ek volg
die seun regs dan modern                    só gepolaroid
metaforiseer jy
’n ou en nuwe werklikheid


Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.

Monday, May 30, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 21. Andy Warhol (Joan Hambidge)

Andy Warhol Muurpapier, Pop Art

Andy Warhol
Joan Hambidge

Vir jou ’n vers
omdat jy “bewys” het dat die gevormde
wel ont-vorm ver-vorm verfomfaai
kan word tot iets nuuts & anders
(wat my betref: soms beters)

die tydelikw word tydloos
hier: MM se gesig vyf maal vyf keer
op die doek (’n voorspel tot die ewige duplisering?)
in 1962 (pas dood)
en Jackie Kennedy huilend laggend huilend
en dan erg bedroef (finaal) met JFK
twee keer op die agtergrond (nes ’n dubbeldoor-eier)
van lig na donker

tog: die mooiste van jou werk
die 100 ingekleurde Campbell’s tamatie-sopblikke
- wie sou nou ooit kon raai dis kúns? –
in ry op ry op ry
(verklap jy herhaling maak dit beter/relevant)

vir jou dan ’n vers: Rembrandt-in-blik.


Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.

Die huwelik van woord & beeld. 20. Jackson Pollock (Joan Hambidge)

Jackson Pollock, oftewel Jack the Dripper, in sySprings, NY ateljee.

Jack the Dripper
Joan Hambidge

   vir Sheila Cussons

Jy had die vermoë
om die lewe te ignoreer ontken
verken eerder die kontoere hoeke
van jou onderbewussyn    skiet dit oop en uit
in ’n dolle jazz op ’n groter-as-lewensgroot doek
bloedvate en senuwees van jou brein

Jy leef in hierdie doek
stap en werk (selfs jou skoene word vol verf)
drup-drup skiet dit uit    onverwags    die rustelose moedelose
Jack the Dripper
in verf wat boonop alles verder vergrys
die senustelsel snaarstyf moeg ontbloot.

In ’n Oldsmobile convertible (glo verruil vir 2 swart-en-wit Pollocks)
skiet teen muur
en dood
spat rooi teen die motorruit


Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.

Die huwelik van woord & beeld. 19. YSL (Joan Hambidge)

Jeanloup Sieff - Yves Saint Laurent, Parys, 1971



The most beautiful paradises are the ones we have lost. Yves Saint Laurent



YSL
Joan Hambidge

Yves St Laurent
sit kaal
bostukloos en bodemloos
met ’n ring aan sy vinger ’n ketting om sy arm

grootogig verskans agter
’n skilpadraambril

Ek, Yves St Laurent
eens van Dior
nou van Laurent

bespot in Algerië
deur maters en nefies
oor ek popspeel
teken en klere maak

water moes gaan haal
daar onder by die dam
kort na sonsondergang die lowergroen
ligroos rooi ingeprent

waag dit net vir ’n oomblik
om onbedek toe te kyk
hoe ander mý klere oor-
trek

skryf my naam oor en oor
Yves St Laurent
YSL





Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.


Saturday, May 28, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 18. James Dean (Joan Hambidge)

James Byron Dean (1931 - 1955)

James Dean: Foto in blou
Joan Hambidge

   Vir T.T. Cloete

Gefnuik, gefok, gefusilleer kyk
James Dean
vermoeid na regs na links
onverwags gevang op regs

die hare ruig
die oë stroef (kyk mooi: die oë dof
van oorbelade ongevraagde redelose pyn
want ek is omdat ek is omdat ek rebelleer)
die sinnelike mond verstyf stroef
(soos Hollywood dit wou hê) die lyne
druipend om die mond

dan natuurlik die regterarm spier
bonkig vas in die linkerhand ’n sigaret
(brandend – tog verwag in die hoek van die moeë mond)
ook naby die regterhand en –been
wat die Lee-Jeans verrek
bedek die wrewelige knop

en dan terstond gestol in blou
die weerloosheid van jou
skraal skelet
staan jy soos almal verveeld
want Hollywood se skietbevel
verbied vereers uitspattige, uitlokkende
uitdagende gedrag...

maar later in die silwerblou Porsche
– die drang te groot, die tyd te min –
weet jy (’n vlugsekonde te laat)
die rus is helaas
nie elders

Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.

Die huwelik van woord & beeld. 16. Marilyn Monroe (Joan Hambidge)

Marilyn Monroe (Foto: Bert Stern)

Monroe: foto in rou
Joan Hambidge

Beskeie waag ek
vanaand 'n gedig
oor jou Nee eintlik vir jou

ek wou begin:
die argetipiese seksgodin
wat ander voor en na
leepoog weg laat kyk

besluit: té dramaties
gewigtig lomp
ensovoort

my onvermoë word nou
net 'n oomblik lank
opgehef

wanneer ek met 'n skok
Bert Stern se L.A.-foto
sien

dat toeval hier net toevallig
was, glo ek nie
Marilyn Monroe in rou!

net die skouers wys effe
lyf (verder niks)
soos ons gewoond was

jou kop skalks weg áfgedraai
jou hand voor jou mond
asof jy stil waarsku: ek word nie meer gebruik

jou linkeroog bot toe
selfs die wimpers glimmend swart
dan: die immer wit gebleikte hare

O altyd witter ja witter as sneeu
begin swart uitskif
in jou sagte swanenek
hiervolgens moes jy wel weet
(kyk selfs die moesie wit)
of was jy reeds tot-die-einde-toe

moeg?
die dood is net 'n droom

Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.