Friday, June 3, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 22. David Hockney (Joan Hambidge)

David Hockney - Paul Kasmin & Jasper Conran, 1982

David Hockney

Joan Hambidge

Jy is elke digter se droom: ’n mens droom tog in beelde

jou reële asuurblou swembaddens
laat mens wonder: is dit ’n skadu
of lê ’n ander man op die bodem
dood (geskiet in haat?)

’n metafoor is so deel van my bestaan: soos spoeg in die mond

hierom gryp jy my aan
                                   want ek het spoeg in my mond nou
en spoeg in my mond word ’n metafoor
vir skryf

toevallig vanaand op ’n Sondag verveeld

sien ek Paul Kasmin en Jasper Conran (geliefdes, meen ek,
van jou?) beide moffiemooi (te goed om waar te wees)
gekiek links regs links
honderd-en-twintig keer geblokkie-
raaisel     ’n neus ’n hand ’n mond word selfs drie
maal weergegee     dit lyk amper asof jy mens wil dwing
om gom te neem     te knipper knapper
spoeg en plak om ’n ander
prent te maak     die seun links stap kompleet uit
’n Raphael-skildery                                   a, ek volg
die seun regs dan modern                    só gepolaroid
metaforiseer jy
’n ou en nuwe werklikheid


Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.