Monday, June 13, 2011

Die literêre polemiek as bestraffing?

Joan Hambidge, Karnak

Nou onlangs het ek gereageer op Danie Marais se stuk in BY oor Allen Ginsberg (“’n Roerende chaos”, 14 Mei). Inmiddels het BY die polemiek afgesluit en ek maak graag die volgende punte na aanleiding van sy brief “’n Selfaangestelde spietkop?” (11 Junie).

Hy meen o.a. dat ek nie weet van die verdeling tussen kritici sedert 1956 nie. Hy beweer ook dat ek die man eerder as die bal speel, dit terwyl hy my ‘n selfaangestelde spietkop van die boekjoernalistiek noem. Natuurlik is ons geregtig op verskille – ek was nie uit die hoogte nie. Ek het gewoon vrae gevra, soos hoekom dink hy die vers is een van selfbejammering en of hy die vertaling van “Howl” deur Johann de Lange ken?

Om ‘n polemiek as bestraffing te ervaar en ewe hooghartig te meen dat ek iets die polemiek kon leer? Vir die rekord: ek het van Bloom se lesings aan Yale bygewoon in Desember 1985.

Maar dis eerder die beelde van bestraffing en spietkop wat my interesseer en as navolger van Jacques Lacan is dit opvallend dat hy my sien as ‘n skoolmeester en dalk as ‘n falliese moeder in Lacan se terme.

En die falliese moeder staan vir lewe, dood, betekenis, identiteit – gaan lees maar self die Ėcrits. Vir Marais is die fallus steeds die groot betekenaar: daarom iets voor stok kry, nie waar nie?

Dat hy ‘n polemiek (by wyse van skrywe) sien as kastrasie?

Want anders sou hy nie briewe met vrae op so ‘n angstige wyse as ‘n aanval vertolk het nie. Hy noem reaksie “skoolmeesteragtig”: slippage uit die onbewuste; ek is immers ‘n vrou en verder moet ek Bloom voor stok kry?

Die mag van die fallus en die vrees vir kastrasie op simboliese vlak oorwoeker hierdie skrywes. Want as ‘n skrywer seker van hom / haarself is, ervaar jy ‘n reaksie of kritiese vraagteken met blydskap, omdat iemand belangstelling toon. Dis ‘n intellektuele kwessie; nie ‘n motorryer wat beboet word nie, omdat hy sonder ‘n lisensie bestuur nie. (Daar is talle voorbeelde van skrywers wat dig of resenseer sonder grade in die letterkunde).

As iemand Marais wil “beboet” vir die gebruik van kolonialisties in plaas van kolonisties of sy siening van Ginsberg, gaan dit nie ek wees nie. Ek lees die digkuns ter verryking en lesings (en voorlesings) aan Yale en Harvard het op kort navorsingsreise my lewe oneindig verruim (verrym?).

Ek is spyt ek het Ginsberg nooit ontmoet nie. Waterskeidende verse veroorsaak altyd verdeeldheid binne die kritiek net soos verse wat omstrede, on-veilige temas aanpak, nie applous by almal ontlok nie.

Die verwyt dat ek die man nie die bal speel nie, word deur my briewe weerlê. En ‘n selfaangestelde kritikus is ek nie; ek word gevra om boeke te skryf en binnekort begin ek met ‘n tweeweeklikse boekeprogram vir RSG. Genader, nié selfaangestel nie.

Endnote:

Hier is my twee volledige briewe.

1. In BY van 14 Mei skryf Danie Marais (“’n Roerende chaos”) onder andere oor die Beat-skrywers en hy meen met groot stelligheid dat Allen Ginsberg se “Howl” lyk na ‘n oorskatte, mistifiserende voetnoot tot Walt Whitman en ‘n idealiserende beskrywing van pretensieuse daggarokers wat vrot verse skryf, terwyl hulle op ander se nekke lê.

‘n Mens wonder of hy die skitterende vertaling van Johann de Lange ken én of hy Ginsberg se digkuns verstaan? Die onlangse verskyning van Letter to South Africa: Poets calling the state to order (uitgegee deur Umuzi) word daar antwoorde geskryf op Ginsberg se “America”, wat bewys hoe tersaaklik Ginsberg bly. Hierdie gedig, soos “Howl”, bly bakens in die digkuns verskuif en min van die antwoorde in die onlangs verskene bloemlesing kan kers vashou by Ginsberg.

“Howl” oorskat? Onverkwiklike selfbejammering en selfverheerliking in Ginsberg in “Howl”? ‘n Mens moet altyd ‘n skrywer binne sy konteks evalueer en begryp. Behalwe dat “Howl” nog steeds, na soveel jare, bly imponeer met die slim toespelings op William Blake en die Boeddhisme. Dit is nie net ‘n gedig oor seks en waansin nie. Daar is steeds gedugte navorsers wat werk publiseer oor Ginsberg en referate oor sy werk lewer by internasionale kongresse, soos nou onlangs in Seoul by die Internasionale Komparatisme. 

‘n Slotwoord uit Ginsberg:

"I saw the best minds of my generation destroyed by madness, starving hysterical naked".

Of:

”who passed through universities with radiant eyes hallucinating Arkansas and Blake-light tragedy among the scholars of war,
who were expelled from the academies for crazy & publishing obscene odes on the windows of the skull”

Hoeveel digters kon en kan soiets onthoubaar presteer?

2. Hierdie brief verskyn op 4 Junie in BY.

Dit is jammer dat my verskil met Danie Marais deur hom as “bestraffing” ervaar word. Om iets te publiseer, beteken tog dat reaksie mag volg? Ek verwys na die debat oor “Howl” tussen my en Marais (BY, 28 Mei: “Kry Bloom dan ook voor stok”). Die feit dat ek Bloom as ‘n letterkundige reus beskou, beteken nie dat ek met alles wat hy geskryf het, saamstem nie. Ek dink The anxiety of influence en A map of misreading is bakens, soos die studies oor Wallace Stevens en Yeats, o.a. Hy kan m.i. nie oorskat word nie - dit bewys die onlangse boeke ook.

Daar is egter ook ‘n groot aantal lesers en digters wat “Howl” as ‘n belangrike gedig ag.

‘n Mens skryf sekerlik vir gesprek. (Anders moet ‘n mens maar omstrede uitsprake vir die braaivleisvuur hou of vir die bandopnemer.) ‘n Kritikus moet weet indien jy Leonard Cohen en Valiant Swart vergelyk (soos Marais gedoen het) en meen dat laasgenoemde nes eersgenoemde gekanoniseer behoort te word, mag vraagtekens ontlok. Om egter ‘n reaksie onmiddellik gelyk te stel aan straf, beteken net een ding: onsekerheid. En om ontsteltenis aan my toe dig, is gewoon laf binne die konteks van ‘n polemiek of dit nou handel oor Wopko Jensma of Fernando Pessoa. Terloops, Danie Marais tipeer hómself as ‘n arrogante klein ketter. Vir Bloom gaan ek beslis nie voor “stok” kry nie. Dis heeltemal te Freudiaans vir my en boonop maak hy sy opmerkings binne 'n bepaalde konteks.

Professor Joan Hambidge