Showing posts with label Sylvia Plath. Show all posts
Showing posts with label Sylvia Plath. Show all posts
Sunday, October 31, 2010
Sylvia Plath. Om die briewe te verbrand
Ek het ’n vuur gemaak; ek was moeg
Van die wit vuiste van ou
Briewe en hulle doodsroggel
Toe ek dit te na aan die vullismandjie waag.
Wat het hulle geweet wat ek nie geweet het nie?
Greintjie vir greintjie het hulle oopgerol
Sande waar ’n droom van helder water
Gegryns het soos ’n ontsnappingsmotor.
Ek is nie subtiel nie
Liefde, liefde, en wel, ek was moeg
Van kartondose die kleur van sement of ’n hondetrop
Wat sy haat inhou
Bot, onder ’n bende mans in rooi baadjies,
& die oë & datums van posstempels.
Hierdie vuur mag lek en vlei, maar dit is genadeloos:
’n Glaskas
Waarbinne ek my fingers steek hoewel
Hulle smelt en druip, aangesê word
Om niks aan te raak nie.
En hier is ’n einde aan skryf,
Die rats hakies wat buig en krimp en die glimlagge, die glimlagge
En ten minste sal dit nou ’n goeie plek wees, die solder,
Ten minste sal ek nie gespan word net onder die oppervlak nie,
Stom vis
Met een tin-oog,
Wat kyk vir glinsters,
En my Noordpool ry
Tussen hierdie wens en daardie wens.
Dus steek ek na die koolstofvoëls op my huisrok.
Hulle is mooier as my lyflose uil,
Hulle vertroos my –
Styg op en vlieg, maar verblind.
Hulle sal wegfladder, swart en glinsterend, hulle sal steenkoolengele wees
Maar hulle het niks om te sê nie behalwe enigiemand.
Ek het daarvoor gesorg.
Met die ent van ’n hark
Vlok ek papiere wat asemhaal soos mense,
Ek sprei hulle uit
Tussen die geel blaarslaaie en die Duitse kopkool
Gemoeid met sy vreemde blou drome
Gemoeid met ’n fetus.
En ’n naam met swart rande
Verlep teen my voet,
Kronkelende orchis
In ’n nes van haarwortels en verveling –
Bleek oë, kunsleer-keelgeluide!
Warm reën olie my hare, blus niks.
My are gloei soos bome.
Die honde verskeur ’n vos. Dis hoe dit is
’n Rooi skeur en ’n uitroep
Wat split van sy geskeurde sak en nie stop nie
Met daardie dooie oog
En die opgestopte uitdrukkinng, maar gaan voort
Om die lug te kleur,
En die deeltjies van die wolke, die blare, die water
Vertel wat onsterflikheid is. Dit is onsterflik.
[Vertaal deur Johann de Lange]
Tuesday, October 26, 2010
Ted Hughes - Laaste brief
Ted Hughes
Wat het daardie nag gebeur? Jou laaste nag.
Dubbel, trippel blootstelling
Oor alles. Laatmiddag, Vrydag,
Die laaste keer wat ek jou lewend gesien het.
Jy’t my brief aan jou verbrand, in die asbak,
Met daardie vreemde glimlag. Het ek jou plan in die wiele gery?
Het dit my vroeër verras as wat jy beplan het?
Het ek dit dit te stiptelik, te haastig beantwoord?
’n Uur later – jy sou weg gewees het
Waar ek jou nie sou kon opspoor nie.
Ek sou weggedraai het van jou geslote rooi deur
Wat niemand sou oopmaak nie
Steeds met jou brief in my hand,
’n weerlig wat sigself nie kon aard nie.
Dit sou elektroskokterapie gewees het
Vir my.
Herhaal oor en oor, die hele naweek,
Elke keer as ek dit gelees het, of daaraan gedink het.
Dit sou my brein omvorm het, en my lewe.
Die behandeling wat jy beplan het had meer tyd nodig.
Ek kan my nie indink
Hoe ek deur daardie naweek sou gekom het nie.
Ek kan my nie indink nie. Het jy dit als beplan?
Jou nota het my te vroeg bereik – dieselfde dag,
Vrydagmiddag, gepos in die oggend.
Die heersende duiwels het dit bespoedig.
Dit was nóg ’n strooitjie van teenspoed
Getrek teen jou deur die Poskantoor
En by jou las gevoeg. Ek het vinnig gestap,
Deur die sneeublou, Februarie, Londonse skemer.
Trane van verligting toe jy die deur oopgemaak het.
’n Bondel raaisels half opgelos. Vroegryp trane
Wat gefaal het om vir my te ontsluit, gefaal het om oor te dra
Wat hulle ware betekenis was. Maar wat het jy gesê
Oor die smeulende brokke van daardie brief
So sorgvuldig vernietig, so kalm,
Wat my jou laat gaan het, en jou gelos het
Om sy asse van jou planne af te blaas – van die asbak af
Waarteen jy sou leun sodat ek kon lees
Wat die dokter se foonnommer is.
My ontsnapping
Het so ’n vervolgde ding geword
Slaaploos, hopeloos, al sy drome uitgeput,
Wat net herower wil wees, net
Wil wegval uit sy eie lugleegte.
Twee dae van niks naloop. Twee gratis dae.
Twee dae in geen kalender, maar gesteel
Van geen wêreld.
Verby realiteit, gevoel, of naam.
My liefdeslewe het dit aangegryp. My verdoofde liefdeslewe
Met sy twee waansinnige naalde,
Wat elk sy eie roos borduur, deurboor en pluk
Aan hulle tapisserie, hulle bloederige tattoeërwerk
Iewers agter my naeltjie,
Trap in daardie moeras van verheerliking,
Twee dol naalde, wat hulle steke kriskras,
En uit my senuweedrade
Hulle kleure kies, my omwerk
Binne my eie vel, en elkeen die ánder omvorm
Met hulle self-karikature,
Hulle obsessiewe in en uit. Twee vrouens
Elk met haar naald.
Daardie nag
My dellarobbia Susan. Ek het beweeg
Met die omsigtigheid
Van ’n vlam in ’n smeltdraad. My hele furie
Was ’n versaakte poging om die ou aarde
Op te blaas waar skadu’s buig oor
My verraderlike spoor van as. Ek het genael
Van en van, gesig na agter, ’n film in trurat,
Na wat? Ons het Rugbystraat toe gegaan
Waar ek en jy begin het.
Waarom is ons soontoe? Van alle plekke
Waarom is ons soontoe. Verdorwenheid
In die kuns van ons lot
Het sy verfynings vir jou verstel, vir my
En vir Susan. Solitaire
Gespeel deur die Minotaurus van daardie doolhof
Het selfs Helena ingesluit, in die grondvloerwoonstel.
Jy het haar opgemerk – ’n meisie vir ’n storie.
Jy het haar nooit ontmoet. Min het haar ooit ontmoet,
Behalwe bo-oor die ore en rasende masker
Van haar wolfhond. Jy’t nie eens ’n glimps van haar gehad nie.
Jy het net terugedeins
Toe haar kranksinnige hond sy gewig
Teen haar deur gegooi het, toe ons deur die portaal glip;
En gehoor hoe dit stik aan grenslose Duitse haat.
Daardie Sondagaand het sy haar deur effens oopgemaak
Sy paar toegelate sentimeters.
Susan het die swart oë gegroet, die ongelukkige
Oorgewig, aantreklike gesig, wat uitgeloer het
Oor die kettinkie. Die deur het toegegaan.
Ons kon hoor hoe sy haar tronkbewaarder troos
Binne haar sel, sy hok, waar, dae later,
Sy haar verwoede kapo vergas het, en haarself.
Ek en Susan het daardie nag deurgebring
In ons huweliksbed. Ek het dit nie gesien
Sedert ons daarin gelê het op ons troudag nie.
Ek het haar nie na my eie bed gevat nie.
Ek het gemeen, met jou naweek verby,
Kon jy dalk verskyn het – ’n verrassingsbesoek.
Het jy verskyn, om aan my donker venster te klop?
Dus het ek by Susan gebly, weggekruip van jou,
In ons huweliksbed – dieselfde bed waaruit sy
Binne drie jaar verwyder sou word om te sterf
In dieselfde hospitaal waar, binne twaalf ure,
Ek jou dood sou vind.
Maandagoggend
Het ek haar by die werk afgelaai, in die middestad,
En toe my kar Noord van Eustonstraat parkeer
En teruggekeer na waar my telefoon gewag het.
Wat gebeur het daardie nag, binne jou ure,
Is so onkenbaar asof dit nooit gebeur het nie.
Watter opeenstapeling van jou ganse lewe,
Soos onbewuste inspanning, soos geboorte
Wat beur deur die membraan van elke stadige sekonde
In die volgende in, het gebeur
Net asof dit nie kon gebeur nie.
Asof dit nie besig was om te gebeur nie. Hoe dikwels
Het die telefoon gelui daar in my leë kamer,
Jy wat die gelui hoor in jou gehoorstuk –
Aan beide kante die vervagende herinnering
Van ’n telefoon wat lui, in die brein
Asof alreeds dood. Ek tel
Hoeveel keer jy telefoonhokkie toe gestap het
Aan die onderkant van St George-tuin.
Jy is daar telkens as ek kyk, pas gekoers
Uit Fitzroystraat, oorgesteek
Tussen die opgehoopte walle van vuil suiker.
In jou lang swart jas,
Met jou vlegsel opgedraai agter in jou nek
Loop jy onmagtig om te beweeg, of wakker te skrik, alreeds
Niemand wat stap
Stap met die relings langs onder Primroseheuwel
Na die telefoonhokkie wat nooit bereik kan word nie.
Voor middernag. Na middernag. Weer.
Weer. Weer. En, teen dagbreek, weer.
By watter posisie van die die wysters op my polshorlosie
Het jou laaste poging,
Alreeds onherroepelik verby
Waar ek dit sou kon hoor, die kussing
Op daardie leë bed geskud? ’n Laaste keer
Ligweg aan my boeke geraak, en my dokumente?
Toe ek daar aangekom het, was my telefoon aan die slaap.
Die kussing onskuldig. My kamer het geslaap,
Alreeds gevul met die sneeubeligte oggendlig.
Ek het my kaggel aangesteek. Ek het my manuskripte uitgehaal.
En ek het begin skryf toe die telefoon
Wakkergeskrik het, in ’n babbelende paniek,
En alles onthou. Dit het in my hand tot verhaal gekom.
Toe het ’n stem soos ’n gekose wapen
Of ’n uitgemete inspuiting,
Koel sy vier woorde afgevuur
Diep in my oor: ‘Jou vrou is dood.’
Eerste bladsy van die vroegste weergawe
[Vertaal deur Johann de Lange]
Labels:
Johann de Lange,
Sylvia Plath,
Ted Hughes,
Vertaling
Thursday, April 8, 2010
Die digteres as huisvrou
Antjie Krog (Fotograaf, keke keukelaar)(http://www.kekekeukelaar.nl/)
In die poësie van Antjie Krog, Elisabeth Eybers & Sylvia Plath word daar op verskillende wyses gekyk na die rol van die digter binne die raamwerk van vrou-wees, huisvrou-wees, ma-wees, & in al drie oeuvres word familiefigure opgevorder tot dig-materiaal.
Jeannine Dobbs skryf in “‘Viciousness in the Kitchen’: Sylvia Plath's Domestic Poetry”:
For Sylvia Plath, domesticity is an ultimate concern. Like Erica Jong, Tillie Olsen, Marge Piercy and many other contemporary women writers Plath frequently explores what it means to be a woman in terms of the traditional conflict between family and career. Plath's life and her writing are filled with anxiety and despair over her refusal to choose and instead to try to have — what most males consider their birthright — both. It is apparent from her life and letters that her commitment to writing was total and unwavering and that her commitment to domesticity, especially motherhood, was ambivalent. Paradoxically, it is out of her domestic relationships and experiences, which she came to feel were stifling, even killing her that the majority of her most powerful, most successful work was created.
In Otters in bronslaai (1981) is die vrou by uitstek versorger, huisvrou, moeder, sowel as seksuele wese. In “katfobia” (Krog 1981: 16) bely sy reeds dat sy, ánders as wat tradisioneel die geval is by kunstenaars (& by implikasie by ’n bekende katliefhebber soos mededigter Lina Spies aan wie die vers opgedra is), nié ’n katliefhebber is nie. Die digteres tree hier dus by voorbaat al as onkonvensionele skrywer/kunstenaar na vore.
In die “vyf horries van a.e. samuel (geb. krog)” – & let hier op die feit dat sy in die eerste plek a.e. samuel is, getroude vrou & moeder, & dán, tussen hakies, haar dignaam (antjie) krog, digteres – word die leser baie visueel & sintuiglik gekonfronteer met die lyflikheid van a.e. samuel, trouens, in Otters in bronslaai skryf Krog die lyf van die vrou oop in geen onsekere terme nie. Die digterlike beeld word hier aangewend om te onthul, eerder as om te verhul. In stede van mooi romantiese beelde, kom die leser geil, selfs skokkende beelding teen. Enkele voorbeelde:
my onderlyf word kittelklaar lam
speeksel tjank uit my borste
my baarmoeder herinner haar ’n klewerige roos
’n stengel helder maandelikse bloed
(“visioen van die sanger”, 21)
die lessenaar is warm en bloederig soos ’n pasgeslagte karkas
uit die laaie drup deurskynende sinoviale vog
(“visioen van ’n lessenaar”, 23)
met ’n skerp mes
kap ek jou haarlose tamaties op
so ook die fyngeplooide pietersielie
en die uierige naeltjie
die komkommer kraak kerfvars onder die lem
gemeng met sout, peper, speeksel en olie
geroer in semenwit mayonnaise
dien ek dit op
in die gladde koel blaarslaai van jou boude
(“slaai”, 29)
my ganske vel lê brosig gepluk
in die na-sleep van jou snawel
kropswaar kraak die eiers ryp...
(“sonnet”, 30)
ek hoef maar net om te draai
jou heupe peul my hande vol
en met elke ereksie
proe jou tong heeltemal anders
(“daarsonder”, 33)
In “oortyd-assosiasies II” kom ons meteens die digter teen: die seksuele wese wat begeer om die geliefde in woorde vas te vang:
ek wil so graag vannag my hand uitsteek na jou wang
my duim oor jou neus laat gly
laat sjuut oor jou mond en die bang
trilling in jou oë op papier laat bibber tot angels
hierdie vingers in sleutelbene grawe
hierdie tande oor harde tepels laat flikker
van die begeerte soos ’n tong
om weer met ’n woord jou kortasem te tower
(“oortyd-assosiasies II”, 34)
Maar dit is eers in “die skryfproses, as sonnet” dat die vrou as dígter na vore tree. In hierdie vers word egter ook krities gekyk na die patriargale tradisie van die poësie & hoe, onder die leiding van figure soos D.J. Opperman, die baldadigheid, die lyflikheid uit die poësie geweer is ten gunste van ’n meer intellektuele benadering.
Die skryfproses word hier beskryf in terme van die “seksdaad” sodat dit vir die spreker ontaard het in “’n slim-slim slimmer ritueel”. Teenoor die beheersing van die (patriargale) poëtiese tradisie stel sy haar meer “poëties baldadig(e)” benadering: om haar verse “rymloos en vormloos te laat uitrank” in “lote onbevange vers”, om die plek van die gewaagde, selfs “onverantwoordelik(e)” woord weer in ere te herstel.
Hoewel Krog se vers op géén manier as “vormloos” getipeer kan word nie, skryf sy ’n soort vers wat tradisionele digvorme & elemente soos rym & metrum vermy, breek sy los uit die inhibisie van Opperman se literêre laboratorium & die produkte daarvan, die “netjiese stellasies vers”.
In “by die geboorte van my kinders en die lees van Sylvia Plath” (Krog 1981: 36) skryf Krog oor haar kinders in dieselfde trant as wat die Amerikaanse digter Sylvia Plath dit gedoen het. Reeds so vroeg as 1960 in die vers “Stillborn” (Plath 1981: 142) vergelyk Plath haar verse met stilgebore babas – perfek in alle opsigte, maar sonder hartklop.
In 'n vers soos “Lesbos” (Plath 1981: 227) skryf Plath boeiend oor die aanspraak wat die alledaagse (soms banale) werklikheid op haar maak. Die kombuis word inderdaad die toneel waar die konflik tussen die kuns & huislike uitgespeel word, teater vir die ontwarring van die family romance:
Lesbos
Viciousness in the kitchen!
The potatoes hiss.
It is all Hollywood, windowless,
The fluorescent light wincing on and off like a terrible migraine,
Coy paper strips for doors —
Stage curtains, a widow's frizz.
And I, love, am a pathological liar,
And my child — look at her, face down on the floor,
Little unstrung puppet, kicking to disappear —
Why she is schizophrenic,
Her face is red and white, a panic,
You have stuck her kittens outside your window
In a sort of cement well
Where they crap and puke and cry and she can't hear.
You say you can't stand her,
The bastard's a girl.
You who have blown your tubes like a bad radio
Clear of voices and history, the staticky
Noise of the new.
You say I should drown the kittens. Their smell!
You say I should drown my girl.
She'll cut her throat at ten if she's mad at two.
The baby smiles, fat snail,
From the polished lozenges of orange linoleum.
You could eat him. He's a boy.
You say your husband is just no good to you.
His Jew-Mama guards his sweet sex like a pearl.
You have one baby, I have two.
I should sit on a rock off Cornwall and comb my hair.
I should wear tiger pants, I should have an affair.
We should meet in another life, we should meet in air,
Me and you.
Meanwhile there's a stink of fat and baby crap.
I'm doped and thick from my last sleeping pill.
The smog of cooking, the smog of hell
Floats our heads, two venemous opposites,
Our bones, our hair.
I call you Orphan, orphan. You are ill.
The sun gives you ulcers, the wind gives you T.B.
Once you were beautiful.
In New York, in Hollywood, the men said: 'Through?
Gee baby, you are rare.'
You acted, acted for the thrill.
The impotent husband slumps out for a coffee.
I try to keep him in,
An old pole for the lightning,
The acid baths, the skyfuls off of you.
He lumps it down the plastic cobbled hill,
Flogged trolley. The sparks are blue.
The blue sparks spill,
Splitting like quartz into a million bits.
O jewel! O valuable!
That night the moon
Dragged its blood bag, sick
Animal
Up over the harbor lights.
And then grew normal,
Hard and apart and white.
The scale-sheen on the sand scared me to death.
We kept picking up handfuls, loving it,
Working it like dough, a mulatto body,
The silk grits.
A dog picked up your doggy husband. He went on.
Now I am silent, hate
Up to my neck,
Thick, thick.
I do not speak.
I am packing the hard potatoes like good clothes,
I am packing the babies,
I am packing the sick cats.
O vase of acid,
It is love you are full of. You know who you hate.
He is hugging his ball and chain down by the gate
That opens to the sea
Where it drives in, white and black,
Then spews it back.
Every day you fill him with soul-stuff, like a pitcher.
You are so exhausted.
Your voice my ear-ring,
Flapping and sucking, blood-loving bat.
That is that. That is that.
You peer from the door,
Sad hag. 'Every woman's a whore.
I can't communicate.'
I see your cute décor
Close on you like the fist of a baby
Or an anemone, that sea
Sweetheart, that kleptomaniac.
I am still raw.
I say I may be back.
You know what lies are for.
Even in your Zen heaven we shan't meet.
(Plath 1981: 227)
In “Cut” (Plath 1981: 235) word ’n insident waar die spreker haar duim raaksny in plaas van ’n ui die vertrekpunt vir ’n fantastiese verbeeldingsvlug, & haal die huisvrou poësie uit die mees banale.
What a thrill —
My thumb instead of an onion.
The top quite gone
Except for a sort of hinge
Of skin,
A flap like a hat,
Dead white.
Then that red plush.
Little pilgrim,
The Indian's axed your scalp.
Krog se vers “familiefigure as beeldmateriaal”(1) (Krog 1981: 45) illustreer ook ’n sekere verskeurdheid: aan die een kant is daar die digter wat die vers skryf (wat ons besig is om te lees) & ’n aparte strofes aan elk van die drie kinders & haar man wy – strofes 2,3,4 & 6. Strofes 1, 5 & 7 handel oor die digter & die skryfdaad. In strofe 5 neem die koesterende instink van die moeder oor & in strofe 7 lees ons:
die pen kletter uit my hand
klad strofes 2, 3, 4, en 6
in my eie handskrif onherkenbaar
tot gemenebes
Ironies genoeg is dit dan die pen wat die familie ten slotte saambring “tot gemenebes”.
By Plath is die familieportrette dikwels grotesk, & die afloop van die verse byna sonder uitsondering negatief. Haar vrees vir die versmorende lewe as vrou & moeder, die potensiële inbraak wat dit op haar kreatiwiteit mag hê, het later plek gemaak vir ’n begeerte om getroud te wees, om kinders te hê, om op te gaan in die huislike. Dit was egter nooit ’n eenvoudige konflik nie, & sy het haar lewe lank tussen dié twee uiterstes beweeg.
At times, too, she felt that "children seem[ed] an impetus to [her serious] writing." But a resentment against them, against their demands on her time, their drain on her creativity, is evident too. Pleasure, resentment, guilt. Ambivalence. Plath's work suggests that the attempt to resolve these feelings failed. Her suicide may have been, to some degree, a final acting out of her belief in punishment, vengeance, of the self on the self, for this failure.
(Dobbs: 1977)
Dit is hierdie tweespalt – om beide die digterlike & huislike wêrelde te bewoon – wat die poësie van vrouedigters interessant maak. En elkeen vind ’n eie oplossing, ’n unieke balans. Waar Krog onomwonde haar familie eerste plaas & haar baie bewus is van haar seksualiteit & lyflikheid, sowel as haar rol as vrou & moeder, tref ons by Elisabeth Eybers ’n teenoorgestelde gesindheid aan: hier is dit die huisvrou wat lomp is terwyl die digteres vaardig is.
In “Digteres as huisvrou” (Eybers 1990: 401) beeld sy hierdie tweespalt ten beste uit:
Altyd ’n besem iewers teen ’n muur,
maaltye nooit op die gepaste uur.
Agendalose dae waardeur sy leeg,
Hardnekkig en skaars doelbewus beweeg.
Strykgoed wat moedeloos oor ’n stoelrug hang,
gebare sonder afloop of aanvang.
Ou briewe onbeantwoord, deurmekaar,
papiere en pille in één laai opgegaar.
Dankbaar om haar in jou groot hart te strek
en tog verknog aan haar klein skulpomtrek.
O ordenende teëvoeter, wees
gewaarsku, stuur haar liewer na haar lees.
Vergelyk hiermee Krog se vers “weer eens”:
ek kom weer eens nie uit met my budget nie
die suiker en die melkkoepons is op
langs my masjien lê stapels stukkende klere
spinnekoppe weef macramé teen die mure
my gesin grawe in leë koekblikke na iets om te eet
my baba het brandboudjies
my dogtertjie hakkel van een of ander tekort
my man byt op sy tande
stoot die koolbredie agteruit
en druk sy sigaret stadig in die bordjie dood...
hou jou by jou lees, sê ons grootste digteres
hoe de hel dóén mens dit?
ek weier om te eindig tussen wier en gras
of kinderloos met ’n minnaar langs die see
of
met die hertzogprys in ’n vreemde land
god- en grysverlate.
(Krog 1981: 38)
Die verskillende ingesteldhede van hierdie twee digters blyk nie slegs uit die inhoud van hierdie verse nie, maar ook onmiddellik uit die vorm: teenoor Eybers se netjiese rymende koeplette (“netjiese stellasies vers”) staan die rymlose (maar klankryke), chaotiese kosmos van Krog se gedig.
Dit is interessant dat beide digters verse oor hulle hande skryf, die ledemate wat in beide sfere betrokke is. Eybers skryf in “Sonnet” (Eybers 1990: 147) “My hande was van altyd af onpaar”, terwyl Krog in “familieresep” (Krog 1981: 37) haar eie onhandigheid in die huis stel teenoor haar ouma se behendigheid, & tot die slotsom kom:
dalk
omdat sy Shelley uit klein fluweelboekies gelees het
en Keats tussen haar voorslagresepte aangehaal het,
sou my maer verbroude hand
haar tog vandag plesier verskaf het.
Eybers skryf nie dikwels oor haar familie nie. Sy skryf wel ’n groot aantal verse rondom moederskap, die moeder-kind verhouding, & die huwelik as ongelyke spel. Maar haar uitbeelding van moederskap & die moeder-kind verhouding is baie digterlik, baie geromantiseerd. Vergelyk hiermee byvoorbeeld Krog se ontluisterende “selfportret” (Krog 1981: 47) waarin sy nie net die skryfproses ontromantiseer nie (“valslik probeer ek in ’n swoon ingaan / een of ander esoteriese beeld vasgryp”), maar ook die romantiese beeld van die digter debunk:
wat die spieël met die reëngedempte lig nie sê nie:
is dat sy smôrens skilfers op haar wenkbroue kry
hare uit haar neus moet knip
haar snor moet afhaal met room op die kruissteek bo-lip
onderkant die versteende swartkoppies op haar neus
die witkoppies op haar ken
dat haar tong agter aangepak en swart gebars is van rook en wyn
dat haar kiestande vaal gestop is
haar kliere al hoe strammer poësie uitknars
en dat sy snags al hoe asmatieser snork deur haar strot.
Vir Eybers is poësie egter die “magnificent obsession”, die allesoorheersende konstante in ’n wisselvallige, veranderlike & soms verraderlike wêreld. Wanneer sy wel oor haar familie skryf soos in “Tersiene” (Eybers 1990: 180), dan is dit op gans ander wyse as Krog of Plath, & word haar seun se haastige weggooi-reël die aanleiding tot ’n gedig:
Reeds oor die drumpel het my seun, wat hyg,
skool toe, van haastigheid, weer vasgesteek:
“Bestel dit tog vandag van die apteek — ”
Sy stem, nou skor dan skraal, het yl gestyg:
“die roulynolie vir my krieketkolf!”
“Onthou!” roep hy, maar hoe kan ek vergeet?
Eggo-deurtrek, al grom die honger wolf
van onvoltooide take, sing die kreet
om roulynolie vir my krieketkolf...
Vir Krog weer vorm haar familielede, sy inkluis, “die klassieke spotprent”, “karikature” (Krog 1981: 46).
In ’n vers soos “Die enkel taak” (Eybers 1990: 287) stel Eybers haar verbintenis met die woord teenoor haar predikantvader se verbintenis met die Woord, & kom tot die slotsom:
Verlate en bedroë
dien ek ook ’n soort suiwerheid, behoort
ek aan ’n wreder molog van die woord.
In teenstelling met Krog & Plath wat volledig in die huislike opgaan, voel Eybers haar al hoe meer ’n ontheemde:
Haar man het haar nie sonder rede ontslaan,
haar vader het gewag en later doodgegaan,
haar kinders volg elkeen sy eie baan,
daar is geen tuiste om na terug te gaan.
“Vermoedelik vatbaar vir bereddering”.
Gediplomeerde indelers noteer
“die nuweling spartel nog” — en gaan probeer.
Maar sy’t haar eie baaierd saamgebring.
(Eybers 1990: 294)
Dobbs sluit haar opstel oor Plath af met die volgende observasie:
It can never be known whether or not Plath chose (consciously or unconsciously) paths that would lead her deeper and deeper into a domestic labyrinth because she needed those subjects and those experiences and the emotions they stimulated in order to create her best work. Her letters reveal, however, that in the final weeks of her life, separated from her husband, writing the final stunning poems, she felt poetically released, "as if domesticity had choked me." Perhaps it is not stretching a point to say that choosing to die by sticking her head in a gas oven is a perfect symbolization of, and final statement on, that aspect of her experience.
(Dobbs 1977: 25)
Vir Eybers word poësie inderdaad soos sy dit stel in “Poësie” (1990: 379) “gestook: uit pyn en afstandneem, / uit liefde en ironie”. Krog, daarenteen, skaar haar by alle ma’s & hulle probleme, want
uit hierdie vrouens is nie eens kinders te maak nie
en godweet, ook nie poësie nie.
(“Poësie”, 41)
Voetnoot
1. Antjie Krog voltooi in 1983 haar MA-graad in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Die titel van haar verhandeling is Familiefigure in die poësie van DJ Opperman.
Bibliografie
Jeannine Dobbs. 1977. “‘Viciousness in the Kitchen’: Sylvia Plath's Domestic Poetry,” in Modern Language Studies, Vol. 7, No. 2, pp. 11-25.
Elisabeth Eybers. 1990. Versamelde gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau/ Tafelberg.
Antjie Krog. 1981. Otters in bronslaai. Human & Rousseau, Kaapstad
(C) Johann de Lange, 2010
Tuesday, March 16, 2010
Hoe om (soos iemand anders) te skryf. Oor vakmanskap & die skryf van gedigte. - Deel 1
Each memorable verse of a true poet has two or three times the written content.
– Alfred de Musset, Le Poète déchu, 1839
Die skryf van dié tipe artikel is selde sonder slaggate: dit is onvermydelik voorskriftelik & as sodanig druis dit in teen álles wat ek in verband met poësie geleer het; dis beperkend, kan patroniserend klink, & laat nie genoeg speelruimte vir die individuele talent nie. En dan is dit ook noodgedwonge vereenvoudigend van iets so kompleks as die skryf van ’n gedig. Daar is geen reëls in die poësie nie. Wys my ’n reël & ek wys jou ’n gedig wat dit vindingryk oortree. Ek storm nietemin in waar engele huiwer om voet neer te sit, want ek glo dat niks op aarde werklike talent kan onderkry nie.
Die skryf van dié tipe artikel is selde sonder slaggate: dit is onvermydelik voorskriftelik & as sodanig druis dit in teen álles wat ek in verband met poësie geleer het; dis beperkend, kan patroniserend klink, & laat nie genoeg speelruimte vir die individuele talent nie. En dan is dit ook noodgedwonge vereenvoudigend van iets so kompleks as die skryf van ’n gedig. Daar is geen reëls in die poësie nie. Wys my ’n reël & ek wys jou ’n gedig wat dit vindingryk oortree. Ek storm nietemin in waar engele huiwer om voet neer te sit, want ek glo dat niks op aarde werklike talent kan onderkry nie.
Wat hier volg, is indrukke & gevolgtrekkings wat ek deur die jare versamel het uit my eie bemoeienis met die medium, uit so wyd as moontlik poësie lees, uit my deelname aan skryfwerkswinkels (aan beide kante van die lessenaar), & uit my rol as keurder vir uitgewers. Dan is daar ook die folio’s wat soms op die vreemdste plekke in my hand gestop word, dik intimiderende koeverte wat in my posbus beland, of deesdae e-posse met aanhegsels. Skryf is nié – soos baie meen – die tydverdryf van sensitiewe siele nie: die skeppingsdrang is ’n universele, byna instinktiewe impuls – & onverwoesbaar daarby.
I. Die vereiste van vakmanskap
A poet is, before anything else, a person who is passionately in love with language.
– W. H. Auden
Gedigte is die resultaat van 1% inspirasie & 99% perspirasie. ’n Dictum waarmee alle skrywers bekend is. Daarbenewens moet jy ook jou medium, jou vák ken. Vakmanskap is nodig om daardie eerste impuls deur te sien. Waar dit ontbreek, misluk die beste idees.
Hoewel gedigte meer dikwels deur die een of ander kreatiewe inval of idee van die digter ingegee word, kan die jong skrywer gerus in die oog hou dat gedigte uit woorde & nie uit idees bestaan nie. Cesare Pavese het geskryf: “When writing poetry, it is not inspiration that produces bright ideas, but the bright idea that kindles the fire of inspiration.” Dit is wanneer die digter oor die nodige vakmanskap beskik om iéts van die “bright idea” te máák, dat skryf werklik ’n geïnspireerde aktiwiteit word. Oftewel: chance favours the prepared mind.
Alhoewel dit deesdae die mode is om Engels in Afrikaanse gedigte te gebruik, & dit in bedrewe hande hoogs funksioneel kan wees, wil ek die jong digter aanraai om baie spaarsamig met hierdie modegier om te gaan. Gedagtig aan Auden se uitspraak hierbo, is ’n digter iemand wat in die allereerste plek lief is vir sy taal. Die versoeking om te gryp na kitsklaar frases in Engels is meer dikwels as nié die resultaat van luiheid.
Deel van die plesier van skryf is júis daardie soek na die regte woord of beeld. Onlangs het Loftus Marais se gedig rondom kersfees in die spervuur beland vanweë sy gebruik van Engels in die teks. Ek vermoed dit was sy bedoeling om met die Engelse cliché’s kommentaar te lewer op die banaliteit, die ontluistering van kersfees. En hoewel mens seker ’n argument daarvoor sou kon uitmaak, kan ek nie help om te wonder of daar dan nie Afrikaanse cliché’s rondom kersfees is nie, & of die digter nie met ’n bietjie ekstra werk daarby sou uitgekom het nie.
Ek wil beklemtoon dat ek nie onnodig puristies wil wees hieroor nie, maar ek glo wél dat 'n digter respek vir sy medium moet hê. Ek gebruik sélf by geleentheid Engels, maar net wanneer ek voel dat ek nie ’n bevredigende Afrikaanse eweknie vir die begrip kan vind nie, of wanneer ek na ’n Engelse teks of konsep wil verwys. Besluit maar self. Hier is die gedig:
Studie met krismisboom en kat
Kersfees 2009
die swart kat jessy (pragtig so dragtig)
is uitgestrek langs ’n krismisboom
van goedkoop plastiek:
oh nativity for the 21st century
eers dink jy niks kan méér verskil nie:
die kalm feit van ’n ronde kat
en die cross-dressing boom
se metafisika van kitsch
om gelyk te kyk na die ritme van die kat se asem
én die ritme van die elektriese liggies
is ’n visuele weergawe
van om “she sells sea shells on the sea shore” te sê
die pels (fyn soos ystervylsels
in magnetiese patrone) teenoor die kleurvolle boom
wat terselfdertyd homself
én ’n kindertekening van homself is.
maar jessy staan nou op, en strek die feather boa van haarself lank uit
en stal haar gaap ook uit
stadig, op haar pote, die ene vampira
vain en versadig . . .
ja daai conception was alles behalwe immaculate
sy’s effe lam, haar maag ’n soort gewas
terwyl g’n wind my evergreen boompie ooit hiér sal kan aantas of om-
waai nie
teenstellings self: die hopie helder donkerte
van die kat wat weer gaan lê
en die boom ’n flashing arrow
wat histeries wys na niks
'tis the season van sterre en pompoms
en al die dinge wat mens “netelig” kan noem
ja hemelboom en heksekat
is eintlik ewe grillerig
om aan te vat.
Antjie Krog se verdediging van die gebruik van Engels in haar gedigte (& sy doen dit meestal funksioneel & verantwoord) was die kondonering waarop ’n hele skool jonger digters gewag het wat dit nou onnadenkend & onkrities gebruik. Dit herinner nogal aan die gebruik van klein letters in die Sestiger-sewentigerjare, waarskynlik in navolging van die Amerikaanse digter e.e. cummings se idiosinkratiese poësie.
Cummings het egter al so vroeg as 1923 met tipografie begin eksperimenteer, & sy tipografiese manewales het heelwat in gemeen met die taalgebruik tipies van skisofrenie. Hier ter plaatse was die leestekenloosheid in bittermin van die gevalle werklik onontbeerlik funksioneel. Daar is nog steeds digters wat dit gebruik, maar daar is bittermin digters wat dit uitsluitlik gebruik. Dit sal altyd deel uitmaak van die skrywer se tegniese arsenaal. Een van die digters wat dit m.i. werklik betekenisvol & betekenis-sképpend gebruik, & weer nuut gemaak het, is T.T. Cloete.
Terug na perspirasie. Talent alléén is nie voldoende nie. Die voornemende digter moet deursettingsvermoë hê & ’n dik vel. Moet nie ontmoedig word deur gemene opmerkings in skryfklasse, kritiese keurverslae of die plaag afsêbriewe waarmee jou aanvanklike pogings begroet word nie. Bou ’n stewige verwysingsraamwerk op deur soveel & so wýd as moontlik te lees. Jy kan nóóit te veel lees nie. Wanneer jy van ’n gedig hou, probeer verstaan wát presies dit is waarvan jy hou in die gedig, & stel vas hoe die digter die effek bereik.
’n Jong digter (& met jonk bedoel ek beginners van enige ouderdom) behoort, soos Antjie Krog by geleentheid voorgestel het, ten minste Groot verseboek heeltemal deur te werk voordat hy of sy weer ’n hand aan ’n gedig waag. Dis belangrik vir ’n digter om te weet wat reeds in sy taal gedoen is.
Baie jong digters begin verkeerdelik met die vrye vers, vermoedelik omdat dit téén die gevestigde orde inbeweeg & die rebelse nuk van die jeug bevredig. Maar dié versvorm is baie moeiliker om baas te raak as wat dit op die oog af mag lyk. Die vrye vers is alleen vry in die sin dat elke gedig sy eie vorm skep, ’n vorm wat as ’t ware al skrywende & organies saam met die gedig ontstaan. Dit is vry in die sin dat dit nie ’n vaste vorm as struktuur gebruik nie, soos in die geval van die sonnet, villanelle of sestina nie. Geen gedig, hoe “vry” ook al, is sonder vorm nie. Daar bestaan nie iets soos ’n “vormlose gedig” nie – dis ’n oksimoron. Dis veel eerder ’n geval van presies hóé vorm in verskillende soorte poësie gedefinieer word. Die register hier is so wyd as die Heer se genade & regverdig ’n hele aparte artikel.
Ek beveel altyd aan dat beginnerskrywers ’n tyd lank vaste vorms beoefen. Die ervaring & dissipline wat hierdeur opgedoen word, sal die digter in latere skryfwerk goed te staan kom. Vorm stuur ’n gedig ook soms in verrassende rigtings, & op vondse af wat die digter andersins nie sou maak nie. Struktuur is nie ’n struikelblok nie, verre daarvan: struktuur bevry.
II. Drie stadia in die totstandkomingsproses
Die skryf van ’n gedig kan rofweg in drie stadia verdeel word: 1) die versamel van rou materiaal, 2) seleksie, 3) ordening & afronding. Hierdie drie stappe is net bedoel as hulpmiddel, & nie as onbuigbare “wette” nie. Die jong digter sal, soos hy groei, weldra agterkom dat die verskillende stadia nie so maklik te skei is nie, & dat hulle deurmekaar loop, oorvleuel.
Ek wil hierdie drie stadia aan die hand van Elisabeth Eybers se sonnet “Muse” (Kruis of munt, 1973) illustreer:
Die doel van sy gedrag word nou en dan
waarneembaar; uit die rommel en afbraak
van elke dag wat hy deursif herwin
hy stukkies glas en splinters kwarts en tin
om ’n flikkerende mosaïek te maak
met urelange martelende getuur,
’n kop wat klop en oë soos klodders vuur.
O hierdie hardepad – geen sterfling kan
by sy verstand die selfbedagte taak,
die langsaam blootlê, kies en konstrueer
volvoer, was daar nie iewers ’n oerplan
wat sy geheue nog steeds hipnotiseer,
wat hy nie meer uit sy breinkronkels ban...
Die staat versorg intussen sy gesin.
Hoewel Eybers hier sterk klem lê op die harde werk wat in die skeppingsproses ingaan, erken sy die rol van die oorspronklike inspirasie wat tot die skryf van die gedig aanleiding gegee het: die “oerplan / wat sy geheue nog steeds hipnotiseer”.
Die frase “die langsaam blootlê, kies & konstrueer” ondervang presies die drie stappe van die skryfproses: die boustof vergader, die seleksie, & die uiteindelike ordening & afronding.
1. Die rou materiaal is die eerste weergawe op papier & is uiters selde perfek. Soms word ’n digter begenadig & skryf ’n gedig in een sitting uit, perfek sonder om ’n woord te wysig. Maar hierdie oomblikke is nie genoeg om ’n loopbaan van te maak nie.
Die Amerikaanse digteres Sylvia Plath skryf in haar pragtige vers “Black Rook in Rainy Weather” oor hierdie verhelderende oomblikke:
Miracles occur.
If you care to call those spasmodic
Tricks of radiance
Miracles. The wait's begun again,
The long wait for the angel,
For that rare, random descent.
Met die eerste weergawe is daar altyd ruimte vir verbetering. Die digter kan hiér so uitgebreid & woordryk wees as wat hy wil, & alles invoeg wat enigsins bruikbaar mag wees vir die gedig. Eybers stel dit só:
uit die rommel en afbraak
van elke dag wat hy deursif herwin
hy stukkies glas en splinters kwarts en tin
Hierdie “rommel en afbraak” maak die rou materiaal uit vir die gedig. Die woorde “rommel” & “afbraak” is interessant omdat dit verwys na ruwe materiaal, na dit wat afgebreek, uitmekaar gehaal, weggegooi is. Dié woordkeuse is eweneens belangrik omdat die skeppingsproses onder meer die bymekaarbring van hierdie disparate elemente in ’n nuwe verband behels. Maar meer daaroor láter.
In hierdie stadium is daar waarskynlik nog geen patroon nie, of net vaagweg; daar is nog min samehang. Die resultaat van “die langsaam blootlê” is net los “stukkies glas en splinters kwarts en tin”. Let op die verskeidenheid (die “amount and diversity of materials integrated” waarvan Wellek & Warren praat) aan boustof vir die gedig, of dan die “mosaïek”: glas, kwarts (wat in ’n wye verskeidenheid kleure voorkom), tin. Glas & tin (alreeds kultuurprodukte, alreeds verfyn uit growwer boustof), kwarts (steeds in natuurlike vorm). Sou dit verkeerd wees om in dié boustowwe ’n toespeling te sien op Van Wyk Louw se “gevormde” & “ongevormde”?
2. Vervolgens selekteer (“kies”) die digter uit die rou materiaal nét dit wat nodig is vir die gedig. Die aanvanklike “deursif (en) herwin” maak nou plek vir ’n meer doelgerigte aktiwiteit. Eybers verwys hier na die “urelange martelende getuur”, die skryf van die gedig word ’n soort selfopgelegde strafarbeid (“hardepad”). Die “verstand” kom nou in die spel, & die digter se aktiwiteit word as “die selfbedagte taak” beskryf. Die digter selekteer uit wat hy versamel het. ’n Herkenbare “vorm” mag in hierdie stadium begin duidelik word. Wat nie bruikbaar is nie, word uitgegooi, selfs al is dit van jou mooiste reëls of beelde.
3. Dit bring ons by die laaste stap, naamlik ordening: die “konstrueer” waarvan Eybers praat. Die digter fokus nou sy aandag om ’n patroon te ontdek of te skep in die geselekteerde materiaal, die “oerplan”.
Nou is die tyd om te besluit watter vorm die gedig gaan aanneem (dikwels is dit nie die digter nie, maar die materiaal sélf wat in ’n spesifieke rigting dwing). Gaan dit ’n vrye vers wees, of gaan die digter dit ’n tradisionele vorm gee soos ’n sonnet of ’n villanelle? Die digter besluit oor metrum, rym (sou hy op rym besluit, dan ’n rymskema wat iets bydra tot die tema & nie maar net versiering is nie). Hy identifiseer progressies waarvan hy dalk nie in stap 1 bewus was nie, maar waarop hy nou wil voortbou of wil versterk. Daar word voorts gekyk na ander klankpatrone, na strofe-indelings, na waar reëls afgekap word, of die metafore klop. Enige stoplappe, gewoonlik die gevolg van die dwang van rym of metrum.
Sodra die materiaal gesnoei & georden is, is dit tyd om aandag te gee aan die finale afronding. Die digter bekyk & beluister elke woord in die gedig. Pas die woorde bymekaar, of is daar woorde wat uit die toon val? Elke woord word opgetel & teen die lig gehou, omgedraai & ingeskat na karaat. Hoewel ek skepties is oor die idee van die onvervangbare woord, glo ek die digter moet probeer om so ná as dêmmit daaraan te kom.
Laastens, maar uiters belangrik: lees die gedig hardop vir jouself voor. Wat jy voor jou het, kan weliswaar die “flikkerende mosaïek” wees waarvan Eybers praat, maar ’n voorlesing sal enige verskuilde swakhede wat betref klank, ritme, of toon onmiddellik uitwys. Gedigte het nie net ’n skrifbeeld nie, maar ook ’n klankbeeld. Ánders as met kinders, moet hulle nie net gesien word nie, maar ook gehoor word.
Bibliografie
Eybers, Elisabeth. 1973. Kruis of munt. Kaapstad : Human & Rousseau.
(C) Johann de Lange, 2010
Subscribe to:
Posts (Atom)
.jpg)
.jpg)


