Showing posts with label Theunis Engelbrecht. Show all posts
Showing posts with label Theunis Engelbrecht. Show all posts

Saturday, February 4, 2017

My vergeelde Tagtigs


Vandeesweek, op soek na 'n knipsel op versoek van 'n vriend, haal ek die groot plakboek uit waarin ek gedurende die tagtigerjare alle knipsels, boekresensies, artikels ensomeer geplak het.


En op die ingewing van die oomblik besluit ek om van die foto's by die koerantberigte met my selfoon af te neem, bietjie te manipuleer om hulle duideliker te maak. Hier is die resultate:




Dié het verskyn by 'n berig in The Pretoria News van 10 Augustus 1987 toe ek derde prys ontvang het in 'n internasionale poësiekompetisie gereël deur die Kanariese eilande & UNESCO. In my hand hou ek die brief waarin ek van my derde plek in kennis gestel is. In dié tyd het ek gewerk as salarisklerk by Van Schaik boekhandel in Kerkstraat, Pretoria, vandaar die hemp & das.




Van hierdie foto kan ek nie veel onthou nie, behalwe dat dit by my woonstel geneem is & dat die joernalis daarop aangedring het dat hulle 'n foto van die peinsende digter wil hê. Ek was nie geneë om dit te doen nie. Koerante wou altyd 'n foto hê van òf hierdie pose, òf een waarin jy 'n boek vashou. Die rekwisiete van jou bedryf. Ek dink ek het daarin geslaag om my wrewel te verskans, & het stilweg gesweer dis die laaste keer wat ek dit doen. En dit was.




Hierdie foto is geneem in Sunnyside, in my tyd as kassier by Volkskas bank in Esselenstraat, met die verskyning van my tweede bundel Waterwoestyn in 1984. Die baadjie & das... bankklere.



Hierdie foto het 'n interessante storie. Die vorige aand het ek saam met 'n str8 pêl van my gaan drink. Ek drink nie eintlik nie, maar wou die ervaring hê van dronk-wees, nie net effens nie, maar totaal en al besope. Ek & my vriend het mekaar onder die spreekwoordelike tafel probeer in drink. Die ervaring was vreemd, die gevoel van nie in beheer wees van jou bewegings nie. Maar ek onthou dat my kop helder was, dat ek bewus was van die studente in die kroeg wat ons dopgehou het, & dat ek aan die einde van die aand besluit my vriend is te dronk om te bestuur & dat ek hom sal huis toe vat, in Silverton, 'n paar huise van waar Wilma Stockenström-hulle gewoon het, & dat sy vriendin my sal terugvat tot by my kar.

Die volgende oggend was verskriklik, ek het die volle effek van die hangover ervaar, & ook dié van alkoholvergiftiging. Ek moes na 'n dokter gaan vir 'n inspuiting. Dit was die eerste & enigste keer wat ek dronk was, & ek kon nie verstaan waarom jy jouself aand vir aand, of naweek vir naweek aan soiets sou wou blootstel nie. 


Toe ek van die dokter terugkom, het daar 'n onderhoud met Koos Prinsloo voorgelê, iets wat gereël was lank voor my onberade eksperiment met alkohol, & kon nie uitgestel word nie. Koos & fotograaf was op pad. So, waarna julle hier kyk, is my in gesprek met Koos by my woonstel in die middestad, twee blokke van Kerkplein, met die nagevolge van die vorige aand heel sigbaar (vir my altans).




Van hierdie foto kan ek nie veel onthou nie, behalwe dat dit geneem is in die tyd toe ek in Sunnyside, Pretoria gebly het. Dit is die ander 'pose' waarvan ek gepraat het, die een met die boek in die hand. Vir 'n verskil was die resultaat nie te onaardig & selfbewus nie.



Hierdie drie foto's is van 'n berig wat verskyn het in The Pretoria News. Met die deurgaan van die knipsels het dit my nogal opgeval hoeveel van die berigte in die Engelse pers verskyn het, iets wat vandag 'n rariteit is. Afrikaanse skrywers wat in o.a. in Engels vertaal is, sal vandag nog die Engelse pers haal, maar Afrikaanse digters, verál jóng Afrikaanse digters (want ek was nog maar 'n beginner) - not so much.



Geneem tydens die bekendstelling van o.a. SA Literature 1981, in Pretoria. Ek & prof. Louis Eksteen is opgekommandeer om met die boeke te poseer. Hy was 'n gawe man, & ek was baie afgunstig op sy taalkennis. Waarom die baard? Sou nie kon sê nie. Ek wou waarskynlik 'n ander soort ou aantrek ;-)




Hierdie foto is geneem tydens die een of ander literêre geleentheid, dalk iets gereël deur die RGN, want as ek reg onthou het Johann L Marais op daardie stadium by die RGN gewerk. By ons is sy vrou Reneé. Ons was al drie wonderlik skraal - kyk net Johann L se skraal arms, dun nek & Reneé se fietse figuur. Die foto het die onnatuurlike spontaneïteit wat ontstaan wanneer jy besig was om te gesels & toe van 'n fotograaf bewus geraak het & probeer het om dit te ignoreer. Werk nooit nie.



Daar is ook 'n storie aan hierdie foto verbonde. Ek & die jong Theunis Engelbrecht (hier nog op skool in Bethlehem, in die Vrystaat) het gay gedigte voorgelê aan die literêre tydskrif Standpunte, dié plek om gepubliseer te word as jong digter. Dit het verskyn in Standpunte 163 & het 'n storm ontketen waarop nie een van ons bedag was nie. Kort ná die verskyning van die gedigte verskyn daar in Beeld 'n berig "Gedigte vir mans - déúr mans!" In die berig het digter Wessel Pretorius die gedigte aan die groot klok gaan hang & ons twee in die kalklig gestoot. Dit het gely tot allerlei verspotte verduidelikings oor wie die sprekers in die gedigte was, dat dit vroulike sprekers kon wees etc, beledigings is oor en weer geslinger (meestal tussen my & Wessel), totdat Stephan Bouwer in 'n stadium ingetree het & dit stopgesit het. 

Maar die aap was uit die mou. In daardie stadium was beide ek & Theunis in die kas & nie gereed om eers teenoor onsself te erken dat ons gay was nie, wat nog te sê die publiek, ons familie, my werkgewers, sy ouers, mede-skoliere. Dit is moeilik om vandag vir jongmense wat grootgeword het binne 'n konteks waar die openbare aanvaarding van gay seksualiteit 'n gegewe is, te verduidelik hoe dit in die Tagtigs was. 


Wat dié insident wél gedoen het, is om my moer te strip & te laat besluit om in my skryfwerk op gay seksualiteit te fokus, & om dit so ver as moontlik oop te skryf. Dit was nie maklik om uitgewers te kry wat in gay digkuns belang sou stel nie, so my eerste twee bundels was vaag oor die geslagte van sprekers en aangesprokenes, maar gaandeweg het ek verder en verder kon gaan. Ek het nooit enige probleme of teenkanting gehad van H&R nie, dit moet ek Koos Human & Kerneels Breytenbach ter ere toegee. 


Die twee geleenthede wat ek met Tafelberg sou saamwerk, het beide skipbreuk gely oor, m.i., 'n kultuur van benepenheid by die uitgewery & die uitgewer. Ek het uiteindelik beide boeke van Tafelberg weggevat. My bundel Nagsweet het in 1991 by Taurus verskyn, & die bloemlesing met erotiese gedigte wat ek & Antjie Krog saamgestel het, Die dye trek die dye aan, het in 1998 by H&R verskyn. Dis in sulke tye van krisis wat mens jou uitgewer werklik leer ken.


© Johann de Lange

Saturday, May 21, 2011

Arende & vlieë

Skoenbekooievaar

Daar was ’n tyd, om & by 1998, toe die gebrek aan debute my baie gekwel het. Poësie het voortdurende infusie van nuwe bloed nodig. Sedertdien het die situasie verbeter & het ’n hele klompie sterk stemme gedebuteer. Maar ek is steeds gekwel, soos trouens ook Antjie Krog, oor die gebrek aan jóng debute.

Daar is sekere belewings wat jy nét reg aan kan laat geskied terwýl jy nog jonk is. Jy kan steeds daaroor skryf as jy ouer is, maar nooit weer op die manier waaarop jy dit sou gedoen het as jongmens nie. Die jongmens se belewenis as digter is baie skraal verteenwoordig. Ons het laas met Krog (Dogter van Jefta, 1972), Annesu de Vos (Gebed van ’n groen perske en ander verse, 1980) & Theunis Engelbrecht ('n Gedig is so onskuldig soos 'n eier, 1982) wérklike jong gebute gehad. Jasper van Zyl (Die lewe tussen pikkewyne, 2011) is die eerste jong digter in ’n lang tyd, maar hy is ook al op universiteit (hoewel 'n groot deel van sy verse reeds op skool geskryf is).

Ek praat van wérklik jong digters, digters wat nog op skool is. Daar is 'n groot behoefte aan poësie wat die  huidige generasie se ervarings verwoord. Daar ís talent, ongetwyfeld, maar is uitgewers nog bereid om sulke jong digters 'n kans te gee? (Ek ignoreer nie hiermee die uiters belangrike werk wat die Nuwe stemme-reeks in dié verband doen nie, maar teen die tyd dat van dié digters met solobundels debuteer, is hulle al op universiteit, of selfs ouer, & is daardie spesifieke soort spontaneïteit uit hulle uit geworkshop)*.

In die plek daarvan het ons ’n generasie digters wat hulle nie volledig tot die letterkunde kan verbind nie, wat nie die toewyding kán of wíl gee wat enige kunsvorm van die kunstenaar eis nie; ’n generasie van Jack-of-all-trades – hulle skryf ’n bietjie, hulle maak bietjie musiek, hulle skilder 'n bietjie, hulle doen ’n bietjie pottery, hulle blog. Skryf is net nog een van die dinge wat hulle doen, dis nie die belángrikste ding wat hulle doen nie. Die gevolg is dat hulle nie één van die dinge wérklik goed doen nie. Dit blyk nie net uit hulle werk nie, maar ook uit hulle gebrekkige kennis van & belangstelling in die tradisie waartéén hulle so uitvaar. Dit word bittermin skrywers gegun om meer as een genre te bemeester & góéd te doen, & nóg minder om ook ánder kunsvorms suksesvol te bedryf.

Ek is van 'n generasie wat nie kunstenaars ernstig kan opneem vir wie hulle skryfwerk nie ’n alleroorheersende passie is nie, wat nie kan sê (& dit bedoel): ek skryf omdat ek nie anders kán nie. Daar is welkome uitsonderings wat my hoop gee, digters soos Loftus Marais, Carina Stander, Martina Klopper, Melt Myburgh, Andries Samuel, Fourie Botha (pas gedebuteer by Queillerie met  Donkerkamer), etc. Sukses as skrywer het meer te doen met deursettingsvermoë as met talent. Jy moet skryf méér as enigiets anders begeer. En jy moet vrede kan maak met die opofferings wat deel is van dié soort toewyding.

Onder die huidige generasie digters is daar 'n paar wat ek tentpredikers wil noem, die Billy Grahams van die poësie met hulle gevolg in die vleuels & agter die skerms. Ons het poësiesaamtrekke waar al die aspirante & sikofante een vir een op die verhoog die mikrofoon vasvat, uit die kreatiewe rolstoel orentkom & sê: “Ek kan dig!” En die gehoor gló.... merendeels. Die feit dat jy kan voorlees, beteken nog lank nie dat jy kan dig nie. En kan die applous eg wees?

Maar o my siel, daar’s ryke stof: hierdie tentpredikers is gereed om met die geringste aanmoediging & die karigste van rekwisiete ’n tent op te slaan & teen ’n stewige fooi te workshop dat die ink spat. En vir die sikofante is die eerste gebod: jy moet gló. In jouself, in die poësie, & verál in mý, want kyk, ek het dit gemáák, ek is bekroon, ek word gevra om oorsee voor te lees, ek kan skryf op aanvraag, béter as enige poet laureate. Ja, dis ’n generasie wat weet hoe om die tegnologie te gebruik om hulleself te bemark &’n faux kultus om hulleself te skep & aan die gang te hou. ’n Generasie star fuckers, want sonder die assosiasie of ‘vriendskap’ dan met groot name, sal dit vir party maar moeilik gaan om ernstig opgeneem te word.

En soos ons almal weet: as só 'n beweging eers momentum gekry het, as die tentprediker eers homsélf & sy boodskap gló, is daar geen keer nie. En dat Marais sy eie publisiteit glo, dat al die akkolades & onderhoude rondom skrywer-wees reguit na sy kop toe gegaan het, lei daartoe dat hy 'n uitspraak soos die volgende oor Ginsberg se ikoniese gedig "Howl" kan maak: “Dit klink nou vir my na ’n oorskatte, mistifiserende voetnoot tot Walt Whitman en ’n idealiserende beskrywing van pretensieuse daggarokers wat vrot verse skryf terwyl hulle op ander se nekke lê.” (’n Roerende chaos) Laat ons eerder nie nader kyk na die nekke waarop sommige digters deesdae lê terwyl vroulief werk nie.

Dis dié soort opgeblasenheid wat daartoe lei dat hy die werk van ander skrywers wie se bydrae & opoffering hy nie kan begín begryp nie, kan afkraak in die rubrieke waarmee hy die kollig op homself probeer hou, want publisiteit is suurstof vir dié tipe digter. Mens raak báie maklik ’n voetnoot, meneer Marais. Makliker as wat jy dink. Wat jy skryf oor Sinclair Beiles is tragies, maar dis ook ’n cautionary tale vir die res van ons.

As die tentprediker eers sy eie publisiteit glo, voel hy dit gee hom die reg om ’n tradisie (eenvoudigheidshalwe die kanon genoem) te kritiseer wat hy nie naastenby goed genoeg ken nie. En waarom dáár stop? Vat die grotes aan. Maak halfgebakte, ongetoetste uitsprake oor Allen Ginsberg, sonder dat jy sy werk ken (laat staan nog die Amerikaanse tradisie), sy relasie tot Whitman & Pound, sy voortdigting op Blake.

Ek verwys natuurlik hier na Danie Marais wat Allen Ginsberg se “Howl” ’n “onverkwiklike mengsel van selfverheerliking en selfbejammering” noem. ’n Gedig wat wêreldwyd op bykans elke letterkunde sy merk gelaat het. Ons moet Danie Marais bedank dat hy die skille van ons oë laat val het, want Ginsberg het dekades lank die hele literêre bedryf geflous. Die invloed wat van “Howl” uitgegaan het, nie net poëties nie, maar polities & in die musiekbedryf, is alles net oëverblindery & Marais is die enigste een wat die ware toedrag van sake ken.

Marais gebruik waarskynlik die uitspraak van Harold Bloom wat tereg groot waardering het vir Walt Whitman om Ginsberg tot voetnoot af te maak. Dis so half sy styl. Hy gaan gewoonlik op loop met die een of ander boek wat hy sopas gelees het, gryp ’n kontroversiële uitspraak van die skrywer aan wat hy dan verder aanvul met tweede- & derdehandse/-rangse uitsprake wat hy op die internet versamel. As jy ’n stok soek om iemand mee te slaan, & ek bedoel nou énigiemand, tot die Pous sélf, dan sal jy ’n hele bosvol stokke op die internet kry.

Maar Bloom sélf beklemtoon oor en oor dat 'n subjektiewe leser is. Hy is ’n baie stimulerende & invloedryke denker, maar sy uitsprake is nie die alfa & omega van kritiek nie, iets wat hy die éérste sal wees om te erken (of miskien ook nié, gesien die omvang van sy ego). En dan is sy eie sienings ook nooit staties nie, & evolueer van boek na boek. Bloom se uitspraak oor Ginsberg is beslis nie die laaste woord wat daar te spreke is oor Ginsberg nie, & ook nie een waaroor daar wêreldwyd konsensus is nie. Die verantwoordelike leser moet na die Ginsberg kritiek in die breë kyk om aan Bloom se uitspraak die regte gewig te gee,

Wat Ginsberg van die poësie vergéét het toe hy "Howl" geskryf het, het Marais nie meer genoeg jare oor om te leer nie. As hy maar één gedig só suksesvol & onthoubaar kan skryf, sal ernstige poësielesers dalk van hom notisie neem.

***

In dieselfde trant is die rubriek (Boegbeeld vir nuwe styl) van Charl-Pierre Naudé waarin hy hom uitlaat oor ’n sg. fascistiese ingesteldheid wat glo gespreek het uit die digter T.T. Cloete se optrede tydens ’n huldigingseremonie op Stellenbosch met die onlangse Woordfees. Terwyl Naudé nie daar was nie. Maar die geleentheid om ’n weerlose, bejaarde digter se huldiging te besoedel op grond van tweedehandse, subjektiewe uitsprake kon hy nie weerstaan nie.

Aangesien hy nie sélf teenwoordig was nie, moes hy hom eerder van enige uitsprake daar rondom weerhou het. Of ten minste uitsprake rondom T.T. Cloete, vir wie die funksie ’n hoogtepunt in ’n lang loopbaan as lettterkundige & digterlike vernuwer moes wees. In stede daarvan word allerlei aannames & uitsprake gemaak op grond van subjektiewe uitlatings van “’n Belgiese skryfster met ’n internasionaal politieke profiel” (ai, word ons nog steeds beïndruk deur die blote feit dat iemand van die buiteland is?) oor Cloete se fascisme, oor die gemiddelde ouderdom van feesgangers etc. Dit alles terwyl hy nie sélf daar was nie.

Om ’n persoon, énige persoon, wie se geboortedatum hom of haar binne 'n bepaalde tydsgewrig plaas, van fascisme te beskuldig, is opportunisties & kwaadwillig. En Naudé se ingooi van ’n ongesubstansieerde literêre uitspraak deur “’n jong (vroulike) Afrikaanse skrywer/uitgewer” oor Cloete se jongste bundel, bewys heel duidelik sy kwaadwillige bedoelings met die rubriek. As mense uitsprake wil maak oor openbare figure - al is dit tweedehands - moet hulle ten minste die balls hê om dit nie anoniem te doen nie.

Maar dit is die styl van die jonger kritiek. Die ‘grotes’ word geteiken net omdat hulle groot is. En ook nie almal nie, net die weerloses. Want dit is gewoonlik lafaards wat dit doen. Feit is dat Cloete die grootse vernuwer in die Afrikaanse poësie is sedert Breytenbach, dat hy ’n geweldige invloed op die poëtiese landskap & individuele digters uitgeoefen het, & onthou sal word lank nadat poëtastertjies van Naudé se kaliber in ’n hoogsverdienstelike & reikhalsend-langverwagte vergetelheid verdwyn het. Jy kan ’n digter aanval, maar jy kan nie sy bydrae & sy invloed ongedaan maak nie.

Oor die geopineerdheid van die naamlose Belgiër wil ek my nie eens uitlaat nie. Die Belgiërs & Nederlanders het meer dikwels dan nié opinies oor letterlik álles, & is áltyd reg. Méér nog, het die rég om oor alles & almal ’n opinie te hê, ongeag of dit ’n ingeligte opinie is of nie. Dit is trouens geen belemmering as hulle nie ’n snars verstaan van die verwikkelde konteks waarbinne ons ons bevind nie. Solank die kake net kan beweeg & die vuur vir ’n oomblik gesteel kan word.

Die feit dat daar selde reaksie op Marais of Naudé se stukke is (ek dink hier aan die “howlers” wat Marais kwytgeraak het in sy stuk oor Pessoa ), moet hulle nie verwar met konsensus nie, behalwe nou van hulle entourages. Die meeste lesers & letterkundiges wat van beter weet, beskou hulle nie as belangrik genoeg om in debat mee te tree nie. Hoe gaan die ou gesegde nou weer? Arende vang nie vlieë nie.

*
Met verwysing na die onderhoud met die gebroeders Marais op Litnet:

Oor wie wysheid om in ’n openbare forum wildvreemdes te probeer leer skryf, wil ek nie te veel sê nie. Ek herinner my ’n uitspraak wat die Amerikaanse digter Ted Kooser (Poet Laureate, 2004-2006) in sy handleiding The Poetry Home Repair Manual gemaak het. Benewens kritiek oor die jongste tendense in die poësie (“literary journals chock full of poems that are little more than anecdotes made to look like poems… tricked out in lines of verse. It's not unusual to find a volume of poems that consists of …fifty or sixty minute narratives.”), skryf hy iets meer relevant tot die kultuur van werkswinkels & skryfskole: “The industrial revolution did not reach imaginative writing until recently, and today black clouds of soot belch from the smokestacks over the creative writing schools. Poems gets manufactured and piled on the loading docks where many of them rot for lack of transport. Wouldn’t we all be better off if there wasn’t such an emphasis on productivity?”

Hy maak verder ook ’n belangrike onderskeid tussen being a poet & writing poetry: “There are, in a sense, two poets, the one alone writing a poem and the one in the black turtleneck and beret, trying to look sexy.”

Ek laat dit aan die leser oor om te besluit watter beskrywing by watter Marais pas. En ter illustrasie haal hy ’n vroeë vers van hom aan:

A poet reading

Once you were young along a river, tree to tree,
with sleek black wings and red shoulders.
You sang for yourself but all of them listened to you.


Now you’re an old blue heron with yellow eyes
and a gray neck tough as a snake.
You open your book on its spine, a split fish,
and pick over the difficult ribs,
turning your better eye down to the work
of eating your words as you go.


“At the beginning, too often it’s the idea of being a poet that matters most. It’s those sexy black wings and red shoulders. It’s the attention you want, as the poem says, ‘all of them listening to you’. And then you grow old and, if you are lucky, grow wise.”

Waaroor ek wel die een & ander wil sê, is ’n opmerking wat ek in die Tagtigerjare gemaak het oor vriendskappe tussen skrywers. Loftus Marais het onmiddellik gesnap dat dit meer moedswil as wysheid was.

Ek verstaan alte goed dat daar wél jaloesie tussen skrywers bestaan, maar wanneer daardie skrywers ook vriende is, is daar nie plek vir jaloesie nie. Elkeen doen sy eie ding & ondersteun mekaar deur daardie kalahari’s wit papier, deur die nageboortedepressies & die (meestal) nuttige euwel van resensies. Ander skrywers is dikwels jou eerste lesers & jou eerste bron van hulp.

Natuurlik lees ek bykans elke dag ’n gedig of ’n reël wat ek wens ék het geskryf, maar meestal is die ervaring een van plesier, die soort plesier wat mens ervaar as jy iets kosbaars reg onder jou neus ontdek. Ek is nie afgunstig op vriende se sukses nie, & ek kompeteer nie met vriende nie. Ek glo trouens nie skrywers behoort met mekaar te kompeteer nie, net met hulleself. Om egter te verwag dat ek my sal verheug in die sukses van my vyande, is te veel gevra. Daaroor voel ek, om Gore Vidal ietwat aan te pas: “Whenever an enemy succeeds, a little something in me dies.”


Johann de Lange