Showing posts with label Ernst van Heerden. Show all posts
Showing posts with label Ernst van Heerden. Show all posts

Tuesday, December 25, 2012

Sportgedigte



Ernst van Heerden kan met reg Afrikaans se sportdigter genoem word. Geen ander digter het soveel gedigte & so bestendig oor sport geskryf nie. Voor die operasies waardeur hy beide sy bene verloor het, was Van Heerden ’n kranige sportman. Reeds as skolier & later as student was sport 'n belangrike deel van sy lewe, & gewigoptel was sy passie. Ek het, soos die meeste anders lesers, op skool & deur die gedig “Die gewigopteller” kennis gemaak met sy werk:

Gewigopteller Ian Droze © Chris Kulp

Die gewigopteller

Die taai klou van die grond
vermenigvuldig elke pond,

die ruie vlegsel van die spier
is – triomfantelik! – ’n dier

wat met één kap blitssnel
die swaartepunt verstel.

 Maar Van Heerden het verse oor 'n wye verskeidenheid sportsoorte geskryf: hardlopers, swemmers, boksers, fietsryers, stoeiers, tennisspelers, rugbyspelers, skiërs, branderplankryers, steltlopers, diepseeduikers, valskermspringers, skaatsers, hangswewers, sweefstokartieste & valkeniers onder andere. Interessant genoeg, vir sover ek kon vasstel, het hy net oor sportmanne of vanuit ’n manlike perspektief geskryf – dit was die “ruie vlegsel”, die brute krag, sowel as die grasie van die sportman wat hy bewonder het.

In 1948 by die Kunsfees ten tyde van die Olimpiese spele in London word ses van sy Afrikaanse sportgedigte met 'n silwer medalje & ere-diploma bekroon. ’n Pamflet van die gedigte, getiteld Ses gedigte / Six poems, is gepubliseer. Die gedigte daarin opgeneem, is: "The runner/Die hardloper", "Diving board/Duikplank", "The swimmer/Die swemmer", "The boxer/Die bokser", The weight-lifter/Die gewigopteller", & "Cycle race/Fietswedren".

Op 19 Maart 1993, ’n dag voor sy 77ste verjaarsdag, het die Sportburo van die Universiteit van Pretoria hom met ’n spesiale toekenning vereer vir al sy sportgedigte. By dié geleentheid is die eerste eksemplaar van Sportgedigte, ’n eenmalige oplaag van 350 genommerde eksemplare, aan hom oorhandig. Uit dié bundel wil ek graag ’n paar van my gunsteling sportgedigte deur julle deel.

Justin Wilcox © Foto: Harry How / Getty Images

Duikplank

’n Wenteltrap teen wolkpatroon
wat oor ’n omgekeerde wiegelhemel welf…
O fyn-geveerde boog,
die eindpunt van die sekerheid,
wat hierdie brose pyl – die blanke lyf –
die helder ruimtes in sal skiet…
O yle, selfaanvaarde hoogskavot,
waarteen die laaste ewewig moet stuit;
maar voor die blinde skerpgepunte noodlotsprong
eers nou die swaartekrag magneties tart
en dunnerig wieg op toon en hak…
Nou trek hy suiwer-wyd
sy sierlike sentrifugale boog
wat wolk en blinking bind
en wriemelende waterbeeld wat flits
en toesnel op die skraal spies…

Tamboerslag: skuim en siltigheid,
en dooie water in ’n aardesuil verstar.

Wat my by my eerste besoek by Ernst aan huis opgeval het, was die swembad waarop sy studeerkamer uitgeloop het. Ernst het wanneer weer en seisoen dit toelaat elke dag geswem. Van die studeerkamer se oop skuifdeure het ‘n sementpaadjie met ligte helling af na die swembadrand geloop. Hy het die rolstoel in die studeerkamer gelos & dan met handdoek oor die skouer & in swembroek, sy lyf behendig tussen stewige arms geswaai, tree vir tree, tot by die blou flikkerende watervlak. Dit was die medium waarin hy vry kon wees & vir die oomblik van sy gestremdheid kon vergeet & kon swem & buitel.

Hy het stewige arms gehad, waarskynlik te danke aan sy gewigoptellerdae, maar ook omdat hy as gestremde sonder bene álles met sy hande & arms moes vermag. Hy het sy motor laat modifieer sodat hy dit kon bestuur met handkontroles. Ek het my verwonder oor hoe behendig & kragtig hy die motordak sou vasvat met beide hande & hom met een swaai uit die rolstoel kon lig tot op die sitplek. Hy het groot hande gehad en sy handdruk was stewig. Later in ons vriendskap is die handdruk vervang met ’n soengroet op die wang.

Michael Phelps © Al Bello / Getty Images

Die swemmer

Dit is ’n vryheid meer volkome
as die ligte veerstap oor die grond:
om diep op ademtogte van die see
soos wier te dryf en roer,
willoos soos die seegras-slierte,
en lyfsbeweging en gedagte hier te skei
– vergete huls, verlore spaan,
en meeu wat wit en verre horisonne soek – ;

Om dan met snelle spierverbinding
en hale, rats die ondersee
se listige gryp en sleep te ontwyk,
en vry-uit bo die eerste branderroering,
bo die onmeetlik-diepe watersugte,
na die wit sand koers te kry.

O blou-rooi huisies, vriendelike rook,
o baai en strand wat immer, immer wyk!


Swemvreug

Behep steeds met en deur
die ou wiskunde van die pyn,
wil ek in water
die primêre leniginge soek –
om vry en kettingloos
’n slinkse lyflike maneuver
uit te vier.

Hier kan ek beenloos sprankel, buitel,
gallopteer en harlekynerig dans,
en uitreik na
nuwe droom-betrede strande
met ’n oewerlike ras.

So kan ek steeds ontdekker speel,
gedwing tot nuwe helderte:
hoe sanerend, manties water spoel
en my uit
’n wilde, lukraak wêreld
wurmsgewys terugdu –
snakkend
na die stoting
van die amniotiese vog.

In sy sportgedigte word die sportman altyd gestel in stryd teen ’n opponent, & dié kan wees  van vlees en bloed, of dit kan die dood wees, of natuurkragte, of die self. In “Die bokser” gebruik Van Heerden die distigon-vers om hierdie tweestryd uit te beeld, ’n versvorm waarmee hy baie behendig was.

Julio Diaz & Pavel Miranda © AP Photo / Carlos Osorio

Die bokser

Die grense van die klein kryt
is hellende onvastigheid,

waar wit bors fier teen wit bors staan
en skim teen skim die skynhou slaan;

die lyf word wieging – ritmies, sterk –
tot skerm en liemaak ingeperk;

vier donker oë blits fel en woes,
wyl twee gedaantes mik en koes;

maar elk groteske vuis se smak
laat lis en weerstand verder knak…

die liggaam is so rank gebou
en weerloos teen die man se hou;

tog sal my mokerslag hom tref
waar hy hom vaag en grynsend hef,

sy beeld versplinter in die glas
waar netnou my gestalte was;

’n flikker-weerskyn word verskerf,
’n lyf stort soos ’n koring-gerf…

Wie is die man wat roerloos lê,
wie’t ’n bekende naam gesê?

Waarom die skaar aan’t roep en fluit,
en waarom flakker ligte uit…?


Bokser wat uitgeslaan is

Verblindend gloei die pyn se vuurkolom:
hy hoor tien tellings soos ’n dowwe trom
wat deur sy oë beuk, buk aarde-laag,
laat in die kryt sy bloed se rooiste blom.

Die sport self word by Van Heerden dikwels simbool van die lewe, van die stryd tussen lewe & dood, van die mens teen natuurkragte soos swaartekrag.

Brons Fietsloop © Getty/Beijing, 2008

Fietswedren

Demone hurk die skuinste langs
– bo outomaties soem en flits –
al wilder en waansinniger:
dyspier, voet, pedale ewewigtig
en in magtige gang fyn vasgewoel
met ruisend-starre meganiek…

hoe draai die ratte van die lot,
hoe sing die witblink sirkels in hul
ligte aanraak van die hellingraam;
hul skeer, en sak, vloei saam, en rys:
wrakhout uit die draaikolk vrygepuur
en sierlik uitgewentel bo die tregtervrees.

Stoeiers © Ed Wray/Associated Press

Stoeiers

Hier beuk ’n borskas met geweld
teen ribbes waar ’n krag
soos vuurbrand agter tralies uit wil slaan;

die krygers snak-hyg op die veld
en beur met draadsterk mag
om vyandsklem en wurggreep te weerstaan;

(word kwaad met kwaad of goed vergeld?)
o onbeslegte dag,
drie Laokoöns se stryd hou ewig aan.

’n Ander onvergeetlike sportgedig (of eerder, gedig oor 'n sportfiguur) is Peter Blum se “Die ou bokser”:

Die ou bokser

Wat word van boksers wanneer hulle oud word?
Geleidelik verdor ook die lourier,
verslap die forse houding, spog en swier,
terwyl die geesdrif van die skare koud word.

In kroeë proe hy soms nog die ou roem,
of as ’n sportliefhebber hom herken
en hom help onthou hoedat hy eens gewen
en weer gewen het. Dít is nou sy doem –

om alles heerliks agter hom te weet:
die vrouens wat glibberig oor hom geraak het,
dawerende applous waarin hy trots geblaak het,
omkrans met kalklig, skreeue, lof en sweet.

Net in gimnasiums het hy nog ’n tuiste
waar die jongeres gretig sy wenke afkyk,
onbekommerd na sy trofeë reik
met ongeskonde koppe en vars vuiste.

En wat bly oor? Herinnerings wat verflou,
’n bankbalans wat krimp, ’n dowwer beker,
’n suwwe brein en swaar gestel, jaarliks weker
– net geel koerantknipsels bly nog getrou.

Verbanne koning, Simson werkgeboë,
droom jy van ’n terugkeer na ou glorie?
Dít gebeur net in die Bybel of historie:
Verniet vonk soms ’n felheid in jou oë.

Gaan lê, ou bul, jóú tyd is nou verstreke,
jou harsings is geskud, jou spiere pap.
Voel jy die jeug se opmars oor jou trap?
Vir hulle hou die noodlot nog sy steke.

Gaan lê, maar waak teen selfbejammering:
ofskoon kortstondig, het jy tog gesmaak
waarna hulle almal dors. Dit was jou taak –
dié plaasvervangende regverdiging

van hulle wat kragteloos na die groot luister
tas – ag, net één keer! – en tog telkens faal,
terugsink – elke doelwit onbehaal –
en naamloos voorgesleur word in die duister.

Van Heerden se “Rustende atleet” sou daarmee saamgelees kon word:

© Michael Maloney, The Chronicle

Rustende atleet

Vroeër nog bewus
van ongesiene makkers in die loop,
kry soveel gans ontspanne spiere
en hul stroewe werwelmeganismes
nou die kans
vir ’n ander, edeler bedryf:

om daagliks
kwesbaarheid te weer –
pyle wat die hakskeen tref
en messe wat arteries kerf en las –
met aanvaarding susgemaak
vir die tweede man se ewige triomf.

Al beurend weet
die hart uiteindelik:
die bo-nerf is
as pantser onvolmaak,
volmaak vermink.

Waaraan Hennie Aucamp sy pragtige bundeltitel, Volmink, ontleen het.

Brady Ellison © Paul Gilham / Getty Images

Vraag van die boogskutter

Wat is die verste wat die boog kan span,
hoeveel kan hierdie taai pees vedra…?
sal die vering van geloof
nou nog ’n laaste pyl
laat spring en stort
(waar konsentries-swart die sirkels van die brein
’n klein heelal omspan),
en feilloos tot die kern dring…?

In “Steltloper” gee Van Heerden ’n rare perspektief op ’n aktiwiteit wat alreeds in sigself raar is. Sy sportverse steek nooit vas in blote beskrywing nie, maar eerder simbolies van bekende magte in “haglike ewewig” (om ’n frase van Ina Rousseau te gebruik), van goed teen kwaad, lewe teen dood, en dikwels verras hy met buitengewone perspektiewe wat disparate wêrelde by mekaar uitbring.

Steltlopers

Steltloper

Om die aarde weg te stoot is nou sy lis:
’n pik-pik-spoor laat sy vervolgers gis;

op kuise selfverheffing word gedra
geen Kiriloff, maar een wat deemoed vra;

en as hy ongestut fantasties staan
(vertraagde paalsprong wat nie verder gaan),

reik hy verlangend na die son se wit:
maar waarvoor sou die hotnotsgot nog bid?

Diepseeduiker by skeepswrak © Ty Sawye

Diepseeduiker

Huilwind, hoë stormsee en stroom
is tot ’n wêreld van glasuur verstil:
’n traer ritme in die wiere oorgeplant
en oë flikkerloos tot lens verkil.

By ou skelette van galjoene langs
waar krewe geil in slierte hou,
trek seesterpunte tot ’n roosblom saam
voor tokkelossie aan die borreltou.

In kwik vind hy sy voel-voel-gang vertraag,
’n groen liaan verstrik die grootoog-tor,
die by wat blindelings met die voelhorings tas
na goue meeldraad van die Grosvenor.

Of dit kan die vorm aanneem van historiese perspektiewe, ’n museumbesoek, waarin die tradisie van jag oorskou word, binne die paradigma van jagter & prooi:

A Merry Hunting Party Resting Near An Inn With Hounds In 
The Foreground - Simon Johannes van Douw (1630 - 1677)

Die jagter
“…zal de jager prooi worden?
A. Roland Holst

’n Gewelddadige tyd.
Oorloë, gerugte van oorloë, relletjies,
moorde en brandstigting,
en die pluime van rookvure orals…
en die ou agtervolging van een wat ek ken;

ek loop van vlaktes na berge,
en in ’n grot
met opgetrekte skouerskaal
staan ek by wande
waar grotesk
die leërskare van ’n vroeër tyd ontplooi:
geel mensies, elande, ’n wit volstruis,
en ’n gilpylreën in oker-rooi;
en grabbel in vlermuismis
en snuffel waar die luiperdruik nog vars is…

Later, op die sooidik rooi tapyt
van ’n ou museum,
sien ek die hoë, goud-omraamde doek
van ’n vossejag
met rooibaadjie-ruiters en uitgelate brakke
en ek staan onthuts en pyn-bewus…

die lug
en alle engtes van die vrees
is grou;
maar, met die lem van tande ontbloot,
gevaarlik-snel
sal ek my eie spoor
oor alle hindernisse
bloedhond-seker
agtervolg.

Teen die agtergrond van sy eie verminktheid & ouderdom word in die sportgedigte dikwels gefokus tussen die spanning tussen jeug & ouderdom, volmaaktheid & verminking.

Yuri © By Rachael Taylor

Skaatserswals

Tyd het sy krag verloor:
sekondes tamp nie meer
maar smelt met eeue saam;

die vlees is glad geen las,
lê dons-lig op ’n jong skelet
wat buig en pronk in dodedans;

die lem sny agt en agt en agt –
die boemerang en parabool
oor feëspieël en swanemeer;

en altyd – van die wydste es –
weer terug en in, magneties-
aangetrokke terug en in…

in ys en lig trek jare saam:
ons oë en Brueghel-swaeltjies
sentripetaal en koud gestol.

Meester valkenier, Tom Smylie, met 'n peregrynse valk 
(© 2012 Forum Communications Co)

Sy vers "Die valkenier" kan met vrug saamgelees word met Thom Gunn se "Tamer and Hawk" (Gunn se vers tree eweneens weer in gesprek met Robert Duncan se onvergeetlike "My mother would be a falconress").

Die valkenier

Onder die dagboog
het die edelvalk met sy gehuikte oë
’n trotse onderdanigheid geleer;

as hy sy keiserlike skedel rukkerig draai,
word uit die moederlug
deur die vrye vlerkvolk
van bloedvink, mossie, kerkkraai
reeds die gefnuikte se ver verraad vermoed.

Al word ’n vleisklos bekoorlik rondgeswaai,
sy perke bly steeds uitgestippel
en hy meegéwend met ’n nawelstring verbind;
die vryheid loop net treë ver –
tot in die eerste wipsprong
waar hy die enge ruimte mag verken.

Al is die lokaas mals en rooi,
al is die klowe groen bebos,
al is sy wêreld ryk bekwetter,
die onderhorige hoor net ’n enkel stem,
en keer geseglik en deemoedig
na die Groot Pols terug.

Gehuikte valk


Tamer and Hawk
Thom Gunn

I thought I was so tough, 
But gentled at your hands, 
Cannot be quick enough 
To fly for you and show 
That when I go I go 
At your commands.

Even in flight above 
I am no longer free: 
You seeled me with your love, 
I am blind to other birds? 
The habit of your words 
Has hooded me.

As formerly, I wheel 
I hover and I twist, 
But only want the feel, 
In my possessive thought, 
Of catcher and of caught 
Upon your wrist.

You but half civilize, 
Taming me in this way. 
Through having only eyes 
For you I fear to lose, 
I lose to keep, and choose 
Tamer as prey.


Bibliografie

Peter Blum. Steenbok tot poolsee. Tafelberg uitgewers: 1955/1974]
Ernst van Heerden. 1993. Sportgedigte. Tafelberg-Uitgewers Bpk

Sunday, December 9, 2012

Verse vir Ernst

Ernst van Heerden (1916 - 1997)


Inhoud

Hennie Aucamp – Drie Kwatryne
Johann de Lange – Sprinkaan
Elisabeth Eybers – Waarneming
W.E.G. Louw – Amsterdam, September 1939
D.J. Opperman – Antieke klok
S.J. Pretorius – Raad aan Oisin
Ina Rousseau – Kallus

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Hennie Aucamp (Foto: Johann de Lange)

Drie Kwatryne
Hennie Aucamp

Allerheiligeaand

Skrik iemand nog vir koupampoen?
Maar kyk, dit is die spookseisoen
en elke kop, soos ’n gedig,
straal deur sy holtes bietjies lig.


Memento mori I
na John Betjeman

Hy het óú restaurants verkies,
aartappels skil en al:
nou is sy mond ’n wydoop gat
waarin die donker aarde val.


Memento mori II

Geen kastanjette wat meer klepper,
haar kake is nou sonder spier –
maar by haar mond uit – Carmencita! –
hang steeds ’n bloedrooi angelier.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Breyten Breytenbach (Foto: Loanna Hoffmann)


Die jammerlappie
Breyten Breytenbach

vir Ernst van Heerden

“Eres libre si te olvidas el nombre del jefe”
Iosif Brodskij

1.
daar oorkant die vlei
staan ’n mooi rooi blom
hoe sal ek maak om by haar te kom
dis te ver om te loop
dis te na om te ry
hoe sal ek maak om die blom te kry

sonbesies is stilte. na ’n tyd
hoor mens nie meer die dorrer gorrel
van die nagtegaal nie,
boomsingertjies soos ’n kritselende orrel
met ’n temerige tema
van die silwerspel van hitte
het alle klanke verorber
en ’n wit gat uit die dag gevreet

ontbinding is wet. Losmaak
en vasmaak gaan om één gordel,
motief sluip soos ’n dief
katvoet deur die wit spasies
tussen die lyne op jag
na die note van slaperige voëls:
as jy met die middag
onder die son se geraamterige oog
digby die wit stilte van die vyeboom loop
dan ruik jy ’n ander werklikheid

die dooies dra donker sokkies. in Suidland
onder rookvure van onsigbare sterre
toyi-toyi kamma-kamerade in optog
deur die strate al agter die kaalgat koning aan:
Rewolusie, die  sondebok
met die oog-oog oë van ’n uitgeteerde kind
gaan geslag word en geëet, en as ek dink
my ma het my geleer om nooit
aan tafel te praat met ’n hart
vol verdriet nie

hoe om hierdie landskap in vers te laat vertaal
as ’n aardse omgang met die alledaagse:
’n raap is ’n ding wat brom in die grond
’n roos is ’n mond wat vaas in die geheue
vir die rangskikking van rooi prewelinge

skynbeweging. met skemerval kie-rie
kie-rie die doodvoël se sang ’n floerserige vlug
van boom tot boom
aan die periferie van die gesigveld

die lug se keel trek toe. met pik en hark op die rug
kom ek terug van die land:
muskiete sing hul sutras om my ore,
’n vlermuis het die sin van sokkies brei verloor,
motief is tog nie te verwar met rede,
deur ’n keisersnee het die son donkerte gebaar
en die luglyn is versadig van bloed,
vanaand tree die maan weer op die verhoog
met ’n heuningkleur toga oor die pokke

die nag kry gesig. die pieke word gevou
in die plooie, ek trek my sokkies aan en droom
van die hemel en luister na Suidland
se ritselende nuus oor die eter van motorbomme
of karaktermoord of die aktivis
met die elektriese tong wat gekortsluit het:
dis die voorvaders
wat so raas
in my gesprek
om opstand

as die donderpadda brul kom die rivier reeds af
en blitsige insigte gaan begin te kere:
onhandig op donker sokkies moet ek hardloop
om die dood vooruit te bly
in die modderige bed

dis nie myne nie
dis nie joune nie
dis anderman se vrou wat ons na vry


2.
dit staan vas:
buite die kolonie woorde bestaan die vers nie
al buik hy ook sy longe uit

soos spookfetusse as vrugte
van Rewolusie se fantoomgeswel
kom die gryskop leiers uit die binneste
duisternis van tronke of die buitenste
verblindings van ballingskap –
spinnekoppe sonder kwyl
onvas op die pote
en met mummies in die mond:
die hart het reise wat die mensdom
nie van weet nie
en om weg te hardloop is ook ’n bevrydingstegniek
(wat hét geword van die hoede?)

kyk hoe draf die emeritus digter

kinders het na my huis gekom
en prentjies geteken van engele
wat vlieg in die papier –
buite het die sonbesies alle klank
uit die dag geritsel
tot ’n silwer stilwees van hitte –
en net vlinders het nog beweeg
as die applous van een hand
binne kontoere van ’n ewige sin –
was daar ook betekenis?
iewers is die gedig soos ’n vyeboom
waarvan die vye nog nie ryp is nie
maar reeds met die reuk van groen aanwesigheid:
agter die verdonkermaande engelevlerke
was die brief van ’n vriend uit Suidland
geskrywe in Rewolusie se geluidlose
bitter swart melk –

ek dra oor van die kolom van geheue
alle informasie na die rekenaar se huig
en kry so ’n argief elektronies gegroef
op die week bewussynswerwel –
wat is tog hierdie leë eggekamer vir gekke
eksistensiële vrae?

want daar is geen oorwinning nie:
alleen dood in die hand geneem as skaduwee
al drawwende tussen die bene

hardloop, wanneer jy fiks is
laat sak die hart en maak die kop los;
is jy onfiks laat sak dit jou kop
en maak van jou hart ’n hoer
wat hand in die sy gaan staan en tros
asof sy dink sy is God se gif
aan die wêreld se draadtrekkers

die swartwit ekster alleen
op die vars geploegde land: ’n sersant-
majoor in die Heilsleër
(wat het geword van die pet?)

indien ek al die televisiekanale van die heelal
in een stroom sou lei
en die aggregaat verteer
tot die Laagste Gemene Deler:
dan het ek die Ware Liggaam van God gekry
(wat hét geword van die kroon?)

aan die kuste van eilande
word swart verstekelinge oorboord gegooi
om sonder onderbroek of naam
in die vreemde uit te spoel –
vlugtelinge van ’n burgeroorlog
waar bedwelmende oorlewendes
geklee in pers togas en mondiale World Cup-sokkerhempies
met gris-gris en keile mekaar onthoof
(wat hét geword van die keile?)

die purper mantel bloed
argeloos gedrapeer
oor die stier se donker skof

die seremoniële passies, een keer
nog die hoof gelig om met skadu-oë uit te kyk
oor die ryk van sluipmoordenaars en idiote

dan sak die snoet
half ongeduldig
vir die ontbloting van lig uit die rooi doek

hulle weet nie wat dit is
om gebore te word vir sterwe nie!

dan tog nog die koggelende uitsteek
van die tong,
horings soos ’n koningshoed in die stof

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Johann de Lange

Sprinkaan
Johann de Lange

vir Ernst

Ken u ’n groen sprinkaan?

Oor Kerkplein kom hy
teen bitsige werwelwinde
in gebeur een wintersoggend
kompleet met vliegbril
soos ’n transatlantiese
pionier-vlieënier,
’n vreemde groen gedoente,
kom hy in met sagte
pienk binnevlerke
u i t g e s p r e i
om op my skouer te land.

Ek draai my kop
’n tydlose aks
om my besoeker te takseer:
die lyf van skutmetaal,
die groen bril
waardeur hy my betrag,
onverwonderd, strak.

Maar my skouer blyk
’n onstabiele landingstrook.
Sy enjin snor weer aan,
hy sirkel ’n slag
skepties om my molog-kop
& sit dan swalkend noord
sy antieke vlugplan voort.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~


Elisabeth Eybers


Waarneming
Elisabeth Eybers

Hoe ingewikkeld weerloos is die mens,
jy sou hom eerder uit die weg moet gaan,
tog kom dit voor dat jy teenoor hom staan
sonder gebruiksaanwysing, met die wens
dat julle saam iets van mekaar mag leer
binne die sober voorbestemde perk.
Gaan dan met groot omsigtigheid te werk:
van alles waaraan hy hom kan beseer
– hy wat so seldsaam letselvatbaar is –
sal jy jou nooit volledig vergewis
vóór dit te laat is om hom af te weer.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

W.E.G. Louw (1913 - 1980)


Amsterdam, September 1939
W.E.G. Louw

Niks sal ooit weer wees soos dit daardie somer was:
die water van die Spiegelgracht lê swart soos glas;

die brûe, boë, bome en lampe ry op ry
wieg lui-lui heen en weer as ’n bootjie daaroor gly;

en deur die mis wat instoot van die see terwyl
die skemer teen die gewels styg, klink vér en yl,

asof gesprinkel, ’n wysietjie uit ’n toringklok.
Maar dis reeds oorlog! Die besef tree skielik met ’n skok!

Ons wis dit séker ’n herfsmiddag, later, toe eindelik
ons skip die oop see kies en ons ’n laaste blik

vergun word van die kus – die strand, die kaal, wit duin
en ’n vuurtoring, donker, teen die donker, lae kruin;

en toe, ’n kwartiertjie later, in die Noordsee, mis ons boot
rakelings ’n myn wat los dryf in die see – en óns die dood.

Ons vaar dan verder: ’n helder driekleur aan die mas…
Maar niks sou ooit weer wees, soos dit daardie somer was.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

D.J. Opperman (1914 - 1985)


Antieke klok
D. J. Opperman

Vir Ernst van Heerden – wat vir TV se gebruik
’n lykrede oor my gelewer het

Uit die aamborstige getik
van die antieke
meubelstuk
van bal en klou,
het jy op Pearston ooit kon dink
jy is vir nagraadse lesse
anatomies voorbeskik
vir slyp en klik
van goddelike messe?

Die stetoskoop
proe eers jou bors,
jou rug, jou hart,
jou pees en vlees
verklaar
jou fris uit die Karoo
geskik
vir die operasie: gees.

Jou een voet
geamputeer. Jy word
weer op die skaal gegooi –
nog ’n fraksie afgeflens…
die wyster wys
jy is twaalf kilo
nog te veel flirtasie mens.

Weer op die blok:
die een been afgesaag –
die wyster sak,
kwart voor twaalf –
uit die Karoo: skilpad en akkedis –
die prys en bloeddruk laag,
die kopers kyk
en vergelyk
maar koop nie graag.

Nou kom daardie uur
van ons menslike natuur
waar ’n simpatiese gestel
deur die skepping heen
jou na die afwesige –
’n mens/’n ander been –
verteer met kouevuur.

Jy word vir keurders opgeveil:
’n sonvis –
tussen waaiervinne
die spleet van ’n mosselmond
met die lippe effens oop
en die tong as mossel binne.

Van vorm tot vorm
gekerf en weer gekerf
tot bekoorlike barok
vir daardie blik
van die antieke klok
wat sonder mededoë
stop of tik
waar jy en ek
soldaat en akkedis
tot kille kuns verstrak
voor opwengate
van diep medusa-oë.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

S.J. Pretorius (1917 - 1995)


Raad aan Oisin
S.J. Pretorius

vir Ernst

Tir Nan Og is die wêreld van die syn,
jou liefste Niamh waar in ewigheid
die lewe lag, die ware werklikheid
met liefde en musiek sonder die pyn
en sielsverlies van alles wat verdwyn
in desillusie en verganklikheid
waar swaar kohorte van die dood en tyd
steeds storm oor die wêreld van die skyn.
Verlang nie huis toe trug nie, nee o nee,
woon op jou silwer eiland in die see
o siel, want daar’s geen ander onderkome
vir jou as in die wêreld van jou drome.
Láát wie hier laag wil sterf in Fenian,
maar yl jy na die ewigheid met Bran.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Ina Rousseau (1926 - 2005)


Kallus
Ina Rousseau

Sonder meer word daar gespeel
met byle en pyle.    Oral is
die skerpte van glasskerwe
of die sterkte van dorsstokke
en pikstele.    En die staketsel
wat met elsspits spyle
ons persele afbaken, ook dié
beskerm of dien ons nié,
maar berokken ons
nog ernstiger letsels
wat baie langsaam heel.
                        Uit wondweefsel
Is ons lewens saamgestel.



[Verse uit: Verse vir Ernst, Tafelberg-Uitgewers: 1991]