Showing posts with label Andries Samuel. Show all posts
Showing posts with label Andries Samuel. Show all posts

Saturday, May 21, 2011

Arende & vlieë

Skoenbekooievaar

Daar was ’n tyd, om & by 1998, toe die gebrek aan debute my baie gekwel het. Poësie het voortdurende infusie van nuwe bloed nodig. Sedertdien het die situasie verbeter & het ’n hele klompie sterk stemme gedebuteer. Maar ek is steeds gekwel, soos trouens ook Antjie Krog, oor die gebrek aan jóng debute.

Daar is sekere belewings wat jy nét reg aan kan laat geskied terwýl jy nog jonk is. Jy kan steeds daaroor skryf as jy ouer is, maar nooit weer op die manier waaarop jy dit sou gedoen het as jongmens nie. Die jongmens se belewenis as digter is baie skraal verteenwoordig. Ons het laas met Krog (Dogter van Jefta, 1972), Annesu de Vos (Gebed van ’n groen perske en ander verse, 1980) & Theunis Engelbrecht ('n Gedig is so onskuldig soos 'n eier, 1982) wérklike jong gebute gehad. Jasper van Zyl (Die lewe tussen pikkewyne, 2011) is die eerste jong digter in ’n lang tyd, maar hy is ook al op universiteit (hoewel 'n groot deel van sy verse reeds op skool geskryf is).

Ek praat van wérklik jong digters, digters wat nog op skool is. Daar is 'n groot behoefte aan poësie wat die  huidige generasie se ervarings verwoord. Daar ís talent, ongetwyfeld, maar is uitgewers nog bereid om sulke jong digters 'n kans te gee? (Ek ignoreer nie hiermee die uiters belangrike werk wat die Nuwe stemme-reeks in dié verband doen nie, maar teen die tyd dat van dié digters met solobundels debuteer, is hulle al op universiteit, of selfs ouer, & is daardie spesifieke soort spontaneïteit uit hulle uit geworkshop)*.

In die plek daarvan het ons ’n generasie digters wat hulle nie volledig tot die letterkunde kan verbind nie, wat nie die toewyding kán of wíl gee wat enige kunsvorm van die kunstenaar eis nie; ’n generasie van Jack-of-all-trades – hulle skryf ’n bietjie, hulle maak bietjie musiek, hulle skilder 'n bietjie, hulle doen ’n bietjie pottery, hulle blog. Skryf is net nog een van die dinge wat hulle doen, dis nie die belángrikste ding wat hulle doen nie. Die gevolg is dat hulle nie één van die dinge wérklik goed doen nie. Dit blyk nie net uit hulle werk nie, maar ook uit hulle gebrekkige kennis van & belangstelling in die tradisie waartéén hulle so uitvaar. Dit word bittermin skrywers gegun om meer as een genre te bemeester & góéd te doen, & nóg minder om ook ánder kunsvorms suksesvol te bedryf.

Ek is van 'n generasie wat nie kunstenaars ernstig kan opneem vir wie hulle skryfwerk nie ’n alleroorheersende passie is nie, wat nie kan sê (& dit bedoel): ek skryf omdat ek nie anders kán nie. Daar is welkome uitsonderings wat my hoop gee, digters soos Loftus Marais, Carina Stander, Martina Klopper, Melt Myburgh, Andries Samuel, Fourie Botha (pas gedebuteer by Queillerie met  Donkerkamer), etc. Sukses as skrywer het meer te doen met deursettingsvermoë as met talent. Jy moet skryf méér as enigiets anders begeer. En jy moet vrede kan maak met die opofferings wat deel is van dié soort toewyding.

Onder die huidige generasie digters is daar 'n paar wat ek tentpredikers wil noem, die Billy Grahams van die poësie met hulle gevolg in die vleuels & agter die skerms. Ons het poësiesaamtrekke waar al die aspirante & sikofante een vir een op die verhoog die mikrofoon vasvat, uit die kreatiewe rolstoel orentkom & sê: “Ek kan dig!” En die gehoor gló.... merendeels. Die feit dat jy kan voorlees, beteken nog lank nie dat jy kan dig nie. En kan die applous eg wees?

Maar o my siel, daar’s ryke stof: hierdie tentpredikers is gereed om met die geringste aanmoediging & die karigste van rekwisiete ’n tent op te slaan & teen ’n stewige fooi te workshop dat die ink spat. En vir die sikofante is die eerste gebod: jy moet gló. In jouself, in die poësie, & verál in mý, want kyk, ek het dit gemáák, ek is bekroon, ek word gevra om oorsee voor te lees, ek kan skryf op aanvraag, béter as enige poet laureate. Ja, dis ’n generasie wat weet hoe om die tegnologie te gebruik om hulleself te bemark &’n faux kultus om hulleself te skep & aan die gang te hou. ’n Generasie star fuckers, want sonder die assosiasie of ‘vriendskap’ dan met groot name, sal dit vir party maar moeilik gaan om ernstig opgeneem te word.

En soos ons almal weet: as só 'n beweging eers momentum gekry het, as die tentprediker eers homsélf & sy boodskap gló, is daar geen keer nie. En dat Marais sy eie publisiteit glo, dat al die akkolades & onderhoude rondom skrywer-wees reguit na sy kop toe gegaan het, lei daartoe dat hy 'n uitspraak soos die volgende oor Ginsberg se ikoniese gedig "Howl" kan maak: “Dit klink nou vir my na ’n oorskatte, mistifiserende voetnoot tot Walt Whitman en ’n idealiserende beskrywing van pretensieuse daggarokers wat vrot verse skryf terwyl hulle op ander se nekke lê.” (’n Roerende chaos) Laat ons eerder nie nader kyk na die nekke waarop sommige digters deesdae lê terwyl vroulief werk nie.

Dis dié soort opgeblasenheid wat daartoe lei dat hy die werk van ander skrywers wie se bydrae & opoffering hy nie kan begín begryp nie, kan afkraak in die rubrieke waarmee hy die kollig op homself probeer hou, want publisiteit is suurstof vir dié tipe digter. Mens raak báie maklik ’n voetnoot, meneer Marais. Makliker as wat jy dink. Wat jy skryf oor Sinclair Beiles is tragies, maar dis ook ’n cautionary tale vir die res van ons.

As die tentprediker eers sy eie publisiteit glo, voel hy dit gee hom die reg om ’n tradisie (eenvoudigheidshalwe die kanon genoem) te kritiseer wat hy nie naastenby goed genoeg ken nie. En waarom dáár stop? Vat die grotes aan. Maak halfgebakte, ongetoetste uitsprake oor Allen Ginsberg, sonder dat jy sy werk ken (laat staan nog die Amerikaanse tradisie), sy relasie tot Whitman & Pound, sy voortdigting op Blake.

Ek verwys natuurlik hier na Danie Marais wat Allen Ginsberg se “Howl” ’n “onverkwiklike mengsel van selfverheerliking en selfbejammering” noem. ’n Gedig wat wêreldwyd op bykans elke letterkunde sy merk gelaat het. Ons moet Danie Marais bedank dat hy die skille van ons oë laat val het, want Ginsberg het dekades lank die hele literêre bedryf geflous. Die invloed wat van “Howl” uitgegaan het, nie net poëties nie, maar polities & in die musiekbedryf, is alles net oëverblindery & Marais is die enigste een wat die ware toedrag van sake ken.

Marais gebruik waarskynlik die uitspraak van Harold Bloom wat tereg groot waardering het vir Walt Whitman om Ginsberg tot voetnoot af te maak. Dis so half sy styl. Hy gaan gewoonlik op loop met die een of ander boek wat hy sopas gelees het, gryp ’n kontroversiële uitspraak van die skrywer aan wat hy dan verder aanvul met tweede- & derdehandse/-rangse uitsprake wat hy op die internet versamel. As jy ’n stok soek om iemand mee te slaan, & ek bedoel nou énigiemand, tot die Pous sélf, dan sal jy ’n hele bosvol stokke op die internet kry.

Maar Bloom sélf beklemtoon oor en oor dat 'n subjektiewe leser is. Hy is ’n baie stimulerende & invloedryke denker, maar sy uitsprake is nie die alfa & omega van kritiek nie, iets wat hy die éérste sal wees om te erken (of miskien ook nié, gesien die omvang van sy ego). En dan is sy eie sienings ook nooit staties nie, & evolueer van boek na boek. Bloom se uitspraak oor Ginsberg is beslis nie die laaste woord wat daar te spreke is oor Ginsberg nie, & ook nie een waaroor daar wêreldwyd konsensus is nie. Die verantwoordelike leser moet na die Ginsberg kritiek in die breë kyk om aan Bloom se uitspraak die regte gewig te gee,

Wat Ginsberg van die poësie vergéét het toe hy "Howl" geskryf het, het Marais nie meer genoeg jare oor om te leer nie. As hy maar één gedig só suksesvol & onthoubaar kan skryf, sal ernstige poësielesers dalk van hom notisie neem.

***

In dieselfde trant is die rubriek (Boegbeeld vir nuwe styl) van Charl-Pierre Naudé waarin hy hom uitlaat oor ’n sg. fascistiese ingesteldheid wat glo gespreek het uit die digter T.T. Cloete se optrede tydens ’n huldigingseremonie op Stellenbosch met die onlangse Woordfees. Terwyl Naudé nie daar was nie. Maar die geleentheid om ’n weerlose, bejaarde digter se huldiging te besoedel op grond van tweedehandse, subjektiewe uitsprake kon hy nie weerstaan nie.

Aangesien hy nie sélf teenwoordig was nie, moes hy hom eerder van enige uitsprake daar rondom weerhou het. Of ten minste uitsprake rondom T.T. Cloete, vir wie die funksie ’n hoogtepunt in ’n lang loopbaan as lettterkundige & digterlike vernuwer moes wees. In stede daarvan word allerlei aannames & uitsprake gemaak op grond van subjektiewe uitlatings van “’n Belgiese skryfster met ’n internasionaal politieke profiel” (ai, word ons nog steeds beïndruk deur die blote feit dat iemand van die buiteland is?) oor Cloete se fascisme, oor die gemiddelde ouderdom van feesgangers etc. Dit alles terwyl hy nie sélf daar was nie.

Om ’n persoon, énige persoon, wie se geboortedatum hom of haar binne 'n bepaalde tydsgewrig plaas, van fascisme te beskuldig, is opportunisties & kwaadwillig. En Naudé se ingooi van ’n ongesubstansieerde literêre uitspraak deur “’n jong (vroulike) Afrikaanse skrywer/uitgewer” oor Cloete se jongste bundel, bewys heel duidelik sy kwaadwillige bedoelings met die rubriek. As mense uitsprake wil maak oor openbare figure - al is dit tweedehands - moet hulle ten minste die balls hê om dit nie anoniem te doen nie.

Maar dit is die styl van die jonger kritiek. Die ‘grotes’ word geteiken net omdat hulle groot is. En ook nie almal nie, net die weerloses. Want dit is gewoonlik lafaards wat dit doen. Feit is dat Cloete die grootse vernuwer in die Afrikaanse poësie is sedert Breytenbach, dat hy ’n geweldige invloed op die poëtiese landskap & individuele digters uitgeoefen het, & onthou sal word lank nadat poëtastertjies van Naudé se kaliber in ’n hoogsverdienstelike & reikhalsend-langverwagte vergetelheid verdwyn het. Jy kan ’n digter aanval, maar jy kan nie sy bydrae & sy invloed ongedaan maak nie.

Oor die geopineerdheid van die naamlose Belgiër wil ek my nie eens uitlaat nie. Die Belgiërs & Nederlanders het meer dikwels dan nié opinies oor letterlik álles, & is áltyd reg. Méér nog, het die rég om oor alles & almal ’n opinie te hê, ongeag of dit ’n ingeligte opinie is of nie. Dit is trouens geen belemmering as hulle nie ’n snars verstaan van die verwikkelde konteks waarbinne ons ons bevind nie. Solank die kake net kan beweeg & die vuur vir ’n oomblik gesteel kan word.

Die feit dat daar selde reaksie op Marais of Naudé se stukke is (ek dink hier aan die “howlers” wat Marais kwytgeraak het in sy stuk oor Pessoa ), moet hulle nie verwar met konsensus nie, behalwe nou van hulle entourages. Die meeste lesers & letterkundiges wat van beter weet, beskou hulle nie as belangrik genoeg om in debat mee te tree nie. Hoe gaan die ou gesegde nou weer? Arende vang nie vlieë nie.

*
Met verwysing na die onderhoud met die gebroeders Marais op Litnet:

Oor wie wysheid om in ’n openbare forum wildvreemdes te probeer leer skryf, wil ek nie te veel sê nie. Ek herinner my ’n uitspraak wat die Amerikaanse digter Ted Kooser (Poet Laureate, 2004-2006) in sy handleiding The Poetry Home Repair Manual gemaak het. Benewens kritiek oor die jongste tendense in die poësie (“literary journals chock full of poems that are little more than anecdotes made to look like poems… tricked out in lines of verse. It's not unusual to find a volume of poems that consists of …fifty or sixty minute narratives.”), skryf hy iets meer relevant tot die kultuur van werkswinkels & skryfskole: “The industrial revolution did not reach imaginative writing until recently, and today black clouds of soot belch from the smokestacks over the creative writing schools. Poems gets manufactured and piled on the loading docks where many of them rot for lack of transport. Wouldn’t we all be better off if there wasn’t such an emphasis on productivity?”

Hy maak verder ook ’n belangrike onderskeid tussen being a poet & writing poetry: “There are, in a sense, two poets, the one alone writing a poem and the one in the black turtleneck and beret, trying to look sexy.”

Ek laat dit aan die leser oor om te besluit watter beskrywing by watter Marais pas. En ter illustrasie haal hy ’n vroeë vers van hom aan:

A poet reading

Once you were young along a river, tree to tree,
with sleek black wings and red shoulders.
You sang for yourself but all of them listened to you.


Now you’re an old blue heron with yellow eyes
and a gray neck tough as a snake.
You open your book on its spine, a split fish,
and pick over the difficult ribs,
turning your better eye down to the work
of eating your words as you go.


“At the beginning, too often it’s the idea of being a poet that matters most. It’s those sexy black wings and red shoulders. It’s the attention you want, as the poem says, ‘all of them listening to you’. And then you grow old and, if you are lucky, grow wise.”

Waaroor ek wel die een & ander wil sê, is ’n opmerking wat ek in die Tagtigerjare gemaak het oor vriendskappe tussen skrywers. Loftus Marais het onmiddellik gesnap dat dit meer moedswil as wysheid was.

Ek verstaan alte goed dat daar wél jaloesie tussen skrywers bestaan, maar wanneer daardie skrywers ook vriende is, is daar nie plek vir jaloesie nie. Elkeen doen sy eie ding & ondersteun mekaar deur daardie kalahari’s wit papier, deur die nageboortedepressies & die (meestal) nuttige euwel van resensies. Ander skrywers is dikwels jou eerste lesers & jou eerste bron van hulp.

Natuurlik lees ek bykans elke dag ’n gedig of ’n reël wat ek wens ék het geskryf, maar meestal is die ervaring een van plesier, die soort plesier wat mens ervaar as jy iets kosbaars reg onder jou neus ontdek. Ek is nie afgunstig op vriende se sukses nie, & ek kompeteer nie met vriende nie. Ek glo trouens nie skrywers behoort met mekaar te kompeteer nie, net met hulleself. Om egter te verwag dat ek my sal verheug in die sukses van my vyande, is te veel gevra. Daaroor voel ek, om Gore Vidal ietwat aan te pas: “Whenever an enemy succeeds, a little something in me dies.”


Johann de Lange

Sunday, January 30, 2011

Handlangers. ’n Blog vir die linkerhand

Slapende sater Bouchardon (Louvre)

Draadtrek, riemruk, tos, mielie-rol, of deesdae: wanking, edging, sounding, nutting, jerking off, spreading the baby batter, facials, bukake, cream pies, & self-snacking – elke streek het sy eie streke. Om Opperman effens aan te pas: die plek & die spelers mag wissel, maar die spel word in die tyd herhaal. Om die waarheid te sê, is riemruk ouer as die oudste van beroepe. Sedert Adam dit ontdek het (soos gesimboliseer deur die slang), het seuns & dogters, ma’s & pa’s, Ooms & Tannies, Oumas & Oupas, nonne & priesters, selfs bobbejane & dolfyne, nog nooit opgehou om na dié solitêre plesier terug te keer nie, ongestuit deur die huwelik of enige selibatêre voornemens.

Freud het heelwat gedoen om dit te probeer bevry van die vuur-&-swael retoriek, & voor te hou as natuurlike variasie in menslike seksuele gedrag. Dit is egter vandag nog steeds in sekere sosiaal-religieuse kontekste ’n sonde, & frases soos selfbevlekking, verspilling op barre grond, of geykte waninterpretasies van bybeltekste gedy steeds. To swallow, or not to swallow?

Ek onthou my eerste keer met 'n neef asof dit gister was, daardie gevoel van plesier & angs. Gelukkig herstel mens op daardie ouderdom baie gou & ’n tweede & derde keer het gevolg (oor & weer dié keer, want dis een van daardie rare vreugdes wat nóg lekkerder is om te gee as om te kry), net om weer daardie gevoel van beheer verloor, daardie “heer-, heer-, heerlike” oomblik, weer & weer te ervaar. Aaah, die volume, die afstand, die gradiënt, die instant reload van die jeug!

Dit behoort niemand te verras om in die letterkunde vele tekste te kry gewy aan die tema nie (ook in die sin van wyding): gedigte, kortverhale, selfs ’n roman soos Portnoy’s complaint – wat ’n plesierige leeservaring was dié nie, des te meer so omdat ek dit gelees het in ’n tyd toe die boek sélf ook verbode was & baie moeilik bekombaar (pun intended). En dan kom die ander kunsvorme ook nog by. Foto’s, sketse, skilderye, beeldhouwerk. En vele studies. Te veel om te onthou. Maar dis elke jongman se plig om hom weldeeglik van dié tradisie te vergewis & seker te maak dat hy goed daarin onderlê word.

Die volgende gedig deur Charles Ortleb het ek vertaal & in Wat sag is vergaan opgeneem. Dit gee ’n aweregse blik op die erotiek tussen seuns & die sluimerende geweld, die “militerotics” waarna hy in ’n ander vers verwys:

Party seuns
Charles Ortleb

Wanneer party seuns
jou vra om te dans
kan jy sien hoe onskuldig
hulle trille in hulle broeke hang.
Swengelend, soos hulle sê,
en dit roep op: perde, stalle, drank, hooi.

Party seuns knoop hulle hemde oop
en die skoonheid maak seer;
party seuns trek selfs uit
in oorvol kamers met Dylan aan.

Party seuns is boos.
Hulle lok ander seuns in diepsinnige bekentenisse in.
Hulle stort saam,
hulle eet saam blomme
en noem mekaar ramme.

Party seuns, weer, gaan vir seks soos ape en monsters en hulle pa's.
Hulle kry skrikwekkende ereksies.
Smegma-poele versamel langs hulle beddens.
Gebruikte kondome hoop op op hulle agtersitplekke
en dooie luise val uit hulle lendene
in kolle vaselien.

Die vleis van ruwe stegies hang in hulle onderklere.
Die soort vleis wat jy pluk uit die broeke van rampokkers.
Die vleis in sy Amerikaanse sap wat lê in Jeeps en B42's.
Ek bedoel die vleis
van alle soldate wat die hel uit die hemel uit sal bombardeer,
die vleis
van al daardie hoerskool-kadette
wat in die skemer masturbeer asof hulle ‘n 747 land.

Ek konsentreer hier uiteraard op die manlike variant omdat ek van die vroulike bedrywigheid net tweedehandse (ai, kyk net hoe is selfs die táál vol daarvan) kennis dra. Vrouens besondig hulle glo minder daaraan, maar ek betwyfel dit sterk – nie as ek luister na vriendinne nie. Die manlike variant is vir my net mooier omdat dit oop & bloot is, trots, selfs heroïes; terwyl masturbasie deur vroue & meisies ’n inwendige, meer diskrete, geheimsinniger aktiwiteit is. En dan is die manlike orgasme ook een van die mooiste dinge om te aanskou, iets waarvan ek nooit genoeg sal kan sien nie. Dit kan gul wees, energiek, of suinig, met ’n boog uitgeslinger, of soos ’n jampot wat oorkook. Dit is vir my die begin van álle beweging, ’n big bang in die kleine.

Ek is nie ’n size queen wanneer dit kom by die grootte van die voël nie (hoewel ’n groot voël iets primordiaals uitstraal), maar wanneer dit kom by cumshots, soos dit in die bedryf bekend staan (komskote in Afrikaans, of sponk?) dan is my leuse immer: the more the merrier. En dan moet dit ook skokwit wees & diktaai, & oordadig gul met daardie skerp reuk van vadoeke wat pas uit die bleik gehang word om droog te word. Niks van daardie dun, waterige offers nie.

Die een wat méér & verder & hoër skiet as die res, is die een wat my oog sal vang & like it or not, ook die meeste aandag sal trek by die plekke waar sulke plesiere in die ope bedryf kan word. Daar is shooters, & dan is daar super shooters of drenchers (bless them) wat op webwerwe soos xtube liefdevolle cumpilations maak van hulle eie of ander se cumshots met dramatiese soundtracks.

Daar is die waaghalse wat wank in hysbakke, busse, treine, huurmotors, hotelbalkonne, sypaadjies, openbare toilette, piskrippe of bankies in openbare parke, langs snelweë, of terwyl hulle bestuur. Daar is geen einde aan die smorgasbord van outoerotiek nie, & elke ou het sy eie manier van doen, ’n tegniek wat nommerpas is nét vir hom. Ek wil my verstout om te sê as dit by draadtrek kom, kan ek – sonder om die grense van my ingebore beskeidenheid te oorskry – sê dat ek meer daarvan weet as die gemiddelde man, gay of str8. Ek het darem in my leeftyd so 'n goeie klompie manne uitgehelp.

Wat my by hierdie mymery uitgebring het, is ’n gedig deur Andries Samuel, in sy skitterende, pas verskene debuut, wanpraktyk, & dit lui so:

styf

met my hande vryf ek my piel
op en af pluk ek dit aanhoudend
ek trek my draad –
ek trek dit uit en volg dit ín
ek pak my piel beet
soos ’n probleem
al skommelend
probeer dit uitkom

ek dink ek tos net lekker
maar angs groei uit my
soos ’n pielstyf –
ek gryp dit soos ’n dwaas
rem dit in plesier
al pols dit van verdriet
tap ek myself leeg
die bietjie ek wat nog oor is
spuit ek weg oor onvrugbare lappe

my handlangerende hande
my onpaar minnaars

Wat Andries se gedig besonders maak, is dat dit nie sonder meer net nóg ’n draadtrekgedig is nie, maar uitgroei tot beswering van eensaamheid & verdriet, ’n onvrugbare, onoplosbare probleem wat al “handlangerende” op die lappe kom.

’n Ander gedig wat baie bekend is in Afrikaans & weldeeglik gekanoniseer is, is Leon Strydom se voortreflike “John Williams, De Doelen”, ’n vers oor dié legendariese kitaarspeler waar die handbewegings van kitaarspel & die falliese aard van die instrument sélf ontgin word.

John Williams, De Doelen
Leon Strydom

naar welke verten mag hij zijn getogen

met madonnahande speel hy met die kind
snaarstyf tussen sy bene
hy aai die kind hy paai die kind
hy vryf die winde uit die kind

kwingkwang kwingkwang kwater
hier kom die krappie
hy soek water
kielie kielie kielie

en die kind vind dit mooi
hy ontdooi
hy kraai van plesier
hy tierelier
uit duime suig hy drome
hy lispel hy speel met sy tone

en o hy gee hart en hand
aan die kind wat vra om sy hand
hy streel die nek
warm druk hy op elke plek
onkel bonkel riebietjie stonkel
onkel bonkel knor
onker bonkel riebietjie konkel
onkel bonkel knor
maar die kind is vol draadwerk
hy pruttel en pruil
hy is sterk en onwennig
hy skop styf soos ’n stok
en hy huil

toe kwint hy hom
hy gee hom op sy bas
hy onthou hoe dit was
onkel bonkel riebietjie konkel
onkel bonkel onkel
god hy aai hom
en hy paai hom
hy streel die nek
die warmte van elke plek
dit lyk of hy gaan praat
goeie god hy trek sy draad

amo amas amat
daar kom die leraar met die lat
amamus amatis amant
my god my god dit brand

toe aan sy eie lewe
slaan hy die hand
en kyk waar hul hul ook begewe
die een hand ken die ander hand
hul voer die kind
hul dra die kind
hul skrik ligtelik
as hy hul op die vingers tik
handhandig en vingeralleen
onderleg hul hom in die taal van gebaar
lei hul hom in in
die kuns van lag liefhê en ween
en het kind ligt al te kijken maar
en tuurt in een denkbeginnen

In Afrikaans is draadtrekgedigte dunnerig op die grond, maar daar is genoeg, & dalk maak ek hulle bymekaar vir ’n volgende blog (enige voorstelle welkom). Dikwels moet mens gaan grawe tussen ongepubliseerde materiaal, want daar is nog steeds die opvatting dat erotiese skryfwerk iets van ’n abberasie is, ’n skuldige tydverdryf, iets wat nie ernstig bedoel is nie, net vir eie plesier, of vir dié van ’n handvol uitgesoekte vriende, soos byvoorbeeld Auden se bekende “The platonic blow”.

Ek ervaar al hierdie vooroordeel my hele skryfloopbaan, maar gelukkig is dit iets waaroor ek my nog nooit verknies het nie. Ek beskou nie my erotiese skryfwerk as minder, of minder belangrik as énigiets anders wat ek geskryf het nie. Nét van vriende verwag ek onvoorwaardelike aanvaarding, & ek hoop dat ek dit ook op my beurt géé. Van ander lesers & letterkundiges verwag ek nie dieselfde nie, & die áfmaak van die erotiese in artikels of resensies het my nog nooit ’n oomblik se slaap laat verloor nie.

As ek my gedagtes bietjie laat gaan, dan kom daar ’n paar verse by my op. Ek herinner my die volgende kortetjie deur Koos Prinsloo (in die trant van Ronnie Belcher) & hoop dat ek hom reg onthou:

Hy slat hom lat hy hyl,
ja, hy slat hom lat hy hyl,
maar al wat in sy hand oorbly,
is melkwit honnekwyl.

Of die volgende deur ’n mededigter wat vir die ander span speel – alhoewel as dit by riemruk kom, is ons almal in dieselfde span – & sélf ’n goeie corpus verse aan die lyflike toegewy het, ek verwys natuurlik na Daniel Hugo:

’n Lucifer in die lende

wat is veiliger as hierdie vuurhoutjie
wat byna dadelik vrek?
die trilling van gevaar
sit in jou vingers as jy hom trek

na ’n paar probeerslae
is daar ’n vlam
wat spetter, skiet en dan
blus met die reuk van swael

inderdaad: in jou hand
het jy die land
se veiligste vuurhoutjie

(1995: 41)

Daardie nat vonk stig inderdaad landswyd & dag & nag & op die onmoontlikste plekke sy brand & brandinge, soos die volgende koshuisherinnering van die uwe. En watter wonderlike geleenthede is seunskoshuise, oorslapery, of daardie wonderlike kerk- & voortrekkerkampe nie vir hande om onderling & -langs besig te raak nie!

Kamermaat

Ek’t hom spits-oog afgeloer
waar hy in die skemer woel,
skuldig soos die eerste mens

– want ons aarde het afgekoel.

Op die koshuisbed boktoon gestrek
het hy met wakker hand die koue
sintel weer tot kool wou wek.

Hoe het ons aarde nie afgekoel nie.

Van toe af wag ek al dat hy
oor die melkweg wat ons skei
die nat vonk weer laat spring

oor ons afgekoelde aarde.

(1991: 42)

In Nagsweet (1991), geskryf na ’n besoek aan New York waardeur ek vir altyd getransformeer is & waardeur ek baie van my Calvinistiese ballas ontslae kon raak, skryf ek uitvoerig oor my seksuele ervarings: die cruising, verkieslik op gevaarlike plekke (ek dink hier aan die opmerking van ’n bekende moffie wat op ’n keer gesê het hy weet nie hóéveel huwelike hy al in openbare toilette gered het nie!), & die leuen van heteroseksualiteit (elke moffie sal jou ’n hele paar stories kan vertel van str8 encounters, & str8 ouens, as hulle die bôls iewers vandaan kan haal, sou ’n hele paar van hulle éie kon vertel).

Ek het ook nog nooit soloseks gesien as ’n laaste uitweg vir wanneer mens nie die “real thing” op die lyf kan loop nie. Draadtrek is ’n unieke seksuele aktiwiteit met sy eie bevrediging, & álle mans, of hulle nou getroud, of in ’n verhouding is, maak nog steeds tyd vir daardie plesiertjie. En soos Woody Allen gesê het, dis ten minste seks met iemand waarvan jy hou, & dat jy nie altyd jou beste hoef te lyk nie.

Ent

Uit die haarblom van jou lyf
kom die stamper stu-orent:
tot barstens toe gereed gevryf
om my teen winter in te ent.

(1990: 41)

Surfer

Hy ry die kruin so lank hy kan.
Aangeleun teen die wind se kolf,
gebruinde bene styf gespan,
is hy die skuimpie op my golf.

(1991: 31)

As jong snotkop is ek betower deur die volgende vers deur N.P. van Wyk Louw, & alhoewel ek dit nie heeltemal kon verbaliseer nie, het ek instinktief aangevoel dat daar in Louw se vers met die vuur in die vingers van die brandstigter, & die brand wat uiteindelik “straal” kan word & “wit-goed” kan maak, iéts onheilig & plesierigs aan die gang is:

LXXV. Piromaan
N.P. van Wyk Louw

die vuur sit in my vingers
in die haartjies op my hand
en dans op elke vingernael
om los te kom, brand
te kan dra en straal te kan word
en óp te klim en áls wat hy
saam kan sleep, wit-goed te maak
tót hy sy eie maat kan vry

(1981: 281)

Dit het aanleiding gegee dat ek in Snel grys fantoom (1986) ’n antwoord geskryf het op Louw se vers waarin ek ’n persoonlike herinnering verbind het met die bekende assosiasie tussen brandstigting & masturbasie:

Piromaan
vir N.P. van Wyk Louw

In sy vingerpunte jeuk die
vuur, in sy senupunte die sug
na lig, om ’n vuur-
(houtjie te trek) teen papier,
tussen vingerpunte te vat
& vryf totdat die stokkie uit-
bars in vuur, wit spring
uit sy hand se donker nis
& gretig reik na gras & riet,
hout & mied, pisvlammetjie eers
& later siedend onversadigbaar.
Sy donker hand se nis. Kinders mag
nie speel met vuur, dié ont-
hou hy goed, dit lei
na bednatmaak, na lieg
& slae met die draadhanger
vroegoggend as die maan nog
’n stomp gekoude vingernael
in die koue lug hang:
die hitte wat ’n hete hand
om sy sitvlak vou, afvloei & tintel
tot in die wortel van sy geslag,
die sonderlinge vuur.
Dié onthou hy goed, pen in die hand,
die onheilige plesier
& die groot lus om te pie.
Hy trek sy draad & stort sy vuur.

(1986: 9)

In sy pragtige debuut, Hamburgers en hotdogs (1979), skryf E.W.S. Hammond in kort & bedrieglik eenvoudige gedigte oor die liefde & die lyf. Dit doen hy soms as die jaloerse minnaar wat wil hê wat hy nie kan kry nie, of soms speels ander uitvlugte vind vir sy frustrasie:

Herfs

Ek lê op my rug
en kyk na wolke
in ’n Maggie Laubser-lug.

Ek lê
op my bed en
rook ’n sigaret.

Ek luister na
Tino Rossie en speel
met met trossie.

(1979 :6)

In ’n vers soos die “Hengelaar” (1979: 17) gebeur iets soortgelyks wanneer hy vol hoop “sy lyn / met die sinker ver” ingooi, net om te eindig met iets “glibberigs in sy hand”.

Maar die lyf bly nie altyd jonk nie, & die kragte taan. Die ouer Hammond, wat toe al gevorderde diabetes gehad het, kon in Doodsteek van ’n diabeet (1995) ontluisterend skryf nie net oor die liggaamlike aftakeling & afvrot nie (in een vers skryf hy oor die verlies van sy voorvel vanweë die siekte), maar ook die wegkrimp van die fallus & die seksuele in sy bestaan, soos in die volgende vers:

Slak

Jy lê opgerol
in ’n skulphuis met
’n blink slymvlies.
    Skulphuis
    slymsluis
kom uit jou huis uit.

Jy slym uit na my
tot my voelers
om jou lyf gly.
    Skulphuis
    slymsluis
bly by my huis.

Jy rol terug
tot ’n opgerolde skulphuis
met ’n slymstreep
in my vuis.

(1995: 34)

In ’n sin voltooi die digter die kringloop & word draadtrek, wanneer die lyf & die verbeelding dit nog toelaat, wat dit ook in die jeug so moeiteloos kon doen: ’n vertroosting in die ouderdom.

Hoewel nie ’n draadtrekgedig nie, is Barend Toerien se gedig “Voël” uit Parte speel, ’n pragtige, parmantige portret van die hoofspeler in hierdie lyflike tydverdryf. Die liefdesverhouding van ’n man/seun met sy voël is sy eerste liefdesverhouding, & dis ook die enigste een wat ’n leeftyd lank hou:

Voël

Van kleins af altyd opstandig
met ’n kop van jou eie
het jy jou gang gegaan,
my laat bloos tot agter my ore
toe Juffrou my in onvoldoende kortbroek
onverwags vra om op te staan.

Eienaardige appendant, oor jou aard
help dit nie om na te dink nie;
jy’s oorgenoeg befreud, onbeskaamlike
onbetaamlike agterstevoor stert;
dog vir soveel (gedeelde) ekstase sê ek: dankie.
vleeslus word alleen gestil deur die liggaamlike,

al was jou rondtastinge, keer op keer
nooit alleenlik na die lyflike:
daardie tergende wolkskadu Liefde
het jy sonder ophou na gebéúr
en jou kop aanhou bly stamp, rou en disnis;
en met wie en waar is nobody’s business.

(1991: 21)

’n Herinnering bly my by. ’n Saterdagoggend in die Tuine. Ek & Sheila Cussons het ontbyt gehad & agterna al geselsende terug gestap na St. Martini Gardens, die woonstelblok regoorkant die kompanjiestuin waar sy toe gebly het. Dit was lank gelede, vroeë Negentigerjare. Ons het by ’n vywer stil gaan staan sodat haar been ’n ruskans kon kry & gekyk na die visse wat uit die groen water boontoe kom vir kos. Ek kan nie onthou waaroor ons gesels het nie, & hoe die gesprek spesifiek daardie rigting ingeslaan het nie, maar skielik het sy opgekyk na my, die son effens in haar oë sodat sy hulle moes skreef. “Het mans beheer oor hulle ereksies?” het sy gevra, “of gebeur dit onwillekeurig?” Ek was onkant gevang, maar gewoond aan haar ratse brein.
“If only,” het ek laggend geantwoord, “nee, daardie ding het ’n kop van sy eie.” Wat haar laat lag het.

“Ek weet nie wat al die fuss is oor pornografie,” sê sy na ’n ruk, toe ons verby die Sterrewag & naby die hek was. “Jy weet, ek het op ’n keer pornotydskrifte onder my seuns se matrasse gekry – hulle was nog jonk – maar ek het dit net so terug gesit & niks daaroor gesê nie. Mettertyd het hulle dit sélf uitgegooi.”
“Boys will be boys,” het ek geantwoord. “Bless them.”


Bronne

Johann de Lange. 1986. Snel grys fantoom, Human & Rousseau: Kaapstad
Johann de Lange. 1990. Wordende naak, Human & Rousseau: Kaapstad
Johann de Lange. 1991. Nagsweet, Taurus uitgewers
Johann de Lange. 1995. Wat sag is vergaan, Human & Rousseau: Kaapstad
E.W.S. Hammond. 1980. Hamburgers en hotdogs. Tafelberg Uitgewers
E.W.S. Hammond. 1995. Doodsteek van ’n diabeet. Tafelberg Uitgewers
Daniel Hugo. 1995. Monikkewerk, Tafelberg Uitgewers
N.P. van Wyk Louw. 1981. Versamelde gedigte, Human & Rousseau/Tafelberg
Andries Samuel. 2011. wanpraktyk, Human & Rousseau: Kaapstad
Leon Strydom. 1973. Geleentheidsverse, Human & Rousseau: Kaapstad
Barend Toerien. 1991. Parte speel, Human & Rousseau: Kaapstad