Showing posts with label Crito. Show all posts
Showing posts with label Crito. Show all posts
Tuesday, March 8, 2011
Papier-Skêr-Klip
Die debat rondom Media24 se voorgenome aanstelling van 'n über boekeredakteur duur voort. Plek-plek verskuif die fokus so bietjie, & dit begin vir my al hoe meer na die bekende troefspeletjie Paper-scizzors-rock lyk met deelnemers wat mekaar aanvat & probeer troef. Dit gaan nie oor die vasklou aan 'n medium waarvan die dae getel is nie, maar eerder oor die verlies aan die verskeidenheid van stemme & menings wat verlore sal gaan, die inperking van die gesprek. Nietemin, ook hierdie sydelingse gekibbel bring al fyner aspekte van die hoofargumente vír & téén die amalgamasie na vore.
'n Noodvergadering is belê vir gepubliseerde skrywers & ander belangstellendes & -hebbendes wat hierdie kwessie verder in 'n openbare forum & van aangesig tot aangesig wil uitpraat. Hier is die besonderhede:
WANNEER? Saterdag, 12 Maart - 16:00 vir 16:30
WAAR? Protea Boekwinkel, Andringastraat, Stellenbosch
Lees die jongste opinies op:
Litnet
Dawid van Lill: Wat sal ’n boikot tog regkry?
Paul C Venter: Die oplossing is eenvoudig
Crito: Ou probleem, nuwe konteks
Louise Viljoen: Die literêre aktiwiteit in die taal moet so dinamies en divers moontlik wees
Nicol Stassen: Die doodsklok vir die Afrikaanse letterkunde
Hans C ten Berge: Een ontoelaatbare verschraling
Laurens van Krevelen: Natuurlijk is het een teken van marginalisering van de literatuur in het publieke discours
Petrovna Metelerkamp: Mens kan net hoop
Om te boikot of nie? ’n E-posgesprek
Jeanette Ferreira: Dit is die resensent wat sy/haar geloofwaardigheid moet handhaaf
Versindaba
Dag 4 - Hoe nou verder
Nee vir ‘n Nasionale Boekeredakteur
Voorspel tot ‘n organisasie vir skrywers
Amanda Lourens: Die hekwagter van hekwagters
Hennie Aucamp - Protesteer terwyl kans nog bestaan [Die Burger]
Tuesday, March 1, 2011
Die Groot Sáámraping II
Breyten Breytenbach [Fotograaf: Luigi Novi]
Breyten Breytenbach het vandag 'n hernude oproep op die Afrikaanse skrywersgemeenskap gedoen om verdeeldheid in eie geledere te laat vaar & gemobiliseer te raak & as 'n groep saam te werk téén wat alom beskou word as 'n potensiële verarming van die literêre bedryf. E-posse vlieg heen & weer tussen die verskillende partye & spelers. Die Afrikaanse uitgewers het ook van hulle laat begin hoor & hulle outeurs probeer verseker daarvan dat hulle belange op die hart gedra word. 'n Mens sou egter sonder té veel inspanning 'n aantal insidente uit die afgelope klompie jare (& vérder terug) kon versamel waaruit die minagting jeens Afrikaanse outeurs óók & júis vanuit uitgewersgeledere geblyk het. But let bygones be bye-gones.
Hier is Breyten se vurige aanporring:
Vriende, kantoorprotestante, woestyngeuse, kameeldrywers, dwaalgeeste en klavierkenners:
Kom ons gaan 'n bietjie verder. Ek wil my veroorloof om 'n paar punte te maak waarvan julle almal baie bewus is, oftewel dan 'n paar honde in die bos gooi.
1. Daar is nie 'n gebrek aan lewenskrag onder Afrikaanse skrywers nie. Die verskeidenheid en kwaliteit werk wat gedoen word is nogal indrukwekkend - veral vir 'n 'minor language' (in Deleuze-hulle se definisie) vir wie die staatsspene opgedroog het. Dit moet darem seker beteken dat daar nog 'n taamlike klompie nuuskierige en oordeelkundige lesers daar buite is. Dit beteken ook dat daar nog 'n organiese verbintenis tussen taal ('n spesifieke taal) en eksistensiële bevraagtekening en verkenning is.
2. Afrikaans se reikwydte het gekrimp. Amptelik is sy in haar glory. Dink maar Afrikaanse departemente aan universiteite, dink staatsinstellings, dink aan die selfingenome barbaarse pragmatisme van die nouveaux riches, dink tydskrifte, dink ontleding en navorsing, dink aan die onverkwiklike bakleiery om resensieruimte en -diversiteit. Dink taal.
3. Dink veral taal. Hoeveel ruimte vir skeppende denke is daar nog in Afrikaans? (Ek praat nou nie van die 'vryheid' wat elke mens het om siel-alleen op sy eie mishoop te sit en dink net wat hy lus het nie.) Kan ons in Afrikaans nog met heilige onrus die onrusbarende kwessies van en rondom identiteit, geheue, geskiedenis, kreolisering, etiek, saam-mekaar-andersmaak, die stryd teen magskorrupsie... aansny? Want dis hierdie veranderingskrag wat slegs in die moedertong tot haar reg en potensiaal kan kom. Wat sou die resepsie en die impak van 'n Johan Degenaar of 'n Adam Small of 'n Jan Rabie of 'n MER vandag gewees het?
4. En dis nie die ANC se skuld nie. Daar was 'n tyd toe baie van ons geglo het die ANC se hartsaak is om die potensiaal van taal en diversiteit en sosiale en ekonomiese geregtigheid te ontsluit. Eisj, my tjaainas... (Maar dit beteken nie dat ons die droom en die najaag van 'n regverdiger Mzansi moet laat vaar nie.) Ons vernouing is ons eie toedoen. Óf ons krepeer/emigreer óf ons kruip onder die vaandel van "die etiek van stilte en skaamskande" en kruip weg agter die mure van ons weelderige kampongs.
5. Ons kan vergeet van die institusionele kultuurdrakrag en -ruimte van die sg. 'Afrikaanse' instansies en sake. Hulle gaan ons nie optel langs die pad nie. Hulle is net so gierig en winsgedrewe soos enige ander besigheid. Hulle lewe in die 'regte wêreld' van korrupsie en aansien en invloed en gjelt en Black Economic Entitlement. Hoekom sou ons ons in ieder geval verlaat op 'n patriargie? Die verryking van Afrikaans as nodige ontginning van die burgerlike samelewing se potensiaal is nie vir hulle 'n prioriteit nie. As ons nou maar Chinese kon wees... Die toekoms, sal hulle vir jou sê (wanneer dit nou gaan oor kommunikasie wat eintlik slegs bemarking van self of ander vulgariteite is), lê in die kuberruim, loop en skree nie in die strate van Tunis of Kaïro nie.
6. Ons blaf teen 'n toe deur wanneer ons vra dat Media24 tog asseblief nog 'n bietjie genade moet betoon vir die afvlerk Afrikaanse denk- en skepwêreld. Hulle sal vir ons verduidelik hulle het nie meer geld nie. Hulle lieg, maar niemand sal hulle daarvan kan oortuig nie want 'n korporasie het sy eie oorlewingsinstinkte.
Nou wat dan?
Ek dink een van ons swakhede is dat ons nie saam stem dik kan maak as burgers van "die republiek van lettere" nie. (En is dit nie 'n taalstaat nie?) So, my eerste voorstel is dat ons 'n vakbond of 'n unie van skrywers en ander literêre betrokkenes op die been bring. Kom ons noem dit "Solidariteit Afrikaanse Skrywersunie" en affilieer dit met die Solidariteit vakbondsbeweging. Dan kan ons ook sommer "teruggaan na die basis" toe en met die hulp van Solidariteit Helpende Hand bewus word van die haglike omstandighede waaronder mense wat deur die krake geval het en teen wie daar gediskrimineer word moet oorlewe.
My tweede voorstel is dat daar nuwe lewe geblaas moet word in 'n joernaal (ook aanlyn) soos Tydskrif vir Letterkunde, dat so 'n 'kollektief' die diversiteit van lees en resenseer kan genereer en federeer, en dat die kaleidoskopiese sienings vandaar aan Afrikaanse koerante en ander publikasies beskikbaar gemaak word. En dis verdomp nie onvermydellik dat lesers tot verdomming verdoem hoef te word nie. Die monopolistiese Media24 sal nie ruimte in hulle publikasies kan bly beskikbaar maak nie tensy 'n ander instansie daarvoor betaal nie.
My derde voorstel is daarom dat 'n Afrikaanse Literêre Ontwikkelingsfonds gestig word, geborg deur die privaatsektor en deur bydraes, om Afrikaans te bly dra.
Buiteblaf
Sien ook:
Louis Esterhuizen - In reaksie op Tim du Plessis [Versindaba]
Louis Esterhuizen - Nasionale Boekeredakteur: die gesprek tot dusver
Willie Burger - Die minagting vir die boekeblad by Media24 [Litnet]
Crito - Die verhaal van vervlakking en agteruitgang[Litnet]
Ampie Coetzee - Sentralisering is die weg na totale beheer[Litnet]
Charles Malan: Ope brief aan Tim du Plessis
Sunday, February 27, 2011
Die Groot Sáámraping
Breyten Breytenbach by die bekendstelling
van die beginsel van stof [Foto: Stefan Möhl]
van die beginsel van stof [Foto: Stefan Möhl]
Media24 se aankondiging van hulle voorneme om 'n enkele boekeredakteur aan te stel (verkieslik uit eie geledere) wat in beheer sal wees van die boekeblaaie van Die Burger, Beeld, Volksblad, & By, het groot ontevredenheid in skrywersgeledere veroorsaak.
Ek kry vanoggend per e-pos 'n skrywe van Breyten Breytenbach waar hy hom uitlaat teen die voorgenome besluit van Media24, & vra dat skrywers, lesers & belangstellendes wat die gevare van só 'n besluit insien, hulle stemme moet dik maak & 'n petisie onderteken:
Kollega’s, mede-skrywers (mede-sterwendes), uitgewers en ingewers, resensente, boekmense,
Soos julle weet adverteer Media24 tans die pos van Nasionale Boekeredakteur – oorkoepelend vir Die Burger, Beeld, Volksblad, By – met “voorkeur aan kandidate uit die aangewese groepe”, wat dit ook mag beteken. Die bedoeling is om een persoon te hê wat dan die kitaar gaan slaan vir al die boekeblaaie. Die rede vir die sentralisering en afskaling is seker ekonomies, maar ek dink dis ’n dom rede. Lees asseblief die aangehegte protesskrif (sien heel onder - JdL) en kyk of julle daarmee saamstem. Indien wel, onderteken dit en laat ons dit dan aanstuur vir die Afrikaanse koerante so spoedig moontlik. (“Dis beter om die yster te slaan vir alarm voordat dit gebruik word om jou mee te dônner” – Kongfoe.)
[. . .]
Mens het begrip vir diegene wat vir Media24 werk en voel julle wil liewer nie op dié manier stem maak nie. Maar alhoewel dit nie so belangrik is as die aangekondigde wegraping nie is dit nogtans ’n ontstellende ‘hoër saak’. Miskien kan julle dan dink aan ander maniere om julle besware te lug?
Ek het ’n mankolieke adreslys en hierdie is nie Tunisië nie. Miskien kan julle vanaf julle webwerwe en duine die protes ook onder ander se aandag bring om dit so verteenwoordigend moontlik te maak.
Met groete,
Breyten Breytenbach
As jy saam met ander eendersdenkendes wil beswaar aanteken, sny-&-plak gewoon die onderstaande protesskrif en stuur dit na aansoeke@rapport.co.za vóór 4 Maart 2011. Litnet sluit aan by die protesveldtog in die vorm van 'n mini-seminaar. Die ideale geleentheid om ook jou eie opinie te laat hoor.
Protesskrif
As mense betrokke by die skryfwêreld wil ons ten sterkste beswaar maak teen die inisiatief van Media24 om die regulering van resensies in die Afrikaanse koerante toe te vertrou aan ’n enkele Nasionale Boekeredakteur. Vir die literatuur is ’n neiging na hegemonie of ortodoksie in meningvorming altyd ’n verstarring. Op ’n tydstip waar daar juis behoefte is aan die verryking van die literêre wêreld en die bevordering van diversiteit in opinies en uitdrukkingsvorme, sal dit ’n kwade dag wees wanneer die koördinering van mening en mag in die hande gegee word van één über literêre redakteur of raadgewer.
Litnet
Breyten Breytenbach - Die dwaasheid van die base
Charl-Pierre Naudé - Waarom een boekeredakteur verkeerd is
Joan Hambidge - Boekskandaal
Gerrit Brand - 'n Doelbewuste strategie van “afdomming”
Tim du Plessis - ’n Verruiming eerder as verskraling
Charles Malan - ’n Superredakteur vir superbesluite by Media24?
Kerneels Breytenbach - Diversiteit van resensies is van allergrootste belang
Marga Collings - Resensies in die dagblaaie is ’n voedingsaar tot die diskoers
Eloise Wessels, Charles Malan, Gerrit Brand - Verruiming of verskraling?
Versindaba
Nee vir ‘n Nasionale Boekeredakteur
Sien ook:
Die Heupvuur-debat rondom Crito & resensies op Litnet.
Plan om één boekeredakteur aan te stel gekritiseerProtes teen aanstelling van een Nasionale Boekredakteur vir Media24-publikasies
Chris Thurman - Crrritics and writers - the latest instalment
Irma du Plessis - Die verlies van ontdek wie ons nog kan word
Subscribe to:
Posts (Atom)