Vertalings: in Afrikaans

Alle vertalings deur Johann de Lange




Alles is geplunder
Anna Akhmatova

Alles is geplunder, verraai, verkoop,
dood se swart vlerke skraap die lug,
ellende knaag tot aan die been.
Waarom sou ons nie uit wanhoop vlug?

Bedags, uit die omringende woude,
blaas kersiebome somer die dorp binne;
en snags skitter die diep helder hemele
met melkweë, nuwe beginne.

En die wonderbaarlike kom so naby
aan die gebroke, verwaarloosde huise –
iets nie aan enigeen bekend,
maar van oudsher al wild in ons harte.

(Van die Engels deur Stanley Kunitz)

***



Stop alle horlosies
W. H. Auden

Stop alle horlosies, diskonnekteer die foon,
keer dat die hond blaf met ‘n sappige been,
maak stil die klaviere en met gedempte trom
bring uit die kis, en laat die roubeklaers kom.

Laat vliegtuige oorhoofs kermend sirkel in hul nood
en skryf teen die lug die boodskap Hy is dood,
sit papierstrikkies om die wit nekke van openbare duiwe,
gee die verkeerspolisie handskoene van swart katoen.

Hy was my Noord, my Suid, my Oos en Wes,
my werksweek en my Sondagreses,
my noen, my middernag, my spraak, my lied;
ek dag die liefde duur vir ewig: dit het nie geskied.

Die sterre is onnodig nou: doof iedereen uit;
pak weg die maan en breek af die son;
giet uit die oseaan en vee op die woud.
Alles wat goed was, is nou klatergoud.

***



Droomgesang 3: ’n Stimulant vir ’n Ou Bees
John Berryman

Doringboom, geskroeide mirre, fluweel, stekelige angels.
– Ek is nie so jonk maar ook nie só uiters oud,
seg verknoeide skoonheid 23.
Uiteindelik die gevoel van goed verstoot wees,
ongekus.
( – My psigiater kan jou psigiater uitstof.) Vrouens kan dinge uitpluis.

Al hierdie ou misdadigers vroeër of later
kom om. Ek lees deesdae ou joernale.
Gottwald & Kie., het bankrot gespeel.
Breëborste gee op. Dubbelagent, Joe.
Sy hou haar asem in soos ’n rob
& is witter & gladder.

Rilke was ’n misoes.
Ek gee toe sy smart & musiek
& titel het heel-mismoedige vrouens beteken.
’n Drumpel erger as die kringe waar die miserabeles afsak & sloer,
Rilke s’n. Soos ek gesê het, –

***



Vae vers (Vaagweg ’n liefdesvers)
Elizabeth Bishop

Die reis wes –
– Ek dink ek het daardie reis gedroom.
Hulle het baie gepraat van “roosklip”
of dalk “kliprose”
– Ek’s nie nou seker nie, maar iemand het daarvan vir my probeer kry.
(En twee of drie studente hét.)

Sy het gesê sy het ’n paar by die huis.
Hulle was by die agterdeur, het sy gesê.
– ’n Bouvallige plek.
’n Weermaghuis? Nee, “’n vloothuis.” Ja,
só ver inlands.
Daar was niks meer by die agterdeur as grond nie
of daardie selfde droë, eenkleurige, sepia strooi wat ek orals gesien het.
O het sy gesê die hond het hulle weggedra.
(’n Groot swart hond, ’n teef, het om ons getrippel.)

Later, terwyl ons tee gedrink het uit bekers, het sy een gekry,
“soort van een.” “Dié een is net besig om te begin. Sien –
jy kan dit hier sien, dit begin al lyk na ’n roos.
Dis – wel, ’n kristal, kristalle vorm –
Ek weet nie veel van geologie af nie …”
(Ek ook nie.)
Dofweg, kan ek sien – straks – in die dowwe,
rooskleurige klont van, glo, sand
’n roos-agtige vorm; fyn flikkers … Ja, straks
daar was ’n geheime, kragtige kristal aan die werk binne.

Ek kon dit byna sien: besig om te verander in ’n roos
sonder enige van die tussenbeide kom
van wortels, stam, knoppe, ensomeer; net
sand na roos en weer terug.
Kristalkunde en sy wette:
iets wat ek op ’n keer baie graag wou bestudeer,
tot ek gehoor het dit behels ’n hele klomp rekenkunde,
dis nou, wiskunde.

Nét nou, toe ek jou weer kaal gesien het,
het ek dieselfde woorde gedink: roosklip, kliproos …
Roos, wat probeer, wat arbei, om sigself te openbaar,
wat vorm kry, terugvou,
ondenkbare verbindings, ongesiens, glansende sye.
Roosklip, ongevorm, vlees wat begin, kristal vir kristal,
helder pienk borste en donkerder, kristalagtige tepels,
roosklip, rooskwarts, rose, rose, rose,
wat rose eis van die liggaam,
en die al hoe donkerder, strikter, roos van seks –

***

Die verlorene
Elizabeth Bishop

Die enorme bruin reuk waarmee hy saamleef
was te benoud, met sy asemhaling en dik pels,
vir hom om te oordeel. Die vloer was verrot; die varkhok
halfpad op gepleister met glasgladde mis.
Met ligte wimpers, selfgeregtig, bokant snuffelende snoete,
het die varke se oë hom gevolg, ‘n opgewekte staar –
selfs die sog wat altyd haar kleintjies vreet –
tot, walgend, hy oorleun en haar kop krap.
Maar soms soggens na ‘n suipsessie
(hy het die bottels agter die twee-by-viers versteek)
het die son die plaaswerfmodder met rooi glasuur
en die vlammende poeletjies het hom skyn te troos.
En dan het hy byna gedink hy kan dit als verduur,
sy ballingskap, vir nog ‘n jaar of meer.

Maar saans het die eerste ster hom kom waarsku.
Die boer vir wie hy werk, het donkertyd gekom
om die koeie en perde in die skuur toe te maak
onder hulle oorhangende wolke van hooi,
met hooivurke, fyn gevurkte weerlig, wat die lig vang,
veilig en gesellig soos in die Ark.
Die varke met hul pootjies uitgestrek, het gesnork.
Die lantern – soos die son, wat ondergaan –
het op die modder pasgewys ‘n oureool gegooi.
Terwyl hy ‘n emmer met die glibberige hout langs gedra het,
kon hy die vlermuise se huiwerige, steierende vlug aanvoel,
sy sidderende insigte, buite sy beheer,
wat hom aanraak. Maar dit het hom lank geneem
om te besluit dis tyd om huis toe te gaan.

***



Gebed vir Marilyn Monroe
Ernesto Cardenal

Here, ontvang hierdie meisie
dwarsdeur die wereld bekend as Marilyn Monroe
hoewel dit nie haar regte naam was nie
(U ken haar regte naam)
wat nou in u teenwoordigheid ingaan
sonder grimering,
sonder haar agent,
sonder haar foto’s of om iets te onderteken,
eensaam soos ‘n ruimtereisiger
voor die allesomvattende swart heelal.

In ‘n jongmeisiedroom was sy kaal in ‘n kerk
(volgens Time)
voor ‘n knielende menigte,
voorkoppe teen die vloer,
en sy moes mooi trap om hulle te vermy.
U ken ons drome beter as enige psigiater.
Here, in hierdie wêreld
ewe veel besmet deur radioaktiwiteit as sonde,
sal U sekerlik nie ‘n winkelmeisie
haar sterredroom verkwalik nie.
En haar droom het werklikheid geword
(Technicolor-werklikheid).
Al wat sy gedoen het,
was om die teks te volg wat ons haar gegee het,
dié van ons eie lewens,maar dit was betekenisloos.
Vergewe haar, Here, en so ook ons almal
vir hierdie óns 20th-Century
en die groteske Superproduksie
waaraan ons almal deel gehad het.

Die ster is lankal dood
maar sy flikker nog in donker teaters.
Sy was die rot wat tol in die filmspoel.
Sy was honger vir liefde
en ons het kalmeerpille voorgeskryf.
Sy het verlang na geselskap
en ons het psigoanalise aanbeveel.
Haar lewe was onwerklik soos ‘n droom
wat ‘n sielkundige lees en liasseer.

Haar romanses was soene met toe oë
onder skietligte uitgespeel,
maar die skietligte is uitgedoof
en die twee mure van die stel is afgeslaan
terwyl die Regisseur wegstap notaboek in die hand,
die toneel veilig vasgelê.
Of soos ‘n rit op ‘n seiljag,
‘n soen in Singapoer,
‘n dans in Rio,
‘n onthaal in die herehuis
van die Hertog en Hertogin van Windsor
gesien in die treurige opgesmuktheid van ‘n goedkoop kamer.

Die film het geeindig sonder die laaste soen.
Hulle het haar dood gekry op die bed,
hand op die telefoon,
en die speurders het geweet wie sy wou bel.
Dit was asof
iemand die enigste vriendelike stem gebel het
net om ‘n bandopname “Nommer nie in gebruik” te hoor sê;
of soos iemand deur rampokkers beseer
wat ‘n hand uitsteek na ‘n gediskonnekteerde foon.

Here, wie ook al
dit mag wees wat sy wou bel
en nie het nie (en dalk was dit niemand nie
of lemand nie gelys in die Los Angeles-gids nie),

Here, antwoord daardie foon.

***



Niagara
Adelaide Crapsey

Soos gesien op ‘n aand in November

Hoe tenger
bo die massa
tuimelende water hang
herfstelik, kortstondig, bleek,
die maan.

***



'n Gekweste bok spring die hoogste
Emily Dickinson

'n Gekweste bok spring die hoogste
Het ek jagters hoor vertel –
Net maar die dood se steil ekstase
En dan’s die woud weer stil.

***



Minnesang van J Alfred Prufrock
T. S. Eliot

S’io credesse che mia risposta fosse
A persona che mai tornasse al mondo,
Questa fiamma staria senza piu scosse.
Ma perciocche giammai di questo fondo
Non torno vivo alcun, s’i’odo il vero,
Senza tema d’infamia ti rispondo.

- Inferno XXVII, 61 – 66

Kom laat ons uitstap, ek en jy
Terwyl die vroegaand uitgestrek lê teen die lug
Soos ‘n pasiënt verdoof op die operasietafel;
Laat ons uitstap, deur sekere halfverlate strate,
Die mompelende toevlug
Van rustelose nagte in goedkoop oornag-motelle
En saagselvloer-restourante met oesterskulpe:
Strate wat aandrentel soos ’n seurderige argument
Met verraderlike bedoelings
En jou voorgaan tot by die oorrompelende vraag…
Moet net nie vra nie: “Wat is dit?”
Laat ons gaan besoek aflê.

Die vroue kom en gaan in die vertrek
En voer oor Michelangelo gesprek.

Die geel mis wat sy rug skuur teen die vensterglas
Die geel rook wat sy snorbaard skuur teen die vensterglas
Het sy tong in die uithoeke van die aand ingelek,
Getalm bo poele wat oor riole opdam,
Die roet wat van skoorstene op sy rug laat stuif,
Verby ’n terras geglip, meteens opgespring,
En toe hy sien dit was ‘n knus Oktobernag
Een keer om die huis gekrul, en ingeslaap.

En inderdaad sal daar tyd wees
Vir die geel rook wat straatlangs gly,
En sy rug skuur teen vensterglas;
Daar sal tyd wees, daar sal tyd wees
Om ’n gesig gereed te hê vir die gesigte wat jy teenkom;
Daar sal tyd wees om te moor en te skep
En tyd vir al die werke en dae van hande
Wat lig en ‘n vraag op jou bord laat val;
Tyd vir jou en tyd vir my,
En tyd nog vir ‘n honderd weifelings,
En vir ‘n honderd sienings en hersienings,
Voor dit tyd is vir roosterbrood en tee.

Die vroue kom en gaan in die vertrek
En voer oor Michelangelo gesprek.

En inderdaad sal daar tyd wees
Om te wonder: “Durf ek?” en: “Durf ek?”
Tyd om terug te draai en die trappe af te klim,
Met ’n kaal kol in die middel van my kop –
(Hulle sal sê: “Sy hare raak nou regtig dun!”)
My oggendjas, my kraag styf opgeknoop tot onder my ken,
My strikdas duur dog beskeie, maar laat geld deur ‘n eenvoudige speld –
(Hulle sal sê: “Maar hoe dun is sy arms en bene dan!”)
Durf ek
Die heelal steur?
In ’n minuut is daar tyd genoeg
Vir besluite en besinnings wat in ‘n minuut weer om kan keer.

Want ek het hulle almal reeds geken, die hele spul: –
Die aande, oggende, middae,
Ek het my lewe uitgemeet met koffielepels;
Ek ken die stemme wat wegsterf met die sterwende herfs
Onder die musiek wat opklink uit ‘n veraf vertrek.
So hoe kan ek my aanstel?

En ek het alreeds die oë geken, almal van hulle –
Die oë wat jou vaspen met ’n geformuleerde frase,
En wanneer ek geformuleer is, en uitgestrek lê onder ‘n speld,
Wanneer ek vasgespeld en spartelend wriemel teen ’n muur,
Hoe sal ek dan begin
Om al die stompies van my dae & grille uit te spoeg?
          En hoe kan ek my aanstel?

En ek het alreeds die arms geken, elke iedereen –
arms wat omarmband is en wit en naak
(maar in die lamplig, donsig met ligbruin haartjies!)
Is dit parfuum van ’n rok
Wat my so laat afdwaal?
Arms wat uitgestrek lê op ’n tafel, of gedraai is om ’n sjaal.
          En hoe kan ek my aanstel?
          En hoe sal ek begin?

Sal ek sê, ek het teen skemer deur smal strate geloop
En gekyk na die rook wat opstyg uit die pype
Van eensame mans in hempsmoue, wat by vensters uitleun …?

Ek behoort te wees: twee knoesterige knypers
Wat skarrel oor die bodems van stil oseane.
. . . .

En die middag, die nanag, slaap so rustig.
Gesus deur lang vingers,
Slapend … moeg … of dit is skynsiek,
Uitgestrek op die vloer, hier neffens jou en my.
Sou ek, na tee en koekies en waterys,
Die krag hê om die oomblik tot sy krisis te dwing?
En hoewel ek gehuil en gevas het, gehuil en gebid het,
Hoewel ek my kop (al effens bles) sien ingedra word op ’n skinkbord,
Is ek geen profeet – en dis van geen groot belang nie;
Ek het die oomblik van my grootsheid sien flikker,
Ek het die ewige Lakei my jas sien uithou, en giggel,
En om kort te gaan, ek was beangs.

En sou dit die moeite werd wees, na dit als,
Na die koppies, die marmelade, die tee,
Tussen die porselein, tussen gesprekke oor jou en my,
Sou dit die moeite werd wees
Om die aangeleentheid af te byt met ’n glimlag,
Om die heelal saam te pers in ’n bal
Wat jy rol in die rigting van die een of ander oorweldigende vraag,
Om te sê: “Ek is Lasarus, wat teruggekeer het uit die dood,
Teruggekeer het om julle te vertel, ek sal julle almal vertel” –
As een, terwyl sy ’n kussing reg skik onder haar kop,
Sou sê: “Dis glad nie wat ek bedoel het nie.
Jy het dit heeltemal mis.”

En sou dit die moeite werd wees, na dit als,
Sou dit die moeite werd wees,
Na die sonsondergange en die agterplase en die besprinkelde strate,
Na die romans, na die teekoppies, na die rompe wat oor die vloer sleep –
En dié, en soveel meer? –
Dis onmoontlik om te sê presies wat ek bedoel!
Maar byna soos ‘n toorlantern wat die senuwees in patrone op die skerm gooi:
Sou dit die moeite werd wees
As een, wat ‘n kussing skik of ‘n sjaal afgooi,
En na die venster draai, sou sê:
          “Jy het dit heeltemal mis.
Dis glad nie wat ek bedoel het nie.”
. . . . .

Nee! Ek is geen prins Hamlet, wou nooit een wees;
Net ’n ondergeskikte heer, een wat sal deug
Om ’n vooruitgang aan te help, ‘n debakel of twee te begin,
Die prins te adviseer; sonder twyfel bruikbaar,
Onderdanig, bly om van nut te wees,
polities, versigtig, en deeglik;
Breedsprakig, maar ietwat stoets;
By tye, inderdaad, belaglik –
Byna, soms, die Dwaas.

Ek word oud … Ek word oud …
Ek gaan die some van my broekspype omslaan.

Sal ek my hare middelpaadjie kam? Durf ek ‘n perske eet?
Ek sal wit flenniebroeke dra, en op die strand gaan stap.
Ek het die meerminne hoor sing, elk vir die ander.

Ek dink nie hulle sal vir my sing nie.

Ek het hulle see-in sien ry op die golwe
Terwyl hulle die see se wit teruggewaaide hare kam
As die wind die water wit en swart waai.

Ons het getalm in kamers van die see
By see-meisies gekroon met seewier rooi en bruin
Tot mensestemme ons wek, en ons verdrink.

***



Die afwysing
Ida Gerhardt

Ek skryf vir u met ’n kraaiveer,
Meneer.
My eer u eer
u hart my hart
het niks gemeen.
Ek skryf vir u met kraaiveer.
Ek skryf vir u in raafswart
die teken: nee.

***



Sfinkter
Allen Ginsberg

Ek hoop my goeie ou poephol hou dit
60 jaar lank was dit meestal OK
behalwe die fissuuroperasie in Bolivië
het die altiplano hospitaal oorleef –
’n bietjie bloed, geen poliepe, nou en dan
’n klein aambei
aktief, gretig, ontvanklik vir fallus
coke bottel, kers, wortel
piesang, vingers –
Nou maak VIGS dit sku, maar steeds
gretig om te dien –
uit met bedruktheid, in met die gekondoomde
orgasmiese vriend –
steeds elasties gespierd,
onbeskaamd wydoop vir genot
Maar oor 20 jaar wie weet,
oumense ontwikkel orals probleme –
nekke, prostate, pense, gewrigte –
Hoop die ou hol bly jonk
tot dood, ontspan

Maart 15, 1986

Uit: Cosmopolitan Greetings: Poems, 1986-1992.

***

Howl
Allen Ginsberg

vir Carl Solomon

I
Ek het my generasie se briljantste breine gesien, verwoes deur waansin, honger, histeries, naak,

wat hulleself teen dagbreek deur die negerstrate voortsleep op soek na ‘n toornige naald,

engelagtige eendsterte brandend na die antieke hemelse konneksie met die sterredinamo in die masjinerie van die nag,

wat armoed en pluiings en holoog en hoog sit en rook het in die bonatuurlike donkerte van kouewaterwoonstelle drywend oor die dakke van stede denkende aan jazz,

wat hulle breins ontbloot het voor die Hemel en onder die El en Mohammedaanse engele sien steier het op woonsteldakke stralend verlig,

wat deur universiteite gegaan het met stralende wyse oë en Arkansas en Blake-lig tragedies hallusineer tussen die studente van oorlog,

wat uitgeskop is uit die akademies vanweë hulle gekheid & die publikasie van odes oor die vensters van die skedel,

wat gehurk het in ongeskeerde kamers in onderklere, en hulle geld in vullismandjies verbrand het luisterend na die Vrees deur die muur,

wat gearresteer is in hulle openbare baarde terwyl hulle terugkeer na New York via Laredo met ‘n gordel vol dagga,

wat vuur eet in nuutgeverfde hotelletjies of terpentyn drink in Paradise Alley, dood, of hulle torso’s nag na nag vagevuur met drome, met dwelms, met wakende nagmerries, alkohol en piel en eindelose ballas, weergalose blinde strate van sidderende wolk en weerlig in die gedagte wat spring na die pole van Kanada & Paterson, en al die beweginglose wêreld van Tyd tussenin verlig,

Peyote-vastighede van gange, agterplaas groen boom begraafplaas dagbreke, wyndronkenskap oor die dakke winkelvenstervoorstede van vroegoggendtee plesierrit neon flikkerende verkeerslig, son en maan en boom vibrasies in die dreunende winterskemers van Brooklyn, asblikskellery en bedagsame koningslig van gedagte,

wat hulle vasgeketting het aan moltreine vir die eindelose rit van Battery Park na heilige Bronks op bensedrien totdat die lawaai van wiele en kinders hulle weer laat afkom sidderend speekselmond en verpletter yl van brein heeltemal gedreineer van briljantheid in die troostelose lig van die Dieretuin,

wat die hele nag lank gesink het in die duikbootlig van Bickford uitgedryf het en deur die bedompige biermiddag in verlate Fugazzi’s sit en luister het na die dagbreeksplyting op die waterstof-jukebox,

wat vir sewe ure sonder ophou gepraat het van park tot woonstel tot kroeg tot Bellevue tot museum tot by die Brooklynbrug, ‘n verlore bataljon platoniese gespreksgenote wat afspring op stoepe vanaf brandtrappe vensterbanke die Empire State vanuit die maan, babbelend skreeuend kokhalsend en feite en herinnerings fluister en anekdotes en oogbalgrille en skokke van hospitale en tronke en oorloë,

totale intellekte uitgebraak in volslae onthou vir sewe dae en nagte met briljante oë, vleis vir die Sinagoge uitgesmyt op die sypaadjie,

wat verdwyn het in die nêrens Zen New Jersey en agtergelaat het ‘n spoor van dubbelsinnige poskaarte van Atlantic City Stadsaal, en gely het onder Oosterse koors en Tangierse beenmeule en migraines van Sjina tydens heroïenonttrekking in Newark se skraal gemeubileerde kamer,

wat rondgedwaal het om middernag in die spoorwegwerf en gewonder het waarheen nou, en gegaan het, en geen gebroke harte agtergelaat het nie,

wat sigarette aangesteek het in goederewaens goederewaens goederewaens ratelend deur sneeu in die rigting van eensame plase in oupa nag,

wat Plotinus Poe St. Jan van die Kruis bestudeer het, telepatie en bop-kabbalah omdat die kosmos instinktief vibreer het onder hulle voete in Kansas,

wat dit alleen gemaak het deur die strate van Idaho op soek na visioenêre indiese engele wat visioenêre indiese engele was,

wat gedag het hulle is maar net mal toe Baltimore in bonatuurlike ekstase gegloei het,

wat in limousines gespring het saam die Chinaman van Oklahoma op die impuls van winter middernag straatlig kleindorpse reën,

wat honger en eensaam in Houston rondgelê het op soek na jazz of seks of sop, en die briljante Spanjaard gevolg het om te praat oor Amerika en Ewigheid, ‘n hopelose taak, en toe maar ‘n skip na Afrika gevat het,

wat verdwyn het in die vulkane van Meksiko en niks nagelaat het nie as die skadu van dungarees en die lawa en as van poësie uitgestrooi in kaggel Chicago,

wat weer verskyn het aan die Weskus en die FBI ondersoek het in baarde en onderbroeke met groot pasifistiese oë sexy in hulle donker huide en onverstaanbare pamflette uitgedeel het,

wat sigaretgate in hulle arms ingebrand het uit protes teen die narkotiese tabakwaas van Kapitalisme,

wat Superkommunistiese pamflette versprei het op Union Square huilend terwyl hulle uittrek en die sirenes van Los Alamos hulle oorstem het, en geweeklaag het al met die Muur langs, en die Staten Island veerboot het ook gejammer,

wat in duie gestort het in wit gimnasiums huilend naak en bewend voor die masjinerie van ander geraamtes,

wat speurders in die nek gebyt het en geskreeu het van plesier in vangwaens omdat hulle geen misdaad gepleeg het nie behalwe hulle eie wilde kooksel van pederasme en bedwelming,

wat getjank het op hulle knieë in die moltrein en van die dak af gesleep is terwyl hulle geslagsdele en manuskripte rondgewuif het,

wat hulle in die hol laat naai het deur vroom motorfietsryers, en gegil het van genot,

wat gesuig het en afgesuig is deur daardie menslike serafyne, die matrose, liefkosings van Atlantiese en Karibbiese liefde,

wat genaai het soggens saans in roostuine en op die gras van openbare parke en begraafplase en hulle saad vryelik gestort het op wie ook al,

wat eindeloos gehik het in ‘n poging om te giggel en uiteindelik met ‘n snik agter ‘n afskorting in ‘n Turkse bad beland het toe die blonde & naakte engel gekom het om hulle met ‘n swaard te deurboor,

wat hulle katelknape verloor het aan die drie ou feekse van noodlot die eenoogfeeks van die heteroseksuele dollar  die eenoogfeeks wat knipoog vanuit die kont en die eenoogfeeks wat niks anders doen as om op haar gat te sit en die intellektuele goue spindrade van die wewer se weefraam af te knip nie,

wat ekstaties en onversadigbaar gekopuleer het met ‘n bottel bier ‘n beminde ‘n pakkie sigarette ‘n kers en van die bed afgeval het, en op die vloer voortgegaan het al met die gang langs en teen die muur flou geword het met ‘n visie van allerlaaste kont en skoot wat die laaste sponk van bewussyn ontwyk het,

wat soetgemaak het die dosies van ‘n miljoen meisies sidderend in die sonsondergang, en bloedbelope oë in die oggend had maar steeds bereid om die doos van dagbreek soet te maak, en ‘n flits van boude laat sien het in skure en kaal in die meer,

wat gehoer het deur Colorado in ‘n magdom gesteelde nag-karre, N.C., heimlike held van hierdie gedigte, fokker en Adonis van Denver – vreugdevolle nagedagtenis sy lê van tallose meisies in verlate parkeerterreine & padkafeeagterplase, die lendelam agterrystoele van rolprentteaters, op bergtoppe in grotte of met maer kelnerinne in vertroude langs-die-pad-onderklere-opligtery & veral geheime motorhawe solipsismes van toilette, & tuisdorpstegies ook,

wat vervaag het in ontsaglik walglike rolprente, verplaas is in drome, wakker geword het op ‘n meteense Manhattan, en hulleself opgetel het uit kelders babalaas van hartelose Tokay en verskrikkings van Third Avenue ysterdrome en aangestrompel het na werkloosheidskantore,

wat die ganse nag lank geloop het met hulle skoene vol bloed op die sneeubedekte dokke wagtend vir ‘n deur in die East River om oop te maak op ‘n kamer vol stoomhitte en opium,

wat groot selfmoorddramas geskep het op die woonstelkranse van die Hudson onder die oorlogtydse blou soeklig van die maan; en hulle koppe sal met lourierblare gekroon word in vergetelheid,

wat die lamsbredie van die verbeelding geëet het of die krap op die modderige bodems van riviere van Bowery verteer het,

wat geween het oor die romantiek van die strate met hulle stootkarre vol uie en swak musiek,

wat in kartondose gesit en adem het in die donker onder die brug, en opgestaan het om klawesimbels in hulle solderkamers te bou,

wat gehoes het op die sesde vloer van Harlem gekroon met vlamme onder die teringagtige lug omring deur oranje kratte van teologie,

wat nag lank gekrabbel het heen en weer skommelend oor verhewe inkantasies wat in die geel oggend strofes brabbeltaal was,

wat verrotte diere gekook het long hart pote stert borsjt en tortillas dromende van die suiwer vegetariese koninkryk,

wat hulle onder vleistrokke in begewe het op soek na ‘n eier,

wat hulle horlosies van die dak afgegooi het om hulle lot te werp vir Ewigheid buitekant Tyd, & wekkers het op hulle koppe geval elke dag vir die volgende dekade,

wat hulle polse drie keer na mekaar onsuksesvol gesny het, opgegee het en genoop was om antieke winkels oop te maak waar hulle gemeen het hulle word oud en daaroor gehuil het,

wat lewendig verbrand is in hulle onskuldige flenniepakke in Madison Avenue tussen aanslae van loodsware poësie & die opgetenkte gekletter van die ysterregimente van mode & die napalmgille van die moffies van reklame & die mosterdgas van sinistere intelligente redakteurs, of omgery is deur die besope huurmotors van Absolute Syn,

wat van die Brooklynbrug afgespring het dit het werklik gebeur en weggestap het onbekend en vergete in die spookagtige bedwelming van Chinatown sopstegies & brandweerwaens, nie eens een gratis bier nie,

wat by hulle vensters uitgesing het in wanhoop, geval het uit die moltreinvenster, gespring het in die vuil Passaic, gespring het op negers, gehuil het oral op straat, gedans het op stukkende wynglase kaalvoet vertrapte plate van nostalgiese Europese 1930’s Duitse jazz die whisky opgedrink het en kreunend gekots het in die bloederige toiletbak, kreune in hulle ore en die geskal van kolossale stoomtreine,

wat met die snelweë van vergange tyd langs gejaag het op reis na elkaar se hotrod-Golgota tronk-eensaamheid-wag of Birmingham jazz inkarnasie,

wat twee-en-sewentig uur lank die platteland platgery het om uit te vind of ek ‘n visie gehad het of jy ‘n visie gehad het of hy ‘n visie gehad het om die Ewigheid uit te vind,

wat gereis het na Denver, wat gesterf het in Denver, wat teruggekeer het na Denver & tevergeefs gewag het,

wat gewaak het oor Denver & gepeins het & eenman was in Denver en uiteindelik weggegaan het om die Tyd uit te vind, & nou verlang Denver eensaam na haar helde,

wat op hulle knieë geval het in katedrale sonder hoop biddend vir mekaar se redding en lig en borste, totdat die siel sy hare vir ‘n oomblik verlig het,

wat deur hulle gedagtes getuimel het in die tronk op wag vir onwaarskynlike misdadigers met goue koppe en die sjarme van realiteit in hulle harte en wat soet blues gesing het vir Alcatraz,

wat onttrek het na Meksiko om ‘n habyt te kultiveer, of na Rocky Mount na teer Boeddha of Tangiers vir seuns of Southern Pacific na die swart lokomotief of Harvard na Narcissus na Woodlawn na die daisychain of graf,

wat aangedring het op geestesgesondheidsverhore en die radio aangekla het van hipnotisme & gelos is met hulle waansin & hulle hande & ‘n onbesliste jurie,

wat aartappelslaai gegooi het na CCNY lektore oor Dadaïsme en gevolglik hulleself daarna oorgegee het op die graniettrappe van die malhuis met kaalgeskeerde koppe en harlekynspraak van selfmoord, en aangedring het op onmiddellike lobotomie,

en wat instede daarvan die konkrete leegte van insulien Metrazol elektrisiteit hidroterapie psigoterapie bedryfsterapie pingpong & geheueverlies ontvang het,

wat in humorlose protes slegs een pingpongtafel omgesmyt het, en vlugtig katatonies gerus het, en jare later teruggekeer het werklik bles behalwe vir ‘n pruik van bloed, en trane en vingers, na die sigbare malmanverdoemenis van die sale van die maldorpe van die Ooste, bedompige gange van Pilgrim State van Rockland van Greystone, twistend met die eggo’s van die siel, ruk-en-rollend in die middernag regsbankverlatenheid dolmenryke van liefde, droom van lewe ‘n nagmerrie, lywe wat verander in klip swaar soos die maan,

met moeder uiteindelik ******, en die laaste fanatiese boek by die woonstelvenster uitgesmyt, en die laaste deur gesluit vieruur in die oggend en die laaste telefoon in antwoord teen die muur geslaan en die laaste gemeubileerde kamer leeggemaak tot by die laaste stuk geestesmeublement, ‘n geel papierroos gedraai op ‘n draadhanger in die hangkas, en selfs dít denkbeeldig, niks meer as ‘n hoopvolle stukkie hallusinasie –

a, Carl, solank jy nie veilig is nie is ek nie veilig nie, en nou’s jy regtig in die totale dieresop van tyd –

en wat daarom deur die ysige strate gehardloop het behep met ‘n skielike flits van die alchemie van die gebruikvan die ellips die katalogus die metrum & die vibrerende vlak,

wat gedroom het en vleeslike gapings gemaak het in Tyd & Ruimte deur beelde te jukstaponeer, en die aartsengel van die siel vasgevang het tussen twee visuele beelde en die wesenlike werkwoorde verbind het en die selfstandige naamwoord en aandagstreep van bewussyn saamgevoeg het springend met sensasie van Pater Omnipotens Aeterne Deus om die sintaks en maat van swak menslike prosa te herskep en voor jou te staan spraakloos en intelligent en bewend van skaamte, verworpe en tog bereid om die siel uit te bieg om te konformeer met die ritme van gedagte in sy naakte en eindelose kop,
die malman boemelaar en engel hou Tyd, onbekend, skryf nietemin hier neer wat mag oorbly om te sê in die tyd wat voorlê ná die dood,

en herrys het vlees geword in die spookagtige gewaad van jazz in die gouehoringskadu van die orkes en die lyding van Amerika se naakte verstand van liefde uitgeblaas het in ‘n eli eli lamma lamma sabacthani saksofoonkreet wat die stede laat sidder tot by die laaste radio met die absolute hart van die gedig van lewe geslag uit hulle eie lywe goed om te eet vir ‘n duisend jaar.

II
Watter sfinks van sement en aluminium het hulle skedels oopgemoker en hulle breins en verbeelding opgevreet?

Molog! Verlatenheid! Vullis! Aakligheid! Asblikke en onbekombare dollars! Kinders skreeuend onder die trappe! Seuns wenend in leermagte! Ou mans huilend in die parke!

Molog! Molog! Nagmerrie van Molog! Molog die liefdelose! Verstandelike Molog! Molog die swaar oordelaar van die mens!

Molog die onbegryplike tronk! Molog die kruisbeen siellose tronk en Kongres van smart! Molog wie se geboue oordeel is! Molog die ontsaglike steen van oorlog! Molog die stomgeslane regerings!

Molog wie se verstand suiwer masjinerie is! Molog wie se bloed vloeibare geld is! Molog wie se vingers tien  leermagte is! Molog wie se bors ‘n mensvretende dinamo is! Molog wie se oor ‘n meulende graf is!

Molog wie se oë ‘n duisend blinde vensters is! Molog wie se wolkekrabbers in die lang strate staan soos eindelose Jehova’s! Molog wie se fabrieke droom en krys in die mis! Molog wie se rooksuile en antennas die stede kroon!

Molog wie se liefde eindelose olie en klip is! Molog wie se siel elektrisiteit en banke is! Molog wie se armoede die skim van genialiteit is! Molog wie se lot ‘n wolk van sekslose waterstof is! Molog wie se naam die Verstand is!

Molog in wie ek eensaam sit! Molog in wie ek Engele droom! Malle in Molog! Pielsuiger in Molog! Liefdeloos en  manloos in Molog!

Molog wat my siel vroeg ingeneem het! Molog in wie ek ‘n bewussyn is sonder ‘n liggaam! Molog wat my uit my  natuurlike ekstase uit geskok het! Molog wat ek versaak! Word wakker in Molog!  Lig stromend uit die hemelruim!

Molog! Molog! Robotwoonstelle! onsigbare voorstede! geraamte-skatkamers! blinde hoofstede! demoniese industrieë! skimmige nasies! onoorwinlike malhuise! granietpiele! monsteragtige bomme!
Hulle het hulle rûe gebreek toe hulle Molog oplig hemel toe! Sypaadjies, bome, radio’s, tonne! die stad opgelig Hemel toe wat wel bestaan en orals om ons is!

Visies! voorbodes! hallusinasies! wonderwerke! ekstases! met die Amerikaanse weggespoel!

Drome! adorasies! illuminasies! religieë! die hele bootvrag sensitiewe stront!

Deurbrake! oor die rivier! omkantelings en kruisigings! weggespoel met die vloed! Hoogtepunte! Epifanieë! Wanhope! Tien jaar se dierekrete en selfmoorde! Verstande! Nuwe liefdes! Mal generasie! Skipbreuk op die rotse van Tyd!

Egte heilige gelag in die rivier! Hulle’t dit alles gesien! die wilde oë! die heilige gille! Hulle’t vaarwel gewuif! Hulle’t van die dak afgespring! na verlatenheid! wuiwend! blomme in die hand! Na die rivier toe! in die straat in!

III
Carl Solomon! Ek is met jou in Rockland
waar jy maller is as ek

Ek is met jou in Rockland
waar jy baie vreemd moet voel

Ek is met jou in Rockland
waar jy die skadu van my moeder naboots

Ek is met jou in Rockland
waar jy jou twaalf sekretaresses vermoor het

Ek is met jou in Rockland
waar jy lag oor dié onsigbare humor

Ek is met jou in Rockland
waar ons groot skrywers is op dieselfde hopelose tikmasjien

Ek is met jou in Rockland
waar jou toestand ernstig geword het en oor die radio berig is

Ek is met jou in Rockland
waar die fakulteite van die skedel nie langer die wurms van die sinne toelaat nie

Ek is met jou in Rockland
waar jy die tee drink van die borste van die oujongnooiens van Utica

Ek is met jou in Rockland
waar jy woordspeel op die lywe van jou verpleegsters die harpye van die Bronx

Ek is met jou in Rockland
waar jy skreeu in ‘n dwangbaadjie dat jy besig is om die spel te verloor van die waaragtige pingpong
van die afgrond

Ek is met jou in Rockland
waar jy hamer op die katatoniese klavier die siel is onskuldig en onsterflik dit behoort nooit godvergete
en in ‘n bewapende inrigting te sterf nie

Ek is met jou in Rockland
waar nóg vyftig skokke nooit weer jou siel sal laat terugkeer na sy lyf nie van sy pelgrimstog na ‘n kruisin die niet

Ek is met jou in Rockland
waar jy jou dokters aankla van waansin en die Hebreeus-sosialistiese rewolusie teen die fascistiese nasionale Golgota beplan

Ek is met jou in Rockland
waar jy die hemele bo Long Island splyt en jou lewende menslike Jesus laat herrys van die bomenslike graf

Ek is met jou in Rockland
waar daar vyfentwintigduisend mal kamerade is wat almal saam die laaste stansas van die Internationale sing

Ek is met jou in Rockland
waar ons die Verenigde State vasdruk en vry onder ons beddegoed die Verenigde State wat die goddelike nag lank hoes en ons uit die slaap hou

Ek is met jou in Rockland
waar ons wakker word geskok uit die koma deur die vliegtuie van ons eie siele wat dreun oor die dak hulle’t gekom om engelagtige bomme te laat val die hospitaal verlig sigself verbeelde mure stort ineen O benerige legioene hardloop buitentoe O sterbesaaide skok van genade die ewige oorlog is hier O
oorwinning vergeet jou onderklere ons is vry

Ek is met jou in Rockland
in my drome loop jy druipend van ‘n seereis op die snelweg dwarsoor Amerika in trane na die deur van my kothuis in die Westerse nag

San Francisco, 1955 –1956



Voetnoot by “Howl”

Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig!

Die wêreld is heilig! Die siel is heilig! Die huid is heilig! Die neus is heilig! Die tong en piel en hand en hol is heilig!

Alles is heilig! almal is heilig! orals is heilig! elke dag is ‘n ewigheid! Elkerman is ‘n Engel.

Die boemelaar is so heilig soos die engel! die malman is so heilig soos jy my siel heilig is!

Die tikmasjien is heilig die gedig is heilig die stem is heilig die hoorders is heilig die ekstase is heilig!

Heilig Peter heilig Allen heilig Solomon heilig Lucien heilig Kerouac heilig Huncke heilig Burroughs heilig Cassady heilig die onbekende gefokte en lydende bedelaars heilig die afskuwelike menslike engele!

Heilig my ma in die malhuis! Heilig die piele van die oupas van Kansas!

Heilig die kreunende saksofoon! Heilig die bop-apokalips! Heilig die jazzorkeste daggahipsters vredige peyote-pype & tromme!

Heilig die eensaamheid van wolkekrabbers en sypaadjies! Heilig die kafeterias gevul met die menigtes! Heilig die geheimsinnige rivier van trane onder die strate!

Heilig die eensame Jagannat! Heilig die enorme lam van die middelklas! Heilig die mal herders van rebellie!

Wie gek is oor Los Angeles IS Los Angeles!

Heilig New York Heilig San Francisco Heilig Peoria & Seattle Heilig Parys Heilig Tangiers! Heilig Moskou! Heilig Istanbul!

Heilig tyd in ewigheid heilig ewigheid in tyd heilig die horlosies in die ruimte heilig die vierde dimensie heilig die vyfde International heilig die Engel in Molog!

Heilig die see heilig die woestyn heilig die treinspoor heilig die stoomtrein heilig die visioene heilig die hallusinasies heilig die mirakels heilig die oogbal heilig die afgrond!

Heilig vergifnis! genade! liefdadigheid! geloof! Heilig! Ons s’n! lywe! lyding! grootmoedigheid!

Heilig die bonatuurlike ekstra briljante intelligente goedheid van die siel!

Berkeley, 1955


Ek het hierdie vertaling in 1997 begin, sowat ‘n jaar voor Ginsberg se dood, & dit is nog steeds ‘n werk onder konstruksie. Die vertaling van poësie is eintlik ‘n onbegonne taak & om Ginsberg se legendariese & uiters idiosinkratiese gedig in Afrikaans te probeer weergee, is onmoontlik. Ek hoop nietemin ek het daarin geslaag om plek-plek 'n glimmering van die oorspronklike vas te vang en lesers 'n gevoel te gee van 'n grootse, werklik tydlose, rewolusionêre gedig. 'n Profetiese gedig wat vandag nog net so relevant is as toe dit geskryf is in 1955. Vir my vertaling het ek die 1986-uitgawe van die teks gebruik & waar nodig dankbaar Ginsberg se verhelderende annotasies geraadpleeg.

Hierdie vertaling is gepubliseer ter viering van “Howl” se 50-ste bestaansjaar, & ek dra dit met groot waardering & deernis op aan my mededigter, vriend, vertrooster & onderskrager, Joan Hambidge.

Johann de Lange
Kaapstad, November 2005


***



‘n Hangertjie
Robert Graves

‘n Hangertjie onsigbaar
vir jou besige gewrig,
gewring uit silwer
uitgestort ver weg,
uit silwer van die helder maan,

uit haar louter stralekrans,
uit die manlike skoonheid
van ‘n verskietende ster.

***



Die wonder
Thom Gunn

“Tot op die nippertjie was hy so jags, daai man,
ons het nog by ‘n McDonalds gestop
op pad lughawe toe, wat dink jy daarvan?
Ons het dit net daar gedoen. Hy kon nie genoeg kry nie.”
– “Reg by die toonbank?” – “Nee, dis te openbaar:

“In die toilet. Hy’t my gulp oopgerits,
en deur sy hemp kon ek hom voel, warm en fiks.
Ek het sy tepels sag geknyp, en skielik die trane
om hierdie wonder te verloor, so skraal
dat ek my gewrig kon vasgryp agter sy rug.

“Toe’t hy skielik op een knie afgesak
reg by die piskrip in sy enigste pak
en laat waai, en gesê Hou dit daar vir my,
en geglimlag. Ek kan hom steeds sien skiet.
Kyk na daardie slakspoor op my stewelpunt.”

– “Slakspoor?” – “Ja, daar” – “Dit was ses maande terug.
Hoe kan dit nog daar wees?” – “My vriend,
ek was so lief vir hom, elke aand laat ek dit weer skyn
soos mens ’n heilige se bloed hernu lank reeds dood.
Maar ons is nie Katoliek nie, sien, so dis in die haak.”

***



Wildepruimjenewer
Seamus Heaney

Die klare jenewerweer
verdonker in winter.
Sy hewel jenewer by die wildepruim
en seël die glasfles.

Toe ek dit oopskroef
ruik ek die gestoorde
vrank stilte van ’n struik
opstuif deur die spens.

Toe ek dit skink
het dit ’n snykant
en vlam op
soos Betelgeuse.

Ek klink ’n glas op jou
in rook-omfloerste, blouswart
geboende wildepruime, bitter
en betroubaar.

***



Vleis
August Kleinzahler

Hoeveel vleis beweeg
Deur die stad elke nag
Die dekke van sy brûe sidder
In die saamvloei van sodiumlig
En die maan ‘n chemiese oranje

Sleepwaens ooreis hulle asse
Bibber as hulle die uitgerekte kurwe volg
Oor pakhuise en galerye
Die wildernis van strate onder
Die maaswerk daarvan
Met Joe wat op die voorstoep rook
En Louise op die foon met haar ma

Vanuit die waas van industriële weilande
Arriveer hulle, sonder tal
Karwei tonne dooie lam
Been en vleis en afval
Myle tot by die hawens en kanale
Van die stad se glansende membraan
‘n Reuse ademende sel
Wat sy afval uitasem
Deur die skoorstene langs die rivier
En regdeur die nag vreet

***



Die slange van September
Stanley Kunitz

Die ganse somer lank hoor ek hulle
ritsel in die struike,
vinnig voor my uit van terras
na terras in my tuin,
‘n fluistering tussen die sneeurose,
‘n sein wat flits vanuit die heining,
’n skadu wat pols
in die suurdoringruigte.
Noudat die nagte koud is
en die jaarlinge uitgeblom,
dag ek hulle is vort,
in ‘n verstadiging van bloed
geglip na die onderwêreld
voor die sekelryp.
Maar nee. In die bedrieglik salwende
noen-uur, asof tartend
jeens die vloek wat ‘n ander tuin verknoei het,
verskyn dié twee uitgestal
deur ‘n smal gleuf
in die digte groen brokaat
van ‘n noordelike denneboom
onderstebo-hangende, verstrengel
in ‘n astrante liefdesknoop.
Ek steek my hand uit en streel
die fyn, droë grint van hul skubbe.
Op stuk van sake
is ons vennote in dié land,
medeondertekenaars van ‘n verbond.
onder my aanraking sidder
die wilde wrong van genesis.

***



En tog
Philip Larkin

En tog – maar ná dood is daar geen ‘en tog’.
Noudat ons jou sien sterf het; en jou laat veras het,
kan ek nie aforiseer oor ‘wat dit my geleer het nie’
so netjies soos ek jou lessenaar sou wou sien
en ’n kalender opgestel het vir die dae wat jy nooit sou sien.
‘Die dood doen niemand kwaad nie,’ het jy op ‘n keer gesê
een oggend op die grasperk, en oombliklik
het angs, jonk en skugter, in my posgevat
wat in hierdie leë dae mondig word.
En tog – want in die lewe is daar ‘en tog’ –
waarop kan ek nog hoop, behalwe dat jy reg had?

***



Die skeepsbouer se vrou
Dorianne Laux

Ek het hom die liefste
wanneer hy huis toe kom ná werk,
sy vingers steeds gekrom van pyp lê,
sy denimhemp met ‘n sweetring
wat ruik na sout, na seewier en -gras
wat uitdroog. Dan sal ek na hom toe gaan
waar hy op die bedrand sit, sy voorkop
gesalf met ghries, sy gebarste hande
diep tussen sy dye ingedruk,
en die staalpunt stewels losryg, sy enkels streel,
sy kuite, die sole en beentjies van sy voete.
Dan sal ek sy klere oopknoop
en die hele dag in my vat – die skip
se grys wande, die myle koperpyp,
die stem van die eerste man wat kletter
van die romp se silwer ribbes, die vonk as lood
metaal soen, die klamp, die windas,
die wit vuur van die sweisdraad, die fluit
en die lang rit huis toe.

***



XV
lucebert

oorhandig my brekend
jou peillose blom jou kus

nes ‘n hommelby dolsinnig dryf ek
op die akwarel van die dors

van oe en a staan jou ruimte
deur my gehyg versadig

van styg en asemhaal
is my liggaam opgestapel

en my stem hy dartel en klapwiek
soos ‘n donker boom langs ‘n bron

hoor dan met jou hande haas dan jou hartklop
ek is ‘n donker droom in die son

is die omarmende honderdman
is ‘n oogwink in die wolke

***



Foto
Paul Matthews

Op hierdie foto is die meeste van my familielede
besig om onder die peerboom Sjinese tee te drink.

Daardie somer was warm. Die draak-teepot
stoom op die tafel. Ek het dit nie weer gesien
sedert my Oupa se dood nie.

                                        Versigtig tog
om nie daardie breekbare glimlagge te breek nie. KLIK.

En die groep spat uiteen. Om borde te gaan was.
Ander om te sterf (maar dit was later).

Een dame se kop het die foto ontsnap
om te probeer asem skep.

***



Martelares
Agi Mishol

"The afternoon darkens, and you are only twenty."
Nathan Alterman, Afternoon in the Market

Jy is net twintig
en jou eerste swangerskap is ’n bom wat ontplof.
Onder jou wye romp is jy swanger met dinamiet
en skroot. Dit is hoe jy deur die mark loop,
tikkend tussen die mense, jy, Andaleeb Takatkah.

Iemand het met jou kop se bedrading gepeuter
en jou in die rigting van die stad geloods;
al kom jy van Bethlehem,
die Huis van Brode, het jy ’n bakkery gekies.
en daar het jy die sneller binne jou getrek,
en saam met die Sabbatsbrode,
sesam- en papawersade,
het jy jouself hemelwaarts gewerp.

Saam met Rebecca Fink het jy opgevlieg
saam met Yelena Konreeb van die Kaukasië
en Nissim Cohen van Afganistan
en Suhila Houshy van Iran
en twee Sjinese wat jy saamgesleep het
dood toe.

Sedertdien het ander gebeure
jou storie oorskadu,
waaroor ek sonder ophou praat
sonder dat ek iets het om te sê.

***



XLV
Pablo Neruda

Moenie te ver weggaan nie, nie eens vir ‘n dag nie, want –
want – hoe sal ek dit stel: ‘n dag is lank
en ek sal vir jou wag, soos in ‘n leë stasie
met die treine eenkant weg gerangeer, slapend.

Moenie my verlaat nie, nie eens vir ‘n uur nie, want
dan sal al die klein druppels van wroeging saamvloei,
die rook wat ronddwarrel op soek na ‘n tuiste
sal by my indryf, en my verlore hart versmoor.

O, mag jou omlyning nooit vervaag op die strand nie;
en jou ooglede nooit fladder in die leë vertes.
Moenie my verlaat selfs vir ‘n sekonde nie, my liefste,

want in daardie oomblik sal jy so ver weggegaan het
dat ek dolend oor die aarde sal swerf, immer vraend
Sal jy terugkom? Sal jy my hier agterlaat om te sterf?

***

Ode aan die kat
Pablo Neruda

Iets was nie pluis
met die diere nie,
hulle sterte was te lank, en hulle was
treurig van aangesig.
Bietjies bietjies is hulle
aanmekaar gesit
om ‘n landskap te vorm,
ontwikkel geboortevlekke, en grasie, fut.
Die kat,
net die kat,
tree tevoorskyn afgerond
en trots:
gebore in ‘n staat van totale voltooidheid,
hou sigself eenkant en weet presies wat hy wil.

Die mens wil eerder vis wees of voël,
slange, weer, begeer vlerke,
en honde is kastig leeus,
ingenieurs wil digters wees,
vlieë boots swaeltjies na,
en digters probeer hard soos vlieë wees,
maar die kat
wil net kat wees
en elke kat is pure kat
van sy snorbaard tot sy stert,
van sesde sintuig tot lewende rot,
van die nag tot by sy goue oë.

Daar is geen eenheid
soos syne,
nóg die maan nóg blomme
het dieselfde bondigheid:
uniek op sigself
soos die son of topaas,
en die elastiese kurwe van sy rug
tegelyk sterk en delikaat
is soos ‘n seilskip se boeg.
Sy geel oë
is die enigste
gleuf
om die nag se munte te deponeer.

O klein
keiser sonder ryk,
veroweraar sonder vaderland,
miniatuur sitkamer-tier, bruilofs-
sultan van die hemel
van erotiese dakteëls,
die sweem van liefde
in die buitelug
eis hy op
as hy in die verbygaan
vier delikate pote
talmend
op die grond sit,
snuffelend,
wantrouig
jeens alle aardse dinge
want als
voel vuil
vir die kat se onberispelike poot.

O wilde onafhanklike
huisdier, vermetel
spoor van die nag,
lui, rats
en vreemd,
ondeurgrondelike kat,
geheime polisie
van tuistes,
kenteken
van verdwene fluweel,
daar is sweerlik niks
enigmaties
omtrent jou gedrag nie,
dalk is daar geen misterie nie,
die ganse wêreld ken jou, jy behoort
aan selfs die mins misterieuse bewoner,
almal maak hulle wys
dat hulle meester,
eienaar, oom
of metgesel
is van die kat,
kollega,
dissipel of vriend.

Nie ek nie.
Ek is nie oortuig nie.
Ek weet van katte niks.
Van ander dinge weet ek als, van die lewe en sy argipel,
oseane en onpeilbare stede,
van die plantlewe,
die stamper en sy dwalings,
die plusse en minusse van matesis,
die aarde se vulkaniese uitstulpings,
die krokodil se onwerklike vel,
die brandweerman se onerkende goedheid,
en die priester se blou atavisme,
maar ‘n kat kry ek nie klein nie.
My verstand glip oor sy onverskilligheid,
sy oë bewaar goue syfers.

***

Die oggend is vol
Pablo Neruda

Die oggend is vol storm
in die hartjie van die somer.

Die wolke reis soos wit sakdoeke wat groet,
die reisende wind waai hulle in sy hande.

Die eindelose hart van die wind
kloppend bokant ons liefdevolle stilte.

Orkestraal en goddelik, weergalmend tussen die bome
soos ‘n taal vol oorloë en liedere.

Wind wat die dooie blare afskud in ‘n skielike klopjag
en die polsende pyle van die voëls afweer.

Wind wat haar doop in ‘n golf sonder sproei
en materie sonder gewig, en leunende vure.

Haar mis van soene breek en sink,
aangeval in die deur van die somerwind.

***



Klip en varing
Leslie Norris

Dis nie dat die seestrate
te lank is, of dat ek nie
gelok word deur die voëls se siglose

paaie nie, maar dat ek altyd
geluister het na die stem van die klip
wat sê: Sit stil, luister, sê

wie jy is. En ek het altyd
geantwoord saam met die gewortelde varing
en gesê: Ons is die sterwende saad.

***



“Honde, sou julle verewig wou lewe?” (Frederik die Grote)
Bernard O’Donoghue

Sy hurk om te ontlas, soos die gesegde gaan,
neffens haar sterfbed. Haar gekromde rug
is wit soos vis
wat te lank in die yskas was,
grys teen die rugstring.

Huilend, sê sy, “dit is die heel ergste.”
Ek sê, “Natuurlik nie.
Jy het dieselfde vir jou kinders gedoen,
dikwels genoeg.”

Maar natuurlik was dit: die toneel
keer terug, ongevraagd, meer
dikwels as nié,
vreemd genoeg.

Ek sou verkies dat julle buite wag.

***



Die Pous se penis
Sharon Olds

Dit hang diep verborge in sy togas, ’n delikate
klepel in die middel van ’n klok.
Dit roer as hy beweeg, ’n spookvis in ’n
ligkrans van silwer seegras, die hare
wieg in die donker en die hitte – en snags
terwyl sy oë slaap, staan dit op
tot lof van God.

***



Lied van die onsigbare lyk in die veld
Gregory Orr

En steeds lê ek hier,
gekneus deur die reën, deurboor
deur die horinkies
van grasspriete.

Ek neurie almaardeur
die lied van die spinnekoppe
wat foutloos oor die vaal
spieëls van my oë hul kaarte trek
vir die gees se gebruik:
in die middel altyd dood
soos Rome of ‘n oase
waarheen alle paaie lei.

Ek is die leemte
onder jou voete, die groef
wat oopgaan, met tande van dou.

***

Na ‘n dood
Gregory Orr

Ek het die voordeur toe hoor gaan
en deur die ruit my pa
oor die maanverligte gras sien loop
en met die pad langs na die boord.

En meteens was ek by hom
met my handskoenhand wat aan syne klou,
en Pieter, my broer, sy gestorwe seun,
het sy ander hand vasgehou.
Ons manier van loop
was ‘n volgehoue soort verdriet.

Koue Novembernag;
al verder weg het ons geloop
oor die verlate paaie
sonder om ooit terug te draai
na die warm huis
so helder verlig
met onuitspreeklike smart.

***



Dame Lasarus
Sylvia Plath

Ek het dit weer eens gedoen.
Een keer elke tien jaar
Kry ek dit reg –

‘n soort wandelende wonderwerk, my vel
Stralend soos ‘n Nazi lampskerm,
My regtervoet

‘n papiergewig,
My gesig ‘n gladde, delikate
Joodse linne.

Dop die servet af
O my vyand.
Is ek vreesaanjaend? –

Die neus, die oogholtes, die vol stel tande?
Die suur asem
Sal verdwyn binne ‘n dag.

Weldra, weldra sal die vlees
Wat die bestorwe grot geëet het
Tuis wees op my

En ek ‘n grimlaggende vrou.
Ek is net dertig.
En soos die kat het ek nege dode om te sterf.

Hierdie is Nommer Drie.
Watter bog
Om elke dekade uit te wis.

Wat ‘n miljoen draadjies.
Die grondboontjiekouende menigte
Stamp en stoot om te sien

Hoe hulle my loswoel van kop tot tone –
Die groot ontkleedans.
Here, dames

Hierdie is my hande,
My knieë.
Al is ek vel en been,

Is ek, nietemin, een en dieselfde vrou.
Die eerste keer toe dit gebeur het was ek tien.
Dit was ‘n ongeluk.

Die tweede keer het ek bedoel
Om deur te druk en nie weer terug te kom nie.
Ek het toegeklap

Soos ‘n skulp.
Hulle moes roep en roep
En die wurms van my aftrek soos taai pêrels.

Doodgaan
Is ‘n kuns, soos enigiets anders.
Ek doen dit buitengewoon goed.

Ek doen dit so dit voel na hel.
Ek doen dit so dit voel eg.
Jy sou kon sê ek het ‘n roeping.

Dis maklik genoeg om te doen in ‘n sel.
Dis maklik genoeg om te doen en stil te bly lê.
Dis die dramatiese

Terugkeer helder oordag
Na dieselfde plek, dieselfde gesig, dieselfde brutale
Verwonderde kreet:

“‘n Wonderwerk!”
Dit slaan my voete onder my uit.
Daar is ‘n prys

om my letsels vir jou te wys, daar is ‘n prys
Om te luister na my hart –
Dit klop regtig.

En daar is ‘n prys, ‘n baie duur prys,
Vir ‘n woord of ‘n aanraking
Of ‘n bietjie bloed

Of ‘n knipsel van my hare of my klere.
Dus, dus, Herr Doktor.
Dus, Herr Enemy.

Ek is jou opus,
Ek is jou kleinood,
Die suiwer goue baba

Wat wegsmelt tot ‘n gil.
Ek draai en braai.
Moenie dink ek onderskat jou groot besorgdheid nie.

As, as –
Jy por en roer.
Vlees, been, daar is niks oor –

‘n koekie seep,
‘n trouring,
‘n goue stopsel.

Herr God, Herr Lucifer,
Pasop
Pasop.

Uit die as
Herrys ek met my rooi hare
En ek eet mans soos asem.

***

Woorde
Sylvia Plath

Byle
waarvan die hale die hout laat weerklink,
en die eggo’s!
Eggo’s wat weggalop
van die middelpunt soos perde.

Die sap
swel soos trane, soos die
water wat strewe
om sy spieël te herskep
oor die klip

wat val en draai,
‘n wit skedel,
aangevreet deur kruidjiegroene.
Jare later
loop ek hulle raak op die pad –

woorde dor en ridderloos,
die onvermoeide hoefslae.
Terwyl
van die bodem van die poel, vaste sterre
‘n lewe rig.

***



Die ontmoeting
Ezra Pound

Die hele tyd terwyl hul praat oor die nuwe moraliteit
Het haar oë my verken.
En toe ek opstaan om te gaan
Was haar hande soos die fyn tekstuur
Van ‘n Japannese papierservet.

***

Die Park
Ezra Pound

Soos ‘n sliert los sy teen ‘n muur aangewaai
loop sy met die reling langs van ‘n wandelpad in Kensington Tuine,
en sy is sterwende stuksgewyse
                 van ‘n soort emosionele anemie. En orals is daar die gepeupel
van die vadsiges, stoeres, onmoorbare babas van die armes.
Hulle sal die aarde beërwe. In haar is die einde van beskawing.
Haar verveling is behaaglik en oordadig. Sy wil hê iemand moet met haar praat,
en is byna bang dat ek
                 daardie indiskresie sal begaan.

***

Waskom
Ezra Pound

Soos ‘n waskom omlyn met wit porselein,
as die warm water afkoel of lou raak,
so is die stadige afkoel van ons ridderlike passie,
o my veelgeprese maar nie-so-heeltemal-bevredigende dame.

***

Albâtre
Ezra Pound

Hierdie dame in die wit japon wat sy ‘n peignoir noem
is, vir tyd en wyl, die minnares van my vriend,
en die delikate wit pootjies van haar wit hondjie
is nie méér delikaat as syself nie,
nog minder sou Gautier sélf hulle kontras in witheid verfoei het
waar sy sit in die groot stoel
tussen die twee trae kerse.

***



Geel aand
Yannis Ritsos

‘n Maanvis hang in die lug,
‘n meswolkie verwyder die skubbe,
‘n rivier van goue skubbe sidder op die see.

Die maan het geen bloed nie – geel asof dood.
Een mond is geslote. Die ander soen. O geel
soene, en die dooie man kan nie sterf nie.

***

Wonderwerk
Yannis Ritsos

Voordat hy gaan slaap, sit die man sy horlosie onder sy kussing.
Dan sluimer hy in. Buite waai die wind. Jy wat weet
van die wonderbaarlike kontinuïteit van klein bewegings, verstaan.
‘n Man, sy horlosie, die wind. Niks meer.

***



Mis
Carl Sandburg

Die mis kom aan
op fyn katvoetjies.
Dit sit en kyk
oor hawe en stad
op stil hurke
en beweeg dan verder.

***



Twee honde
Charles Simic

’n Ou hond bang vir sy eie skaduwee
in een of ander Suidelike dorp.
Die storie is my vertel deur ’n vrou besig om blind te word
een mooi someraand
met die skadu’s wat kruip
uit die woude van New Hampshire,
’n lang straat met net ’n bekommerde hond
en ’n paar stowwerige hoenders,
en al daardie son wat neer bak
in daai naamlose Suidelike dorp.

Dit het my laat dink aan die Duitsers wat marsjeer
verby ons huis in 1944.
Hoe almal op die sypaadjie gestaan het
en hulle dopgehou het uit die hoek van die oog,
die aarde wat sidder, dood wat verby beweeg…
’n Klein wit hondjie het in die straat gehardloop
en verstrik geraak tussen die soldate se stewels.
’n Skop het hom laat vlieg asof hy vlerke het.
Dis wat ek aanhoudend bly sien:
Skemer wat daal. ’n Hond met vlerke.

***



Woord
Stephen Spender

Die woord byt soos ‘n vis.
Gooi ek hom terug
om te pyl na daardie oseaan
waar gedagtes stert en vin
klapwiek, of katrol hom in
om te rym met ‘n dis?

***



Onder waar Catullus
Gregory Woods

Onder waar Catullus
met die wêreld speel
in sy kussingbestrooide kantiene

hou ‘n dekorum
van uiters bekostigbare hutte
wag oor die baaiers.

Maar óns, anderkant die rotse,
‘n glibberige makelaar
van jongenskap en ek

met water op baaibroeke af
tot op ons knieë, is besig
om die gaping tussen ons jare te verhandel.

***