Showing posts with label Koos Prinsloo. Show all posts
Showing posts with label Koos Prinsloo. Show all posts

Friday, November 11, 2011

Stolp

Van links na regs: Joan Hambidge, Irna van Zyl, Johann de Lange, 
Marius Bakkes & Koos Prinsloo, ca. 1980s.

Sunday, January 30, 2011

Handlangers. ’n Blog vir die linkerhand

Slapende sater Bouchardon (Louvre)

Draadtrek, riemruk, tos, mielie-rol, of deesdae: wanking, edging, sounding, nutting, jerking off, spreading the baby batter, facials, bukake, cream pies, & self-snacking – elke streek het sy eie streke. Om Opperman effens aan te pas: die plek & die spelers mag wissel, maar die spel word in die tyd herhaal. Om die waarheid te sê, is riemruk ouer as die oudste van beroepe. Sedert Adam dit ontdek het (soos gesimboliseer deur die slang), het seuns & dogters, ma’s & pa’s, Ooms & Tannies, Oumas & Oupas, nonne & priesters, selfs bobbejane & dolfyne, nog nooit opgehou om na dié solitêre plesier terug te keer nie, ongestuit deur die huwelik of enige selibatêre voornemens.

Freud het heelwat gedoen om dit te probeer bevry van die vuur-&-swael retoriek, & voor te hou as natuurlike variasie in menslike seksuele gedrag. Dit is egter vandag nog steeds in sekere sosiaal-religieuse kontekste ’n sonde, & frases soos selfbevlekking, verspilling op barre grond, of geykte waninterpretasies van bybeltekste gedy steeds. To swallow, or not to swallow?

Ek onthou my eerste keer met 'n neef asof dit gister was, daardie gevoel van plesier & angs. Gelukkig herstel mens op daardie ouderdom baie gou & ’n tweede & derde keer het gevolg (oor & weer dié keer, want dis een van daardie rare vreugdes wat nóg lekkerder is om te gee as om te kry), net om weer daardie gevoel van beheer verloor, daardie “heer-, heer-, heerlike” oomblik, weer & weer te ervaar. Aaah, die volume, die afstand, die gradiënt, die instant reload van die jeug!

Dit behoort niemand te verras om in die letterkunde vele tekste te kry gewy aan die tema nie (ook in die sin van wyding): gedigte, kortverhale, selfs ’n roman soos Portnoy’s complaint – wat ’n plesierige leeservaring was dié nie, des te meer so omdat ek dit gelees het in ’n tyd toe die boek sélf ook verbode was & baie moeilik bekombaar (pun intended). En dan kom die ander kunsvorme ook nog by. Foto’s, sketse, skilderye, beeldhouwerk. En vele studies. Te veel om te onthou. Maar dis elke jongman se plig om hom weldeeglik van dié tradisie te vergewis & seker te maak dat hy goed daarin onderlê word.

Die volgende gedig deur Charles Ortleb het ek vertaal & in Wat sag is vergaan opgeneem. Dit gee ’n aweregse blik op die erotiek tussen seuns & die sluimerende geweld, die “militerotics” waarna hy in ’n ander vers verwys:

Party seuns
Charles Ortleb

Wanneer party seuns
jou vra om te dans
kan jy sien hoe onskuldig
hulle trille in hulle broeke hang.
Swengelend, soos hulle sê,
en dit roep op: perde, stalle, drank, hooi.

Party seuns knoop hulle hemde oop
en die skoonheid maak seer;
party seuns trek selfs uit
in oorvol kamers met Dylan aan.

Party seuns is boos.
Hulle lok ander seuns in diepsinnige bekentenisse in.
Hulle stort saam,
hulle eet saam blomme
en noem mekaar ramme.

Party seuns, weer, gaan vir seks soos ape en monsters en hulle pa's.
Hulle kry skrikwekkende ereksies.
Smegma-poele versamel langs hulle beddens.
Gebruikte kondome hoop op op hulle agtersitplekke
en dooie luise val uit hulle lendene
in kolle vaselien.

Die vleis van ruwe stegies hang in hulle onderklere.
Die soort vleis wat jy pluk uit die broeke van rampokkers.
Die vleis in sy Amerikaanse sap wat lê in Jeeps en B42's.
Ek bedoel die vleis
van alle soldate wat die hel uit die hemel uit sal bombardeer,
die vleis
van al daardie hoerskool-kadette
wat in die skemer masturbeer asof hulle ‘n 747 land.

Ek konsentreer hier uiteraard op die manlike variant omdat ek van die vroulike bedrywigheid net tweedehandse (ai, kyk net hoe is selfs die táál vol daarvan) kennis dra. Vrouens besondig hulle glo minder daaraan, maar ek betwyfel dit sterk – nie as ek luister na vriendinne nie. Die manlike variant is vir my net mooier omdat dit oop & bloot is, trots, selfs heroïes; terwyl masturbasie deur vroue & meisies ’n inwendige, meer diskrete, geheimsinniger aktiwiteit is. En dan is die manlike orgasme ook een van die mooiste dinge om te aanskou, iets waarvan ek nooit genoeg sal kan sien nie. Dit kan gul wees, energiek, of suinig, met ’n boog uitgeslinger, of soos ’n jampot wat oorkook. Dit is vir my die begin van álle beweging, ’n big bang in die kleine.

Ek is nie ’n size queen wanneer dit kom by die grootte van die voël nie (hoewel ’n groot voël iets primordiaals uitstraal), maar wanneer dit kom by cumshots, soos dit in die bedryf bekend staan (komskote in Afrikaans, of sponk?) dan is my leuse immer: the more the merrier. En dan moet dit ook skokwit wees & diktaai, & oordadig gul met daardie skerp reuk van vadoeke wat pas uit die bleik gehang word om droog te word. Niks van daardie dun, waterige offers nie.

Die een wat méér & verder & hoër skiet as die res, is die een wat my oog sal vang & like it or not, ook die meeste aandag sal trek by die plekke waar sulke plesiere in die ope bedryf kan word. Daar is shooters, & dan is daar super shooters of drenchers (bless them) wat op webwerwe soos xtube liefdevolle cumpilations maak van hulle eie of ander se cumshots met dramatiese soundtracks.

Daar is die waaghalse wat wank in hysbakke, busse, treine, huurmotors, hotelbalkonne, sypaadjies, openbare toilette, piskrippe of bankies in openbare parke, langs snelweë, of terwyl hulle bestuur. Daar is geen einde aan die smorgasbord van outoerotiek nie, & elke ou het sy eie manier van doen, ’n tegniek wat nommerpas is nét vir hom. Ek wil my verstout om te sê as dit by draadtrek kom, kan ek – sonder om die grense van my ingebore beskeidenheid te oorskry – sê dat ek meer daarvan weet as die gemiddelde man, gay of str8. Ek het darem in my leeftyd so 'n goeie klompie manne uitgehelp.

Wat my by hierdie mymery uitgebring het, is ’n gedig deur Andries Samuel, in sy skitterende, pas verskene debuut, wanpraktyk, & dit lui so:

styf

met my hande vryf ek my piel
op en af pluk ek dit aanhoudend
ek trek my draad –
ek trek dit uit en volg dit ín
ek pak my piel beet
soos ’n probleem
al skommelend
probeer dit uitkom

ek dink ek tos net lekker
maar angs groei uit my
soos ’n pielstyf –
ek gryp dit soos ’n dwaas
rem dit in plesier
al pols dit van verdriet
tap ek myself leeg
die bietjie ek wat nog oor is
spuit ek weg oor onvrugbare lappe

my handlangerende hande
my onpaar minnaars

Wat Andries se gedig besonders maak, is dat dit nie sonder meer net nóg ’n draadtrekgedig is nie, maar uitgroei tot beswering van eensaamheid & verdriet, ’n onvrugbare, onoplosbare probleem wat al “handlangerende” op die lappe kom.

’n Ander gedig wat baie bekend is in Afrikaans & weldeeglik gekanoniseer is, is Leon Strydom se voortreflike “John Williams, De Doelen”, ’n vers oor dié legendariese kitaarspeler waar die handbewegings van kitaarspel & die falliese aard van die instrument sélf ontgin word.

John Williams, De Doelen
Leon Strydom

naar welke verten mag hij zijn getogen

met madonnahande speel hy met die kind
snaarstyf tussen sy bene
hy aai die kind hy paai die kind
hy vryf die winde uit die kind

kwingkwang kwingkwang kwater
hier kom die krappie
hy soek water
kielie kielie kielie

en die kind vind dit mooi
hy ontdooi
hy kraai van plesier
hy tierelier
uit duime suig hy drome
hy lispel hy speel met sy tone

en o hy gee hart en hand
aan die kind wat vra om sy hand
hy streel die nek
warm druk hy op elke plek
onkel bonkel riebietjie stonkel
onkel bonkel knor
onker bonkel riebietjie konkel
onkel bonkel knor
maar die kind is vol draadwerk
hy pruttel en pruil
hy is sterk en onwennig
hy skop styf soos ’n stok
en hy huil

toe kwint hy hom
hy gee hom op sy bas
hy onthou hoe dit was
onkel bonkel riebietjie konkel
onkel bonkel onkel
god hy aai hom
en hy paai hom
hy streel die nek
die warmte van elke plek
dit lyk of hy gaan praat
goeie god hy trek sy draad

amo amas amat
daar kom die leraar met die lat
amamus amatis amant
my god my god dit brand

toe aan sy eie lewe
slaan hy die hand
en kyk waar hul hul ook begewe
die een hand ken die ander hand
hul voer die kind
hul dra die kind
hul skrik ligtelik
as hy hul op die vingers tik
handhandig en vingeralleen
onderleg hul hom in die taal van gebaar
lei hul hom in in
die kuns van lag liefhê en ween
en het kind ligt al te kijken maar
en tuurt in een denkbeginnen

In Afrikaans is draadtrekgedigte dunnerig op die grond, maar daar is genoeg, & dalk maak ek hulle bymekaar vir ’n volgende blog (enige voorstelle welkom). Dikwels moet mens gaan grawe tussen ongepubliseerde materiaal, want daar is nog steeds die opvatting dat erotiese skryfwerk iets van ’n abberasie is, ’n skuldige tydverdryf, iets wat nie ernstig bedoel is nie, net vir eie plesier, of vir dié van ’n handvol uitgesoekte vriende, soos byvoorbeeld Auden se bekende “The platonic blow”.

Ek ervaar al hierdie vooroordeel my hele skryfloopbaan, maar gelukkig is dit iets waaroor ek my nog nooit verknies het nie. Ek beskou nie my erotiese skryfwerk as minder, of minder belangrik as énigiets anders wat ek geskryf het nie. Nét van vriende verwag ek onvoorwaardelike aanvaarding, & ek hoop dat ek dit ook op my beurt géé. Van ander lesers & letterkundiges verwag ek nie dieselfde nie, & die áfmaak van die erotiese in artikels of resensies het my nog nooit ’n oomblik se slaap laat verloor nie.

As ek my gedagtes bietjie laat gaan, dan kom daar ’n paar verse by my op. Ek herinner my die volgende kortetjie deur Koos Prinsloo (in die trant van Ronnie Belcher) & hoop dat ek hom reg onthou:

Hy slat hom lat hy hyl,
ja, hy slat hom lat hy hyl,
maar al wat in sy hand oorbly,
is melkwit honnekwyl.

Of die volgende deur ’n mededigter wat vir die ander span speel – alhoewel as dit by riemruk kom, is ons almal in dieselfde span – & sélf ’n goeie corpus verse aan die lyflike toegewy het, ek verwys natuurlik na Daniel Hugo:

’n Lucifer in die lende

wat is veiliger as hierdie vuurhoutjie
wat byna dadelik vrek?
die trilling van gevaar
sit in jou vingers as jy hom trek

na ’n paar probeerslae
is daar ’n vlam
wat spetter, skiet en dan
blus met die reuk van swael

inderdaad: in jou hand
het jy die land
se veiligste vuurhoutjie

(1995: 41)

Daardie nat vonk stig inderdaad landswyd & dag & nag & op die onmoontlikste plekke sy brand & brandinge, soos die volgende koshuisherinnering van die uwe. En watter wonderlike geleenthede is seunskoshuise, oorslapery, of daardie wonderlike kerk- & voortrekkerkampe nie vir hande om onderling & -langs besig te raak nie!

Kamermaat

Ek’t hom spits-oog afgeloer
waar hy in die skemer woel,
skuldig soos die eerste mens

– want ons aarde het afgekoel.

Op die koshuisbed boktoon gestrek
het hy met wakker hand die koue
sintel weer tot kool wou wek.

Hoe het ons aarde nie afgekoel nie.

Van toe af wag ek al dat hy
oor die melkweg wat ons skei
die nat vonk weer laat spring

oor ons afgekoelde aarde.

(1991: 42)

In Nagsweet (1991), geskryf na ’n besoek aan New York waardeur ek vir altyd getransformeer is & waardeur ek baie van my Calvinistiese ballas ontslae kon raak, skryf ek uitvoerig oor my seksuele ervarings: die cruising, verkieslik op gevaarlike plekke (ek dink hier aan die opmerking van ’n bekende moffie wat op ’n keer gesê het hy weet nie hóéveel huwelike hy al in openbare toilette gered het nie!), & die leuen van heteroseksualiteit (elke moffie sal jou ’n hele paar stories kan vertel van str8 encounters, & str8 ouens, as hulle die bôls iewers vandaan kan haal, sou ’n hele paar van hulle éie kon vertel).

Ek het ook nog nooit soloseks gesien as ’n laaste uitweg vir wanneer mens nie die “real thing” op die lyf kan loop nie. Draadtrek is ’n unieke seksuele aktiwiteit met sy eie bevrediging, & álle mans, of hulle nou getroud, of in ’n verhouding is, maak nog steeds tyd vir daardie plesiertjie. En soos Woody Allen gesê het, dis ten minste seks met iemand waarvan jy hou, & dat jy nie altyd jou beste hoef te lyk nie.

Ent

Uit die haarblom van jou lyf
kom die stamper stu-orent:
tot barstens toe gereed gevryf
om my teen winter in te ent.

(1990: 41)

Surfer

Hy ry die kruin so lank hy kan.
Aangeleun teen die wind se kolf,
gebruinde bene styf gespan,
is hy die skuimpie op my golf.

(1991: 31)

As jong snotkop is ek betower deur die volgende vers deur N.P. van Wyk Louw, & alhoewel ek dit nie heeltemal kon verbaliseer nie, het ek instinktief aangevoel dat daar in Louw se vers met die vuur in die vingers van die brandstigter, & die brand wat uiteindelik “straal” kan word & “wit-goed” kan maak, iéts onheilig & plesierigs aan die gang is:

LXXV. Piromaan
N.P. van Wyk Louw

die vuur sit in my vingers
in die haartjies op my hand
en dans op elke vingernael
om los te kom, brand
te kan dra en straal te kan word
en óp te klim en áls wat hy
saam kan sleep, wit-goed te maak
tót hy sy eie maat kan vry

(1981: 281)

Dit het aanleiding gegee dat ek in Snel grys fantoom (1986) ’n antwoord geskryf het op Louw se vers waarin ek ’n persoonlike herinnering verbind het met die bekende assosiasie tussen brandstigting & masturbasie:

Piromaan
vir N.P. van Wyk Louw

In sy vingerpunte jeuk die
vuur, in sy senupunte die sug
na lig, om ’n vuur-
(houtjie te trek) teen papier,
tussen vingerpunte te vat
& vryf totdat die stokkie uit-
bars in vuur, wit spring
uit sy hand se donker nis
& gretig reik na gras & riet,
hout & mied, pisvlammetjie eers
& later siedend onversadigbaar.
Sy donker hand se nis. Kinders mag
nie speel met vuur, dié ont-
hou hy goed, dit lei
na bednatmaak, na lieg
& slae met die draadhanger
vroegoggend as die maan nog
’n stomp gekoude vingernael
in die koue lug hang:
die hitte wat ’n hete hand
om sy sitvlak vou, afvloei & tintel
tot in die wortel van sy geslag,
die sonderlinge vuur.
Dié onthou hy goed, pen in die hand,
die onheilige plesier
& die groot lus om te pie.
Hy trek sy draad & stort sy vuur.

(1986: 9)

In sy pragtige debuut, Hamburgers en hotdogs (1979), skryf E.W.S. Hammond in kort & bedrieglik eenvoudige gedigte oor die liefde & die lyf. Dit doen hy soms as die jaloerse minnaar wat wil hê wat hy nie kan kry nie, of soms speels ander uitvlugte vind vir sy frustrasie:

Herfs

Ek lê op my rug
en kyk na wolke
in ’n Maggie Laubser-lug.

Ek lê
op my bed en
rook ’n sigaret.

Ek luister na
Tino Rossie en speel
met met trossie.

(1979 :6)

In ’n vers soos die “Hengelaar” (1979: 17) gebeur iets soortgelyks wanneer hy vol hoop “sy lyn / met die sinker ver” ingooi, net om te eindig met iets “glibberigs in sy hand”.

Maar die lyf bly nie altyd jonk nie, & die kragte taan. Die ouer Hammond, wat toe al gevorderde diabetes gehad het, kon in Doodsteek van ’n diabeet (1995) ontluisterend skryf nie net oor die liggaamlike aftakeling & afvrot nie (in een vers skryf hy oor die verlies van sy voorvel vanweë die siekte), maar ook die wegkrimp van die fallus & die seksuele in sy bestaan, soos in die volgende vers:

Slak

Jy lê opgerol
in ’n skulphuis met
’n blink slymvlies.
    Skulphuis
    slymsluis
kom uit jou huis uit.

Jy slym uit na my
tot my voelers
om jou lyf gly.
    Skulphuis
    slymsluis
bly by my huis.

Jy rol terug
tot ’n opgerolde skulphuis
met ’n slymstreep
in my vuis.

(1995: 34)

In ’n sin voltooi die digter die kringloop & word draadtrek, wanneer die lyf & die verbeelding dit nog toelaat, wat dit ook in die jeug so moeiteloos kon doen: ’n vertroosting in die ouderdom.

Hoewel nie ’n draadtrekgedig nie, is Barend Toerien se gedig “Voël” uit Parte speel, ’n pragtige, parmantige portret van die hoofspeler in hierdie lyflike tydverdryf. Die liefdesverhouding van ’n man/seun met sy voël is sy eerste liefdesverhouding, & dis ook die enigste een wat ’n leeftyd lank hou:

Voël

Van kleins af altyd opstandig
met ’n kop van jou eie
het jy jou gang gegaan,
my laat bloos tot agter my ore
toe Juffrou my in onvoldoende kortbroek
onverwags vra om op te staan.

Eienaardige appendant, oor jou aard
help dit nie om na te dink nie;
jy’s oorgenoeg befreud, onbeskaamlike
onbetaamlike agterstevoor stert;
dog vir soveel (gedeelde) ekstase sê ek: dankie.
vleeslus word alleen gestil deur die liggaamlike,

al was jou rondtastinge, keer op keer
nooit alleenlik na die lyflike:
daardie tergende wolkskadu Liefde
het jy sonder ophou na gebéúr
en jou kop aanhou bly stamp, rou en disnis;
en met wie en waar is nobody’s business.

(1991: 21)

’n Herinnering bly my by. ’n Saterdagoggend in die Tuine. Ek & Sheila Cussons het ontbyt gehad & agterna al geselsende terug gestap na St. Martini Gardens, die woonstelblok regoorkant die kompanjiestuin waar sy toe gebly het. Dit was lank gelede, vroeë Negentigerjare. Ons het by ’n vywer stil gaan staan sodat haar been ’n ruskans kon kry & gekyk na die visse wat uit die groen water boontoe kom vir kos. Ek kan nie onthou waaroor ons gesels het nie, & hoe die gesprek spesifiek daardie rigting ingeslaan het nie, maar skielik het sy opgekyk na my, die son effens in haar oë sodat sy hulle moes skreef. “Het mans beheer oor hulle ereksies?” het sy gevra, “of gebeur dit onwillekeurig?” Ek was onkant gevang, maar gewoond aan haar ratse brein.
“If only,” het ek laggend geantwoord, “nee, daardie ding het ’n kop van sy eie.” Wat haar laat lag het.

“Ek weet nie wat al die fuss is oor pornografie,” sê sy na ’n ruk, toe ons verby die Sterrewag & naby die hek was. “Jy weet, ek het op ’n keer pornotydskrifte onder my seuns se matrasse gekry – hulle was nog jonk – maar ek het dit net so terug gesit & niks daaroor gesê nie. Mettertyd het hulle dit sélf uitgegooi.”
“Boys will be boys,” het ek geantwoord. “Bless them.”


Bronne

Johann de Lange. 1986. Snel grys fantoom, Human & Rousseau: Kaapstad
Johann de Lange. 1990. Wordende naak, Human & Rousseau: Kaapstad
Johann de Lange. 1991. Nagsweet, Taurus uitgewers
Johann de Lange. 1995. Wat sag is vergaan, Human & Rousseau: Kaapstad
E.W.S. Hammond. 1980. Hamburgers en hotdogs. Tafelberg Uitgewers
E.W.S. Hammond. 1995. Doodsteek van ’n diabeet. Tafelberg Uitgewers
Daniel Hugo. 1995. Monikkewerk, Tafelberg Uitgewers
N.P. van Wyk Louw. 1981. Versamelde gedigte, Human & Rousseau/Tafelberg
Andries Samuel. 2011. wanpraktyk, Human & Rousseau: Kaapstad
Leon Strydom. 1973. Geleentheidsverse, Human & Rousseau: Kaapstad
Barend Toerien. 1991. Parte speel, Human & Rousseau: Kaapstad

Thursday, April 1, 2010

Vreemder as fiksie: Lesing (nie) gelewer aan die US, 2005


Hennie Aucamp

I

Ek het destyds Koos Prinsloo se Jonkmanskas & Die hemel help ons in die eerste plek as metafiksie gelees & nie as postmodernistiese tekste nie. Die idee vir Vreemder as fiksie het by my posgevat ‘n klompie maande ná Koos se dood. Sy laaste bundel, Weifeling, & meer spesifiek die dubbeldoor-verhaal “A portrait of the artist” (’n portret van Hennie Aucamp sowel as van Koos) het my redelik onthuts. Die woord verraad is in meer as een literêre gesprek in daardie tyd genoem. Die feit dat Koos grotendeels Hennie se briewe aan hóm gebruik het maar sy eie aan Hennie verswyg het, het my laat vermoed dat daar meer as net ‘n natuurlike proses van seleksie werksaam was: dalk eerder ‘n geval van unnatural selection. Dit was weliswaar ‘n bekende procedé, dié seleksie & ordening van materiaal, maar het vir my gevoel ‘n baie eensydige portret geskilder.

En die gedagte het by my posgevat om ‘n spieëlverhaal te skryf - een waarin ek Koos se briewe aan Hennie sou gebruik om as’t ware die ánder helfte van die storie te vertel. Ek is met dié idee na Hennie toe om toestemming te kry vir toegang tot hulle korrespondensie wat by die dokumentasiesentrum van Stellenbosch se universiteitsbiblioteek bewaar word. Mev Hannetjie Botha het die korrespondensie plus ‘n paar ander los dokumente rondom Koos gefotostateer & ek is huis toe om aan die verhaal te begin werk.

Ek het nie op daardie stadium ‘n baie helder idee in my kop gehad van hoe die verhaal sou verloop nie. Hou in gedagte dat ek feitlik uitsluitlik poësie geskryf het. Ek het weliswaar vantevore twee (baie poëtiese) kortverhale in bloemlesings gepubliseer - die soort wat afdwalende digters soms pleeg - maar dit was vloekskote wat my aanbetref.


My eerste taak was om Hennie se briewe aan Koos te vat & te vergelyk met dié wat Koos in sý verhaal gebruik het. Ek het met gekleurde koki-pen op die fotostate die dele wat Koos aangehaal het, deurgetrek sodat ek ‘n idee kon kry van wat nié gebruik is nie. Want hy het nie altyd die volledige briewe aangehaal nie, & party briewe is glad nie gebruik nie. Die weglatings het my heelwat van Koos se tegniek geleer, & was baie veelseggend op sigself. Só het ek dan besluit om waar dit betekenisvol is die dele van Hennie se briewe wat Koos verswyg het, te “stet”.

Daarna, in ‘n proses wat ‘n spieélbeeld was van Koos s’n, het ek deur Koos se briewe aan Hennie gewerk & met die koki-pen in elke brief die gedeeltes gemerk wat ek in my storie wou gebruik. In my kop het die verhaal stadig begin vorm aanneem: dit sou ‘n verhaal wees wat ek as ‘n soort ”regstellende aksie” gesien het. Maar ek het besef dat daar baie leemtes was wat ek eers sou moes invul voordat ek kon begin skryf. Ek het Koos se verhaal “A portrait of the artist” keer op keer deurgewerk & notas gemaak van alle verwysings & toespelings, & elkeen in Aucamp- & ander tekste nagespeur. Ek was gereed om te begin skryf, maar ek het gou besef dat my digterlike toerusting nie die regte soort gereedsap vir die taak voorhande was nie. Ek sou eers moes leer loop.

II

Ek het begin besef dat Vreemder as fiksie meer van ‘n akademiese projek gaan wees as ‘n konvensionele bundel kortverhale. Daar was navorsing om te doen, & ek sou van vooraf moes leer skryf, ‘n ander manier van dink moes aanleer. Want ‘n digter se kop werk heeltemal anders as dié van ‘n prosaskrywer. Wanneer jy van die een medium na die ander beweeg, is dit op ‘n manier ook ‘n paradigmaverskuiwing.

Dus: soos ‘n oorywerige student het ek Hennie Aucamp se Die blote storie 1 & 2 deurgewerk & aantekeninge gemaak van nuttige wenke & ander rigtingwysers. Daarna het ek ál sy verhaalbundels deurgewerk, al sy artikels, resensies etc. Notaboeke vol. Toé al Koos se verhaalbundels; koerantknipsels oor & deur beide van hulle, nie-fiksie tekste rondom die kortverhaal, metafiksie, verhaalteorie. Manuskripte & ander materiaal in NALN se versameling waarop daar nié embargo’s was nie was volgende.

Uiteindelik was ek gereed om die storie te skryf. Storie, enkelvoud. Want ek het geen planne gehad om meer as net die een storie te skryf & aan Tydskrif vir Letterkunde voor te lê nie. My verhaal sou in ‘n groot mate die matrys van Koos s’n volg, behalwe vir die slot waar ek ‘n ontbyt-toneel tussen die twee wou versin waartydens Koos vir Hennie ‘n kopie van Weifeling as “soenoffer” gee (natuurlik onmoontlik aangesien hulle toe lank reeds nie meer kontak gehad het nie), met die slotreël waar Koos wegstap uit die storie & uit die lewe & “asof in die niet verdwyn” - ‘n toespeling op die slot van Koos se verhaal waar dit Hennie is wat “asof in die niet verdwyn.” Dit was ook ‘n vooruitwysing na Koos se dood maande na die verskyning van Weifeling.

Iets wat ek met die slot van die verhaal probeer het & nog steeds oor twyfel, is die inbring van die bril. Ek laat Hennie iets doen wat hy nooit doen nie, nl. om sy bril af te haal wanneer hy by ‘n eetplek is. Wanneer hy terugkom, gaan sit hy dan per ongeluk op die bril & die implikasie is dat Koos die bril op die sitplek neergesit het terwyl Hennie weg was juis sodat Hennie daarop moes gaan sit. Wat ek (heel Freudiaans) daarmee wou suggereer, was dat Hennie in ‘n sekere sin van die begin af blind was vir Koos se gemeenheid, dat hy die verraad van ‘n verhaal soos “Portrait of the artist” nie sien kom het nie.

III

Terwyl ek dié verhaal aan die skryf was, het ander verhale hulle begin aanmeld. Dit was inderdaad die mees kreatiewe periode in my lewe tot dusver. Ek het in dieselfde tyd die teks vir ‘n TV-dokumentêr oor Ingrid Jonker geskryf (op sigself ‘n oefening in die transformasie van “feite” in ‘n ander medium), & ook ‘n nuwe digbundel voltooi. die besef dat daar meer verhale aan die kom was, het my van vooraf aan die werk laat spring. Ek het boeke rondom postmodernisme, sielkunde & metafiksie begin herlees. Nuwe wêrelde het voor my oopgegaan, vol moontlikhede. En al lesende het ek aan ander verhale begin skryf. Teorie het al skrywende bloedende praktyk geword, & dit was nie altyd moontlik om die een van die ander te onderskei nie, waar die teks ophou & die werklikheid begin nie, of waar die leuen oorgaan in die waarheid of andersom nie. Dit was ook op daardie stadium dat die bundeltitel, Vreemder as fiksie, hom aangemeld het & die verhale het meteens ‘n groter fokus gekry. Ek het besef wát dit is wat ek probeer doen & ek kon my leeswerk fokus na die behoefte van sekere verhale.

Die eerste twee of drie verhale het ek vir Hennie gewys. Hy het hier & daar voorstelle of kritiek gehad, maar ek het gou besef dat hy om verstaanbare redes nie weer in die rol van mentor gedwing wou word nie. Party van die stories het onder andere hulle eie ontstaan as tema gehad, bv. “Die bruin lêer”, & die probleme wat ek met dié verhaal gehad het, is al skrywende opgelos. Al verskil was dat ek nie die gesukkel, die steierwerk as’t ware, verwyder het nie; ek het dit ingelos. Ek het selfs gesprekke wat ek met Hennie gehad het oor probleme rondom die skryf van dié betrokke verhaal, behou.

En dié verhaal het ‘n láng aanloop gehad. Dit was omtrent 10 jaar gelede toe Pieter Claassens, die digter waaroor die verhaal handel, homself in die Indwe-hotel in Pretoria geskiet het. ‘n Vriend van my was toevallig een van die polisiemanne was wat na die toneel uitgeroep is. Hy het my gebel & gevra of ek Pieter Claassens geken het, aangesien daar op die bedkassie langs die lyk ‘n stapeltjie van Pieter se jongste digbundel gelê het. Op dié manier het ek inligting bekom waartoe ek andersins nie toegang sou gehad het nie.

Ek het ‘n kopie van die polisielêer aangevra met afskrifte van verklarings, outopsieverslae & ook foto’s van die lyk. Dit was ‘n baie ontstellende ervaring & ek onthou ek het daardie nag, nadat ek vir die eerste keer die foto’s gesien het, my eerste wet dream in baie jare gehad. (Nou, ek weet sommige ouens is gelukkig genoeg om dit dikwels te beleef, maar aangesien dit iets is wat gebeur net wanneer mens vir lang periodes jou hande van jouself kan afhou, is dit iets wat my uiters selde oorkom.) Hoe ookal, die skok van daardie foto’s het by my ‘n soort lewebevéstigende reaksie ontlok: dit was asof my liggaam deur middel van die droom my gerus wou stel, wou sê: Jy lewe!

Ek het ‘n gedig oor Pieter geskryf & die bruin lêer gebêre & daarvan vergeet. Die gedig het verskyn in Snel grys fantoom (1986):

Pieter Claassens (1949 - 1983)
maansverduistering 28 Oktober 1985

Ek lees jy het oplaas vertrek
na die noorderson, en niks
het verander nie: een swael
minder maak nog nie ‘n winter nie.
Liefde bring ons na die siekbed,
die oop graf: diagnose van verlies.

Vanaand het die maan ‘n skaduwee
soos bloed in sy oog,
en minnaars lê gevlegsel,
opgesluit in mekaar se droefheid.
Wat oorbly na alles, is liefde.

Ek beny jou die nugter
sekuriteit van jou dood:
Vriende, ek vertrek
op my laaste reis.
Sommiges leer van kleins af
om hulle teen verlies te staal.

Onseker minnaar
vir wie elke verhouding
‘n salto mortale was,
jy kan nou maar jou oë sluit:
ooglid van ys oor ‘n winterpoel.

Toe ek die verhaal begin skryf 10 jaar later, noem ek op ‘n dag vir Philip de Vos dat die storie gaan staan het, dat ek sukkel om dit weer aan die gang te kry, & hy noem hy het iewers foto’s wat hy van Pieter geneem het op ‘n tyd in sy lewe toe dié nog jonk & begeerlik was, & ek dag toe: dalk is dit nét wat ek nodig het om die verhaal te laat werk. Ons het deur die foto’s gegaan & ek het ‘n naakfoto gekies waar Pieter bruingebrand op sy maag lê iewers naby Kommetjie (was daar ‘n halfbegrawe skeepswrak naby?). Ek het die naakfoto langs die foto’s van die lyk geplaas & besef dat ek moes probeer verstaan hoe ‘n mens van die een na die ander uiterste in jou lewe kan beweeg.

Ek is terug na Die blote storie & het besluit om Hennie se konsep van die “point of entry” & “point of exit” met betrekking tot die begin & slot van die kortverhaal in verband te bring met die skietwond, die point of entry van die koeël, & die feit dat nes die koeël nie aan die ander kant van Pieter se skedel uitgekom het nie, my verhaal ook nie 'n oop einde kan hê nie.

IV

In ‘n verhaal soos “Die storie van ‘n skrywer” is daar weer eens ‘n dubbele perspektief: enersyds is dit die storie van Koos, & andersyds is dit die storie van my skoling as kortverhaalskrywer. Want soos ek op die flapteks verduidelik, is die verhale in Vreemder as fiksie ook ‘n verslag van hoe ek leer skryf het. Ek het gaan leer & gaan leen by die lewendes & by die dooies. In “Storie van ‘n skrywer” het ek ‘n gedeelte uit John Berendt se Midnight in the garden of good and evil wat handel oor Conrad Aiken vertaal & gebruik as centre piece om te illustreer hoe dié storie werk, veral die relasie tussen fiksie & werklikheid. (Op elfjarige leeftyd het Conrad Aiken se pa sy ma geskiet & toe selfmoord gepleeg, & dit was die jonge Conrad wat op die liggame afgekom het).

Terwyl ons ywerige skrywer in Le Petit Paris op Groentemarkplein sit (daar was werklik ‘n kelnerin met ‘n blou rok & wortelrooi hare) kry hy die idee om Koos ‘n fantoomverskyning te laat maak, ‘n klein vinjet as’t ware. Hou in gedagte dat hy in die volgende verhaal ná sy ontbyt met Hennie juis in die rigting van Groentemarkplein verdwyn.

Dan daag A. op, & die gesprek wat die skrywer & A. in Le Petit Paris het, is volledig saamgeflans uit die huldigingsartikel wat oor Koos in De Kat verskyn het na sy dood. Ek het in Vreemder as fiksie iets anders wou doen as Koos in Weifeling. Ja, ek wou ook lewende mense betrek, ek wou ook die grens tussen werklikheid & fiksie kompliseer, maar ek wou vérder gaan. Ek wou meer tekste met myne integreer, ek wou meer klem lê op die feit dat ‘n storie, nes die lewe, ‘n “tissue of quotations drawn from the innumerable centres of culture” is soos Roland Barthes skryf. Die baie voetnotas moes enersyds aan sekere fiksionele elemente die illusie van waarheid te gee, & andersyds “feite” in die teks ontmasker as leuens & andersom. Daar is dus as’t ware twee stemme in kontrapunt wat daarop uit is om mekaar se geloofwaardigheid te ondermyn sodat die leser (& skrywer/outeur/verteller) later nie meer weet wie of wat om te vertrou nie.

Dieselfde gebeur in “‘n Oog vir ‘n oog” waar ek ‘n onderhoud wat Johan Bruwer met Koos gevoer het vir De Kat gebruik het om dialoog tussen die karakters te skryf. Ek stel Koos dus letterlik aan die woord, maar binne ‘n fiktiewe, versinde konteks. Ek het ook inligting vervat in ‘n outobiografiese skets wat Koos vir NALN geskryf het, gebruik om die karakter van Koos verder uit te vlees. Dan tree die verteller as navorser na vore & ons lees hoe hy in die Suid-Afrikaanse naslaanbiblioteek fotostate van artikels (onder andere die De Kat-onderhoud) gaan aanvra het. Mieke Bal & Flaubert lewer belangrike insette. Die verhaal buig dus meteens in op homself & Koos se opmerking dat nie alles in sy stories werklik gebeur het nie word ironies. Veral as my storie vol dinge is wat werklik gebeur het, gemeng met dinge wat nie gebeur het nie. Ek vat byvoorbeeld ‘n insident uit een van sy verhale oor ‘n bergievrou wat melk van ‘n tafeltjie af steel & skryf dit in my storie in - met die verskil dat die karakters wat dit sien gebeur Koos & sy lover is. Met ander woorde hulle word meteens karakters in beide my & Koos se stories! En dan skielik in die slot “slip” die skrywer op & die perspektief glip van die derde na die eerstepersoon, die maskers word laat val & die leser besef dat die verteller, die navorser & die ‘ek’ een & dieselfde instansie is. Daar is heelparty opsetlike foute (& selfs ‘n onopsetlike fout of twee) in Vreemder as fiksie.

Die titelverhaal is saamgeflans uit skinderstories, uit ‘n werklike gesprek wat ek met Koos gehad het nadat hy onwetend seks gehad het met iemand wat HIV+ was, uit ‘n gesprek wat ek gehad het met iemand wat die verassingsdiens bygewoon het, & ten slotte het ek die huldigingstuk wat sy Nederlandse vertaler Riet De Jong-Goossens opgeneem het agterin haar vertaling van Slagplaas, gebruik. Daarin vertel sy van ‘n vrou wie se motor gaan staan het & wat toe ‘n insleepdiens gebel het net om deur die mans van die insleepdiens verkrag te word. Sy word ten slotte deur ‘n man met ‘n lykswa opgelaai waar sy langs die pad staan & huil. Ek het dit gelees & gedink dit kon net sowel ‘n Koos Prinsloo-storie gewees het. As laaste kinkel maak ek toe die lykswa dieselfde een wat vroeër die aand Koos se lyk opgelaai het & ek maak haar verwagtend & bring lewe & dood, waarheid & leuen, feit & fiksie, wet dream & nagmerrie op makabere wyse bymekaar uit.

V

Ek het solank ek kan onthou ‘n fassinasie gehad met Leipoldt. Hy was nie net die enigste Afrikaanse skrywer met wie ek graag sou wou knip nie, maar die vaagheid rondom sy seksualiteit het hom net nog boeiender gemaak. Wanneer Leipoldt se seksuele orientasie ter sprake kom, is daar gewoonlik baie sterk gevoelens. Hy is toetentaal volksbesit, ‘n nasionale instelling, lank nie meer vlees-&-bloed nie, & die volk hoor nie graag iets negatiefs omtrent hom nie. Stel julle my opgewondenheid voor toe John Kannemeyer op ‘n dag by my werk opdaag & in ‘n gesprek noem van die interessante brief waarop hy in sy navorsing rondom sy Leipoldt-biografie afgekom het. ‘n Brief wat ‘n mediese student aan Leipoldt (toe self ‘n mediese student in London) geskryf het. Die briefskrywer se seksuele orientasie was baie duidelik & die beskrywing van sy obsessie met ‘n ander seun & die feit dat hy homself besny het omdat die seun ook besny was, ‘n grillige wond wat uiteindelik septies geraak het, het my geboei, & ek het gewonder waarom Leipoldt dié brief gehou & nie vernietig het nie.

Kannemeyer het my ‘n kopie van die brief laat kry & dit het die raamwerk van my vertelling uitgemaak. As meesterverhaal het ek Oscar Wilde se “Portrait of W.H.” gebruik - ‘n vernuftige vertelling gebou rondom die misterie van die W.H. aan wie Shakespeare sy sonnette opgedra het (man? vrou?), & oor die konsep van waarheid & vervalsing & hoe ver iemand sal gaan om die waarheid te lieg. As teenpool vir Leipoldt se seksuele ambiguity het ek blatante gay karakters gebruik: in dié geval die Britse skrywer Francis King wat ek een middag by Stephen Gray aan huis ontmoet het. Die gesprek oor die Noorweegse gentleman companion & die hoerjonge waarvoor King se skrywersvriend Tom Wakefield moeg geraak het & toe na die plaaslike pastoor aangegee het, is feitelik akkuraat. Die professor is ‘n saamgestelde karakter: daar is ‘n knertsie in van John Kannemeyer, van Dr. Con (wat ek nooit geken het nie, maar oor wie ek by vriende bits & pieces gehoor het) & van Hennie Aucamp se Markies-karakter uit die laaste vier verhale in Wat bly oor van soene? - op sigself ‘n samestelling van Dr. Con & Robert Mohr. Daar is eweneens verwysings na Johannes Meintjes se dagboekinskrywings oor Leipoldt. In die verhaal sélf word daar plek-plek gepraat van Leipoldt, & op ander plekke net van L. & daar word nooit gesê of dit dieselfde persoon is nie. Die voetnotas nooi die leser uit om tóg daardie identifikasie te maak, maar dan op eie risiko.

Daar is woorde gelê in die monde van karakters wat dit nooit gesê het nie, maar dit is opgetekende dialoog wat kom uit gesprekke met vriende & vyande wat nié in die verhaal figureer nie. Elke verhaal in hierdie bundel het hierdie mengsel van feit & verdigsel, van waarheid & leuen, & oral is verwysings na ander verhale ingebou, of tussen verhale in die bundel self onderling, ‘n verwikkelde, digte web wat ekself teen die einde nie meer sonder groot moeite sou wou ontwar nie.

VI

“An author in search of some characters” was as titel eenvoudig onweerstaanbaar & het begin vorm aanneem toe ek een naweek deur ‘n boek oor Rembrandt lê & blaai het - nie met ‘n storie in gedagte nie, net as ontspanning. Toe ek egter lees dat daar twyfel bestaan oor die egtheid van die middelste van drie panele, & dat dié middelste paneel in 1959 (my geboortejaar) ontdek is, het my kop begin kletter. Een aanloop vir die verhaal was die feit dat Rembrandt homself dikwels in sy doeke ingeskilder het, soos Hitchcock se kamee-verskynings in sy films: ‘n feit wat ek kon gebruik om te besin oor die teenwoordigheid van ‘n outeur in sy werk. Vandaar was dit ‘n klein sprongetjie na Italo Calvino se When on a winter’s night a traveller waar die vertellende & skrywende “ek” voorop gestel word, & Johann de Lange word tegelykertyd verteller, outeur & karakter.

In die verhaal kyk ek na die mens agter die boek: hoe dit nog altyd in die wêreldletterkunde & ook in Afrikaans bestaan het. Koos se laaste verhale het bloot ‘n baie sentrale problematiek belig deurdat hy minder verdoeseld as diegene voor hom met die lewendes & dodes omgegaan het. Hy het trouens met die lewendes omgegaan soos min dit sou waag om met die dodes om te gaan. In dié verhaal laat ek ‘n hele paar ape uit die mou & identifiseer die lewende modelle vir karakters in Afrikaanse tekste, & betrek eweneens ‘n groot klomp ander tekste om die dilemma van postmodernistiese fiksie & die oorskryding van ontologiese grense te belig.

Ek betrek ook die twee akademici wat die manuskrip van Vreemder as fiksie gekeur het & haal uit hulle verslae aan - sonder om hulle pertinent te identifiseer, my lydsame uitgewer ter wille. Fiksie, nes die werklike lewe, het ook sy kompromieë. Ten slotte betrek ek ‘n gesprek met Simon Ford oor die omslag van die boek - ook hy is deur my as omslagkunstenaar gekies vanweë sy assosiasie met Koos (hy het die omslagkunswerk van Die hemel help ons gedoen). ‘n Verdere spinnedraad wat roer in die web wat ons slinkse outeur vir sy karakters & sy lesers spin. Ja, want die gevaarlikste ding op twee bene is ‘n skrywer op soek na ‘n storie. Uiteindelik bely die skrywer sy onmag om die storie tot ‘n klinkende of knallende slot te bring. As die dissipels nie eens kan saamstem oor presies wát Christus se laaste kruiswoorde was nie, hoe op aarde kan ‘n arme beproefde skrywer sekerheid hê oor enigiets?

VII

Die verhaal “En hadde de liefde niet” gaan oor die dood van ‘n vriend aan Vigs soos aan my oorvertel deur ‘n gemeenskaplike vriend, die Bertus waaraan die verhaal opgedra is. Ek het toe reeds geruime tyd in Kaapstad gewoon & nie meer kontak met my sterwende vriend gehad nie & genadiglik nie sy aftakeling & dood meegemaak nie. Plek-plek het ek anekdotiese detail ingewerk wat by my opgekom het tydens die skryf daarvan. Die spelfout van chiascuro in plaas van chiaroscuro: was dit nou ‘n opsetlike verskrywing of nie? Ek wonder… Die verwysing daarna lê egter ‘n verband met die vorige verhaal oor die Rembrandt-skilderye & op die idee van sekerheid & vaagheid, van wat ons uiteindelik kán weet. En hoe onbetroubaar geheue is. Koos gebruik as motto vir sy verhaal “Belowe jy sal niemand sê nie” Guillermo Infante wat skryf “I have decided to be faithful to my memory even though it deceives me,” ‘n uitspraak wat net so ter sake is vir hierdie verhale.

Aangesien ‘n skrywer darem ‘n paar geheime moet oorhou, gaan ek nie die karakters in “A rough guide to Cape Town” identifiseer nie, behalwe miskien Jeff Stryker wat in die werklike lewe net so goed bedeeld is as in sy videos. Prof Libby in die verhaal “Prof Libby neem ‘n notaboek saam” is ‘n karakter wat pens & pootjies uit ‘n storie van Hennie Aucamp na myne oorgeloop het, min of meer ongeskonde. Ek het inderdaad vir Prof Libby (die een in lewende lywe) op ‘n dag by Sandy Bay raakgeloop, maar nie met hom gesels nie, net van veraf gewuif. Die idee vir die verhaal het egter so onmiddellik & so sterk by my opgekom dat ek in my spore omgedraai het & terug is huis toe om dit te gaan neerskryf, ten spyte van die avonture wat ek sodoende in die rooikransbos (oftewel Kom-se-Bos) sou misloop. Die steek met ‘n skroewedraaier het nie met die werklike Libby gebeur nie, maar met iemand wat vroeër jare by die SAUK gewerk het. ‘n Verdere verdraaiing wat ek nie kon weerstaan nie, was om die aanrander se naam Koos te maak, & Libby homself as Hennie te laat voordoen: op dié manier wou ek op grafiese wyse gestalte gee aan die tekstuele geweld van Koos op Hennie deur sy verhaal.

Lesers wat vasgevang raak in die spel om dié of daai karakter in die stories te identifiseer, mis die punt van die verhale & gaan in elk geval bedroë daarvan afkom. Daar is te veel vals bodems & blinde mure. Veel interessanter is hóé ‘n storie aanmekaar gesit is, die “amount and diversity of materials integrated” waarvan Wellek & Warren praat. En ek hoop hierdie praatjie gee lesers ‘n glimps van hoe die kreatiewe proses vir my gewerk het daardie tyd. Net ‘n glimps, meer nié, want misterie in fiksie (nes in die lewe) is noodsaaklik. Sodra mens ‘n toertjie heeltemal verstaan, verloor jy belangstelling.


(C) Johann de Lange, 2010