Showing posts with label Versindaba. Show all posts
Showing posts with label Versindaba. Show all posts
Tuesday, March 8, 2011
Papier-Skêr-Klip
Die debat rondom Media24 se voorgenome aanstelling van 'n über boekeredakteur duur voort. Plek-plek verskuif die fokus so bietjie, & dit begin vir my al hoe meer na die bekende troefspeletjie Paper-scizzors-rock lyk met deelnemers wat mekaar aanvat & probeer troef. Dit gaan nie oor die vasklou aan 'n medium waarvan die dae getel is nie, maar eerder oor die verlies aan die verskeidenheid van stemme & menings wat verlore sal gaan, die inperking van die gesprek. Nietemin, ook hierdie sydelingse gekibbel bring al fyner aspekte van die hoofargumente vír & téén die amalgamasie na vore.
'n Noodvergadering is belê vir gepubliseerde skrywers & ander belangstellendes & -hebbendes wat hierdie kwessie verder in 'n openbare forum & van aangesig tot aangesig wil uitpraat. Hier is die besonderhede:
WANNEER? Saterdag, 12 Maart - 16:00 vir 16:30
WAAR? Protea Boekwinkel, Andringastraat, Stellenbosch
Lees die jongste opinies op:
Litnet
Dawid van Lill: Wat sal ’n boikot tog regkry?
Paul C Venter: Die oplossing is eenvoudig
Crito: Ou probleem, nuwe konteks
Louise Viljoen: Die literêre aktiwiteit in die taal moet so dinamies en divers moontlik wees
Nicol Stassen: Die doodsklok vir die Afrikaanse letterkunde
Hans C ten Berge: Een ontoelaatbare verschraling
Laurens van Krevelen: Natuurlijk is het een teken van marginalisering van de literatuur in het publieke discours
Petrovna Metelerkamp: Mens kan net hoop
Om te boikot of nie? ’n E-posgesprek
Jeanette Ferreira: Dit is die resensent wat sy/haar geloofwaardigheid moet handhaaf
Versindaba
Dag 4 - Hoe nou verder
Nee vir ‘n Nasionale Boekeredakteur
Voorspel tot ‘n organisasie vir skrywers
Amanda Lourens: Die hekwagter van hekwagters
Hennie Aucamp - Protesteer terwyl kans nog bestaan [Die Burger]
Friday, March 4, 2011
'n Swaardsteek in die water
Vandag is die sluitingsdatum vir aansoeke vir die posisie as über boekeredakteur. Die afgelope paar dae is daar intens op die kuberruimte debat gevoer rondom Media24 se planne. Dinge is gesê wat gesê móét word, & dalk ook ’n paar dinge wat straks kon gebly het. Die ironie dat die debat oor die toekoms van Afrikaanse boekeblaaie bykans uitsluitlik op die kuberruim gevoer is (& dus eintlik ook al ’n heenwysing is na waar die oplossing – gedeeltelik – lê), is een wat nie onopgemerk gebly het nie.
Ná ’n kort nota waarin hy uitwys dat daar sommige besluite is wat die skrywers as ’n groep moet maak, & ander wat elkeen vir homself moet neem, rig Breyten Breytenbach formeel ’n brief aan Die Burger waarin hy, vir homself, 'n verreikende besluit neem:
***
Kollega’s,
Inderdaad is daar besluite wat ons gemeensaam moet neem en ander wat ons elkeen vir hom- of haarself moet uitmaak. My omstandighede is anders as dié van meeste van julle s’n, so moenie dink ek probeer katte aanjaag kraal toe nie. Ek het eintlik ook nie enige illusies gehad oor Media24 nie. Wat ek nou doen is seker bowendien wat mens “’n swaardsteek in die water” kan noem, want dis nie asof my bundels toegegooi is onder resensies nie! Maar vir wat dit werd mag wees, en vir julle informasie, hiermee die afskrif van ’n brief wat ek so pas aan Die Burger gestuur het. Ek hoop hulle plaas dit.
Groete,
BB
***
Geagte redakteur,
U is sekerlik bewus van die uitgebreide debat wat ontketen is, tot dusver net op webtuistes, van Media24 se besluit om voortaan slegs een oorkoepelende über boekeredakteur te hê vir al julle koerante. U sal dan gesien het dat die oorgrote meerderheid skrywers wat toegetree het tot die gesprek bitterlik ontsteld is en dat die gevolgtrekking gemaak word, myns insiens tereg, dat dit ’n inkrimping van kulturele ruimte gaan beteken en ’n jammerlike standaardisering van resepsie.
Dit was duidelik dat die woordvoerders wat namens Media24/Naspers probeer verduidelik geen benul het van die implikasies vir die boekewêreld nie. Aan die een kant is dit seker goed dat die skille nou as’t ware van ons oë val en dit glashelder is dat Media24 nié enige aanspraak kan maak op die bewaring van kultuurgoedere of die bevordering van vrye en ontginnende en uitdagende denke nie. Op pad na die skynbaar onomkeerbare bestemming van slegs één Afrikaanse dagblad is die literatuur en die Afrikaanse denkwêreld seker ook al lankal nie meer een van u kernbemoeienisse nie. Dis u goeie reg – dis trouens besluite gedryf deur korporatiewe logika – maar dit sal goed wees as die maskers van geveinsheid en pretensie sak en ons ten minste nie die Orwelliaanse dubbelpraatjies hoef aan te hoor nie. Dit sal ook goed wees indien u maatskappy nie ’n Stalinistiese stilbly en gehoorsaamheid afdwing op u medewerkers wat die eerste geraak gaan word deur die korporatiewe besluite nie.
Daar is min wat ’n individuele skrywer kan doen om sy misnoeë te betoon. Ek wil u egter vriendelik maar ferm versoek om vanaf hierdie dag onder geen omstandighede ’n resensie van my werk te publiseer nie en ek sal dit waardeer indien u die boodskap ook kan deurgee aan u susterkoerante. Hierdie is ’n persoonlike besluit. Daar was geen oorleg met my uitgewers nie. Hulle het my nog altyd baie goed behandel en ek is jammer as hierdie gebaar hulle goeie werk ter bevordering van my boeke ongedaan maak. Ek vertrou egter dat hulle my besluit sal verstaan.
Ek verdien nie my brood in hierdie land nie en ek weet dat die situasie veel pynliker moet wees vir skrywers wat nie ander opsies het nie. Nogtans wil ek ander skrywers aanspoor om hulle medewerking, aktief of passief, van u te weerhou. Ons sal eenvoudig ander opsies moet vind om ruimte te skep vir die voortsetting van daardie uitwisseling van idees en drome en vrese en prestasies wat essensieel is vir die weerbaarheid van bewussyn en bewusmaking in enige taalgemeenskap.
Die uwe,
Breyten Breytenbach
Sien ook:
Louis Esterhuizen - Voorspel tot ‘n organisasie vir skrywers [Versindaba]
Alida Potgieter - Dat die forum vérder gaan verklein, is erg kommerwekkend [Litnet]
Kerneels Breytenbach & Frederik de Jager - BekRek 3 Maart 2011 [Litnet]
Neels Jackson - Skrywers wil boikot
Tim du Plessis - Hokaai, die hoofdoel is om ’n beter diens te kan lewer
Subscribe to:
Posts (Atom)

