Bundel van kwatryne diep én guitig
Resensent: Bibi Slippers
Die Burger, 11 Desember 2011
Johann de Lange. Weerlig van die ongeloof. Protea. Prys: R140-00.
Dis tydens ’n wankelrige week aan die verhoudingsfront dat ek Johann de Lange se jongste bundel, Weerlig van die ongeloof, ontvang en op die eetkamertafel laat lê.
So wankelrig is die week dat die ander helfte van my hart een aand in die sitkamer slaap.
Die volgende oggend vind ek hom op die bank, met die De Lange. Daar is ’n nota op die eetkamertafel, afgeskryf uit die bundel:
Want die liefde eis groot waagmoed & nie soseer vaardigheid: moet as ’t ware toeoog begaan word, of goedsmoeds.
In my bors trek iets saam en kom los op dieselfde oomblik. Ek vergeet om kwaad te wees. In minder as 20 woorde word alles vergewe, sien ek weer hoop en onthou ek hoe om lief te hê.
Dít is die mag van die gedig in die hande van die behendige digter.
Anders as die liefde eis die digkuns groot vaardigheid, en wanneer ek die bundel ná die bogenoemde voorval opneem en met aandag begin lees, is dit die vaardigheid wat eerste opval.
Een van die tekens hiervan is woord-ekonomie: Weerlig van die ongeloof verrig baie met baie min woorde. Al die gedigte is in kwatrynvorm (slegs vier reëls kort) en werk op uiteenlopende maniere met De Lange se bekende temas.
Kyk na die volgende twee gedigte wat op verskillende vlakke met die hart te make het, en onderskeidelik De Lange se diep, sensitiewe kant en guitige humorsin demonstreer:
Verstekeling
Dood is die verstekeling
in die ribbes van dié boot
wat ons met elke vaart
deur ongekaarte waters stoot.
Aphrodite Kallipygos
Die hart (hoewel gestileer),
universeel simbool
van liefde, is op die heuwels
van die boude gebaseer.
Vanweë hul lengte is die gedigte nooit intimiderend nie, maar tog verklap die bundel nie al sy geheime met die eerste lees nie.
Mens kan terugkeer en weer wonder wat party van die gedigte werklik beteken, terwyl van die reëls jou bybly omdat hulle so presies beskryf en so raak tref.
Hier en daar is effens te veel klank in die reëls gepak, maar dit vergeef ek De Lange maklik.
Die beperking wat hy homself in hierdie bundel gewillig oplê, dryf hom tot kreatiewe uiterstes, wat my as leser opnuut verras en vermaak het.
***
Weerlig van die ongeloof
Resensent: Joan Hambidge
Fine Music Radio, 25 November 2011
Johann de Lange. Weerlig van die ongeloof. Protea. Prys: 140-00.
Johann de Lange se jongste bundel heet Weerlig van die ongeloof. Hierdie bundel word tereg opgedra aan die semantikus Henning Snyman wat met sy essays oor die digkuns (soos Teodoliet, Mirakel en muse) verhelderende bydraes gelewer het. Die eiesoortige werking van die digterlike beeld en die fyn balans tussen abstraksie en konkrete vergestalting met die uitwys van hoe litotes, satire en die metafoor o.a. funksioneer, bly standaardwerke in die letterkunde. Die bundel bevat ‘n kunswerk van Judith Mason: Die oog van die storm wat die titel goed verduidelik. (Op Litnet se voorblad word die digterlike oog saam met die kunswerk geplaas.) Die digterlike beeld moet immers gesien kan word…
Hierdie kort verse verraai kenmerke van die kwatryne, maar is dikwels eerder kort, vierreëlige verse. Die titel aktiveer die De Lange-paradoks: dat geloof bestaan of tot uiting kom ten spyte van ongeloof of twyfel.
Die drie verse versterk die siening:
Die weerlig van die ongeloof
Die weerlig van die ongeloof
verhelder soos die apostroof
grys telegramme van die reën
uitgestippel op die steen.
(49)
Bede
Uit my duister hoor my lied
& laat u wil oor my gebied.
Nie langer in die woesteny,
maar langs U in die galery.
(49)
Die paramour
na Rainer Maria Rilke
Gedenk die nonne & vroueheiliges
vir wie Christus ’n kamerjonge is,
’n soet ersatz vir passie, die teerste
paramour wat nog besitbaar is.
(50)
In “Skietgebedjie” (51) is daar ‘n verlange na die geloof sonder twyfel. De Lange was nog altyd die digter van die paradoks: dus in die ongeloof is daar soeke na geloof. Of die agnostiese digter is dikwels verlangend na die troos van ‘n beskermde God.
Bekende temas van De Lange word hier op nuwe wyses geaktiveer en in kompakte vorm aangebied: soos ‘n weerligstraal is die verse blitsig, vinnig en die insigte vir die digter onthutsend, maar ook vinnig afgehandel of oënskynlik verby. Die leser, bekend met die oeuvre, meet die verse veral aan ‘n bundel soos Vleiswond waarin die sterk religieuse dimensie na vore kom.
Die verse is epigrammaties en selfs in telegram-styl geskryf, soos die motto aandui:
In such a book as this,
The poet Martial says,
Some of the epigrams
Shall have seen better days,
And some are hit-or-miss;
But some – like telegrams –
Deliver intelligence
With such a sudden blaze
The shine can make us wince.
Fred Chappell
Die openingsgedig verwys na Marais se bekende siening dat alle bewussyn pyn is en die selfmoord van Marais lui dan ook die aflegging van ou selwe in of vroeër sienings van die digkuns. Op ‘n kompakte wyse word sieninge verpak om tot helderheid te kom. Hierdie bundel is ‘n oorgangsbundel: een waarin die skrywer wegbeweeg na iets groters en waarskynlik meer dwingend in die self in-beweeg. Liefde eis groter waagmoed, die ouer self is meer blootgestel as die jonger, cruising digter wat hom kon oopstel vir gevaarlike terreine op sowel fisiese as geestelike vlak.
Hierdie soort gedig se belangrikste kenmerke vind ons: die woordspel, die pun, die toespeling op bekende gedigte van Van Wyk Louw, Boerneef, Cussons.
Die terugkeer na die jeug –bekend aan individuasie-tekste – is gelade:
Lyfband
My naam is net ’n kepie in die lengte van jou lyfband
Jou naam is ’n wond, ’n haakspeld deur my mond
Ek het jou op ’n skoolbank geteken, al jou trekke uitgekerf
Jou lyfband op die bed se blink gespe-oog het ek uitgeverf
(15)
Die naam van die mede-skolier is egter nou ‘n wond in die herinnering, iets wat ander ervarings sal bepaal. Dit kom dan na vore in:
Na Anaekreon I
Fragment 360
Seun met die lonk-oog blik,
ek kies jou uit, maar jy merk niks,
onbewus jy is die menner
van my siel & my geluk.
(17)
Die spreker is nie meer selfversekerd nie. Daar word gekyk na die self as ‘n bouval:
Bouval
Jy meen ek is taai, dat ek jou aanslae kan verduur
maar in der waarheid is ek: ’n krummelende kou,
’n haglike harmonie van suile & ruimtes
waarin jy soms jou vergane glorie nog onthou.
(18)
In vele gedigte is daar ‘n herinnering na die jeug, na die uitbundige omgang met die liefde, veral die liggaamlikheid daarvan, wat nou verstar het in ‘n “vergane glorie”.
Ook die verslawing (letterlik en aan die digkuns) kom aan bod wat die vorige bundel Die algebra van nood in herinnering roep. ‘n Vers soos “Trade” aktiveer weer Nagsweet se cruise-verse:
Trade
Sy lyf straal teen die wit-van-die-muur,
’n swetende blom van die middaguur.
Wie hom wil hê moet hom net daar pluk;
teen sesuur bring hy ongeluk.
(28)
Elke vers het ‘n pendant in die oeuvre wat van hierdie bundel ‘n soort selfgesprek maak. Soms ironies, soms afwysend. Drome word kwelgeeste, iets wat die spreker teister in die herinnering. Hierom dan ook ‘n gesprek met die digterlike vader Van Wyk Louw:
Heildronk
Ek eet my toast
& drink my dooswyn
& in my hart
word alles boos rein.
(30)
Portrette van ander digters word telkens selfportrette of selfherkennings:
Emily Dickinson
’n Selfportret
Ek besit nóú geen portret, maar is soos die bruin
langstertjie klein, & my hare soos ’n kastaiingkwas
’n astrante klos – & my oë die kleur
van sjerrie wat die laaste gas los in ’n eenkantglas.
(33)
Klankspel is eweneens opvallend in die verse:
Hadida
Die hadida dida-dida die skemer in.
Sy vlerke van ou skutmetaal
is bestand teen die lig & roes,
& sy drieklank sny deur taal & tin.
(38)
Met “Inkvis” word vorige natuurverse geparodieer:
Inkvis
Die inkvis is ’n geisja
wat ligvoets dans oor koraal,
verwissel vlug kimono’s
in ’n ondersese taal.
(39)
Uiteindelik die digkuns die plek van oplossing vir die digter wat tot klaarheid moet kom:
By in amber
Tyd het ’n by gevang in amber
wat honderd miljoen jaar of so al
bo een taai suikerdenblom bly hang:
vir jou eendagshals ’n sonkristal.
(44)
droomreën
die reëls val onreënmatig
die beeld sal sy blom behou
maatslag nóg los, nóg statig
in die gedig se weerligblou
(55)
Abracadabra
’n optelvers
deesdae is die fyn estetiese
afstand tussen ’n objet trouvé
& ’n objet d’art inderdaad klein –
die frisson wat ’n kortsluiting gee
(57)
In hierdie bundel is daar verwysings na klassieke tekste: van Vergilius tot Lorca, Auden, Stockenström, en vele ander digters en kunstenaars soos Michelangelo, Rembrandt, Van Gogh, ensomeer wat die gedigte ryk en geskakeerd maak.
Die selfinsig is eerlik en op die man af:
Dwars
Hy is geheel dwars
met die heelal, kêns,
van meet af aan ’n dwars,
opgefokte entjie mens.
(67)
Digter op 50
Laatnag draai hy om, afgeslote
tussen fantome en penumbras,
& pluk ’n paar vermoeide note
uit ‘n ontstemde springveermatras.
(68)
Opperman word aangespreek en Van Wyk Louw bring helderheid in hierdie bundel wat op die oog af net na lopers lyk, maar op ‘n vernuftige wyse epigramme van die gees word.
Die middag het as geword
Die middag het as geword
met ’n son wat stadig smeul.
Die lug het soos wyn gestort
& niks word ooit weer heel.
(74)
Die bundel sluit met die sterk vertaling van Gruwez waarin die gevoel dat die gedigte iets kan oplos, sal voortstu in ‘n volgende bundel, juis omdat daar nooit heling in die digkuns, finaal, gevind kan word nie:
Niks
Luuk Gruwez
Niks eindig soos dit hoort. Nie
die dankwoord & nie die lusmoord,
nie die rusoord of die slotakkoord.
G’n enkel rymwoord. Niks soos dit hoort.
Konvensionele kwatryne is dit nie, omdat die rym- en metriese patrone dikwels nie nagevolg word nie. Maar die digter skep sy eie unieke De Lange-kwatryn. In die Persiese kwatryn is dit AABA, selfs AAAA. Oorspronklik is die ruba’I in die Islamse wêreld ‘n muntstuk en De Lange se kort gedigte is soos munte. Handig vir die oorvaart oor die Styx.
***
Weerlig van die ongeloof
Resensent: Zandra Bezuidenhout
Versindaba, 19 Oktober 2011
Johann de Lange. Weerlig van die ongeloof. Protea. Prys: R140-00.
Dit is gepas dat die digter as opdragvers voorin sy jongste bundel ‘n gedig van Fred Chappell aanhaal, veral ten opsigte van die verwysings na “telegrams”, “intelligence” en “sudden blaze”. De Lange se bundel kwatryne is inderdaad ‘n weerspieëling hiervan, en mens sou hulle kon opsom as slim digterlike telegramme van skielike verheldering. Dit laat jou trouens aan haikoes dink, eweneens kort, gedissiplineerd en sprekend van ‘n oomblik van insig of “lig”.
Ná agt digbundels en ‘n onlangse keur uit sy gedigte (Judasoog, 2010) bring hierdie veelbekroonde digter en Hertzogpryswenner (2011) iets nuuts deurdat hy in ‘n enkele bundel uitsluitlik die kwatrynvorm bedryf. Dit verbaas nie dat De Lange hierdie streng en gedronge versvorm met soveel sukses hanteer nie; hy was nog altyd ‘n digter van die essensie, ‘n meesterlike eksponent van taalaanwending wat geen eksesse duld nie. Selfs in sy vryer verse in vorige bundels het dit opgeval hoeveel waarde hy heg aan vormvernuf en verstegniese afronding, terwyl hy nietemin ‘n merkwaardige soepelheid van segging behou.
Die kwatryn met sy vier reëls het ‘n lang tradisie in die digkuns. Dit het reeds in die antieke beskawings voorgekom en word tot vandag as afsonderlike gedigte of a strofes binne ‘n enkele gedig gebruik. In Afrikaans tel D.J. Opperman, Elisabeth Eybers en Daniel Hugo onder die bekende eksponente van hierdie versvorm. En wie onthou nie hierdie een van N.P. van Wyk Louw nie, tipies van die ligter toon wat die kwatryn dikwels aanneem:
my voete loop na Monteku
maar ek gaan Woester toe
lê lê in die wingerd, kind
want ek kom Woester toe
Miskien nie so bekend nie, maar ewe tipies van die lugtige kwatryn, is dié een van R.K. Belcher:
Die sydoek om haar nek
ja die sydoek om haar nek
ek kielie haar toe sê sy nee
dis die verkeerde plek
Hierdie verstipe ken vele variante, maar maak gewoonlik van vaste metrum en een of ander vorm van eindrym gebruik. De Lange gaan innoverend te werk deurdat hy hom nie aan een spesifieke rymskema, ritme of toonaard hou nie, en hierdie elemente na willekeur afwissel. Dit dra by om variasie te bring in 102 gedigte van dieselfde verslengte, en dit is boeiend om te sien hoeveel gedaantes hierdie digter aan ‘n andersins redelike eenselwige vorm gee. ‘n Mens sou hier met reg kon praat van ‘n speelse omgang met die kwatrynvorm, waarin die inhoud telkens met ‘n nuwe kinkel binne die tradisionele vier reëls gegiet of “gekaap” word, soos die spreker in die gedig “Kaap” (55) te kenne gee.
Dit was ‘n goeie idee om die kwatryne in ses afdelings te rubriseer, elk met ‘n prikkelende titel wat nie te veel verklap nie, terwyl dit tog bepaalde verse sinvol saambind om hulle inhoudelik van die ander afdelings te onderskei. Terselfdertyd is daar in elke afdeling ‘n vers of twee wat aanknoop by dié in ‘n ander groepering, wat ‘n onverwagse skakeling met die geheel bewerkstellig.
Uit die staanspoor is dit duidelik dat De Lange ‘n filosofiese instelling het en die kwatryne dus die leser tot nadenke stem. Meermale is die toon melancholies en selfs wrang, maar die digter se immer oplettende oog trek opposisies saam sodat donker en lig versmelt. Daarbenewens speel De Lange se verse in baie gevalle in op ander digters se werk, te veel om hier aan te haal, deurdat hul woorde of gedigtitels vernuftig by De Lange se eie verse ingevleg word om die spel-element op nog ‘n vlak versterk.
Die gebruik van die ampersand (&) instede van die gebruilike “en” is moontlik een manier om doelbewus buite die tradisionele skryfwyse te tree en die kwatryn as toevallige of argelose kantaantekening aan te bied, of selfs by die SMS-styl te leen. Ek lees hierin ‘n poging om op verskillende wyses met die lang tradisie van die kwatryn te eksperimenteer en daaraan ‘n eietydse aanslag te gee. In hierdie opsig is De Lange se kwatryne uniek, en beide vormlik en inhoudelik interessant.
Die eerste twee afdelings, “Lyfband” en “La fête sauvage” (losweg vertaal as “Die wilde of ongetemde fees”) bring die erotiese element na vore wat reeds een van die kenmerke van De Lange se poësie en kortverhale geword het, en ook spreek uit die versameling gedigte wat deur hom en Antjie Krog saamgestel is (Die dye trek die dye aan, 1998). In die genoemde afdelings gaan dit pertinent om die ouer man se aangetrokkenheid tot die skoonheid van die jong seun, en gevolglik betitel die digter twee van die gedigte “Seun 1” en “Seun 2”, wat vanweë die visuele uitbeelding en sensualiteit, maar ook om die taalaanwending en ter illutrasie van hul ooreenstemmende rympatroon (abcb) en onderling wisselende ritmiek volledig aangehaal word:
Seun 1
Die seun duik & dobber in die water,
sy rug & kuite deur lig gladgeskuur.
Wanneer hy uitklim later is sy lyf
skubbe die kleur van koper & telluur.
Seun 2
Die seun se lyf raak man-
baar met skadu’s ruig
in oksel & lies
& ereksies doelgierig gebuig.
Getrou aan sy werkswyse gebruik die digter ook in hier minder bekende woorde, soos “telluur” (’n blink, tinagtige delfstof). In samehang met “koper” kan mens die seunslyf voor jou geestesoog soos “skubbe” sien glans. Ewe suggestieryk is die keuse van “manbaar” en die afbreek van die woord aan die einde van die versreël in die tweede kwatryn, asook die sametrekking van “doelgerig” en “gierig” in die woordvonds “doelgierig”. De Lange se beeldende vermoë word soos gewoonlik deur sy taalaanwending ondersteun. Dit val ook op dat hierdie digter dikwels die enjambement gebruik (hier sigbaar in die oorgang van “ruig” na “in” in die tweede kwatryn), terwyl dit meer algemeen is om in hierdie versvorm ‘n volledige frase per reël te benut. Daarby buit die digter ook die trefkrag van alliterasie uit, soos in “duik & dobber” en “kleur van koper”, maar sy aanwending van klankverbande reik verder: daar is ook nog “lies” wat klankmatig (en betekenisgewys) eggo in die daaropvolgende “ereksies” en “doelgierig”, terwyl “doelgierig” weer klankgewys skakel met “gebuig”, wat op sy beurt rym met “ruig”. Hier is dus, soos in die meeste van De Lange se kwatryne, ‘n kombinasie van klank- en woordspel, met ‘n ritmiese vloei wat uitmond in ‘n treffende visuele voorstelling. ‘n Mens dink hier onwillekeurig aan Eybers se gedig “Jong seun” waar die druipnat jongeling “gaaf en glad” uit die bad klim, en “waar blink haarrankies reeds ontluik”. Die saamlees van dié betrokke verse van hierdie twee digters kan tot ‘n boeiende vergelykende studie lei.
In gedig na gedig blyk dit hoeveel poëtiese middele De Lange op ‘n ongeforseerde wyse binne vier reëls aanwend om ‘n afgeronde stukkie woordwerk daar te stel. Die digter handhaaf ook ‘n mooi balans deurdat die toon nie deurgaans ernstig bly nie en hy ook die moontlikhede van algemene spreektaal ontgin waar hy die ding op sy naam noem, soos in “Free range”:
Ek is, hoe sal ek dit nou stel, aan’t
snuffel na iets meer taktiel
om op aan te lê, sny jagtig spoor
na ‘n bietjie free range-piel.
Daar is soos in die geval van die bogenoemde vers, vele onverwagse rymvondste in hierdie bundel; mens verkneukel jou byvoorbeeld aan “geneugtes” wat rym met “vreugdes”, en “vlees” met “nagkafees”, om maar enkeles te noem. Rym is slegs doeltreffend as dit verras; voorspelbare rym sou enige eietydse kwatryn se doodsteek wees; en hieraan besondig die ervare De Lange hom nooit.
Nog een van hierdie digter se voorliefdes is natuurbeelde, en dit is ook die tema van die derde afdeling met die evokerende titel “Die sonboog het gebreek”. Uiteraard speel die diskriminerende oog, wat nie om dowe neute op die voorplat verskyn nie, ‘n prominente rol. Elkeen van hierdie kwatryne is op sy eie manier besonders, maar een van my gunstelinge is die fleurige “Inkvis”, ten spyte van ‘n ritmiese steuring in reël twee (wat opgelos sou kon word deur ‘n klein verstelling, bv. “hoe ligvoets dans sy oor koraal”, of ‘n ander digterlike skuif):
Die inkvis is ‘n geisja
wat ligvoets dans oor koraal
verwissel vlug kimono’s
in ‘n ondersese taal.
En hoe slim werk die digter nie met klanknabootsing nie, soos wanneer hy in ‘n volgende kwatryn aan die hadida se naam prominensie gee en dit direk daarna tot werkwoord (“dida-dida”) omvorm, om in die slot die voëlroep se drieklank raak te vat as iets wat “sny deur taal & tin”:
Die hadida dida-dida die skemer in.
Sy vlerke van ou skutmetaal
is bestand teen die lig & roes,
& sy drieklank sny deur taal & tin.
Ewe behendig word die metaal-beeld en -geluid tot die einde deurgevoer, en met ‘n versteekte rymklank beseël waar “taal” voor die einde van die slotreël rym met “skutmetaal” aan die einde van reël twee.
Tog bly die sterkste kwatryn in hierdie reeks vir my “Die eland draf vaal & rooi”, wat terugskryf na Wilma Stockenström se gedig “Die eland”. De Lange se beeld van “klein bruin jagters [wat] speekbeen/ die blou boog van ‘n horison buig, tesame met sy ewe plastiese beelding van die “beskutte bakhand van ‘n berg” is genoeg om enige digter jaloers te maak. Onvergeetlik ook is die varkoor: “hy suig die laatlig in sy kelk” wat toevallig (?) “Ek kelk die sonlig in my keel” van G.A. Watermeyer oproep. Trefseker ook is die bloedlemoen se meerduidige “kwartiere” as beeld van ‘n “bergrooi dagbreek”; die afbreek van eg-/go om die weerklank akoesties in die skrifbeeld voor te stel; en die “sloom matesis van die kaktus”. ‘n Mens kan net raai hoeveel pure woordplesier De Lange aan die maak van hierdie kwatryne gehad het, en hoeveel digterlike genot om die woorde of titels van ander digters in sy tekste in weef, of op ‘n oorspronklike manier te hersirkuleer. Lesers sal in “Gebed om die gesternte” die naklank van D.J. Opperman se “Gebed om die gebeente” hoor; en dalk aan T.T. Cloete dink waar die onmiddellike en die kosmiese ontmoet in De Lange se “die sewejaartjie & die Sewe Susters, of in “die kersvlam & die kwasar” wat in een digterlike asem genoem word.
Die titel van die vierde afdeling “Skietgebedjie” is ‘n pasmunt term om die kort flits van die religieus-getinte kwatryne te beskryf. Dit dien ook as bedekte waarskuwing om hierdie element nie slegs met loodsware erns te bejeën nie. Die titelgedig kom ook hierin voor, en die leser kom tot die besef dat al De Lange se kwatryne eintlik soos weerligstrale is: blitsig, skerp en liggewend; en soos die spreker in “droomreën” in die daaropvolgende afdeling “Vreemde kamer” dit stel, “weerligblou”. Hierdie voorbeelde sluit aan by die bundeltitel Weerlig van die ongeloof, waar die flitsende beeld ook aan die ongeloof as ‘n moment van verwondering, verwarring of nie-kognisie gekoppel kan word.
Die titel van Afdeling 6, “Die jaar verakker” is waarskynlik ‘n kopkink na N.P. van Wyk Louw se “Die jaar word ryp in goue akkerblare”. Maar De Lange wil dit inkort; met sy kwatryn speel hy binne vier reëls en met ‘n vars beeld klaar met die herfs en die bespiegeling oor die afloop, wat ondanks die kompaktheid van aanbod op meer vlakke gelees kan word:
Die jaar verakker & raak oud,
die mos langs yl slape kroes.
Eindelik eis die son sy oes
die bar veroordeling van hout.
Die fisieke word weer ter sprake gebring in “Lyf”, met “fladderhart” as een van die raak en oënskynlik “natuurlike” woordsamestellings waarvoor hierdie digter ‘n voorliefde en talent toon:
Jy hou my deurentyd
van jou bewus
met fladderhart
of hongerpyn, of lus.
Telkens kom die bewustheid van die verjaring van die lyf ter sprake, soos ook in “Net die verwende seks” waar die afgang van die geslag grafies uitgebeeld word; kostelik en onthutsend, maar met ‘n onderliggende patetiek; of in “Digter op vyftig” met sy beeld van slapeloosheid waar liggaam en gees spook “tussen fantome en penumbras” en kontrasteer met die banale werklikheid van die onpoëtiese “springveermatras”. Saam met die gedagte aan veroudering, huiwer die aangesig van die dood:
Die dood is ‘n verstekeling
in die ribbes van dié boot
wat ons met elke vaart
deur ongekaarte waters stoot.
Besonder roerend is “Full fathom five” oor die ontslape vader wat inspeel op die lied van Ariel in The Tempest, hier uitgebrei na die “bont flamenco van ‘n seeslak” wat “soos ‘n spreuk” bo die “breinkas” dwarrel. Dit is hierdie saamdink van skoonheid, drif en kortstondige darteling met aftakeling, dood en die tragiese wat aan De Lange se kwatryne hul sin van volheid en volledigheid gee.
Daar is soveel aan virtuose klankspel en ryk beelde in hierdie verse, en soveel verskillende onderwerps- en denkvelde wat bestryk word, dat die bundel van gedig tot gedig ‘n ontdekkingstog word. Opvallend ook is dat etlike kwatryne eindig met ‘n aforisme – daardie kort slotwoord wat ‘n siening of “waarheid” kernagtig uitdruk, soos in “Genote”:
Wie sy hart se grendel lig,
groet oplaas ‘n geesgenoot.
Hierdie bundel is die produk van ‘n bedrewe digter. Nie een van die verse is sommer net ‘n kwatryn om kwatryn-onthalwe nie; dit is afgeronde verse met ‘n dieper denklaag wat die leser nie maklik loslaat nie. “Gravis” is een van vele wat in die gedagte bly hang:
In die groen kerkhof leun die stene
skeef soos ou tande, & die grond
is gulsig. Ek sit op die grys lip
van ‘n klip met dooie psalms in my mond.
Só is dit nog nie gesê nie; en só voel ‘n mens by die lees van elke kwatryn. ‘n Prestasie voorwaar, as ‘n digter sy oeuvre met soveel klein, maar seker kunsgrepe verbreed. En met ‘n oog wat dwarsdeur die oppervlakte kyk; soms met ‘n troebel blik, en ongelowig oor die weerligstraal wat die alledaagse omtower tot iets wonderbaarliks of pynliks – terwyl “[n]iks [is’ soos dit hoort” nie, soos die vertaalde vers van die Vlaamse digter Luuk Gruwez ten slotte beweer. Vir ‘n treffender en sprekender voorplat, met die delikate werk van Judith Mason kunstig geïnkorporeer in die bandontwerp van Etienne van Duyker, kon die digter beswaarlik wens. Puik, Protea, dat julle Boekhuis hierdie kortkuns van De Lange bekendstel, en met soveel flair.
***
Resensent: Fanie Olivier
Die Boekeblog, Sondag, 7 Nov 2010
Johann de Lange. Judasoog. ’n Keur uit die gedigte van Johann de Lange. Human & Rousseau. Prys: R160.
Judasoog is die derde in die nuwe reeks van keurversamelings uit die Afrikaanse poësie, en is voorafgegaan deur een van Antjie Krog en verlede jaar een van Lina Spies.
Dit is ’n belangrike onderneming van Human & Rousseau, omdat hulle daardeur verseker dat gedigte uit vroeëre bundels ’n blywender bestaan kry. Herdrukke is gewoon nie moontlik nie. In Johann de Lange se Judasoog is 182 gedigte, wat 11 nuwes insluit.
Lesers gaan soek verniet na die titel in die woordeboek, maar die gevoelswaarde van die ander Judas-woorde laat ons weet dat hier steeds sprake van verraad sal wees. Enersyds kan ’n mens dit herlei na die verraderlike oog van die digter as verskynsel, die onbetroubaarheid van sy visie. Maar die titel word ook in die bundel self ter sprake gebring, soos in die gedig “Loergat”: “Die loergat is ’n judasoog,/sê nooit: ek’s eensaam, of het lief,/wys lies of lul, die skaam bruin oog,/’n mond wat rond pleit: Asseblief –
En hierdie loergat (kyk maar na “Orpheus in die middestad”) is gelaai met spesifieke seksuele betekenis binne die gay wêreld. Dit is ’n wêreld wat De Lange in die agt bundels sedert hy in 1982 gedebuteer het met Akwarelle van die dors in Afrikaans oopgeskryf het.
Die tematiek en die toonaard van die eerste paar bundels het De Lange gemarginaliseer binne die breë stroom van die letterkunde van daardie tyd. Dit was die hoogbloei van die “betrokke poësie”, die konfrontasie en eerste afrekening met ’n politieke en militêre sisteem.
Daarvan is min tekens in dié gedigte. Die “kameraad” is in die eerste plek iemand met ’n lyf waarmee daar “sagkens” omgegaan moet word; in die pragtige “Oor blomme en bomme” verreken hy die eis om saam te dreun en te doen, en besluit “poësie is ’n bloeiwyse, meneer”.
Hierdie laaste stelling is waarskynlik een van die betroubaarste maniere om De Lange se digterlike oeuvre te omskryf. Die bloei in die positiewe botaniese en figuurlike sin – ook die skryfproses self – aan die eenkant. Maar dan, aan die ander kant, as die negatiewe: bloed wat vloei, en ook figuurlik.
Wat dikwels gebeur in gedigte wat tematies “vreemd” is (en hoe het De Lange nie I.D. du Plessis se “vreemde liefde” meedoënloos oopgeskryf en bekend gemaak nie), is dat daar nie genoegsaam aandag gegee word aan die digterlike bedryf wat daarmee saamgaan nie.
Lees ’n mens die gedigte in die konteks van só ’n keur, val dit tog weer dadelik op watter digter hier aan die werk is. Daarvan getuig die groot getal formele verse: sonnette en kwatryne; ook die sterk klankbinding buite die rymposisies, die ryk metaforiek (dikwels met baie ironie) en die altyd betroubare en verantwoorde ritmiese gang.
Soos die beste digters, soek hy aansluiting by ander digters en kunsvorme (talle gedigte verwys na skilderye of skilders) of raak hy betrokke by die verse (en die lewe) van ander skrywers.
Vleiswond uit 1993 was sterker gelaai met Christelike verwysings, met meer natuur- en insekgedigte. Die natuurportrette bly ’n beduidende onderdeel van die bundels wat volg. Maar dit is die opbloei en die leegbloei van die (manlike) lyf, die bekoring en die verganklikheid daarvan, wat vooropstaan. Daar is intieme oomblikke van saamwees; daar is die hartseer in die aantal latere gedigte oor die dood van bekendes en van vriende. Daaruit vloei ook ’n elegiese onderstroom waarin die stem in die gedig oor sy eie verganklikheid treur.
Judasoog is egter veral ’n verslag in ontroerende verse van die wyse waarop met die lyflike omgegaan word, die seksuele wat niks meer is as net bloot dit nie.
En hoe kry dit nie gestalte nie in twee van die nuwe gedigte wat as toegif verskyn: “Nóg die heuning nóg die by” en “The loneliness of the long distance shooter”, oor die fenomeen van Skype-seks, waardeur die loergat en die verraderlike ook almaardeur groter word...
Judasoog is ’n bevestiging van ’n besonderse digterskap en ’n belangrike, beduidende publikasie.Human & Rousseau, Kaapstad. (Sagteband, 144 Bladsye.)
Fanie Olivier is ’n digter en doseer Afrikaans en SA kulturele studies aan die Adam Mickiewicz-universiteit in Pole.
***
Roerende natuurmetaforiek tref in versamelde gedigte
Resensent: Marius Crous
Johann de Lange. Judasoog. ’n Keur uit die gedigte van Johann de Lange. Human & Rousseau. Prys: R160
In 2009, bykans 14 jaar ná sy vorige bundel (Wat sag is vergaan, 1995), verskyn Johann de Lange se Die algebra van nood en naas hierdie keur uit eie werk, was De Lange in 2010 ook verantwoordelik vir die saamstel van Die skyn van tuiskoms, ’n keur uit die poësie van Lina Spies.
In 2007 het hy homself ook gevestig as literêre vertaler met die vertaling van Wilma Stockenström se werk.
Naas gedigte uit sy agt digbundels sedert sy debuut met Akwarelle van die dors in 1982, sluit hy ook ’n tiental nuwe verse aan die einde van Judasoog in.
Die titel van die versameling kom ter sprake in die kort gedig “Loergat” (65) wanneer na die loergat tussen twee toilette verwys word as ’n judasoog, maar dit roep ook onmiddellik die assosiasie op met Breyten Breytenbach se bundel Judas Eye (1988). Laasgenoemde is ’n tegniek wat grotendeels by De Lange voorkom wanneer hy die titel vanuit Engels oorsit in Afrikaans en dus binne die nuwe literêre konteks met ander betekenisse laai.
Dit sluit natuurlik ook aan by die gesprekvoering met ander digters en kunstenaars wat deurlopend in De Lange se werk voorkom. Dawn Fritz het byvoorbeeld in haar doktorale proefskrif ingegaan op die familiegesprek wat in De Lange se oeuvre voorkom. Die deurlopendste gesprek is beslis met digtersfigure soos Sheila Cussons, Van Wyk Louw en Joan Hambidge, wat op haar beurt weer terugskryf na die De Lange-teks en so ’n broer-suster-relasie in Bloom se terminologie aktiveer.
De Lange is immers bekend as Afrikaans se openhartigste digter wanneer dit kom by die skryf van verse oor gay seksualiteit. By hom is daar nie ’n versluiering van die fallus nie.
Oor hierdie aspek van sy poësie bestaan daar nie eenstemmigheid nie en sommige maak dit af as gay kitsch.
Dit ten spyt, moet toegegee word dat De Lange oor die vermoë beskik om naas hierdie oopgevlekte realisme vorendag te kan kom met van die roerendste en mooiste natuurmetaforiek in Afrikaans. Vormvas en bedrewe is die beoefening van die poësie by hom.
Tematies verwoord sy poësie nie net ’n melancholiese versugting nie, maar die onderskeie bundels kan byna chronologies gelees word as ’n Vergillius se uitwys van die sirkels van die hel aan Danté.
Van eensaamheid tot ontydige sterftes tot dwelmisbruik en sodomie. Dis gedigte wat bewoon word deur seuns, digtersfigure, reeksmoordenaars, popsterre wat te vroeg gesterf het, verliefdheid en verwerping.
Onder die nuwe verse is daar weer ’n gedig oor Marilyn Monroe, die tragiese ikoon wat in die 80’s die middelpunt van etlike digters se werk gevorm het.
Nou word sy onthou in ’n reeks afdrukke teen ’n muur in Berlyn en soos die gedig aandui, handel dit oor haar “liefdesgeskiedenis/tussen haar & ’n eks,/die intellektueel” – die dramaturg Arthur Miller.
Die versameling sluit ook “Google Golgotha” in wat ontstaan het nadat die digter ’n SMS van Hambidge ontvang het uit Jerusalem. Dit illustreer die globale besetenheid met tegnologie en die relativering van selfs die kruisiging.
Relativering word reeds aan die orde gestel in die motto voorin die versameling: Daar is geen einde aan die skep van tekste nie. (Prediker 12:12)
Die slotgedig is “Aandlied”, waarin die digter sy eie sterflikheid besing en in ’n memento mori besin oor sy dood. Laasgenoemde is myns insiens een van die sterkste temas in De Lange se werk; naamlik die besing van die aftakeling van die menslike liggaam in kontras met die volmaakte liggame van die jong seksgodjies in die klubs en op die internet.
Ek is Human & Rousseau ewig dankbaar vir hierdie versamelde gedigte, want nou is van die klassieke De Lange-verse weer beskikbaar en ’n mens kan sy oeuvre met studente bespreek. Jammer dat die uniekheid van De Lange se voorblaaie verlore gaan met hierdie troostelose omslag.
Dr. Marius Crous is dosent in Afrikaans aan die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit.
***
Die heel-al op die punt van ‘n naald
Resensent: Cas Vos
Versindaba, 27 Julie 2010
Johann de Lange. Judasoog. ’n Keur uit die gedigte van Johann de Lange. Human & Rousseau. Prys: R160.
'n die Keur van gedigte het die digter self die keuring gedoen. Dis ook goed so. Dit is immers die digter se eie werk en daarom het hy die reg om te kies en te keur.
Die samestelling van ‘n Keur van gedigte kan diachronies of tematies geskied. Gewoonlik val die keuse op 'n diachroniese of historiese verloop. Dit het ook met Johann de Lange se samestelling gebeur.
Die bundeltitel is die hegting van die geheel. Judasoog en sy sinonieme kom in ‘n verskeidenheid gedigte voor (vgl. p. 65, 67, 74, 78). Die begrip kry in verskillende gedigte ‘n rykdom betekenismoontlikhede. Judas is die verraaier, maar ook die een wat veraai is; die verworpene. In die kombinasie Judasoog val die klem op waarneem. Dit vind deur ʼn “loergat” plaas. As seksuele kode dui dit op genot of die smagting na genot (p. 65). Maar dit kan ook op verwerping wys.
De Lange maak van verskillende kodes gebruik om die liefde te verwoord. In “Flaminke” is dit die tradisionele rose. Al is dit ‘n geliefde metafoor, slaag die digter daarin om dit vars te pluk en in die gedig te rangskik. Reeds in die openingsgedig kom die digter se noukeurige aandag aan en gebruik van woorde aan die lig. Daar is by de Lange vars en verrassende beelde. Oor die emmer praat hy van sy “roesbruin ribbekas” en sluit af met “hy slaap sy roes af”. ‘n Idioom word deur die emmer geskep en deur die digter omskep in ‘n nuwe betekenismoontlikheid.
Die digter se tegniese vaardigheid is van meet af eie aan sy poësie. Sy beweging van strofes deur onklaarreëls in volgende strofes voort te sit, kom dikwels by de Lange voor (vgl. “Oujongnooi”, “Inlywing”). Woordbreuke is ‘n tegniek wat die digter effektief aanwend (byvoorbeeld “drup-pel” in die gedig “Betwixt”, vgl. veral die gedig “Ernst van Heerden”). Witruimtes (“Spitsroede”) kom ook seldsaam by de Lange voor. By T.T. Cloete is dit byna té opvallend. Die verbindingsteken & is eie aan de Lange se verse. Nuwe woordskeppings en -wendinge kom dikwels by die digter voor. Hy skryf ook in vaste patrone. In hierdie verband verwys ek na sy pragtige “Sonnet aan Orpheus” (vgl. ook “Sondagmiddagsonnet”).
Die seksuele kode is reeds in de Lange se eerste bundel teenwoordig. Hierdie kode word op verskillende vlakke ontsluit. In Brief doen hy dit op ‘n liriese manier wat meesleurend werk. Hy is subtiel en speels in die gedig. Die refrein versterk die skryfdaad in die donker. Die teenstellings is opvallend: lig (kerse) en donker, spoghotel en toilet, hemel en hel. “Leipoldt 1” en 2 is ‘n meesterstuk. Leipoldt se menslikheid, sensitiwiteit, lyflikheid, digterskap, drome en pyn kom op verskillende vlakke na vore. “Aardlief” is ‘n kwatryn wat die eerste reeks treffend afsluit. Die kosmiese dimensie in de Lange se poësie word hier helder aan die bod gebring. Die mens beland uiteindelik in die skoot van die aarde.
Die bundelreekse van Wordende naak af worstel met die homo-erotiese bestaan. Die bestaan is nie net ‘n enkelbestaan nie, maar ‘n saam-leef en ‘n lewe binne ‘n sosiale omgewing. Die sosiale omgewing verklaar dikwels menswees, ook die seksuele kant daarvan, té maklik en té goedkoop, tot “ongewens”. Die reg om ook seksueel te leef, word ten onregte van sommige mense wat nie in ‘n bepaalde sosiale patroon inpas nie, ontneem. Dit is teen dié verontregting dat de Lange se homo-erotiese verse skerp en poëties kragtig protesteer. Die erotiese verlange word uitgebeeld in byvoorbeeld “Male muse” en “Stoombad”. Die seksuele verhouding bring ook die pyn van afskeid (vgl. “Jy’s skaars weg”). Homo-erotiek in al sy geledinge kom in de Lange se verse aan die lig (vgl. “Orpheus in die middestad”). Daar is ook die onbekendheid met mekaar (“Kissing the rod”). Die seksuele daad en woordeskat word noukeurig in “Tongnaai 2” beskryf. Daar is ook sprake van ontbering en pyn (“wondbare lyf”) in verhoudinge. Dan is daar die een wat die laaste sê het: die dood (“Aan ‘n onbekende seun). De Lange dig ook oor ou Sluipdood, vigs in Coke & sodomie. Dit is die poëtiese vernuf wat hier opval.
“Ontvlugting” is ‘n gedig wat Ingrid Jonker se uitvaart na die see herroep. Dit is veral die hegte komposisie van die gedig wat opval. Die “krulkopsee”, meeue, skeepsreg, water en wind het alles met die groot see te doen. Dit is ‘n ontroerende gedig.
In sy gedigte kom beeldgedigte as vorm van vroeg af al aan die orde (vgl. “Die aartappeleters”). Dit is veral die kleure wat in die gedig die aandag trek. In “Passie” kom die seksuele motief weer voor. Hier is dit veral die teenstellings wat opval.
Die afdruk van N.P. van Wyk Louw kom ook in de Lange se verse voor (vgl. “Piromaan”). In gedigte haal ‘n digter ook deur ander asem. Maar, soos in die geval van de Lange, word dit nou sy eie asem. “Dageinde” is ‘n voortreflike gedig en tog pla die sinne wat met “die” begin. Dis net maar my struikeling oor die “die”. Daar is pragtige beelde in die gedig. “Laatherfs” eggo van Wyk Louw, maar dan in de Lange se eie unieke stem.
“Pa” is ‘n ontroerende gedig. Dis ‘n deurleefde gedig. Die boubeeld loop dwarsdeur die gedig. Die refrein (“Maar ek vergewe jou”) as herhaling roep die herinnering en die deernis pynlik op. Die ander Pa gedigte is in ‘n ander toonaard, en tog is dit dieselfde Pa. Die derde gedig oor die Pa is meer ‘n beeldgedig, maar ook ‘n onthulling van die psigiese aard van die Pa (”rusteloos”, “glimlag half sku”).
De Lange het talle beeldgedigte geskryf. Hy laat die gebeelde deur sy (ver)beelding poëties opstaan en weer leef - ‘n redivivus. Van al die voortreflike beeldgedigte wil ek “Ernst van Heerden” (p 131-132) uitsonder. Dié gedig is ‘n kragtoer. Die proses van sloping word effektief deur sinsafkapping verbeeld. Die slot is aangrypend.
‘n Hele versameling elegieë kom in die werk van Johann de Lange voor. ‘n Kultus figuur soos James Dean word ‘n gedig. Dan is daar ook gedigte oor oa Emily Dickinson, Ernst van Heerden (2), Kurt Cobain, Eugène Marais en Jeffrey Danhmer. Drie gedigte word aan Koos Prinsloo opgedra. Seksualiteit kan die lewe vier, maar dit kan die lewe ook sloop. Soos in die geval van Prinsloo. Die verband tussen seksualiteit en dood word deur de Lange in ‘n enkele reël opgeroep: die rektum as graf.
Die broosheid en nietigheid van Prinsloo word ontroerend in die gedig vasgelê: “die bang kind in maer pajamas en verwarring”. Die dood van Eugène Marais deur verslawing word hartroerend beskryf. Dit mond uit in ‘n wanhoopskreet:
“Morfien! Morfien!”
Die seisoene speel in de Lange se gedigte ‘n belangrike rol (vgl. “Herfs”). Die algebra van nood se invalshoek is die Inval van lente. De Lange se gedigte het ‘n skeppingsbewussyn. Met militêre beelde word die koms van die lente begroet: opmars, uniform, swaarde in gelid, hordes voetsoldate en salvo’s. Daar is geen keer aan die inval van die lente nie. Ander kosmies gerigte gedigte kom ook aan die begin van Die algebra van nood voor. In die Afrikaanse tradisie word die verwantskap met Van Wyk Louw, Opperman en Cloete herken. Maar de Lange kyk na die skepping op sy eie manier.
Die invloed van verslawing op die psige en die liggaam kom by de Lange op ‘n sensitiewe en simpatieke manier aan die lig. Die uitwerking van ecstacy op ‘n jong danser is ‘n lyf wat glim van sweet. Die spuitnaald laat glip die “ek” van die gedig heen en weer tussen verbeelde werklik-hede. Nie die liggaam nie, maar die gees word hier ‘n gedig. Die Pa word weer, in ‘n derde gedig, raakgeloop waar hy aan die seun ‘n smal ampule gee. Deur deelname aan verslawing word hegting en verbinding bewerk. Maar die verbinding is verblinding, want oral ruik alles na oorskot. Die daad van verslawing word deur de Lange fyn beskryf en verrassend met Van Gogh verbind. Die een wat hom met ‘n doodskoot aan die ewige slaap oorgegee het. Op ‘n vindingryke wyse verbind de Lange selfmoord (Eugène) met die maak van ‘n gedig. Die pen word in die hand van die digter ‘n naald wat huiwer bo ‘n aar. Die naald laat lewe bloei - die eerste polsing van ‘n vers bring lewe. Ars poetica kom ook in de Lange se verse voor. Daar is die besinning oor die skeppingsdaad (vgl. “My woorde is klippe”, “Taal”, “Die digter as inkvis”, “Die digter as slangbesweerder”).
Die keur uit de Lange se gedigte sluit met Nuwe verse. Die vraag is: wat is die verwandskap tussen die oue en die nuwe? Indien enige. Hierop is my antwoord: dit is steeds Johann de Lange se stem. Maar dan tog ‘n toevoeging tot sy oeuvre en ‘n afsluiting (voorlopig) van sy digwerk.
Eie aan de Lange se digkuns begin hy sy nuwe verse met ‘n aantal homo-erotiese gedigte. Dit is egter nie ‘n ydel herhaling van vorige verse oor dié tema nie. Al is die tema dieselfde, is die seggingskrag van die gedigte nuut en vars. Hy plaas idiome in ‘n homo-erotiese sfeer. Op dié manier kry dit ‘n nuwe betekenis. As voorbeeld verwys ek na “hals oor kop” wat by de Lange “heup-oor-hals” word. En ook “aardjie na sy vaartjie” (p. 137).
Die gedig oor Paganini (ook bekend as die Duiwel) is gesnaar met erotiese strykhale en ironie. Die gedig word tot “perfeksie gespan”.
Johann de Lange staan ook binne die tradisie van gedigte oor Marilyn Monroe. In hierdie verband word gedink aan T.T. Cloete, Joan Hambidge en Tom Gouws. De Lange het twee gedigte oor Monroe geskryf. Die eerste een is “Gebed vir Marilyn Monroe” en die laaste een kom in sy nuwe verse voor. “Marilyn Monroe: foto buite beeld”. Die eerste Marilyn Monroe gedig is ‘n vertaling van Ernesto Cardenal se gedig. Hierdie vertaling kry egter by de Lange ‘n eie klank en kleur.
In sy eerste Monroe gedig staan die digter as’t ware op sy knieë en pleit vir haar. Hy pleit dat die Here haar in sy teenwoordigheid sal ontmoet. Sonder haar persona en maskara. Net soos sy is. Haar lewensgang met al die drome word digterlik verwoord. De Lange betrek ook haar “aanbidders”. Sy speel haar rol namens ons - “die storie van ons eie lewens”. Deur die gedig wat ‘n lewensverhaal vertel, word die leser met haar geïdentifiseer. Die slot is roerend. Met ‘n telefoon in die hand en woorde in haar mond, gee sy haar lewe prys. Die digter pleit dat die Here tog haar foonoproep moet beantwoord. Die transendente oorstyg die immanente. In sy nuwe verse val ‘n ander lig op Marilyn. Die “ongestorwe silwer-doek legende”. Foto’s van gelukkiger tye word opgehang en verkoop soos soetkoek. Daarvoor is daar “oorgenoeg papier”. De Lange toon treffend aan hoe foto’s ‘n ander beeld van Marilyn skep. Dit is ook wat poësie doen: dit skep ander beelde.
Religieuse flitse kom in die gedig “Google Golgota” voor. Ek huiwer oor die betekenis van die versreëls:
Was vandag u sterfdag
sou ons u volg
Is dit as konjunktief bedoel?
Maar in die verdere verloop van die gedig word die Gekruisigde in die tegnologie geraam. Hy word sigbaar op elke skerm. Kameras en mikrofone soek na ‘n sound bite. Dalk het Hy advies oor global warming. In sy Naam sal websites opgaan, boek- en filmregte en terugskote. Die digter het ‘n laaste versoek aan Joan: hy wil ook iets van die Golgota gebeure hê: ‘n 8 megapixel foto, ‘n poskaart of ‘n brief in sy handskrif of ‘n stukkie van sy kleed. Daarmee wil hy iets doen: dit op die webwerf eBay adverteer. Die digter het dan immers ook iets om te vertel en te laat sien. In hierdie gedig word na die Golgota gebeure vanuit die eietydse tegnologiese oog gekyk. Vars en oorspronklik.
Johann de Lange se Keur eindig met ‘n “Aandlied”. Dit is ‘n soort afskeidslied. Eendag gaan alles ophou bestaan. Die digter maak van die woordskat van die genetika gebruik: sinaps, samehang van selle, DNS. Eendag gaan dit alles ophou. Vir die digter is die groot verlies dat sy hand met pen sy greep op taal gaan verloor. Alle woorde en sin raak dan verlore. Daar is ‘n skrynende paradoks in die proses van afskeid. Die hart ontheg hom aan ‘n heelal wat aanhou sê: “Begin, begin, begin!”. En tog is die begin die voorspel tot die einde. De Lange se sluitgedig is ‘n treffende einde van die Keur van sy verse.
Die Keur gee ‘n beeld van die veelvlakkigheid en rykdom van Johann de Lange se digterskap. As digter omspan hy die heelal. Sy digterskap verryk en verruim die Afrikaanse poësie op ‘n sonderlinge manier. De Lange slaag op ‘n voortreflike wyse daarin om die heel-al op die punt van ‘n naald te laat dans.
***
De Lange tref met sy beeldvermoë
Resensent: Joan Hambidge
Volksblad, 24 July 2010
Johann de Lange. Judasoog. ‘n Keur uit die gedigte van Johann de Lange. Human & Rousseau, 2010. Prys: R160.00.
Akwarelle van die dors. Dit is nie alleen die titel van Johann de Lange se debuutbundel nie, maar dit is hoe ‘n mens hierdie ryk geskakeerde digkuns kan tipeer. Dit is ‘n digkuns van die paradoks, van onvervulling en juis hierom is daar ‘n intense belewing van die oomblik en die skoonheid in verval. ‘n Mens sou De Lange se poësie onder verskillende noemers kon plaas: die verhouding met die gestorwe vader wat soos ‘n herhalingsdrang deur die hele oeuvre beweeg (die digkuns en prosa), die gesprek met Ingrid Jonker, Sheila Cussons en N.P. van Wyk Louw. Die digter word (verkeerdelik) tipeer as gay-digter. Hy het van die sterkste verse oor hierdie tema in Afrikaans gelewer (veral in Nagsweet), maar De Lange het ‘n Januskant. Hy is sowel cruiser, gay-digter as besinger van die skoonheid. Hierom die gesprekke met en herdigtings van o.a. Dickinson, Baudelaire, Rilke, Auden, Edmund White; nader tuis, Opperman, T.T. Cloete, Ina Rousseau, Wilma Stockenström, o.a.
Henning Snyman skryf op die agterblad tereg: "Binne die geestelike diepgang van sy verse kom die beeld ágter die beeld te voorskyn”. Dit is ‘n raak opsomming van die besondere beeldvermoë.
Wat hierdie bundel uiters waardevol maak vir die waarderende leser, is die handvol nuwe verse wat ook opgeneem is in hierdie keur. Hier vind ons openlike gay-gedigte (die een is ‘n versweë antwoord aan ‘n ander digter) en ‘n lieflike vers oor Marilyn Monroe. Daar is ‘n vers oor Golgotha waarin die digter die moderne tegnologie aanwend soos google, sms, twitter, blog, ensomeer om te probeer bepaal hoé die moderne media-behepte mens sou reageer op die fenomeen Jesus Christus.
Bekende digterlike temas tref ons hier aan: die liefde, dood, kortstondigheid van ons bestaan, die verhouding met die werklike en digterlike ouers, die “naakte algebra” van die gay-bestaan, gedigte oor dwelms en Vigs, verse oor ikone (soos Monroe, Kurt Cobain) ensomeer. ‘n Mens is opnuut onder die indruk van die digter se besondere vermoë om die gedig op ‘n sekure slot af te stuur:
Ek soek in die falende lig
na die slot van my gedig
(126, “Slot”)
Hier gebruik die digter die wêreld-van-die-digkuns om die werklike lewe te beskryf, iets wat regdeur die oeuvre loop. Die intratekstuele en intertekstuele aanslag kom nou helder na vore en in ‘n keurbundel kry gedigte dikwels ‘n nuwe betekenis, omdat hulle nou langs ander verse lê.
Die Judasoog van die bundel betrek nie alleen die eksplisiete seksuele verse soos “Loergat” (uit Nagsweet) nie, maar aktiveer die posisie van die leser as voyeur wat die private bestaan van die digter betree. Trouens, jonger navolgers van De Lange het beslis nie die vermoë om die eksplisiete en selfs transgressiewe beeldgebruik so oortuigend te gebruik nie. Die digter kan nooit van kitsch of grillerigheid beskuldig word nie, al dig hy oor reeksmoordenaars wat tot simbole verhef word.
Selfs die gebruik van die plat woord (soos in “Tongnaai 2”) word metafories so in beheer gehou dat ‘n mens net jou hoed kan afhaal vir die digterlike energie.
Wordende naak en Nagsweet, uit 1990 en 1991 onderskeidelik, bly my twee gunstelingbundels. In die middel van die oeuvre – en al die ander bundels voorspel en keer weer terug na hierdie twee suiwer bundels. Die Orpheus-mite is ‘n belangrike sleutel vir die begryp van hierdie digkuns met sy vele “correspondances” en “blomme van boosheid”.
Van die Tierra del Fuego tot aan die ysvlaktes van Groenland, van die Kaap tot Wladiwostok, vibreer hierdie gedigte met hul fyn toespelings op die Griekse mitologie en ou wyshede. “Daar is geen einde aan die skep van tekste nie,” lui die motto uit Prediker 12:12.
Johann de Lange is eweneens ‘n begenadigde vertaler (soos sy vertalings van Stockenström bewys het) en ‘n besóndere kortverhaalskrywer.
Maar dit is in sy digkuns waar ons onder die indruk kom van ‘n suiwerheid:
Die sagste wat ons het, die taal,
bestaan solank ons asemhaal.
(“Taal”, 123)
Hierdie digkuns is bekroon met die Ingrid Jonker- en Rapportpryse.
Sy oeuvre word feitlik ‘n register van emosies, fel en diep, skryf Snyman. En dit is presies hoé dit is.
Beeld-kyk
Net die oog: ooglidloos
en ingedagte in marmer,
‘n gaatjie geboor
om ‘n soort pupil
– paradoksaal, want: pupil
is juis nie gaatjie nie,
maar: ‘n soort anemoon
met sluitspier kompleet –
te simuleer. En juis
die gaatjie: die gaatjie
gee jou daardie kyk,
daardie serene uitdrukking,
en is die verskil
tussen jou en my:
jy: soos klip,
ek: soos anemoon.
(Uit: Akwarelle van die dors, 1982).
Die digter het self die verse gekies; ek sou waarskynlik nog bygesit het!
Human & Rousseau se projek om keurbundels vir belangrike digters te gee, moet beslis aangeprys word – nes ‘n mens die wingerd prys.
***
Lina Spies se waarde uitsonderlik
Resensent: Joan Hambidge
Volksblad, 29 Maart 2010
Lina Spies. 2010. Die skyn van tuiskoms. Kaapstad: Human & Rousseau. (Saamgestel deur Johann de Lange)
'n Keuse uit die digwerk van Lina Spies is deur die digter Johann de Lange gemaak en dit heet Die skyn van tuiskoms. Spies beklee ’n besondere posisie binne ons digkuns as ’n digter wat op ’n uitsonderlike wyse die posisie van die kinderlose vrou onder woorde gebring het.
Sy is hierbenewens ’n vrouedigter wat ’n pynlik-onthoubare lykdig geskryf het: Op die dood van Riëtte, ’n politieke vers, ’n Paternoster vir Suid-Afrika wat kanonieke status verwerf het, gedigte oor komponiste (veral Mozart) en die landskap.
Verder is daar gevoelig-onthoubare verse oor Amsterdam, Parys, die Vrystaat, Utrecht, Emily Dickinson en ’n gesprek met ander verse oor Marilyn Monroe: Marilyn Monroe; Foto in goud. Nostalgiese verse en gedigte oor die natuur is opvallend.
Skilders word beskryf en die mentor D.J. Opperman word via sy eie beelde beskryf, ’n skryfwyse waaroor sy al krities by ander digters was. Daar is verse oor die godsdiens en familiefigure: die letterlike en die simbolies-digterlike verbintenisse.
Sy staan iewers tussen Elisabeth Eybers, Ina Rousseau en Antjie Krog. Sy skryf oor vrouwees, dikwels in belydende verse met ’n sterk klem op die ritmiek van die gedigte. Dit is verse wat gehóór wil word.
Nie om dowe neute nie staan daar vele gedigte in hierdie keuse wat oor die musiek handel. En die digkuns wanneer dit tref, is soos die musiek: dit kan nie in woorde besê word nie. Dit is dan wat Julia Kristeva, in navolging van Lacan, so treffend opgesom het met die woord jouissance.
Tog moet die digter woorde gebruik om daarby uit te kom, soos die musikus met note werk.
Die keurder van ’n bundel streef om die belangrikste temas van ’n digter vir ons te gee en die beste vergestalting van daardie digter se bydrae.
Mindere gedigte of herhalings val dus weg en die essensiële, oftewel die handtekening van die digter, word hier uitgestal.
Dit is tereg ’n beleë digterskap wat nie na waarde geskat is in die jongste Groot verseboek nie. Soos in die geval van ?I.L. de Villiers kom hul werklike bydrae nie genoegsaam na vore nie.
Haar uitsonderlike digterskap word deur De Lange vir ons weergegee: En op die agterblad staan daar dat ons by haar soms ’n ontvlugting in die taal vind na ontnugtering. “Want vir Spies is taal ’n landskap op sigself, ’n tuiskoms”. En hierdie tuiskoms is die semiotiese in Kristeva se terme.
Die nostalgie en die elegie is die belangrikste gevoel wat by my opkom ná die lees van hierdie keuse. Die verlange, die gevoel van ontheemding, die soeke na vervulling wat sterk gekoppel word aan dit wat Kristeva beskryf het as die binne-gaan van die chora, dáár waar poëtiese taal skuilhou. By vrouedigters is daar óf opstand – soos by Krog – óf heimwee (melancholie/nostalgie) oor die vervulling wat uitbly.
Daar is agt bundels gepubliseer: Digby Vergenoeg (1971), Winterhawe (1973), Dagreis (1976), Oorstaanson (1982), Van sjofar tot sjalom (1987), Hiermaals (1992), Die skaduwee van die son (1998) en Duskant die einders (2004). Die herdigtings en vertalings van Emily Dickinson heet ’n Ruiker vir Emily (1995).
Slegs Van Sjofar tot sjalom was nie op peil nie, waarskynlik weens die satiries-skril aanslag wat nie haar métier is. Die sagte verse wat handel oor verlies, die elegie, dit is die ware Spies. Die skyn van tuiskoms is dus ’n vergestalting van die onmoontlikheid van ’n terugkeer na die chora; terselfdertyd ontgin poëtiese taal hierdie spanning. Die verlange is die asem van die poësie.
Joan Hambidge, professor in Afrikaanse letterkunde en kreatiewe skryfwerk, Universiteit van Kaapstad.
***
Die algebra van nood
Resensent: Bernard Odendaal
Boeke-Insig, 9 Augustus 2009
Johann de Lange. 2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.
Met sy bundeltitelkeuse lui De Lange al die dringende toon van Die algebra van nood in. Dis naamlik veral die noodwendigheid van verlies, gefnuiktheid en verganklikheid, en die angste en verdriete wat dáárdeur gewek word, wat tot uitdrukking kom.
Die tematiese opbou van die bundel weerspieël iets van dié onontkombare proses - vanaf die intense belewing van aardse skoonheid en verrukking in die openingsafdeling tot by die elegiese herdenking van gestorwenes in die slotafdeling. Trouens, die ekstase van die natuurbelewings aan die begin verkry ‘n kwellende kwaliteit in die lig van die latere uitgesproke bewustheid van die verydelende kragte in die lewe.
In afdeling twee volg die uitbeelding van die (teennatuurlike) “bedrieglike paradyse” wat via dwelmgebruik nagejaag word. ‘n Beklemmende gevoel van futiliteit tree al sterker op die voorgrond.
So ook in die derde afdeling, “Naspele & voortvlugte” (’n ironiese toespeling op die subtitel van N.P. van Wyk Louw se Tristia). Die voort- én teenskrywings op die temas en stylgrepe van digterlike voorgangers verteenwoordig ‘n ewe plaasvervangende strewe as die dwelmgebruik.
Die meermaals treffende ars poetica-gedigte van afdeling vier bevestig verder die ydelheid van die digterlike strewe om die verganklikheid via kuns(her)skepping te oorstyg.
Enigsins parallel aan die natuurbelewings en die kunsstrewes is die homoërotiese ervarings wat in die afdeling “Die handgrepe van hartstog” geteken word. Dit word veelseggend gevolg word deur ‘n groep gedigte onder die titel “Die meervoud van verdriet”.
In die twee laaste bundeldele oorheers veroudering, verval en die dood, naamlik as dieptepunt van die menslike nood.
Die ingeligte leser sou uit bostaande talle bekende temas uit die De Lange-oeuvre herken het. Met hierdie agste digbundel van hom bou hy indrukwekkend voort op sy vorige werk.
Soos voorheen is die verse fyn afgewerk, munt hulle uit in veral klankspel en beelding.
‘n Estetiserende neiging is weliswaar hier en daar merkbaar, byvoorbeeld in nuutskeppings en samestellings wat ‘n bietjie gesog of versentimentaliseerd aandoen. (Vergelyk: ”‘n soebatblou Oktoberlug”.) Voorts is ek nie oortuig dat die “algebra”-motief tot naatloosheid verweef is in die bundelopset nie. Die “&”-teken wat deurgaans pleks van “en” gebruik word, verklap dalk die digter se aanvoeling van ‘n tekortkoming in hierdie verband.
***
'Vleeslike' digter se poëtiese omgang met lyf- en geestesnood
Resensent: Zandra Bezuidenhout
Rapport, 27 Junie 2009
Johann de Lange. 2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.
As die “vleeslikste” digter in Afrikaans aangewys moes word, sou Johann de Lange die ooglopende gunsteling wees – met Hennie Aucamp ’n kortkop agter hom.
De Lange se jongste werk, ’n lywige agtste digbundel ná ’n swye van 13 jaar, staan steeds in die teken van fisieke en geestelike nood. Al digtende probeer die spreker sy persoonlike lewensalgebra ontwar (en skep) om tuis te kom in ’n vorm van rus wat dikwels in die seksuele geanker is.
Die behoefte aan heling deur die vlees word dié keer op ’n ongebruiklike wyse deur die bundelomslag voorgestel. Die hersirkulering van The Algebra of Need (’n titel wat deur die Amerikaanse junkie-skrywer William Burroughs gemunt is) roep ’n denksfeer op wat verband hou met homoseksualiteit, dwelms en die dood. Daarby sê die somber ets van De Lange, hoof in die hande, iets oor ’n toestand van onmag of ontreddering. Dit word versterk deur die afbeelding van ’n spuitnaald, aangevul met ampules en kriptiese digtersnotisies op die agterplat. ’n Agtergrond van kladmerke of spatsels kan vertolk word as uitvloeisels of oorblyfsels van die een of ander vorm van worsteling.
Uit die binneteks word dit duidelik dat die “nood” veral ook liggaamlike dimensies het. Die openingsgedig, “Inval van die Lente”, wek reeds die vermoede dat ’n natuurgedig in hierdie digter se hande meer om die lyf het. Die “opmars” word nie verniet beskryf as “steels” nie en die “inval” kan gelees kan word as ’n moedswillige knipoog na die sobere FAK-lied, Intog van die lente. Meer sprekend is die uitgebreide beeldereeks wat die lente in militêre terme verbeeld as ’n manhaftige parade van die fisieke – ’n ritueel wat saamval met die koms van ’n nuwe (jag-)seisoen. Talryke metafore wat verhul en onthul, ook in die gedigte wat volg tesame met ’n voorkennis van De Lange se werk voorspel ’n aanslag op die sinnelike. Dit word algaande waar gemaak in flitse van “witvoorskootkelners”, ’n koorknaap, baaiers of kaalbas-kokerbome.
Die ontglippende en verganklike van die menslike bestaan en die gepaardgaande sug na vervulling word ingeklee in agt afdelings wat nooit werklik los van mekaar staan nie. Terwyl natuurgedigte optree as draers van liggaamlike smagting en belofte, word dwelm-trips ’n toestand van fisieke verrukking sowel as ’n “kopreis” van digterlike arbeid soos in “LSD, Seepunt”. Ook waar verse met ander digters en hul werk in gesprek tree, is die lyflike nie uit die diskoers gesluit nie. Die samehang tussen liggaam en woord word ’n tekensisteem of persoonlike “algebra” wat bestaan uit “formules, onbekendes & konstantes”. Hiermee wil die digter die menslike dilemma op- en oopskryf. Die titels en inhoud van twee afdelings wat spesifiek sinspeel op die skryfhandeling, “Ars poetica” en “Handgrepe van die hartstog”, skakel opsigtelik met dié van gedigte soos “Woord word vlees” en “Graffiti”.
In die tipiese De Lange-idioom word taal uitgebuit om veelvuldige interpretasies moontlik te maak en soms religieuse dimensies daarby te betrek. Die duidelikste tekens hiervan is in twee gedigte wat verwys na Sheila Cussons. In ’n ander trant word die grusame maar treffende “Klaagsang van die patoloog” opgedra aan Hennie Aucamp. Die elegiese “Klaaglied vir Ralph” bring hulde aan Johannes Kerkorrel maar ook aan die werk en lewe van Ingrid Jonker. So dien De Lange se kennis van die literatuur deurlopend as boustof vir sy eie digwerk.
Die trefseker aanwending van woord- en reëlbreuke sorg vir ’n elegante, ritmiese versbeweging en ’n verklanking van die spreker se gedagtegang. ’n Aftasting van taal en denke in “Die digter as inkvis” kan as emblematies van De Lange se werkwyse gesien word:
…[hy] wissel sigbaar
gedagtes met hom-
self: spikkels & blosse
vlam op, mymer weg. ’n Poot
krul terug, word her-
formuleer in ’n ander
kleur, nuanses in-
geskakeer.
Die ampersand-teken (&) werk op die duur steurend, maar skakel moontlik met ’n bewuste klem op kodes of vervanging van een tekenstelsel deur ’n ander.
In die soepel “Die digter as slangbesweerder” wat so “kloppend kwingkwang” demonstreer die spreker deur die “reikhalsende soensang” van sy eie gedig hoe “die gif trek deur sy sang.” ’n Verleidingspel van taal, beswering en liggaamlike betowering word ten aanskoue van die leser bedryf en beskryf. Ewe sterk is die visuele voorstelling van die lewende labirint van digterskap en liggaamlikheid in “Parende palings”. Hierdie verglyding van loer en bemin en dig en van stilte in beweging is die domein waarin De Lange sy stempel die sterkste afdruk. Dit word deurgevoer na die omdigting van visuele kuns in die kleurryke en sensuele “Papaja-eter”.
“In hierdie nanag”, opgedra aan Eugène (Marais), word die pen ’n naald “wat huiwer bo ’n skugter aar” as “die nag…stywer [trek]/ soos ’n toerniket”. Elke vers bekoor op sy eie manier deur ’n bepaalde “soortlike gewig” (’n term van die digter). Mens sou ook kon praat van ’n “poëtiese viskositeit” waar vers?reëls uitdy en inkrimp, of waar woordklontering en/of losmaking klank en betekenis heg en ontheg. Die meeste gedigte is sorgvuldig geknoop, of dit nou handel oor die vreemde skoonheid van die sogenaamde blomme van die kwaad, of oor “die sagste wat ons het, die taal,/ [wat] bestaan solank ons asemhaal.”
Tog wil ’n mens jou verstout om te vra watter ander temas De Lange se tong nog kan laat bot om te verhoed dat die verrassingselement van sy werk taan. Hier en daar is die gegewe ook aan die skraal kant of maak woordafleidings soos “papierig” en “spiralig” ’n geforseerde indruk. Elders belemmer oorvol en onoortuigende samestellings soos mineur-/ laatmiddaglig” en “harpuisgestrekstil” ’n potensieel gawe vers.
Die beste gedigte “woel [die onbewuste] los soos linne”. In die geheel bied die onvoorspelbaarheid van die versbou, die inhoude wat wissel van minder tot meer eksplisiet en die rem wat op die emosie geplaas word (soos in “Pa”) voldoende poëtiese pitkos. Die bundel se groter subtiliteit sal in die smaak val van lesers wat die vleesdis voorheen onverteerbaar gevind het. Net enkele gereggies is onbehoorlik pikant.
Zandra Bezuidenhout is ’n taalpraktisyn en digter
***
Die man met die spuitnaald/vulpen - Johann de Lange se Die algebra van nood
Resensent: Marius Crous
Litnet, 3 Junie 2009
Na ’n lang digterlike stilswye – Wat sag is vergaan het in 1995 verskyn – verskyn hierdie digbundel van Johann de Lange. Die titel van die bundel is ontleen aan Eric Mottram se studie oor die werk van William Burroughs wat in 1971 verskyn het as The algebra of need. Die oorgenome titel lei die leser onmiddellik na Burroughs (1914–1997) se werk. Burroughs was een van die leidende figure van die sogenaamde Beat Generation en was, naas sy enigmaties-kenmerkende skryfwerk soos in The Naked Lunch, ook bekend vir sy dwelmgebruik. Sy stem word ook deur Laurie Anderson in “Sharkey’s night” gebruik. Deurgaans in De Lange se bundel is daar ook wiskundige terme wat by die titel aansluit, soos “logaritme” (12), “die skoonheid van algebra” (32), “algoritme” (32), “fibonacci” (32) en “optel en aftrek” (79).
Ook die motto voorin De Lange se bundel is rigtinggewend: “These fragments I have shored against my ruins” (Eliot). Die indruk word geskep dat De Lange in hierdie bundel inderdaad teksfragmente vergaar om die dood en ondergang te besweer, en dit verklaar die kort formaat van etlike gedigte. Die bundel word opgedra aan Joan Hambidge en “Polshorlosie” (97) word ook aan haar opgedra, en sy is die aangesprokene in die gedig. Dit is ’n verdere illustrasie van die intertekstuele gesprek tussen die twee digters se oeuvres. Die afdelingtitel "Die meervoud van verdriet" skakel ook met Hambidge se Die buigsaamheid van verdriet.
De Lange se bundel word in agt afdelings verdeel: Hiermaals; Bedrieglike paradyse; Naspele & voortvlugte; Ars poetica; Die handgrepe van hartstog; Die meervoud van verdriet; Wat sag is; Memento mori.
Hiermaals
Hierdie titel skakel met Lina Spies se bundel Hiermaals wat in 1992 verskyn het, en in sy gedigte sit De Lange die uitbeelding van die Boland en die natuur, wat by Spies voorkom, voort. Met die herlees van De Lange se werk onlangs het dit opgeval hoe subliem sy natuurtekening is. In aansluiting by die motto uit Philip Larkin word die leser ingelig oor die groenheid van die bome as “a kind of grief”. Ook probeer die digter ontsnap van wat hy “voorstedelike narkose” (17) noem deur op Vredenheim die diere te betrag. Slim is ook die spel met “skeer” in ’n gedig soos “Sketsboek’ (26).
Bedrieglike paradyse
Soos die titel van die afdeling aandui, het die leser hier te doen met ontvlugting en die kunsmatige najaag van plesier en word figure geteken wat op Ecstasy is, of gedigte wat geskryf is tydens ’n LSD-trip. ’n Beeldvonds is beslis “die skuins gulp/ van ’n spuitnaald" (36). Die gedigte in hierdie afdeling skakel met De Lange se kortverhale in Tweede natuur, waarin hy ook geskryf het oor die ekstase van dwelmgebruik. Vergelyk ook die slotreël van die gedig “Ommesientjie” (35): “Wat skedelig mooi is, of geil, of onguur,/ word ’n tydlose oogwink jou tweede natuur.”
Naspele & voortvlugte
In hierdie afdeling met sy titel ontleen aan die subtitel van NP Van Wyk Louw se Tristia tree De Lange in gesprek met sy poëtiese voorgangers soos Louw, Eybers en Cussons. Sommige van die toespelings op Louw is vernuftig, maar ek vind die Palinodes (48) en veral die “queering” van die interteks minder geslaagd. Die gesprek met Hambidge se Vuurwiel, waarin sy soortgelyke palinodes en parodieë skryf, word sodoende geaktiveer. Slim is die “remix” van Eybers in “Nadors” (53) wat weer kommentaar lewer op dwelmmisbruik en die “ritueel van cold turkey”.
Ars poetica
Soos die titel aandui, het ons hier ’n besinning oor kuns en die voortbring van kuns en word etlike gedigte gewy aan figure soos Rembrandt en Jackson Pollock. Die onderliggende gevoel van mortaliteit wat deurlopend voorkom in De Lange se elegiese poësie word sterk beklemtoon. Vergelyk in dié verband “Van al die woorde wat ek het” (59). Opvallend dat wanneer De Lange by die metaforiek van dwelms aansluit, hy sy beste verse skryf. Een so ’n voorbeeld is “In hierdie nanag” (63) met sy slot:
Die nag trek stywer
soos ’n toerniket. Die naald-
punt van my pen soek & vind
sy aar, & die eerste polsings van ’n vers.
“Laatmiddag in G” (64) knoop die gesprek aan met ander kat-gedigte, en in Afrikaans beslis met Lina Spies se werk oor dieselfde onderwerp. Die “laat mineur-namiddag” waarna in die gedig verwys word, kan as tekstuele kommentaar op die toon van die bundel in geheel ook van toepassing gemaak word. Op die opslagontwerp van die bundel word die ars poëtiese proses van De Lange geïllustreer aan die hand van die gedig “Rembrandt” en sien ons onder meer hoe hy die woordklem, die sillabes, die rym, die alliterasie en dies meer beplan as deel van die skryfproses.
Die handgrepe van hartstog
Soos die afdeling se titel, asook die aanhaling uit die werk van Lucebert aandui, het ons in hierdie afdeling verse oor die erotiek en die liggaam. De Lange het in Afrikaans al bekend geword vir sy uitgesproke gay-gedigte en dit is opvallend dat daar in hierdie bundel ’n meer gestroopte aanslag is wanneer dit kom by laasgenoemde tema. Die gedigte is gesitueer by Graaff se poel, Haaiklip in Port Elizabeth, en betrek die wêreld van trade en hustlers. Twee gedigte handel ook oor foto’s van gay paartjies en herinner mens aan die fotoboeke van Rob Paris en Bob Jackson. “Twee naakfigure onder ’n kokerboom” (80) handel trouens oor twee mans “kaalbas/ buik teen buik, koker teen koker/ onder die blakerende son”. “We two boys clinging together” (95) beeld ook die intieme samesyn tussen twee mans uit à la Walt Whitman.
Die meervoud van verdriet
In hierdie afdeling word spesifiek gekonsentreer op die samesyn tussen spreker en geliefde en die beëindiging van die verhouding. Hy word byvoorbeeld as “my wederhelf” (86) aangespreek en in die daaropvolgende gedig, “So lank as wat die vuurvlieg” (87), word in terme van landelike beeldspraak gemymer oor die afstand tussen hulle en die voortslepende hunkering. Skreiend is die gedig “Bloubaard” (94), waarin afskeid geneem word in terme van beeldspraak wat eiesoortig is aan die wêreld van Bloubaard:
Toe jy weggaan, het ek
in my kop gevlug,
slagplaas waar karkas
op karkas druipend
aan vleishake hang
soos bloederige afsêbriewe.
Jou ribbekas: vel & been
kerker van jou hart,
wil ek vir oulaas oopbreek.
My tong is ’n blokman
wat jou soetvleis uitsny,
sweserik & peertjies.
Sedert jou vertrek
is my maan ’n slagtersblok.
Lees ook hiermee saam die gedig “Klaagsang van die patoloog” (107) wat voorheen op LitNet in ’n ander gestalte verskyn het. Beide gedigte spreek tot die makabere sintuig in my.
Memento mori
In hierdie afdeling sluit De Lange sy bundel af met etlike lykgedigte. Daar is verse vir Johannes Kerkorrel, Ernst van Heerden, Ants Kirsipuu (Wilma Stockenström se man), Sheila Cussons, Ina Rousseau en Rupert Brooke en word afgesluit met die gedig “Lasarus” (124) waarvan die titel impliseer dat ons met sterfte en opstanding te make gaan kry. Vergelyk ook die gepaste sitaat uit Achterberg as motto: “Er kan geen dood beginnen/ in deze nieuwe huid.” Die bundel word gevolglik ook afgesluit met die uitroep: “Ek leef!” Ten spyte van die doodsgevoel, die treur oor geliefdes en dooie diere, oor die verganklike en die bedrog van die lyf, is dit waarmee De Lange sy bundel afsluit.
Marthinus Beukes sluit sy resensie van dié bundel in Beeld (8 Mei 2009), onder die titel “Die restourasie van verlies”, soos volg af – tereg:
Met Die algebra van nood bevestig De Lange sy belangrike stem in die Afrikaanse poësie. Nie alleen is sy homoerotiese verse ’n blywende bydrae tot queerverse nie, maar getuig sy fyn gestruktureerde gedigte en vormtug van ’n invloedryke stem in Afrikaans. Hy demonstreer dat sy digkuns ’n jukstaposisie van aarselende soeke en sekere vind is van die nuanses van bestaan. Die ritme van sy verse pols verder as die noodvrees van verlies en die dood se spore.
Na die lang stilswye van meer as ’n dekade stel hierdie bundel die leser voor aan Johann de Lange, die man met sy kop tussen sy hande met ’n spuitnaald/vulpen as stralekrans wat sy kop stut om te besin oor sy bestaan en om verdriet te verwoord. Wees hom ook genadig.
***
Restourasie van verlies in ‘Algebra’
Resensent: Marthinus Beukes
Beeld, 8 May 2009
Omslagontwerp: Christiaan Diedericks
Johann de Lange. 2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.
Louise Viljoen het oor die samestelling van George Weideman se poësie in Pella lê ’n kruistog vêr gesê dat daar “’n storie van ontwikkeling in een band” te volg is.
Haar opmerking geld in ’n sekere mate ook vir Die algebra van nood. Tog is die vaardigheidsontwikkeling van De Lange as digter nié chronologies (ge)herstruktureer nie. De Lange se bundel is ’n nuwe samestelling met verrassende verbandlegging tussen verse – ek bepaal my lesing van die bundel dus in hierdie gestalte. Soos die etimologie van die woord “algebra” as “the reunion of broken parts” suggereer, het De Lange my opeens beïndruk as digter met fyn denke en komponeringsvermoë. Met die benutting van T.S. Eliot se aanhaling as bundelmotto: “These fragments I have shored against my ruins”, stig De Lange ’n sluitende verband met sy bundeltitel, maar ook met die daarstelling van ’n betekenissleutel tot sy oeuvre – naamlik die byeenbring van verse as fragmente van nood.
In nuwe verband verdig, lei die digter die leser om die menslike kondisie van pyn, verlies en nood te lees teen ’n estetiese geheel van die agt bundelafdelings. In Die algebra van nood wil De Lange byna die gebrokenheid wat veroorsaak is deur pyn herkonstrueer of herstel in ’n berekende en deurgekomponeerde bundel: ’n eienskap kenmerkend van hierdie bekroonde digter.
Die algebra van nood se voorbladomslag verklap ’n belangrike sleutel vir De Lange se bundel. Al vyf sy vorige digbundels het merkwaardige omslae: ’n wyse van die digter om die bundel as geheelkunswerk te laat kommunikeer. Met Chris(tiaan) Diedericks se aangrypende voorbladillustrasie, word die noodroep van die titel gekaats in die totale aanbod van die digter se gesig tussen sy hande en ’n stipstaar van die oë en kortgekoude naels. Verdere sleutels vir die leser is die spuitnaald en aansteker as parafernalia van ’n dwelmgebruiker. ’n Kombinasie van inkspatsels (bloed?) en algebraïese noterings versterk die visuele aanbod. Dit is dan juis met die lees van afdeling 2, “Bedrieglike paradyse”, dat die leser besef De Lange se noodalgebra is onder meer dié van dwelmdig. Ná afdeling 1, “Hiermaals”, waar die wording van lente en groei tematies verband hou, is die motto van Philip Larkin met die versreël “Their greenness is a kind of grief”, ’n aanduiding dat die lewe en groei bedrieglik is.
Só getuig “Bolandse tafereel: laatmiddag” (p. 17), “Karoo: groen uur” (p. 18) en “ ’n Akker val” (suggestie van Van Wyk Louw?) dat duur ’n moment is.
Vreemdmaking en bedrieglikheid van seisoene, groei en bestaan word as “skoonheid van algebra” (p. 32) gesien, maar, verklaar die spreker eerlik:
(… ons is ’n breukdeel van oneindig baie onenighede)
ons huiwer op die verwagtingshorison
jy is ’n elegante algoritme, die oogwink
van onformuleerbare probleem
maar ek kwel my nie oor tydlose dinge
want God het ook vir fibonacci uitgedink.
In die ritme van fragmente en verbindings is poësie vir De Lange parallel aan die soek van die aar vir ’n fix. Voorwaar is dié digter se ars poetica in Die algebra van nood verwoord as die verlossingsoeke in penpunt en spuitnaald. So ’n kombinasie getuig van ’n poging om die nood op te hef – die vers en naald bring (momentele) bevryding.
Die bundel word óók digkuns van afwagting vir die vindmoment: ’n pen wat wag bo ’n folio papier om die vers se polsings te vind soos die naald ’n aar, stig ’n ritme vir leef waardeur die nood in fyn berekening “na klaarheid … verdig” word (p. 67). ’n Verdere wyse van berekende poësie-skep as poging om getransformeer (p. 124) klaarheid te vind, is deur die digter se fyn komposisievermoë.
De Lange skryf met vaardigheid ín teen die nood en verlies, want die agt afdelings strek vanaf lewensgroei (“Hiermaals”) tot “Memento mori” met die elegiese verse as oplossingsoeke na “die slot van die gedig” (p. 69). Die digter as opgestane, getransformeerde Lasarus kan triomferend sê “Ek leef!” (p. 124).
Algebra as die reünie van gebroke dele en die restourasie van verlies kry ook in die bundel gestalte deur ’n vaardige intertekstuele jukstaponering met ander digters en skrywers. Afgesien van die goed gekose ruggespraak van motto-gebruik by die agt bundelafdelings (ook soms by afsonderlike gedigte), is Van Wyk Louw se stem as literêre voorvader aanwesig, maar met ’n nuwe ritme. In ’n palinodespel giet De Lange voorvaderinvloede in nuwe vorm: inderdaad ’n náspel as “ná-geskape skepping” (p. 41).
Van Wyk Louw se “Karoodorp-someraand” is vaardig herdig in afdeling drie by “Teen die berghang” (p. 43) en “Karoolandskap: ’n Portret” (p. 49). De Lange se verhouding tussen literêre voorvader én biologiese vader word ’n belangrike sleutel in sy poësie. Soos die volgehoue “&”-kruisbeentekengebruik (logogram) ’n metafoor word van verbindings en jukstaposisies, eggo die samespel tussen verlies en vind, gebrokenheid en heling ’n samehangsoekende sentrum in die penpunt se inkskrif.
Óók is die stem van digters en ander figure in die rouverse van “Memento mori” ’n poging om verlies te jukstaponeer met bestaan. Die afwisseling van perspektief in hierdie afdeling getuig van die mate van intimiteit tussen spreker en aangesprokene. Die aanwesigheid van Afrikaanse digters, Sheila Cussons (drie gedigte in die bundel tree met haar in gesprek – ’n dringende stem in De Lange se oeuvre), Ina Rousseau en Ernst van Heerden skep ’n fyn samehang tussen verlies en die “memento” van die vers as draer van nood/verlies. Die vaardige afwisseling van perspektief tussen die twee strofes in die ikoniese gedig vir Van Heerden beklemtoon De Lange se fyn genuanseerde digkuns.
De Lange verstel die swaartepunt van verlies in Die algebra van nood juis deur die skryf oor verlies:
die regte woord te soek
vir iets wat my onverwoordbaar klink …
Uit hierdie penpunt huil
vannag net ink.
Met Die algebra van nood bevestig De Lange sy belangrike stem in die Afrikaanse poësie. Nie alleen is sy homo-erotiese verse ’n blywende bydrae tot queerverse nie, maar getuig sy fyn gestruktureede gedigte en vormtug van ’n invloedryke stem in Afrikaans. Hy demonstreer dat sy digkuns ’n jukstaposisie van aarselende soeke en sekere vind is van die nuanses van bestaan. Die ritme van sy verse pols verder as die noodvrees van verlies en die dood se spore.
Beukes is ’n letterkundige aan die Universiteit van Johannesburg.
***
Al dié erotiese verse is glad nie op standaard. Maar daar is darem ’n plesiertjie vir elkeen
Resensent: Fanie Olivier
Rapport, 7 Maart 1999
Johann de Lange & Antjie Krog. 1998. Die dye trek die dye aan. Kaapstad: Human & Rousseau/Tafelberg.
Om bloemlesings te resenseer, is maar ’n droewige bedryf vir enige resensent en volg moeilik iets anders as ’n vaste patroon van een of ander aard. Eerstens, is so ’n bloemlesing nodig, of beteken dit weinig meer as net nog ’n oulike geldmaakfoefie van samestellers of uitgewers met die oog op ’n spesifieke mark? Gewoonlik verskaf die samesteller of redakteur in ’n voorwoord ’n invalshoek hiervoor.
Tweedens, bring hierdie bloemlesing nuwe perspektiewe en sien die leser in die proses die tekste in ’n ander of ’n nuwe lig? Nog belangriker, ontdek die gesoute leser tekste waarvan hy nie geweet het nie of wat hy of sy vergeet het?
Derdens, noem op wat daar is en wat nie daar is nie. Noem op waarvan jy persoonlik die meeste gehou het of nie gehou het nie. Is daar gebreke wat reggestel kan word?
Vierdens, besluit of die publikasie waarde vir geld is en identifiseer die potensiële kopers. Die titel, die stuitige Walter Batiss-bladontwerp en die subtitel, is in hierdie geval reeds `n goeie aanduiding waarmee ’n mens hier te doen het. Die samestellers is boonop vriendelik genoeg om in hulle voorwoord (wat hulle “Nadraai” noem) verder eksplisiet uit te stippel wat “lyflike liefde” is.
Die “erotiese” tekste is natuurlik niks minder nie as so wyd soos die Heer se genade. Adam en Eva is immers toegelaat om met hulle vyeblaarkennis verder die gramadoelas in te trek. Of soos die voorwoord dit wil hê: “Wat vir een persoon eroties is, is vir ’n ander pornografies en banaal” en “Daar is brutale erotika teenoor blote fluistering.” Dus: Smaak verskil, kwaak verskil. Een se doring is die ander se horing. Fyndraai is iets heeltemal anders as ’n nadraai.
Maar die doel van die bloemlesing is darem edel ook, as ons die tweede deel van die inleiding moet glo. Bloemlesings kan help om die letterkunde te red sodat Afrikaans darem nie in die vergetelheid verdwyn nie, want “’n kwynende Afrikaanse mark maak die publikasie van nuwe stemme ’n riskante onderneming.”
Is dit die Afrikaanse mark wat kwyn, of het die ineenstorting van die skoolvoorskryfmark nuwe werklikhede geskep? Dié bloemlesing sal ook kan bydra om “’n belangrike verbintenis met die verlede (te vorm) en die belangstelling van nuwe generasies lesers lewend te hou en te stimuleer.”
Nou veral laasgenoemde... Ag nee wat. Wat werklik ter sake is, word vroeër in die voorwoord genoem: die mate van sensuur wat die Afrikaanse geesteswêreld geknou het. Om nie aanstoot te gee nie, om veilig te wees, om lesers “na¨ef en volwasse” te hou. Hierdie sensuurmentaliteit is myns insiens die enigste werklike motivering vir die bestaan van Die Dye Trek die Dye Aan en ek kan my beswaarlik voorstel dat daar iemand gaan wees wat nie aan die bloemlesing plesier gaan hê nie.
Nie aan al die dinge nie, want om te kan streep, is net so belangrik as om ’n streep te kan trek! Party mense hou daarvan om op toiletmure te skryf en ander onthou van gekke en dwase.
’n Knap bloemlesingresensent tel verder altyd die aantal tekste in die versameling. Ek kan in hierdie geval meld dat daar 190 bladsye gedigte en rympies en byna 300 tekste is. Verder is daar ’n inhoudsopgawe en ’n indeks van titels van gedigte of eerste reëls. Wat wel jammerlik ontbreek, is ’n indeks van outeurs en hul gedigte. Dit is tog immers een van die dinge wat die voorwoord ons belowe het. En hoe is ongepubliseerde tekste bekom?
Alles in hierdie bloemlesing is beslis nie op standaard nie, maar ’n mens is vooraf gewaarsku dat jy nie op alles kan peil trek nie. Ek sukkel egter om sekere kloutjies by die oor te bring. Maak slegs die aanwesigheid van versreëls soos die volgende uit byvoorbeeld Jan Rabie se “Die vriend” van die gedig ’n vers oor lyflike liefde:
Ek glimlag net en druip my hand
af na die brons-asbak waar naakte man en vrou
steeds bo die kladpapiere soen”
Ek twyfel. Nog ’n voorbeeld is Adam Small se “What about de lô?” Is die blote feit dat ’n seun en meisie oor die destydse kleurskeidslyn ’n verhouding aangeknoop het, genoegsame rede om dit in hierdie bloemlesing op te neem? Dui dit net daarop dat die dye die dye aantrek, word so ’n keuse ’n effense belediging vir die liefde van die twee.
En dan natuurlik die afwesigheid wat dood geswyg word. Waar is die lyflike verse van ons groot lyfskrywer, Breyten Breytenbach? Nie ’n enkele woord word hieroor gerep nie, terwyl ek meen dat sy (klaarblyklike?) onwilligheid om mee te doen, minstens ook in verband met hoereerdery gebring sou kon word.
Siedaar, die ondankbare resensent se taak is amper volbring. Wat oorbly, is die besluit of die publikasie waarde vir geld is en wie die potensiële kopers is. Ja, Die Dye Trek die Dye Aan is sonder enige twyfel uitmuntende waarde vir geld en ek kan my nie voorstel dat enigiemand wat lief is vir die Afrikaanse poësie nie hierdie bloemlesing op die rak of langs die bed sal wil hê nie. Dit is nie altyd die geskikste koffietafelboek nie, hoewel die optel daarvan beslis ’n gesprek of iets meer aan die gang sal sit.
Prof. Olivier is ’n digter en die hoof van die Afrikaans-departement aan die Universiteit van Venda.
***
Veelvoud stemme te hoor in boeiende bloemlesing
Resensent: Helize van Vuuren
Die Burger, 17 Februarie 1999
Johann de Lange & Antjie Krog. 1998. Die dye trek die dye aan. Kaapstad: Human & Rousseau/Tafelberg.
Bloemlesings het “bewaringsprojekte” geword, sê De Lange en Krog in die voorwoord, en spreek die angs uit dat “die Afrikaanse letterkunde flink besig is om ’n uit-druk-letterkunde” te word.
’n Erotiese tekening van Walter Battiss op die voorblad dui op die tema van lyflike liefde waarom die versameling sentreer. Die titel is ontleen aan ’n Van Wyk Louw vers uit Nuwe verse (1954):
Die dye trek die dye aan
die see leun teen sy strande aan
die eensaam saad die soek sy voor
die lig wil in die netvlies boor
en áls is enkeld, áls verlang
na heelal en na samehang
en heel die driftige verband
laat stort U oor U glas se rand.
Dis duidelik dat die sintese waarna alles in die heelal hunker, in dié filosofiese vers veel meer is as bloot die erotiese drang. Maar baie verse kry deur die nuwe (erotiese bloemlesing-)verband ’n ander konnotasie. Soos die oënskynlik onskuldige volksraaisel: “Intel, tintel, tonteldoos / in die land hang daar ’n roos,/ vol van hare, vol van blare / intel, tintel, tonteldoos”. Die antwoord op dié raaisel word aan die einde van die rympie vermeld as “mieliekop”.
Heelwat ou anonieme volksryme en -raaisels, of vroeë gedigte is ingesluit, dikwels met ’n sterk humoristiese inslag.
Die twaalf afdelings waaruit die bloemlesing bestaan, bied telkens ’n klein “interne” bloemlesing rondom ’n sekere tema (nie almal egter duidelik onderskeibaar nie), soos nommer 8: “April! April!”, wat fokus op die ontwaking van (Europese) lente en liefde.
’n Eienaardige hiaat hier is Van Wyk Louw se Tristia vers, “Mei-fees in Amsterdam”:
Die Eerste Mei is wit en blou
en elke bloeisel sing
en elke burger het sy hond
hier in die park gebring
om onder hierdie Boland-lug
te akkie waar hy wil,
maar ék loop in my hart en sing:
my fees is Een April (...)
Die verrassende van die bloemlesing is die afwisseling van nuwer en ouer poësie op ’n manier wat die kuise teenoor die hoogs gewaagde, die tradisionele vers teenoor die vrye, populêre of eksperimentele te staan bring. Dit het soms ’n humoristiese effek, en maak die leser attent op die spektrum van stemme, style en benaderings in die Afrikaanse poësie soos in die liefde!
Krog, De Lange, Van Wyk Louw, Hennie Aucamp en Ernst van Heerden is van die sterkste stemme hier teenwoordig.
Die groot hiaat in die bloemlesing is Breyten Breytenbach se liefdes- en erotiese verse (hy het oënskynlik toestemming geweier). Hiermee mis die leser al die liefdesverse van Lotus, en pragtige, speels-erotiese gedigte wat versprei deur sy ongeveer sestien digbundels lê, soos “iets om aan te peusel in my igloo:”:
my wintervrou is ’n klein klein voël
tjie tjie tjie
wat met drome goël
met herfs het ek dit
in die dooie bos gevang
verbouereerd
oor hoe dit wit genotjies
in die leë bome hang
nou en buite die ruite
is die hongerblou gety
sit
dit op my tafel en
ditse boudjies maak my bly
my wintervrou is ’n klein klein voël
tjie tjie tjie
wat met drome goël.
Wat die bloemlesing ook boeiend maak, is die insluiting van talle ongepubliseerde verse wat òf in tydskrifte versprei was of altemit spesiaal vir dié uitgawe geskryf is. Daar is onder meer verse van Mark Behr, een van Koos Prinsloo, Wilhelm Knobel en ’n “in memoriam”-gedig vir Ingrid Jonker deur Adam Small. Die wye spektrum, tussen lig-speels (soos Ronnie Belcher se kort rymers, die Klipwerk verse van Van Wyk Louw) en verwikkelder poësie (Eybers, Van Heerden, Opperman) maak Die Dye trek die Dye aan ’n besonderse versameling.
Daar is steeds afwisseling in toon en aanpak van gekanoniseerde digters tot anonieme of populêre skrywers soos André Letoit. Tog is dit die sterk ouer stemme wat steeds be¨ndruk soos Sheila Cussons se “Verlief in Venesië”:
Eenmaal in ’n hooglied-eenmaal
het ek in ’n flikkerende stad gekom
(...) en swymelend van son en jeug en vaak
gaan slaap op ’n ou matras gestop met drome (...).
'n Eienaardige insluiting is wel die lang passasie uit Leipoldt se “Die Bergtragedie” (byna vier bladsye) wat weinig met eksplisiete erotiek te make het. Waarom dan nie ’n gedeelte uit Peter Blum se “Die Klok in die Newel” (uit Enklaves van die lig) nie?
De Lange en Krog bied met hierdie bloemlesing ’n verfrissende nuwe blik op bekende en onbekende verse, met veel plesier en verrassings vir die leser.
Prof. Helize van Vuuren is verbonde aan die Departement Afrikaans aan die UPE.
***
’n Puik blik op verse van lyflike liefde in Afrikaans. Ongepubliseerde gedigte verras
Resensent: Henning Pieterse
Beeld, 23 November 1998
Johann de Lange & Antjie Krog. 1998. Die dye trek die dye aan. Kaapstad: Human & Rousseau/Tafelberg.
Hierdie bloemlesing, met die subtitel Verse oor lyflike liefde, gee ’n uitstekende blik op erotiese gedigte in Afrikaans oor bykans ’n eeu heen.
Die samestellers noem in hul “Nadraai” dat erotiese gedigte dikwels uit bloemlesings gelaat word sodat lesers nie “aanstoot” gegee word nie en dat wat vir die een persoon eroties is, vir ’n ander pornografies en banaal mag wees.
Die dye trek die dye aan is dan, om uit die volgstuk te parafraseer, ’n bloemlesing oor lyflike liefde, van die vroegste volkse uitinge tot die moderne, en soms “volksvreemde manifestasies in die meer onlangse poësie”. (Lees in laasgenoemde verband Dan Roodt (onthou u hom nog?) se volksvreemd.)
Ontwikkeling en voltrekking van erotiese drifte word nagespeur deur die verskillende afdelings: van Eerste proeseltjie (met onder meer ’n paar variasies op Ou Tante Koba), Jy met jou groen lyf soos ’n
bottel, Skommel maar die ding (say no more!), Anatomieles, O heerlike (effens retoriese) lywe, Ek sou jou graag net oppervlakkig wou leer ken het, Die dye trek die dye aan, April! April!, deur Hoe rits die kooi vannag, Ars erotica, Hoere, huurjongens en houvroue, tot die meer gedempte en melancholiese Beminde prooi na wie ons so smag en Laaglied.
Bykans elke Afrikaanse digter word hier verteenwoordig, want, soos dit in “Nadraai” gestel word: “Daar is geen enkele skrywer van belang wat nie een of ander tyd erotiese tekste geskryf het nie.
“Gaan lees maar gerus weer hoe lekker speels, en, soms, met ’n tikkie treurigheid, Boerneef, Van Heerden, Malan, Bouwer, Van Wyk Louw, Belcher, Cussons, Watermeyer, Spies, Krog en Cloete, om maar net enkeles te noem, met woorde, dele en parte `omgaan'.”
Een van die vele verrassings van die bundel is die aantal ongepubliseerde verse van onder meer Peter Blum, Hennie Aucamp, Wilhelm Knobel, Mark Behr, Leon Strydom, Melanie Grobler, Johan van
Wyk en Casper Schmidt. En wat ’n plesier om weer ’n deel uit Watermeyer se sensuele "Klein siklus" en uit Leipoldt se "Die bergtragedie", met sy klassieke doodserotiek, te lees.
Twee name wat ’n mens in hierdie bloemlesing mis, is dié van Breyten Breytenbach en Marlise Joubert.
Van die verse sal sekerlik vir sommiges, veral die humorloses onder ons, as kru en platvloers voorkom, maar erotiek is, soos skoonheid, uiters subjektief.
Hier is iets vir almal, ongeag geslag, seksuele voorkeur of vlak van preutsheid.
Die samestellers kan gelukgewens word met ’n puik bloemlesing wat ’n groot markgaping vul, veral in hierdie tyd waar digbundels al hoe skaarser word.
Dr. H.J. Pieterse is dosent in die departement Afrikaans, Unisa.
***
Erotiek en poësie lê lepel in tema-bundel
Resensent: Bernard Odendaal
Volksblad, 16 November 1998
Johann de Lange & Antjie Krog. 1998. Die dye trek die dye aan. Kaapstad: Human & Rousseau/Tafelberg.
’n Verskynsel wat 'n mens toenemend waarneem, is tematiese bloemlesings wat op die literêre rakke beland, oorsee en hier. Op die terrein van die Afrikaanse poësie het ook al 'n hele paar sulke bloemlesings verskyn waarvan Die dye trek die dye aan van samestellers Johann de Lange en Antjie Krog die jongste toevoeging is.
In die voorwoord hier skalks 'n “Nadraai” genoem verduidelik hulle die noodsaak en nut van temagerigte bloemlesings soos De Lange trouens ook in die jongste Insig doen.
Dit is myns insiens so 'n belangrike aangeleentheid dat ek iets van hul argumentasie hier wil weergee.
Die Afrikaanse letterkunde word beoefen en bedryf te midde van 'n krimpende mark, onder meer veroorsaak deur die vergrouende fotostateerpestilensie aan skole, kolleges en universiteite, asook die onwilligheid van onderwysinstellings om nuwe boeke voor te skryf. In die swaarkrysituasie is dit veral die poësie wat noustrop trek.
Min nuwe bundels sien die lig; nog minder indien dit debuutwerk is. Reeds verskene bundels raak toenemend en al hoe gouer permanent uit druk.
Op dié wyse raak dit selfs moontlik dat ons 'n taalgroep sonder lewende poësie word. Die groot klassieke bundels is naderhand net nog in biblioteke te lees totdat die eksemplare daar ook `opgelees' is. En die nuwe bundels syfer al hoe dunner deur. Watter ironie: Juis die medium waarin die dinge van menswees (ook Afrikaans-wees) onvergeetlik gesê behoort te word wat mense sal onthou en wat hulle emosioneel onlosmaaklik aan hul taal bind juis dáárin mag dit dalk gebeur dat soos die graf geswyg word!
Dit is hier waar tematiese bloemlesings ’n belangrike bewaringsrol te speel het.
Bloemlesings verkoop eenvoudig beter as solobundels en word dus meer geredelik uitgegee. Bestaande gedigte wat dikwels nie in meer `fatsoenlike' meesterversamelings soos Groot verseboek opgeneem is nie, word in so ’n tematiese verband ’n plek gegun en dus van die vergetelheid gered. Boonop gebeur dit dikwels soos in Die dye trek die dye aan dat ongepubliseerde gedigte ook opgeneem word, sodat sulke bloemlesings selfs nuwe digwerk stimuleer.
Oral in Die dye trek die dye aan is van die genoemde onvergeetlike (want treffend rake, of onthutsend pronte) sêgoed aan te tref. Die erotiek en die poësie lê dikwels al te paslik lepel op hierdie blaaie.
G’n wonder dat sommige literêr ingewydes van die erotiek van skryf en lees praat nie.
Van stuitige volkse rympies tot die teerste verse oor die erotiese liefde, van skokkende gedigte oor seksuele geweld tot half-suggestiewe kleuterverse, van die werk van digters uit die eerste taalbeweging tot voorheen ongepubliseerde werk van hedendaagse digters dit is alles in die dertien rubriserings van hierdie bloemlesing aan te tref. ’n Mens moet die samestellers komplimenteer vir die talle verrassings wat hulle kon opdiep.
Dit is seker moeilik om gedigte wat oorspronklik nie vir die doeleindes van so ’n bloemlesing geskryf is nie, te orden.
Dit blyk weer uit die boek. Die samestellers het gekies om die gedigte is onder sub temas gerubriseer, ’n aanhaling van ’n titel of frase uit een van die gedigte is onder so ’n rubriek as (sub-) tematiese noemer gebruik, en die gedigte binne rubriekverband alfabeties volgens die digters se vanne gerangskik.
Hier en daar is die (sub-)tematiese rubriserings myns insiens ietwat willekeurig, en die afdelingstitels nie altyd ewe verhelderend of onderskeidend nie.
Dit doen egter nie afbreuk aan die geboeidheid wat die bloemlesing my besorg het nie.
Dit is ’n bundel wat jou, nou ja, op meer as een manier prikkel. Dit is ook die uitgewersprys van sowat sewentig rand dubbel en dwars werd.
Bernard Odendaal is lektor in die departement Afrikaans en Nederlands, UV.
***
Waarde lê in 'kunsgedigte'. Natuur en die erotiek
Resensent: A.P. Grové
Beeld, 18 Desember 1995
Johann de Lange. 1995. Wat sag is vergaan. Kaapstad: Human & Rousseau.
HOEWEL dit nêrens in die bundel aangedui word nie, is die figuur wat as bandversiering dien, 'n fotografiese weergawe van die beroemde slapende Barberini faun waarvan die oorspronklike beeld vandag op 'n prominente plek in München se Gliptoteek te sien is.
Met hierdie figuur het Nic de Jager, wat verantwoordelik was vir die bandontwerp, in elk geval 'n goeie keuse gedoen: enersyds vestig die beeld die aandag op die kuns en sy inspirasiemoontlikhede, terwyl die beeld andersyds met sy brutale liggaamlikheid 'n uitdagende seksualiteit suggereer motiewe wat sterk in die bundel figureer.
In die eerste twee afdelings kry ons veral natuurgedigte waarin die kuns en die verwysing na bepaalde kunsprodukte 'n belangrike rol speel. Verskeie gedigte speel dan ook terug op die een of ander belangrike werk uit die wêreld van die kunste.
In die volgende twee afdelings kom die erotiek, meer bepaald die homoërotiek aan die bod, terwyl die slotafdeling onder die titel ''Panasee'' vyf portrette na vore bring, portrette van bekende figure wat tot die dood toe die ideaal najaag van die een en enigste wondermiddel wat veronderstel is om geluk te bring en die lewe draaglik te maak. Elke afdeling lewer naas mindere werk ook sy kwota goeie gedigte.
Die eerste deel open byvoorbeeld met die mooi ''Droom met oop oë'', 'n natuurgedig wat duidelik deur die skilderwerk van Henri Rousseau geïnspireer is, maar wat tog sy eie weg volg en in sy bewuste konstruksie van die landskap skerp teenoor die primitiewe droomwêreld van Rousseau te staan kom.
Ook in ''Japannese lente'' merk mens iets van die digter se besinnende reaksie soos hy hom in hierdie geval bewus rekenskap gee van die verandering wat by die reisiger intree wanneer sy verlange na sy vaderland geleidelik deur sy groeiende bewondering vir die vreemde verdring word. Dis 'n besinning, maar dis 'n besining wat deur 'n reeks beelde gedra word en so geldigheid en oortuigingskrag verkry.
Ook in die gedig ''Robbe'' bemerk ons hoe bewus die digter te werk gaan, hoe beredeneerd hy die diere se letsels verklaar en veral hoe berekend hy die logheid en lompheid van die diere teenoor hulle speelsheid en ratsheid stel 'n teenstelling wat sterk aan bepaalde sieninge in Wilma Stockenström se jongste bundel herinner.
Afdeling II bring ook natuurgedigte, maar die rol van die kuns en die kunsbesinning is lank nog nie uitgespeel nie. ''Promenadekon sert'' is hiervan 'n heel besondere voorbeeld 'n speelse gedig waarin die ''veertien meeue op 'n kalkwit muur'' waarmee die gedig 'n aanvang neem, deur die doen en late van die voëls met klank en beweging tot 'n sonnet uitgebou word. 'n Treffende voorbeeld van 'n natuurgegewe wat oënskynlik spontaanweg tot kultuurproduk verstrak.
'n Totaal ander maar tog vergelykbare proses speel hom af in ''Miskruier'', waarin ons sien hoe die gewone kewer met sy ''swart harnas'' deur 'n leërmag miere totaal vernietig word. Maar hierdie stukkie natuurdramatiek word 'n stuk kultuurgeskiedenis as ons merk hoe daar in die beskrywing van die kruier se ondergang taalmatig en beeldend 'n hele stuk Middeleeuse beskawing opgeroep word.
En so kom daar in die eerste twee afdelings 'n duidelike patroon na vore soos die digter daarna streef om aan 'n vervlietende stuk werklikheid in sy gedig blywende geldigheid te gee.
Hiervan sien ons minder in die homo-erotiese afdeling III waar die digter dit meermale by waarneming en die opstapeling van indrukke laat. So 'n gedig is byvoorbeeld ''Party seuns'' wat opsommend 'n neerdrukkende beeld gee van die uiteenlopende seksuele gedragspatrone wat by jong seuns waar te neem is. Maar dan is daar in dieselfde afdeling tog weer 'n gedig soos ''Coke en sodomie'' waarin die ''post-vigs generasie'', soos hulle hulself noem, hulle eise en verwagtings byna manifes gewys aanbied en so 'n bewuste patroon tot stand bring.
Waar afdeling III objektief na die homo-erotiese wêreld gekyk het, is afdeling IV liggaamlik, lyflik op persoonlike verhoudings afgestem en kan ons so 'n belydenis verneem: ''Ek hou jou bloedwarm teen my vas.'' Eintlik kan die essensie van die afdeling gesien word as die verslag van 'n liefdesgeskiedenis: die saamwoon, die liefdespel, die groeiende verwydering, die leuens en die ontrou. En opvallend hoe die verhaal in terme van wonings, saamwoon, verblyf, die soek na nuwer, ryker tuistes geteken word. Dis 'n afdeling wat sy gevoelige momente het, wat die leser iets laat voel van die kortstondigheid van die geluk. Maar dis 'n afdeling wat ook maklik in herhaling en opstapeling kan verloop (''Met hulle is ek'') en ook nie altyd vry te pleit is van opsetlikheid en neulerigheid nie (''Vertrek II'').
En dan is daar weer die meer objektiewe slotafdeling waarin die lewe en droewige uiteinde van vyf persoonlikhede opgeroep word, vyf figure onder wie Koos Prinsloo, Rock Hudson en Eugòne Marais. Daar is 'n sekere ooreenkoms in die uitbeelding van die vyf soos die figuur in sy fleur telkens gestel word teenoor die afgetakelde liggaam wat deur die dood agtergelaat word. Dis 'n liggaam ''uitgeteer in vuil beddegoed'', of 'n ''karkas weggekrimp op 'n draagbaar'', of, soos Marais, '''n maer man'' in 'n ''triestige bosveldreën'' onder die ''druipende blare van die karee'' vyf gedigte wat sterk informatief van aard is maar wat tog nie sonder deernis en 'n gevoel van weemoed oor die sterflikheid van die skoonheid geskryf is nie.
Kyk ons terug op die geheel, sou ek sê dat die waarde van die bundel eerder in die ''kunsgedigte'' en die deernisvolle portrette as in die erotiese gedigte geleë is; eerder in die objektiewe, besinnende gedigte as in die werk van 'n meer subjektiewe en/of belydende aard.
***
Bundel se hoogtepunt treffende dodelied aan Koos Prinsloo
Resensent: Helize van Vuuren
Die Burger, 20 Maart 1996
Johann de Lange. 1995. Wat sag is vergaan. Kaapstad: Human & Rousseau.
Die titel laat dink aan ’n reël van Lucebert: “Alles van waarde is weerloos.” Die samebindende draad in dié bundel is ’n bewussyn van vergangklikheid wat in die slotafdeling die intensiefste gestalte kry in vyf elegieë. Hiervan is veral die slot van die gewyde dodelied vir Koos Prinsloo (1957- 1994) ’n hoogtepunt.
Dit eindig op ’n inkantasie aan die gestorwene se eensmalige woonplek en kontinent, wat die beeld van Moeder Afrika dikwels ’n sentrale beeld in swart Engelse SA poësie oproep. Afrika word gepersonifiseer as ’n moeë ou vrou en moeder wat die oorledene in haar “lyf” (metafoor vir die aarde) terugontvang. Soos die gedig beweeg na die slot, word vertedering gesuggereer met die beskrywing van die volwasse skrywer eers as “blonde seun” en uiteindelik as “bang kind”:
Afrika met die snoer van mere
om haar verrimpelde hals
Afrika met die onstandhoudende riviere
met reëns soos kort infatuasies
wat in rivierbeddings verdwyn
Afrika jou onleesbare siel
Afrika van steppe savannes en woude
Afrika van vlamboom en bloekom
Afrika wat bloei deur ‘n riviermond
stom Afrika
ontvang jou blonde seun
gekoppel aan ‘n plasmasak en herinnerings
die bang kind in maer pajamas en verwarring
In die beskrywing van Prinsloo as “bang kind in maer pajamas en verwarring” spreek Breytenbach se eerste poëtiese selfbeelding “die maer man met die groen trui” wat “onskadelik” is ook mee. Dit suggereer iets van die vooropstelling van die self, spel met die self en die selfontmaskerende aard van Prinsloo se werk, asook sy sentrale posisie as een van ons belangrikste jong, te vroeg gestorwe skrywers. De Lange kry dit reg om hier in enkele reëls iets van die essensie van Prinsloo se persoonlikheid en die aard van sy oeuvre vas te vat.
Sy beswerende aanspreek van Afrika die erbarmende moeder staan in ironiese kontras met die motto van Didier Semin (“death is the passing... of a living being into what Christian Boltanski calls 'an aboslutely disgusting pile of shit”') en ontkrag dié brute siening van Boltanksi volledig. Dis een van die treffendste elegiese momente in die Afrikaanse poësie.
Effens hinderlik in die slotgedig, “Eugene Marais (1871-1936)”, is egter die nogmaalse eggo uit Breytenbach as na Marais verwys word as “Maer man met die spierwit pak en skoene”.
Die res van die bundel is saamgestel uit ’n eerste afdeling met ’n aantal natuurgedigte waarvan “Strandveld” en “Mau-Mau” uitstaan, ’n tweede afdeling wat minder memorabel is, buiten vir die kwatryn “Kortkuns” (opgedra aan Hennie Aucamp), wat as ’n poëtiese credo gesien kan word:
Wat lê langs die wraklyn
gebied dat jy kyk
en neerskryf, opteken,
voor die bene verbleik.
Die derde afdeling stel in ’n vers getiteld “Coke & Sodomie” die “post-vigs generasie” in al hul anarchistiese kruheid aan die woord. Hierop volg ’n gedig waarin Jeffrey Dahmer, die kannibalistiese reeksmoordenaar, aan die woord gestel word. Ten spyte van dié gewaagdheid of miskien juis as gevolg van die ongewone keuse van gelade materiaal, boei dit wel die aandag kortstondig, maar kom tog nie heeltemal uit die verf nie.
Hierdie derde afdeling met sy uitdagende, anti-establishment sentimente is as geheel egter een van die sterkeres in die bundel, asof De Lange die diskoers of “stemme” van hierdie subkultuur volledig onder beheer het. As geheel gesien bied Wat sag is vergaan enkele treffende verse, soos die een in gedagtenis van Koos Prinsloo, maar daar is ’n verstilling en ’n fragmentering in hierdie bundel wat maak dat dit nie die poëtiese trefkrag het van Wordende naak (1990) nie.
***
Digter bring nuwe dimensie. De Lange se buitengewone verkenning van gay-liefde
Resensent: Henning Snyman
Die Burger, 13 Desember 2000
Johann de Lange. 1993. Vleiswond. Kaapstad: Human & Rousseau.
Wordende naak en Nagsweet vorm ’n tweeluik in Johann de Lange se oeuvre. Hierdie bundels is toenemend ’n manifestasie van “articulate flesh”, om Gregory Woods se frase te leen. Vleiswond pas in by hierdie prentjie, maar bring ’n nuwe dimensie deur die verhouding van die erotiese en die religieuse binne die gay-paradigma te betrek.
Op sigself is die “eroticism of religion” nie nuut in die literatuur, of ook heeltemal nuut binne die gay- literatuur nie. Die manier waarop De Lange dit hanteer, is egter buitengewoon en van seldsame poëtiese “understatement”, om nie te praat van “poëtiese skoonheid” nie. Dit mag ’n mens wel nog sê, ten spyte van die kors van literêre teorie wat deesdae die lees en genot van ’n literêre teks toepak.
’n Aanhaling uit W.H. Auden se werk The Age of Anxiety meld hom aan by die lees van Vleiswond: To know nature is not enough for the ego; The aim of its magic is to create a soul, The start of its magic is stolen flesh; of uit Walt Whitman, wat De Lange self aanhaal as motto: Divine am I inside and out. Hierdie nuwe bundel verken die eros van gay-liefde, en gebruik die liggaam as metafoor om as tussenganger seksualiteit en spiritualiteit te verbind. Die bundel open met die tema van erotiek en religie en voorsien daarmee ’n parameter waarbinne die res hulle plek verkry.
In die eerste gedig “Kruisiging” word daar ’n mistieke verband gelê tussen die seksuele en die offerkonsep. Die gedigte “Kommunie I” en “Kommunie II” gee verdere liggaam aan die idee wat “Kruisiging” belig. “Kommunie I” lui soos volg:
Sondagaand, die promenade:
in kortbroeke en t-hemde
daag ons op: die gemeente
van die vlees
en Walt Whitman
was met ons,
hoogpriester,
met sy lang wit baard
en sy hande op ons almal
‘n benediksie op sweetblink lywe,
op ons tonge die kosbare wit
sakrament van die fallus.
Ons ken hom ook daar
alleen in ‘n bieghokkie
waar ons kniel
voor die klein gode
wat deur ‘n loergat seën
en wywaters van die doop
op ons tonge laat reën.
Dié gedig gee aan die seksuele aktiwiteit ’n religieuse konnotasie wat nie alleen die godsdienstige belewenis in ’n parallelle lyn plaas met seksuele ekstase nie, maar wat die intense kommunikasie tussen die seksueel-aktiewes verhef van die liggaamlike tot die geestelike.
In “Kommunie II” word gepraat van “die nagmaal van die vlees”, en elders:
Skuil u Gees nie skimmig wit
in die dun kondoom
van my gebed? Kan U my voel
deur die fyn membraan?
Ek hoor jou laatnag huil, en Een
wat sê: Dit is voldaan.
Iets van die “eroticism of death” is ook opgesluit in die offertematiek, veral in ’n gedig soos “Drenkelinge”. Hoofsaak is dat in die suiwerheid van erotiese oorgawe ’n religie voltrek word. Seksualiteit word metafoor vir die oorgee van die liggaam as offer, maar terseldertyd as die ervaring wat ’n verlossing bewerkstellig. Per slot van rekening. . . “we were not left rounded off in ourselves. . . we were crucified into sex” (ná D.H. Lawrence).
Die verloop van die bundel word ’n subtiele inventaris van die “vleesgeworde woord”, maar nie in ’n godslasterlike sin dat die ervaring van Christus en sy goddelikheid-in- mensgestalte geparodieer word nie. Vleiswond word ’n verslag van die “vlees” wat woordgestalte kry.
Met die religieuse-erotiese tematiek van die openingsgedigte as parameter, volg daarin die menslike ervaring van liefdesontrou, die besef van tydelikheid en verganklikheid en die verhaal van liefde-in-doodloopstrate.
In hierdie verband verdien die verruklike gedig “Etienne Leroux (1922-1989)” spesiale vermelding. Deur gedigte rondom diere word gekyk na ontwykende erotiek, en deur die kuns en die digkuns word die menslike register as 't ware geraam tot portret van geleidelike verval en verganklikheid. Die gedig oor die beroemde fotograaf “Robert Mapplethorpe” dien in dié verband as ’n sintese waar die portrette van dié kunstenaar die mens verstil:
stralend wit soos vergeestelikte
vlees: die perfekte dooies
só gelaai met lewe.
Die erotiese register betrek verder die wêreld van “cruising”, die verheerliking van manlike skoonheid, en dan stol dit in die konfrontasie met die self: ’n Ingekeerde reis. Ontroerend is die gedigte oor Pa waar liefde en woede mekaar vind, en weerloos is die kind in “Droom” waar die kindwees die kind ontsê word.
Naas hierdie teer persoonlike elemente keer die bundel in die slot afdeling terug tot die liggaam/gees- digotomie. In “Tweeluik” is
... lyf van ‘n man
() ‘n god: drie-eenheid
van mond, fallus, anus;
maar ook: twee helftes
wat stry: die kaal
agternek, keel, hande
en gesig grasieus,
die liriese deurvaart
wat soos ‘n jong prins
rus op die bloedige
barbaarse troon
van die onderlyf
Ná ’n tog deur die seksuele domein binne ’n gay-kultuur wat Sandybaai en Graaff se Poel insluit, stuit die bundel skielik en skokkend by “Bloubaard se Kamer”, ’n gedig gebaseer op die gegewe van die skrikwekkende seksmoordenaar, Jeffrey Dahmer.
Die bekoring en die romantiek van die seksuele word wreed versteur deur die ontering van die uiteindelike liggaamlike offer. Daarmee keer die religieuse tema weer terug in die slot, en sluit die parameter sy grense.
Johann de Lange se hoogstaande talent is beslis reeds bevestig deur sy vroeëre bundels. Met Vleiswond bereik hy nuwe hoogtes wat hom vestig as ’n belangwekkende digter van uiters hoë kaliber.
***
’n Kyk deur ’n seksuele lens
Resensent: J.C. Kannemeyer
Die Burger, 25 Junie 1999
Johann de Lange. 1991. Nagsweet. Bramley: Taurus.
In vergelyking met Wordende naak, sy bundel wat verlede jaar verskyn het, word Johann de Lange se Nagsweet haas uitsluitlik aan die homoërotiese en die homoseksuele ervaring gewy. Dit handel, blykens die drie motto's uit Whitman, Lorca en Ginsberg in die begin, oor die liefde wat op die bladsye van die boek neerslag vind, ’n diaboliese liggaamlike wellustigheid waarop die bundeltitel veral slaan, en ’n oorgawe aan die naakte liggaam in sy seksualiteit.
Heelparty van die verse is ’n objektiewe portrettering of ’n selfbetragting van die mens as dier of “honger wolf”, dikwels ’n waarneming deur ’n seksuele lens, soos in die gestalte van Monroe, of ’n feitlik fotografiese weergawe, soos in die gedigte oor Dean en Klein in die eerste afdeling.
Oor die algemeen is dit egter ’n persoonliker lyfpoësie, verse oor die skoonheid en seksuele verrukking van die liggaam, wat De Lange hier beoefen, dikwels ingestel op die visuele met die terugkerende gestalte van die minnaar as jagter of aaslustige seksdier.
In enkele verse, soos in “Corona del mar” en “Surfer”, bring De Lange ’n boeiende variasie op Ernst van Heerden se spotfigure, en by tye maak hy gebruik van fyn beelde, soos in “Fauna”.
Veral die derde afdeling, waar die beelding die vers verdig, is geslaagder as baie van die “naakter” seksuele verse en die “Cruise”-reeks. Alhoewel de Lange in staat is om gedigte soos “Labirint” heg te bind en sterk verse te lewer, word die herhaalde gebruik van dieselfde tegniek van ’n ketting verwante beelde op die lange duur neulerig. Daarby word die oormaat van paarrymende koepletverse ’n dreun in die bundel, veral as die beeldspraak nie vry is van die retoriese nie.
’n Belangrike beswaar teen De Lange se eerste bundel, wat nou hier terugkeer, is die groot aantal voorbeelde van eksplisiete beelding: “Die skugter skulpdier/van jou tong”, “die maanskap/van heup en bors”, “die koue sonne van jou oë”.
Basies het ons hier, ten spyte van die “gewaagde” tematiek, te make met ’n oppervlakkige indrukspoësie, ’n literêre voyeurisme wat ’n uiterlike skittering vertoon, maar nie ’n verborge geheim bevat nie en dikwels ook as gevolg van ’n verwarring in die beeldspraak die leser onbevredig laat.
’n Voorbeeld hiervan as “Aars poetica” waarin De Lange Opperman se bekende “Digter” en ’n vers uit sy Kuns-mis as basis gebruik. Wat egter na ’n ketting verwante skeepsbeelde lyk, word deur die botsing tussen “opgetel”, “geswolle poort” en “skuit” ’n voorstelling wat nie klop nie, terwyl die “steil mas/van bloed” weer ’n geval is waar die beelding op sigself ontoereikend is en die digter dit van buite met die “vleeslike” laag moet laai.
Waar die beelding meer bevredig, is die gedigte oortuigender, soos in die strak, gelaaide taal van “Preie”. In sy geheel verteenwoordig Nagsweet egter ’n insinking in De Lange se digterskap.
***
Werklikhede van homoërotiek. Genoeg mooi gedigte, genoeg talent om die digterskap van De Lange te bevestig...
Resensent: A.P. Grové
Beeld, 1 November 1993
Johann de Lange. 1993. Vleiswond. Kaapstad: Human & Rousseau.
Afgaande op die sewe onderafdelings van hierdie bundel is dit moontlik om 'n vlugtige inhoudelike oorsig oor die geheel te gee. Die eerste afdeling bevat religieus-erotiese gedigte. Dis egter nie 'n bepaalde geliefde waarop die aandag hier toegespits word nie. Veeleer is dit die liefde self, meer bepaald dan die homoërotiese liefde waarop daar, meermale in kerklik-godsdienstige terme, besin word, 'n besinning wat in Afdeling 2 en veral in Afdeling 4 met die verwysing na bepaalde kunstenaars en hul werk op artistieke vlak voort gesit word.
Afdeling 3 bring 'n reeks dierebeelde, terwyl Afdeling 5 reisindrukke bevat. Afdeling 6 bring met verwysing na die invloed van 'n vaderfiguur enkele koersbepalende grepe uit die digter se jeug, terwyl die slotafdeling met die aksent op konkrete gevalle en situasies en die verwysing na bepaalde lokaliteite beelde van die minnaar bring en as't ware die liefde in aksie toon.
'n Aansienlike tematiese verskeidenheid dus. En tog het ons hier van afdeling tot afdeling eintlik maar met 'n aksentverlegging te make, want eintlik gaan dit in hoofsaak oor die werklikhede van die homoërotiek: die aard en openbaringsvorme daarvan, die spanning, pyn en hartseer wat soms daarmee gepaard gaan.
Afdeling 1 is die mees besonne en ook die mees ambisieuse afdeling. Aansluitend by 'n sitaat van Walt Whitman wat voorin as teks aangebied word (''Divine am I inside and out, and I make holy whatever I touch''), is hierdie afdeling 'n uitgesproke poging om, met verwysing onder meer na die lyding van Christus en die sakrament van die kommunie, aan verskillende aspekte van die homoseksualisme 'n religieuse dimensie toe te voeg, om byvoorbeeld kwetsure van die liefde spel tot stigmata van die kruisiging te verhef. Vandaar die verskillende ''Kommunie''- en ''Stigmata''-gedigte. Ook 'n gedig soos ''Park'', waarin ons lees: ''ek vind... in die letsels op jou rug/God se kruiswonde terug.''
Op verskillende maniere probeer die digter liggaamlike ervaring tot 'n geestelike vlak oor te hewel. Maar so 'n opdrag vereis 'n metaforiese krag wat hier ontbreek. Die formules wat die digter wel aanwend, soos byvoorbeeld ''sakrament van die fallus'' (''Kommunie I'') en ''nagmaal van die vlees'' (''Kommunie II''), maak 'n uitgedinkte, beredeneerde indruk. Die gevolg is dat ons hier pleks van 'n vergeesteliking van seksuele aangeleenthede eerder 'n vergedrewe sekularisering van godsdienstige waarhede kry.
Hoe ver De Lange in sy beelding hier te kort skiet, word enigsins duidelik as ons van die voorbeelde in hierdie afdeling naas die ''Waatlemoen''-gedig uit Opperman se Kristien-reeks lê.
Veel gelukkiger is De Lange in die oproep van konkrete figure en situasies, of die opwek van 'n bepaalde stemming. Voorbeelde hiervan kom ons in feitlik elke afdeling teë, baie duidelik byvoorbeeld in Afdeling 3 met sy skerpgetekende diere, soos die Alpebok, die Kat en die Krokodil.
In Afdeling 4 is veral ''Robert Mapplethorpe'' te noem, waarin daar via 'n reeks afbeeldings 'n aangrypende proses van aftakeling en doodsverlange gegee word. Of ''Vlees van die berg'', waarin die uitstalling van die gemartelde menslike liggaam oor die eeue met grepe uit die geskiedenis en die kuns opgeroep word.
Onder die reisgedigte is dit veral ''Reisiger in Amsterdam'' met sy triestige slotakkoord wat die aandag trek; ook ''Storm'', waarin die geteisterde strandhuis geleidelik die gestalte van 'n bedreigde boot aanneem 'n bewys dat die digter wel op geslaagde wyse tot 'n metaforiese omskakeling kan kom.
Die slotafdeling bevat ook sy kwota treffende gedigte. So is daar byvoorbeeld ''Tweeluik'' waar vroulike fynheid en manlike ruheid byna hermafrodities in een liggaam onderdak vind om so 'n innerlike konflik en gespletenheid te suggereer. Ook ''Orpheus langs die swembad'', waarin die menslike liggaam taalmatig tot beeldhouwerk verstrak. Of ''Graaff se poel II'', waar dood én skoonheid, vreugde én hel as die dubbele lot van die kwesbare mens gesien word. Daar sit spanning in hierdie poësie, konflik wat ook deurwerk in die slotgedig, ''Gelykenis'', waarin die seksmaat simbool tegelyk van hoop én lyding word. Dis nie toevallig dat die gedig figuratief in die vorm van 'n kruis afgedruk staan nie.
Daar is gedigte in hierdie bundel wat beeldend nie oortuig nie, ander wat kru momente bevat, maar daar is ook genoeg mooi gedigte in die bundel, genoeg talent aanwesig om die digterskap te bevestig wat ons uit die vorige werk van De Lange leer ken het.
***
Een van beste bundels in Afrikaans. Delikate, diepsinnige en uiters mooi verse
Resensent: T.T. Cloete
Beeld. Maandag 6 Augustus 1990
Johann de Lange. 1990.Wordende naak. Pretoria: HAUM-Literêr.
Johann de Lange se Wordende naak is sy beste bundel tot dusver en 'n baie groot vooruitgang in sy werk. Dit is 'n besondere bydrae tot die Afrikaanse poësie van ons tyd. Wat 'n mens van die begin af opval in die gedigte en 'n belangrike toonaard in die verse aangee, is die verwysings na afstand doen, verminking, verwonding, almal verwysings na weerloosheid. Die weerloosheid en verwording roep egter hul teendeel op, naamlik verweer en bewapening, die soldaat of skutter, die sterk manlike, byna verliggaamlikte figuur.
Selfs die seksuele daad is 'n vorm van verweer, maar soos die skutter en soldaat is die erotiese figuur tegelyk die gestalte van weerloosheid en verwording. Die twee elemente is pragtig verenig in die briljante gedig ''Kusdorp'', waar die see verower, maar sy verowering hou verwering in, en eintlik is laasgenoemde die oorheersende elment in die gedig.
Parallel met die see se verowering, wat verwering inhou, is dan die seksdaad teen die einde, waar elke versreël van die slotkoeplet een van die twee opponerende of korrelatiewe elemente stel. ''Kusdorp'' is 'n toonaangewende gedig in Wordende naak.
Die gegewe van die verval word voortgesit in ''Strandhuis'', wat soos die vorige gedig 'n verkenning is van 'n gebied op die grens tussen twee wêrelde. Nog verder word die verval, die aanvreting, die stryd tussen twee kragte voortgesit in ''Strandwandeling''.
Van die beste gedigte (vgl. ook ''Vakansiebrief'') beskryf die ontbinding of selfs dood op hierdie grensgebied van see en land. Maar dan weer: juis die verval, die dood, maak die waarneming van die oog des te skerper en helderder, asof die oog wat die verwording sien, dit wil behou, al is dit in sy ontbindingsproses.
Ons kan dit ook anders stel en sê dat die verwering die digter se taal stimuleer tot verweer, die verweer van die gedig. Om in die taal van ''Strandwandeling II'' te praat: by die aanskouing van die dood hoor die digter asemhaling. Maar weer eens aan die ander kant, as asem verys, verys dit rinkelend, hoorbaar, mooi hoorbaar (''Vakansiebrief'').
In die opweeg van kragte teen mekaar, waarin verwording en verweer die twee hoofelemente is, staan die digter dus sentraal, en hy is die figuur wat in hierdie spel kan ingryp en die eintlike verweerder word.
Die vermoë om vaste of bestendige vorme en gedaantes uit dinge te toor, word beskryf in ''Aprilis'', waar ons kan lees: ''die gode het in alles ingevlug/ en voer nog perdfris dialoog'' - 'n mens sou dit kon verander in: die digter het in alles ingevlug. Met sy pen vaar die digter in plant en dier in en skep daar nuwe vorme en lewe uit, selfs in so 'n mate dat 'n mens jou afvra: wat is plant en wat is dier?
Dit is te verwagte dat waar die digter in die dinge kan invaar en hulle in nuwe gedaantes kan omskep, daar 'n gedig soos ''Correspondences'' in die bundel staan (ek skryf die titel soos dit in die bundel staan), en dan moet ons nie vergeet nie dat die Franse ''correspondance'' ook harmonie beteken - harmonie op 'n eienaardige manier in Wordende naak, harmonie-in-opposisie, ''the equilibrium of opposites''.
'n Gedig soos hierdie wys egter weer vir ons dat die korrespondente of die korrelate, nie altyd op die positiewe uitloop nie: in die eerste strofe is daar volop skeppingskrag, in erotiese beelde beskryf, maar in die slot loop dit uit op toeslikking. Hierdie gedig is weer een van die toonaangewende hoogtepunte in die bundel.
Die seksuele neem 'n belangrike plek in in hierdie verse van kragte meet, van skepping en dood. Die seksuele is soos alles in die digter se wêreld tegelyk kreatief en verwonding. ''Vlug van die koninginby'' is daar 'n pragtige getuienis van, tot in die ritme en klank van die gedig, wat eksplosief in die eerste twee strofes is en stol in die slot.
''Tierblom'' is 'n ander pragtige voorbeeld van hierdie sinlike oopbloei en tewens sinlike instorting. Voortdurend maak die gedigte hierdie paraboolbeweging en weeg die twee kragte teen mekaar op.
Die titel ''wordende'' naak vir die bundel is uitstekend gekies, met 'n goeie insig wat De Lange in sy eie werk het: daar is voortdurend 'n proses aan die gang, wat nooit eintlik voltooi word nie, 'n weegproses wat nie altyd finaal na die een of ander kant toe beslis word nie.
Die digter wat asem gee aan die dinge, of liewer nog: asem haal in en vir die dinge, triomfeer as digter nie altyd nie; wat hy vashou, ontglip hom weer. Dit word baie noukeurig en mooi beskryf in ''Kriptomnesie I'', maar ''Kriptomnesie II'' is weer 'n triomf, al is daar 'n delikate ewewig tussen wit en swart in die gedig.
Tog vind 'n mens soms dat die kreatiewe en dinamiese elemente die kragtigste in die verse is, selfs in 'n gedig soos ''Wisseling'' (die titel sê al baie), wat tot in sy slot nog die digter vasgevang hou. Daar is iets triomfantliks in Wordende naak as geheel, ook al staan daar teen die slot van die bundel gedigte van die donker en stilte soos ''Dylan Thomas'', ''Ingrid Jonker'', ''Selfmoord'' en ander aangrypende en ontroerende gedigte van verspilde saad, pyn en verwonding. Van die mooiste gedigte staan in die slot van die bundel, en is nié triomfantlik in hul strekking nie, egter wel in hul poëtiese krag en skoonheid.
Die voorbeelde van skepping en verval kom uit die natuur, die see, die planteryk, maar dikwels is dit verbind aan die erotiek en is daar ''correspondances'' met die menslike geslagtelikheid, of laasgenoemde word omgekeerd in natuurbeelde omgesit. Lees ''Sonnet aan Orpheus''. Die geslagsdaad self is 'n konflik, stryd, worsteling, 'n geveg tussen twee mense, duidelik en saaklik beskryf in onder meer ''Geveg''.
Dit bring weer eens die saak na vore van die beweeg op 'n grens tussen twee wêrelde. Plotseling gaan die een ding oor in die ander. In ''S'' word die draaiende skil van 'n appel ''eers oureool, dan slang''. Die seksuele ervaring is tegelyk ''genot en pyn'', hard en teer, naak en gekleed, dit is 'n ''selfwisseling'' in De Lange se taal, wat beteken: selfverlies en selfherwinning (''Inlywing'').
Die pynlike is pynlik, maar dit stimuleer tegelyk (vgl. ''Inlywing'' en ''Joe Orton''). Soos plant dier word of dier plant word, so word man selfs vrou en vrou word man; die een het iets van die ander (''Teiresias praat met homself''), want niks is immers heeltemal heel of heeltemal gebroke nie, of heeltemal sy of haar eie self nie.
Daar is min verse in Afrikaans waarin die seksuele so 'n diepte bykry soos in De Lange se verse. Erotiek is trouens nie meer erotiek nie, maar 'n hele persoonlikheidspel. Deur die sensuele beweeg jy ''deur lyf na lyf'' (''Joe Orton'').
Só ook word daar voortdurend beweeg op die grens tussen die visuele en die ouditiewe, en die een gaan dikwels in die ander oor, soos in ''Sonnet aan Orpheus'' byvoorbeeld. Dit gebeur ook in ''Ars poetica'' en met name in ''Glos''. Daar word in klank gepraat van die visuele. Sowel die foniese as die ritmiese waardes van hierdie gedigte is baie hoog. Ek verwys nog na ''Visioen'' en ''Vertrek''.
Hierdie oorgaan van die een in die ander en al die ''correspondances'' skep uiteindelik titels soos ''Poërotica''. Wordende naak is een van die beste en fynste bundels van die laaste tyd, een van die bestes in Afrikaans. Daar is in hierdie verse 'n nuwe dimensie gegee aan die seksuele lewe van die mens; in sy diepste wese word dit verbind aan die persoonlikheid, aan die self, aan die heelheid of verwonding daarvan. Ook aan die natuurwaarneming is met hierdie verse 'n oorspronklike diepte gegee.
De Lange het in Wordende naak die digter van die baie fyn voel en waarneming geword. Hierdie gedigte het die presisering van fotografiese opnames of die visuele nabyheid en waarneming van skilderye.
Ek noem veral die gedigte in die begin, soos ''Skerpskutters'', of die delikate en fyn beskrywing en die merkwaardige details van 'n gedig soos ''Strandwandeling II''. Die beelde bly 'n mens voor die oog sweef: ''die son (wat) al hoër sink'', die ''ligtende iepe (is) 'n nerf op die horison'', of: ''Die oggendson spaander/ van die water weg'', en onder die dag se speurende oog lê ''die baai se omgekeerde skuit''.
Ek dink ook aan die beskrywing van die vriendin in ''Vakansiebrief'':
sy's skerp,
sy't beslis oornag
in die messelaai gelê
Dit is in een enkele sin 'n bundel van goedversorgde, delikate, diepsinnige en uiters mooi verse. Slegs enkele korter gedigte weeg nie op teen die meerderheid nie, maar die uitstekende bundel kan hulle verdra.
***
Johann de Lange se jongste met sterk vorm en beeld
Resensent: J. C. Kannemeyer
Die Burger, 2 Augustus 1990
Johann de Lange. 1990.Wordende naak. Pretoria: HAUM-Literêr.
Die titel van Johann de Lange se jongste bundel is ontleen aan ’n nagelate gedig van Van Wyk Louw. In die titelvers is die spreker die digteres Sheila Cussons wat – met talle reminissensies aan haar eie en Van Wyk Louw se verse – haar lewe terugmymer: haar lewe in ’n Mediterreense land, die “skraal man” wat nie vir sy bier opdaag nie, ’n versaakte huwelik en ’n “vuurproef”, met die vraag aan die slot of dit alles die moeite werd was vir ’n “spookgesig”... in elke slaaplose gedig”. Albei dele van die gedig is gebaseer op foto's van Cussons, laasgenoemde met twee perspektiewe op dieselfde figuur wat verskillende hoeke belig.
Die “wordende naak”-motief word voortgesit in die daaropvolgende verse, agtereenvolgens – weer met die kamera as optiese waarnemer – met die aksent op ’n seun wat in sy “ongeskonde liefdesvont” vermink is (“Skerpskutters”) en op die soldaat wat só gepantser is dat ’n mens jouself kan afvra of hy hoegenaamd verwondbaar is, ’n uitbeelding wat ’n kontras vorm met Van Wyk Louw se “Armed vision”.
Op hierdie verse volg die tweede afdeling van die bundel, wat in sy geheel ’n verslag van ’n vakansie is, telkens met doelbewuste inspelings op verse van ander digters: “Vertrek” waarin die aarde se swaartekrag soos in Ernst van Heerden se “Vliegtuigrit” (Reisiger) getors word; “Strandwandeling” waarin daar met die toespeling op ’n afwysing ’n verwantskap met Stockenström se “By L'Agulhas ’n wandeling” is, al kom hierdie afwysing nou van die see en al spreek die “antieke vrede” van Marsman se Tempel en kruis aan die slot mee; en “Vakansiebrief” , wat aan Opperman se gelyknamige gedig laat dink, al word dié assosiasie nie bevestig nie en word met die briefgegewe eerder Joan Hambidge en Wilma Stockenström betrek.
Die bevredigendste vers in dié afdeling is “Kusdorp”. Uit die insetreël van dié gedig kom ’n hele katalogus dinge sinryk los wat deur die see aangetas word, met die verhouding tussen twee mense en hul “seminale reuk” as kontrasterende slotakkoord. Alhoewel die seksuele reeds van meet af aan in dié bundel ’n markante plek inneem, is dit sterker aanwesig in die derde afdeling waar dit telkens met die natuur verbind word – enersyds gesien as die lokkende én die verswelgende (“Tierblom”), andersyds as ’n “welige krag” , wat met die jare taan (“Correspondences” met sy rivierbeelde aan die slot).
In die vierde afdeling word die seksuele met die kunstenaarskap verbind in die vraag of die digter werklik iets kan skep of uitgelewer is aan die onkeerbare wegsink in die niet (“Kriptomnesie”). “Male Muse” is hier veral ’n voortreflike gedig. Die vraag ontstaan of daar vleeslike kontak gaan plaasvind met die seun wat die digter op papier tot lewe wek, of gaan – met ’n toespeling op Auden – hierdie verpersoonliking van die liefdesgod ’n blote “standbeeld in ’n binnehof” word, gereduseer tot iets stofliks wat nooit ’n werklikheid kan wees nie.
Die daaropvolgende groep verse handel oor die erotiese en die eensaamheid, telkens met natuurbeelde gevoed soos in “Groen” en “Ent”. “Almanak” is ’n wrang voortdigting op die wysie van Villon se “Ballade van die dames van weleer” in Krige se vertaling, maar nou binne ’n uitgesproke homoërotiese raamwerk en met ’n elegiese slot.
Iets van die elegiese is ook aanwesig in die bitter insig in “Teiresias praat met homself” in afdeling VI (“ons is ewig/teen onsself/verdeel/en van mekaar verstoke”), terwyl die sewende afdeling in aansluiting by ’n aantal sterk gedigte in Snel grys fantoom oor niks anders as die dood praat nie.
Soos in sy voorafgaande bundel skryf De Lange ook hier oor gestorwe kunstenaarsgestaltes, onder andere oor Ingrid Jonker aan wie hy reeds in Waterwoestyn ’n vers gewy het. Hier neem dit met die vraag-en-antwoord-tegniek en die herhaling die vorm aan van ’n ballade, al sluit dit ook ten nouste aan by die tradisie van die fabel met sy dierewysheid soos in Leipoldt se “Die koperkapel kom uit sy gat” en Opperman se “Wie't mossie doodgemaak”. Die elegiese oorheers ook in die treffende drieluik “Aan ’n onbekende seun”, “Begrafnis”, die “Selfmoord”-tweeluik en in die agtdelige siklus “Ruïnebesoek” waarmee die bundel sluit.
Alhoewel ’n mens voel dat De Lange nie altyd daarin geslaag het om alle literêre verwysings in Wordende naak sinvol in sy eie verse te benut nie en ’n kragtiger stem dikwels sy eie woord verdof, toon die bundel in sy geheel met die sterk vormgewing en beeldende vermoë ’n vooruitgang op Snel grys fantoom. Die eksplisiete beelding van sy eerste bundel en die estetisering wat Waterwoestyn en sy digterskap as sodanig bedreig het, is hier heeltemal afwesig. Tematies toon die bundel wel nie enige noemenswaardige vernuwing nie, al vind die homoërotiek deur die verbinding met natuurbeelde en die motief van die eensaamheid hier sterker gestalte.
***
’n Kragtige, indrukwekkende bundel
Resensent: Joan Hambidge
Die Burger, 10 Desember 1986
Johann de Lange. 1986. Snel grys fantoom. Kaapstad: Human & Rousseau.
Terwyl daar nog iets eteries, en selfs “esteties”, aanwesig is in Johann de Lange se eerste twee bundels, Akwarelle van die dors en Waterwoestyn, is sy jongste ’n driftige bundel. Die digter het as 't ware nou sy “eie stem” gevind en die menslike paradokse (lewe/dood) word met dieselfde kompromislose aggressie ontgin as by Sylvia Plath.
Herinnering, soos die motto van Mishima sê, is vir die digter soos ’n fantoom, ’n sinnebeeld. Die verhouding tussen illusie en werklikheid word eksplisiet uitgewerk in die gedig “Dood van James Dean” - met die subtitel fata morgana. Die motor was ’n “snel grys fantoom” omdat mense hulle verbeel het dat hulle nog jare daarna die spookmotor van James Dean sien ry het op dieselfde plek as waar die ongeluk gebeur het.
Maar ook Dean is ’n snel grys fantoom, ’n mite wat aanhangers op die “flikkerende silwerdoek” bly vasvang. Die fata morgana-motief word verderaan ook aangetref, bv. in die verse “Pa” , “Swart weduwee” , “Al gaande” en ’n vers oor die digter Ernst van Heerden waarin menslike fantoom-belewings vergestalt word.
Samehangend met die ontdekking van ’n eie stem, is etlike gedigte behep met die self, die ontdekking van die nuwe mense (onder meer knap verwoord in “Laatherfs” se tweede afdeling). Die skryfproses word ook met spieëls verbind en eksplisiet aan onanisme gelykgestel soos in die openingsgedig “Piromaan”.
’n Mens tref ook ’n gay-wêreld aan in hierdie bundel en van die kragtigste verse ontstaan oor (self)liefde, ontnugtering en die soeke na ’n geliefde. Ondanks die “Biker” se hardekwashouding en die spreker in “Impasse” se oënskynlike ongeërgdheid, is byna alles in hierdie bundel herleibaar na ontnugtering, kan Snel grys fantoom gelees word as ’n “diagnose van verlies”. Die belydenis in “geel dag”: “ek kan maar net by benadering leef,/net die voortekens van die volheid weet,” en die uitspraak in “Al gaande”: “die dag is alreeds skadu-beduimeld,” is sekerlik die belangrikste sub-tekste in die bundel.
Juis daarom handel soveel gedigte oor gefnuikte begeertes, is die verganklikheidsmotief só opvallend. Die volgehoue hantering van die vuur- en maan-simbole (en hiermee samehangend water) bevestig De Lange se poëtiese vernuf. Nooit word die simbool énkelduidig of finaal besê nie, maar die aardse elemente word ragfyn verbind, sodat maan verwys na die geboorte van die nuwe mens (á la Jung); verganklikheid; die tydloosheid van die seisoene; én die simbool van liefde . . .
Die hele vierde afdeling is ’n kunsteoretiese besinning. “Oor blomme en bomme” dig oor die spel met verhoudings en kom tot die siniese ontdekking dat poësie nét ’n bloeiwyse is, terwyl “-skap” ’n landskap herlei tot “’n singende boomdiagram”. “Op een snaar en meerstemming” speel op ’n T.T. Cloete-snaar en in “Die wanner” word die skryfdaad gesien as stroping.
In die laaste afdeling is daar knap sketse oor Emily Dickinson, James Dean, Billie Holliday en twee Afrikaanse digters: Pieter Claassens en Ernst van Heerden. Die gedig oor die digter Pieter Claassens is ’n tour de force omdat die belangrikste bundelmotiewe hier saamgesnoer word. Die digter se dood word beskou as ’n maansverduistering:
Vanaand het die maan ‘n skaduwee
soos bloed in sy oog,
en minnaars lê gevlegsel,
opgesluit in mekaar se droefheid.
Wat oorbly na alles, is liefde.
Snel grys fantoom is ’n kragtige, indrukwekkende bundel. Met dié bundel bevestig die digter sy posisie as toonaangewende digter van die jare tagtig. (Resensie verkort.)
***
De Lange bevestig sy talent
Resensent: André P. Brink
Rapport, 7 Desember 1986
Johann de Lange. 1986. Snel grys fantoom. Kaapstad: Human & Rousseau.
Johann de Lange het in 1982 beïndruk met sy debuut Akwarelle van die dors; maar met sy tweede bundel – soos dikwels gebeur – ietwat teruggesak, in sy geval in ’n neiging tot die presieuse en die soeterige (Waterwoestyn, 1984).
Sy jongste bundel, Snel grys fantoom (Human & Rousseau, prys R16,95), is nog nie heeltemal vry te pleit van die instelling op fraaie effek nie, maar is ’n skitterende bevestiging van ’n beduidende talent.
In die sleutelgedig “-skap” (’n titel wat eers sin maak as dit terugwerkend saamgelees word met “Pan-“ op p. 21) is daar ’n verwysing na “die ingeskapenheid / van weerkaatsings”. En dit is opvallend hóé virtuoos De Lange omgaan met die gegewe van weerkaatsings.
Ten eerste: weerkaatsings van die tekste van ander digters. Met Van Wyk Louw word byvoorbeeld ’n digterlike gesprek aangeknoop in “Piromaan” (wat direk die gelykluidende gedig in Tristia aanspreek, en wat ook aan Louw opgedra is), soos ook in “Kunsklas”, die titel van die vierde afdeling, terwyl die pragvers “Laatherfs” ’n antwoord op Louw se “Vroegherfs” vorm.
“Storm oor die see” weerkaats Opperman; in “Androgien” vind T.T. Cloete en Joan Hambidge se Marilyn Monroe-gedigte (soos die arme Marilyn vanslewe aas vir fotograwe was, het sy dit nou vir Afrikaanse digters geword!) ’n weerkaatsing in ’n “meer kontemporêre Monroe”; “Die krieke” klink na ’n weeklank van Ina Rousseau; en die stem van Sheila Cussons is in verskeie gedigte hoorbaar (ietwat steurend in “Moeder Aarde”); William Blake se “Tiger” verskaf ’n sleutel tot die hele kodesisteem van die uitstekende “Bengaalse tier” in De Lange se bundel.
Die hele slotafdeling van elegiese gedigte – o.a. oor Emily Dickinson, James Dean, Ernst van Heerden – asmede gedigte soos “Die wanner” of “Studie van ’n portret van ’n man”, wat as komplemente tot skilderye geskrywe is, verwikkel die konsep van “weerkaatsings”.
Nog boeiender egter is die manier waarop gedigte binne hierdie bundel mekaar sélf reflekteer.
Naas die “Pan-“ en “-skap” waarop ek al gewys het, is die beeld van die maan wat in ’n visdam weerkaats (dus: sélf ’n gegewe refleksie) ’n sentrale element in “As die maan haar spieëltjie” – en dan weer in “-skap”.
Medusa verskyn in “Storm oor die see”, met ’n weerkaatsing in “Fantoomkop”.
Die verbintenis van ejakulasie met vuur word ook vanuit verskillende verse weerkaats na die moederbeeld in “Piromaan”; terwyl die verwikkelde sintaktiese struktuur met die gebruik van hakies in die gedig, mettertyd weer in “Variasie” (beduidende titel) ge-eggo word.
Nog meer intensief werk die proses van weerkaatsing binne bepaalde gedigte. Dit verbaas byvoorbeeld nie dat De Lange hom so aangetrokke voel tot die sonnetvorm met sy beweging-en-teenbeweging nie: maar dan met watter virtuose en gedurfde vervorminge daarvan!
Met behoud van die essensiële “klinkdig”-opset en die skarnierspel van ’n “gegewe” en ’n “toepassing” (of ’n teëbeeld, of ’n komplement), waag De Lange dit om sonnette te skrywe met, byvoorbeeld elf reëls (“Storm oor die see”).
Die hoogtepunt van dié prosedure is stellig “Laatherfs”, bestaande uit twee apart genommerde gedigte.
Die eerste is ’n konvensionele sonnet, soos Louw s’n (en die verhouding tussen die Louw-teks en De Lange s’n, skep sélf weer ’n sonnetgeleding van oerbeeld en “toepassing”), maar hierdie gedig kan op sy beurt gelees as die ekwivalent van ’n oktaaf, waarop die tweede gedig die funksie van ’n sestet vervul.
Inderdáád word hier “iets onsigbaars…voltrek”, soos die slotreël lui: ’n suiweringsproses wat homself algaande uit Louw se greep lósdig, terwyl dit juis ook Louw se oergegewe klinkend bevestig. (’n Ander soort variant van die weerkaatsing-tegniek is “Fantoomkop”, waar twee vyfreëlige strofes op die skarnier van ’n sentrale eenreëlige strofe (“Ek probeer dit weer omkeer”) draai om mekaar te reflekteer.)
Dit is dié soort tegniese vernuf – wat veel dieper gaan as “blote tegniek”! – wat die bundel se betekenislading so verwikkeld en opwindend maak.
Dié betekenisse begin by vuur, vanself verwant aan die seksuele (vgl. opnuut die – letterlik! – seminale openingsgedig “Piromaan” waarin brandstigting, masturbasie, pyn, én die skryfdaad alles merkwaardig saamgedig word).
Hiervandaan stort dit oor in, onder andere, ’n hele afdeling gedigte waarin die lewensdrif pertinent ontgin word (vanaf die pragtige “Bengaalse tier”, via “Geel dag”met sy buitenissige lewensbevestiging, tot by die volle vereenselwiging van mens, arbeid en aarde in “Die wanner”).
Maar dié drif is nooit enkelvoudig nie: die vuur wat in hom setel, brand uit tot as.
Soos Van Heerden se hardloper immer vergesel word van sy skaduwee, is daar ’n snel grys fantoom wat nooit van die lewe losgedig kan word nie (“Jeug is net ’n pou se pavane voor die grys spieël van ’n storm”; “Aan ’n jong seun”). Dit is die uiteindelike sin van die weerkaatsing-gegewe. As die lewe deur die spieël in die raaisel kyk, sien hy die dood.
Dit is die relativerende mag wat die mens in sy nietigheid ontbloot (vgl. “Moeder Aarde”, “Disko”, ens.): “Wat is ’n lyf se verraad gemeet aan die sterre-onmeetlikheid”.
Ontkoming is daar nie. Wat wel moontlik is, is ’n soort suiwering waardeur vlam én as saamgedig word: waar daar nie gekies word tussen alternatiewe nie, maar waar teenstellinge saambestaan – soos in “Laatherfs”, of “Emily Dickinson”, of “Ernst van Heerden”.
En hier kom die poësie te pas. Want van een kant gesien, is die skimbestaan van die woord, die literatuur, self niks meer as ’n grys fantoom vir die heerlike geweld van die lewe nie: maar uiteindelik is juis dié fantoom die wesenlikste vorm van bestaan. Die papier, die woord, vat sélf vlam. Terug by “Piromaan”.
Ek het vroegtydig gesê: die groot gevaar van dié poësie is die neiging tot die “mooi” formulering, die swoele, fraaie, presieuse woord: poësie as literêre masturbasie.
Maar meestal beweeg De Lange net-net by dié gevaarlike afgrond verby.
Juis dit verleen iets duiselingwekkends aan dié bundel. En wanneer die gedigte slaag, soos hier telkens gebeur, dan is hulle werklik voortreflik.