Showing posts with label Charles Malan. Show all posts
Showing posts with label Charles Malan. Show all posts

Monday, March 14, 2011

Vrye Woord: Ope brief aan die bestuur van Media24





_______________________________________________

Vrye Woord is 'n losse groepering van hoofsaaklik Afrikaanse skrywers, akademici, uitgewers en ander belanghebbendes. LitNet is die gasheer vir die nuusbrief (http://www.litnet.co.za/). Ons hoofdoel is om spraak- en meningsvryheid teen toenemende bedreiging te beskerm en die belange van alle skrywers en ander woordwerkers in ‘n ope demokrasie te bevorder. Ons is aan geen politieke of belangegroep verbonde nie. Deur die sytak WikiLigni beoog ons om enige vorm van magsmisbruik, korrupsie en verswyging aan die kaak te stel nadat dit vertroulik aan ons onthul is.

Redaksionele raadgewers: Jeanette Ferreira, Pieter Haasbroek, John Miles en Charl-Pierre Naudé. Redakteur: Charles Malan (hermes@absamail.co.za).
_______________________________________________


Soos onderneem is, is aanbevelings oor die ope brief in ag geneem en die volgende brief aan die bestuur gestuur.


OPE BRIEF AAN DIE BESTUUR VAN MEDIA24


Aan: mnr. Francois Groepe

CC: mnre. Abraham van Zyl, Peet Kruger, Tim du Plessis


Beste mnr. Groepe en ander bestuurslede

Vrye Woord is ‘n drukgroep skrywers wat die vrymoedigheid het om u vrae oor die enkele beoogde nasionale boekeredakteur vir u streekskoerante te vra nadat mnr. Tim du Plessis reeds ‘n basiese verduideliking vir die besluit gegee het en ons dit aan woordwerkers help deurstuur het.

U is bewus van die wydverspreide ontevredenheid oor die stap onder skrywers, uitgewers en ander woordwerkers. Sommige van ons oorweeg selfs 'n boikot indien dit die enigste alternatief is. Die nasionale bylaag word oorwegend gesien as ‘n verskraling van die literêre diskoers en nie ‘n verbreding nie. Die kritiek is reeds uitvoerig beredeneer op webwerwe soos LitNet en Versindaba, asook interne e-poskorrespondensie soos hierdie een wat wyd uitgestuur word.

DIE VRAE

Na raadpleging op al hierdie kuberplatforms oor die aard van ons korrespondensie met u wil ons dus graag die volgende vrae stel:

1 Wat is die basiese motivering vir hierdie sentralisering van redaksionele verantwoordelikheid? Is dit werklik slegs “beter gehalte” in ‘n gesentraliseerde blad, soos ons meegedeel word? As dit ook besparing is, hoeveel word werklik bespaar?

2 Waarom sou 'n enkele nasionale boekeredakteur die redaksionele werk beter kon doen nadat drie streekredakteurs van boekeblaaie en (aanvanklik) By volgens Media24 'n onvoldoende/ondoelmatige diens gelewer het? Gaan so 'n superredakteur dus onbeperkte bladruimte tot sy/haar beskikking hê om alles te dek wat in die verlede oorgeslaan is?

3 Is meerstemmigheid in literêre en verwante besprekings belangrik en hoe word dit hierna geakkommodeer, behalwe deur die keuses van die superredakteur wat sekerlik nie telkens drie resensies oor ‘n bepaalde boek gaan publiseer nie?

4 Is redaksionele meerstemmigheid en besluitneming oor boekverwante sake in die drie streke van die dagblaaie belangrik en wat gaan nou daarvan word?

5 Gaan die nuwe superredakteur by magte wees om landwyd te weet watter persoonlike oorweging agter die moontlike bespreking van ’n publikasie deur ‘n bepaalde resensent kan skuil in die lig van verskillende onderstrominge in die literêre wêreld?

6 Gaan daar naas die superredakteur ook nou ’n uitgesoekte groepie superresensente wees wat volkome objektief alles kan beoordeel sodat almal landwyd hulle oordeel in (gewoonlik) ‘n enkele resensie moet aanvaar? Kortweg: sal hulle dus in die posisie wees om ’n publikasie te kan “maak of breek”?

7 Gaan die verskeidenheid huidige literêre blaaie en bylaes (met die uitsondering van Rapport en Huisgenoot) nou in die nuwe superuitgawe opgeneem word sodat een uitgawe oor alles van alle boekesake vanoor die land en veral ook in die streke verslag sal doen?

8 Daar is waardering vir Rapport se boekebylaag as ‘n bykomende besprekingskanaal (hoewel talle nuwe boeke nie bespreek word nie), maar is Huisgenoot soos dit tans lyk, ook enigsins ‘n realistiese alternatief, soos ons meegedeel is?

DIE VERHOUDING MET MEDIA24

Media24 het duisende woordwerkers in sy diens, direk of indirek. Minstens honderde van ons se belange word deur hierdie plan vir ’n superredaksie geraak. Talle van ons as skrywers is onder Media24 en in die besonder NB-uitgewers se vleuels. Ons glo dus u sal verstaan as ons antwoorde op die vrae hierbo versoek.

Ons het geensins ‘n “vete” met u nie, want die woordwerkers, media, uitgewers en ander belanghebbers is wedersyds van mekaar afhanklik. Ons glo ook dat Media24 ons belange op die hart dra. Die meerderheid van ons is egter oortuig daarvan dat hier ‘n groot inperking van die literêre, intellektuele en akademiese diskoers gaan plaasvind. Afrikaanssprekendes se intellektuele ruimte is daagliks besig om te verskraal as gevolg van faktore soos ‘n regering wat steeds minder in ons regte belangstel en kommersiële instellings wat steeds meer verengels. Skrywers, akademici en ander denkers se bydrae in hierdie beperkte diskoers is van vanselfsprekende belang en mag nie verder ingeperk word nie.

Ons maak staat op u besinning oor soveel gedeelde belange. Dankie vir die aandag wat u, en in die besonder mnr. Du Plessis, reeds aan die aangeleentheid gegee het. Vrye Woord sal almal op hierdie groter forum op die hoogte hou van die korrespondensie oor die saak met Media24 en noukeurig nagaan wat met die beoogde superpublikasie gebeur.

Ons hoop egter dit is nog nie te laat vir herbesinning daaroor nie. Verskeie skrywers het reeds daarop gewys dat die nuwe superredakteur in 'n onhoudbare situasie geplaas gaan word omdat kritiek landwyd gaan instroom. Talle van ons glo dat dit 'n veel beter opsie is om die bestaande boekeblaaie in u drie streekskoerante met onder meer permanente redakteurs te verstewig. Daar is reeds die agterdeur oop gelaat dat Media24 maar eers "moet kyk hoe dit werk" - maar waarom wag totdat dit klaablyklik volgens soveel kundiges en 'n reeks argumente nie gaan werk nie?

Miskien moet ons bloot wag totdat u na die aansoeke vind dat 'n alwetende en dapper superredakteur nie daaronder tel nie!

Vriendelike groete

Charles Malan
Koördineerder, Vrye Woord


Lees ook:
Marga Collings: Nuwe skrywersorganisasie onder bespreking [Versindaba]
Francis Galloway: Afrikaanse skrywersvergadering: ’n mondstuk vir skrywers [Litnet]

Tuesday, March 1, 2011

Die Groot Sáámraping II

Breyten Breytenbach [Fotograaf: Luigi Novi]

Breyten Breytenbach het vandag 'n hernude oproep op die Afrikaanse skrywersgemeenskap gedoen om verdeeldheid in eie geledere te laat vaar & gemobiliseer te raak & as 'n groep saam te werk téén wat alom beskou word as 'n potensiële verarming van die literêre bedryf. E-posse vlieg heen & weer tussen die verskillende partye & spelers. Die Afrikaanse uitgewers het ook van hulle laat begin hoor & hulle outeurs probeer verseker daarvan dat hulle belange op die hart gedra word. 'n Mens sou egter sonder té veel inspanning 'n aantal insidente uit die afgelope klompie jare (& vérder terug) kon versamel waaruit die minagting jeens Afrikaanse outeurs óók & júis vanuit uitgewersgeledere geblyk het. But let bygones be bye-gones.

Hier is Breyten se vurige aanporring:

Vriende, kantoorprotestante, woestyngeuse, kameeldrywers, dwaalgeeste en klavierkenners:

Kom ons gaan 'n bietjie verder. Ek wil my veroorloof om 'n paar punte te maak waarvan julle almal baie bewus is, oftewel dan 'n paar honde in die bos gooi.

1. Daar is nie 'n gebrek aan lewenskrag onder Afrikaanse skrywers nie. Die verskeidenheid en kwaliteit werk wat gedoen word is nogal indrukwekkend - veral vir 'n 'minor language' (in Deleuze-hulle se definisie) vir wie die staatsspene opgedroog het. Dit moet darem seker beteken dat daar nog 'n taamlike klompie nuuskierige en oordeelkundige lesers daar buite is. Dit beteken ook dat daar nog 'n organiese verbintenis tussen taal ('n spesifieke taal) en eksistensiële bevraagtekening en verkenning is.

2. Afrikaans se reikwydte het gekrimp. Amptelik is sy in haar glory. Dink maar Afrikaanse departemente aan universiteite, dink staatsinstellings, dink aan die selfingenome barbaarse pragmatisme van die nouveaux riches, dink tydskrifte, dink ontleding en navorsing, dink aan die onverkwiklike bakleiery om resensieruimte en -diversiteit. Dink taal.

3. Dink veral taal. Hoeveel ruimte vir skeppende denke is daar nog in Afrikaans? (Ek praat nou nie van die 'vryheid' wat elke mens het om siel-alleen op sy eie mishoop te sit en dink net wat hy lus het nie.) Kan ons in Afrikaans nog met heilige onrus die onrusbarende kwessies van en rondom identiteit, geheue, geskiedenis, kreolisering, etiek, saam-mekaar-andersmaak, die stryd teen magskorrupsie... aansny? Want dis hierdie veranderingskrag wat slegs in die moedertong tot haar reg en potensiaal kan kom. Wat sou die resepsie en die impak van 'n Johan Degenaar of 'n Adam Small of 'n Jan Rabie of 'n MER vandag gewees het?

4. En dis nie die ANC se skuld nie. Daar was 'n tyd toe baie van ons geglo het die ANC se hartsaak is om die potensiaal van taal en diversiteit en sosiale en ekonomiese geregtigheid te ontsluit. Eisj, my tjaainas... (Maar dit beteken nie dat ons die droom en die najaag van 'n regverdiger Mzansi moet laat vaar nie.) Ons vernouing is ons eie toedoen. Óf ons krepeer/emigreer óf ons kruip onder die vaandel van "die etiek van stilte en skaamskande" en kruip weg agter die mure van ons weelderige kampongs.

5. Ons kan vergeet van die institusionele kultuurdrakrag en -ruimte van die sg. 'Afrikaanse' instansies en sake. Hulle gaan ons nie optel langs die pad nie. Hulle is net so gierig en winsgedrewe soos enige ander besigheid. Hulle lewe in die 'regte wêreld' van korrupsie en aansien en invloed en gjelt en Black Economic Entitlement. Hoekom sou ons ons in ieder geval verlaat op 'n patriargie? Die verryking van Afrikaans as nodige ontginning van die burgerlike samelewing se potensiaal is nie vir hulle 'n prioriteit nie. As ons nou maar Chinese kon wees... Die toekoms, sal hulle vir jou sê (wanneer dit nou gaan oor kommunikasie wat eintlik slegs bemarking van self of ander vulgariteite is), lê in die kuberruim, loop en skree nie in die strate van Tunis of Kaïro nie.

6. Ons blaf teen 'n toe deur wanneer ons vra dat Media24 tog asseblief nog 'n bietjie genade moet betoon vir die afvlerk Afrikaanse denk- en skepwêreld. Hulle sal vir ons verduidelik hulle het nie meer geld nie. Hulle lieg, maar niemand sal hulle daarvan kan oortuig nie want 'n korporasie het sy eie oorlewingsinstinkte.

Nou wat dan?

Ek dink een van ons swakhede is dat ons nie saam stem dik kan maak as burgers van "die republiek van lettere" nie. (En is dit nie 'n taalstaat nie?) So, my eerste voorstel is dat ons 'n vakbond of 'n unie van skrywers en ander literêre betrokkenes op die been bring. Kom ons noem dit "Solidariteit Afrikaanse Skrywersunie" en affilieer dit met die Solidariteit vakbondsbeweging. Dan kan ons ook sommer "teruggaan na die basis" toe en met die hulp van Solidariteit Helpende Hand bewus word van die haglike omstandighede waaronder mense wat deur die krake geval het en teen wie daar gediskrimineer word moet oorlewe.

My tweede voorstel is dat daar nuwe lewe geblaas moet word in 'n joernaal (ook aanlyn) soos Tydskrif vir Letterkunde, dat so 'n 'kollektief' die diversiteit van lees en resenseer kan genereer en federeer, en dat die kaleidoskopiese sienings vandaar aan Afrikaanse koerante en ander publikasies beskikbaar gemaak word. En dis verdomp nie onvermydellik dat lesers tot verdomming verdoem hoef te word nie. Die monopolistiese Media24 sal nie ruimte in hulle publikasies kan bly beskikbaar maak nie tensy 'n ander instansie daarvoor betaal nie.

My derde voorstel is daarom dat 'n Afrikaanse Literêre Ontwikkelingsfonds gestig word, geborg deur die privaatsektor en deur bydraes, om Afrikaans te bly dra.

Buiteblaf

Sien ook:
Louis Esterhuizen - In reaksie op Tim du Plessis [Versindaba]
Louis Esterhuizen - Nasionale Boekeredakteur: die gesprek tot dusver
Willie Burger - Die minagting vir die boekeblad by Media24 [Litnet]
Crito - Die verhaal van vervlakking en agteruitgang[Litnet]
Ampie Coetzee - Sentralisering is die weg na totale beheer[Litnet]
Charles Malan: Ope brief aan Tim du Plessis

Sunday, February 27, 2011

Die Groot Sáámraping

Breyten Breytenbach by die bekendstelling 
van die beginsel van stof  [Foto: Stefan Möhl]

Media24 se aankondiging van hulle voorneme om 'n enkele boekeredakteur aan te stel (verkieslik uit eie geledere) wat in beheer sal wees van die boekeblaaie van Die Burger, Beeld, Volksblad, & By, het groot ontevredenheid in skrywersgeledere veroorsaak.

Dit is eintlik maar deel van die groter inflasie wat op die oomblik binne die Afrikaanse letterkunde & leefwêreld aan die gang is. Wanneer dit kom by oorhaastige besluite ten opsigte van boekeblaaie & literêre tydskrifte, kan hierdie tendens so ver terug gevoer word as die ontydige & onnodige keelafsny van Standpunte, die toemaak van Boeke-Insig & meer onlangs die besuiniging by Rapport toe die posisie van boekeredakteur effektief gevries is. Die boekeblad word sedertdien deur 'n personeellid, Anastasia de Vries, behartig.

Ek kry vanoggend per e-pos 'n skrywe van Breyten Breytenbach waar hy hom uitlaat teen die voorgenome besluit van Media24, & vra dat skrywers, lesers & belangstellendes wat die gevare van só 'n besluit insien, hulle stemme moet dik maak & 'n petisie onderteken:

Kollega’s, mede-skrywers (mede-sterwendes), uitgewers en ingewers, resensente, boekmense,

Soos julle weet adverteer Media24 tans die pos van Nasionale Boekeredakteur oorkoepelend vir Die Burger, Beeld, Volksblad, By met “voorkeur aan kandidate uit die aangewese groepe”, wat dit ook mag beteken. Die bedoeling is om een persoon te hê wat dan die kitaar gaan slaan vir al die boekeblaaie. Die rede vir die sentralisering en afskaling is seker ekonomies, maar ek dink dis ’n dom rede. Lees asseblief die aangehegte protesskrif (sien heel onder - JdL) en kyk of julle daarmee saamstem. Indien wel, onderteken dit en laat ons dit dan aanstuur vir die Afrikaanse koerante so spoedig moontlik. (“Dis beter om die yster te slaan vir alarm voordat dit gebruik word om jou mee te dônner” – Kongfoe.)
[. . .]
Mens het begrip vir diegene wat vir Media24 werk en voel julle wil liewer nie op dié manier stem maak nie. Maar alhoewel dit nie so belangrik is as die aangekondigde wegraping nie is dit nogtans ’n ontstellende ‘hoër saak’. Miskien kan julle dan dink aan ander maniere om julle besware te lug?

Ek het ’n mankolieke adreslys en hierdie is nie Tunisië nie. Miskien kan julle vanaf julle webwerwe en duine die protes ook onder ander se aandag bring om dit so verteenwoordigend moontlik te maak.

Met groete,
Breyten Breytenbach

As jy saam met ander eendersdenkendes wil beswaar aanteken, sny-&-plak gewoon die onderstaande protesskrif en stuur dit na aansoeke@rapport.co.za vóór 4 Maart 2011. Litnet sluit aan by die protesveldtog in die vorm van 'n mini-seminaar. Die ideale geleentheid om ook jou eie opinie te laat hoor.


Protesskrif

As mense betrokke by die skryfwêreld wil ons ten sterkste beswaar maak teen die inisiatief van Media24 om die regulering van resensies in die Afrikaanse koerante toe te vertrou aan ’n enkele Nasionale Boekeredakteur. Vir die literatuur is ’n neiging na hegemonie of ortodoksie in meningvorming altyd ’n verstarring. Op ’n tydstip waar daar juis behoefte is aan die verryking van die literêre wêreld en die bevordering van diversiteit in opinies en uitdrukkingsvorme, sal dit ’n kwade dag wees wanneer die koördinering van mening en mag in die hande gegee word van één über literêre redakteur of raadgewer.

Litnet
Breyten Breytenbach - Die dwaasheid van die base
Charl-Pierre Naudé - Waarom een boekeredakteur verkeerd is
Joan Hambidge - Boekskandaal
Gerrit Brand - 'n Doelbewuste strategie van “afdomming”
Tim du Plessis - ’n Verruiming eerder as verskraling
Charles Malan - ’n Superredakteur vir superbesluite by Media24?
Kerneels Breytenbach - Diversiteit van resensies is van allergrootste belang
Marga Collings - Resensies in die dagblaaie is ’n voedingsaar tot die diskoers
Eloise Wessels, Charles Malan, Gerrit Brand - Verruiming of verskraling?


Versindaba
Nee vir ‘n Nasionale Boekeredakteur


Sien ook:
Die Heupvuur-debat rondom Crito & resensies op Litnet.
Plan om één boekeredakteur aan te stel gekritiseerProtes teen aanstelling van een Nasionale Boekredakteur vir Media24-publikasies

Chris Thurman - Crrritics and writers - the latest instalment
Irma du Plessis - Die verlies van ontdek wie ons nog kan word