Sunday, December 9, 2012

Verse vir Ernst

Ernst van Heerden (1916 - 1997)


Inhoud

Hennie Aucamp – Drie Kwatryne
Johann de Lange – Sprinkaan
Elisabeth Eybers – Waarneming
W.E.G. Louw – Amsterdam, September 1939
D.J. Opperman – Antieke klok
S.J. Pretorius – Raad aan Oisin
Ina Rousseau – Kallus

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Hennie Aucamp (Foto: Johann de Lange)

Drie Kwatryne
Hennie Aucamp

Allerheiligeaand

Skrik iemand nog vir koupampoen?
Maar kyk, dit is die spookseisoen
en elke kop, soos ’n gedig,
straal deur sy holtes bietjies lig.


Memento mori I
na John Betjeman

Hy het óú restaurants verkies,
aartappels skil en al:
nou is sy mond ’n wydoop gat
waarin die donker aarde val.


Memento mori II

Geen kastanjette wat meer klepper,
haar kake is nou sonder spier –
maar by haar mond uit – Carmencita! –
hang steeds ’n bloedrooi angelier.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Breyten Breytenbach (Foto: Loanna Hoffmann)


Die jammerlappie
Breyten Breytenbach

vir Ernst van Heerden

“Eres libre si te olvidas el nombre del jefe”
Iosif Brodskij

1.
daar oorkant die vlei
staan ’n mooi rooi blom
hoe sal ek maak om by haar te kom
dis te ver om te loop
dis te na om te ry
hoe sal ek maak om die blom te kry

sonbesies is stilte. na ’n tyd
hoor mens nie meer die dorrer gorrel
van die nagtegaal nie,
boomsingertjies soos ’n kritselende orrel
met ’n temerige tema
van die silwerspel van hitte
het alle klanke verorber
en ’n wit gat uit die dag gevreet

ontbinding is wet. Losmaak
en vasmaak gaan om één gordel,
motief sluip soos ’n dief
katvoet deur die wit spasies
tussen die lyne op jag
na die note van slaperige voëls:
as jy met die middag
onder die son se geraamterige oog
digby die wit stilte van die vyeboom loop
dan ruik jy ’n ander werklikheid

die dooies dra donker sokkies. in Suidland
onder rookvure van onsigbare sterre
toyi-toyi kamma-kamerade in optog
deur die strate al agter die kaalgat koning aan:
Rewolusie, die  sondebok
met die oog-oog oë van ’n uitgeteerde kind
gaan geslag word en geëet, en as ek dink
my ma het my geleer om nooit
aan tafel te praat met ’n hart
vol verdriet nie

hoe om hierdie landskap in vers te laat vertaal
as ’n aardse omgang met die alledaagse:
’n raap is ’n ding wat brom in die grond
’n roos is ’n mond wat vaas in die geheue
vir die rangskikking van rooi prewelinge

skynbeweging. met skemerval kie-rie
kie-rie die doodvoël se sang ’n floerserige vlug
van boom tot boom
aan die periferie van die gesigveld

die lug se keel trek toe. met pik en hark op die rug
kom ek terug van die land:
muskiete sing hul sutras om my ore,
’n vlermuis het die sin van sokkies brei verloor,
motief is tog nie te verwar met rede,
deur ’n keisersnee het die son donkerte gebaar
en die luglyn is versadig van bloed,
vanaand tree die maan weer op die verhoog
met ’n heuningkleur toga oor die pokke

die nag kry gesig. die pieke word gevou
in die plooie, ek trek my sokkies aan en droom
van die hemel en luister na Suidland
se ritselende nuus oor die eter van motorbomme
of karaktermoord of die aktivis
met die elektriese tong wat gekortsluit het:
dis die voorvaders
wat so raas
in my gesprek
om opstand

as die donderpadda brul kom die rivier reeds af
en blitsige insigte gaan begin te kere:
onhandig op donker sokkies moet ek hardloop
om die dood vooruit te bly
in die modderige bed

dis nie myne nie
dis nie joune nie
dis anderman se vrou wat ons na vry


2.
dit staan vas:
buite die kolonie woorde bestaan die vers nie
al buik hy ook sy longe uit

soos spookfetusse as vrugte
van Rewolusie se fantoomgeswel
kom die gryskop leiers uit die binneste
duisternis van tronke of die buitenste
verblindings van ballingskap –
spinnekoppe sonder kwyl
onvas op die pote
en met mummies in die mond:
die hart het reise wat die mensdom
nie van weet nie
en om weg te hardloop is ook ’n bevrydingstegniek
(wat hét geword van die hoede?)

kyk hoe draf die emeritus digter

kinders het na my huis gekom
en prentjies geteken van engele
wat vlieg in die papier –
buite het die sonbesies alle klank
uit die dag geritsel
tot ’n silwer stilwees van hitte –
en net vlinders het nog beweeg
as die applous van een hand
binne kontoere van ’n ewige sin –
was daar ook betekenis?
iewers is die gedig soos ’n vyeboom
waarvan die vye nog nie ryp is nie
maar reeds met die reuk van groen aanwesigheid:
agter die verdonkermaande engelevlerke
was die brief van ’n vriend uit Suidland
geskrywe in Rewolusie se geluidlose
bitter swart melk –

ek dra oor van die kolom van geheue
alle informasie na die rekenaar se huig
en kry so ’n argief elektronies gegroef
op die week bewussynswerwel –
wat is tog hierdie leë eggekamer vir gekke
eksistensiële vrae?

want daar is geen oorwinning nie:
alleen dood in die hand geneem as skaduwee
al drawwende tussen die bene

hardloop, wanneer jy fiks is
laat sak die hart en maak die kop los;
is jy onfiks laat sak dit jou kop
en maak van jou hart ’n hoer
wat hand in die sy gaan staan en tros
asof sy dink sy is God se gif
aan die wêreld se draadtrekkers

die swartwit ekster alleen
op die vars geploegde land: ’n sersant-
majoor in die Heilsleër
(wat het geword van die pet?)

indien ek al die televisiekanale van die heelal
in een stroom sou lei
en die aggregaat verteer
tot die Laagste Gemene Deler:
dan het ek die Ware Liggaam van God gekry
(wat hét geword van die kroon?)

aan die kuste van eilande
word swart verstekelinge oorboord gegooi
om sonder onderbroek of naam
in die vreemde uit te spoel –
vlugtelinge van ’n burgeroorlog
waar bedwelmende oorlewendes
geklee in pers togas en mondiale World Cup-sokkerhempies
met gris-gris en keile mekaar onthoof
(wat hét geword van die keile?)

die purper mantel bloed
argeloos gedrapeer
oor die stier se donker skof

die seremoniële passies, een keer
nog die hoof gelig om met skadu-oë uit te kyk
oor die ryk van sluipmoordenaars en idiote

dan sak die snoet
half ongeduldig
vir die ontbloting van lig uit die rooi doek

hulle weet nie wat dit is
om gebore te word vir sterwe nie!

dan tog nog die koggelende uitsteek
van die tong,
horings soos ’n koningshoed in die stof

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Johann de Lange

Sprinkaan
Johann de Lange

vir Ernst

Ken u ’n groen sprinkaan?

Oor Kerkplein kom hy
teen bitsige werwelwinde
in gebeur een wintersoggend
kompleet met vliegbril
soos ’n transatlantiese
pionier-vlieënier,
’n vreemde groen gedoente,
kom hy in met sagte
pienk binnevlerke
u i t g e s p r e i
om op my skouer te land.

Ek draai my kop
’n tydlose aks
om my besoeker te takseer:
die lyf van skutmetaal,
die groen bril
waardeur hy my betrag,
onverwonderd, strak.

Maar my skouer blyk
’n onstabiele landingstrook.
Sy enjin snor weer aan,
hy sirkel ’n slag
skepties om my molog-kop
& sit dan swalkend noord
sy antieke vlugplan voort.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~


Elisabeth Eybers


Waarneming
Elisabeth Eybers

Hoe ingewikkeld weerloos is die mens,
jy sou hom eerder uit die weg moet gaan,
tog kom dit voor dat jy teenoor hom staan
sonder gebruiksaanwysing, met die wens
dat julle saam iets van mekaar mag leer
binne die sober voorbestemde perk.
Gaan dan met groot omsigtigheid te werk:
van alles waaraan hy hom kan beseer
– hy wat so seldsaam letselvatbaar is –
sal jy jou nooit volledig vergewis
vóór dit te laat is om hom af te weer.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

W.E.G. Louw (1913 - 1980)


Amsterdam, September 1939
W.E.G. Louw

Niks sal ooit weer wees soos dit daardie somer was:
die water van die Spiegelgracht lê swart soos glas;

die brûe, boë, bome en lampe ry op ry
wieg lui-lui heen en weer as ’n bootjie daaroor gly;

en deur die mis wat instoot van die see terwyl
die skemer teen die gewels styg, klink vér en yl,

asof gesprinkel, ’n wysietjie uit ’n toringklok.
Maar dis reeds oorlog! Die besef tree skielik met ’n skok!

Ons wis dit séker ’n herfsmiddag, later, toe eindelik
ons skip die oop see kies en ons ’n laaste blik

vergun word van die kus – die strand, die kaal, wit duin
en ’n vuurtoring, donker, teen die donker, lae kruin;

en toe, ’n kwartiertjie later, in die Noordsee, mis ons boot
rakelings ’n myn wat los dryf in die see – en óns die dood.

Ons vaar dan verder: ’n helder driekleur aan die mas…
Maar niks sou ooit weer wees, soos dit daardie somer was.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

D.J. Opperman (1914 - 1985)


Antieke klok
D. J. Opperman

Vir Ernst van Heerden – wat vir TV se gebruik
’n lykrede oor my gelewer het

Uit die aamborstige getik
van die antieke
meubelstuk
van bal en klou,
het jy op Pearston ooit kon dink
jy is vir nagraadse lesse
anatomies voorbeskik
vir slyp en klik
van goddelike messe?

Die stetoskoop
proe eers jou bors,
jou rug, jou hart,
jou pees en vlees
verklaar
jou fris uit die Karoo
geskik
vir die operasie: gees.

Jou een voet
geamputeer. Jy word
weer op die skaal gegooi –
nog ’n fraksie afgeflens…
die wyster wys
jy is twaalf kilo
nog te veel flirtasie mens.

Weer op die blok:
die een been afgesaag –
die wyster sak,
kwart voor twaalf –
uit die Karoo: skilpad en akkedis –
die prys en bloeddruk laag,
die kopers kyk
en vergelyk
maar koop nie graag.

Nou kom daardie uur
van ons menslike natuur
waar ’n simpatiese gestel
deur die skepping heen
jou na die afwesige –
’n mens/’n ander been –
verteer met kouevuur.

Jy word vir keurders opgeveil:
’n sonvis –
tussen waaiervinne
die spleet van ’n mosselmond
met die lippe effens oop
en die tong as mossel binne.

Van vorm tot vorm
gekerf en weer gekerf
tot bekoorlike barok
vir daardie blik
van die antieke klok
wat sonder mededoë
stop of tik
waar jy en ek
soldaat en akkedis
tot kille kuns verstrak
voor opwengate
van diep medusa-oë.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

S.J. Pretorius (1917 - 1995)


Raad aan Oisin
S.J. Pretorius

vir Ernst

Tir Nan Og is die wêreld van die syn,
jou liefste Niamh waar in ewigheid
die lewe lag, die ware werklikheid
met liefde en musiek sonder die pyn
en sielsverlies van alles wat verdwyn
in desillusie en verganklikheid
waar swaar kohorte van die dood en tyd
steeds storm oor die wêreld van die skyn.
Verlang nie huis toe trug nie, nee o nee,
woon op jou silwer eiland in die see
o siel, want daar’s geen ander onderkome
vir jou as in die wêreld van jou drome.
Láát wie hier laag wil sterf in Fenian,
maar yl jy na die ewigheid met Bran.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Ina Rousseau (1926 - 2005)


Kallus
Ina Rousseau

Sonder meer word daar gespeel
met byle en pyle.    Oral is
die skerpte van glasskerwe
of die sterkte van dorsstokke
en pikstele.    En die staketsel
wat met elsspits spyle
ons persele afbaken, ook dié
beskerm of dien ons nié,
maar berokken ons
nog ernstiger letsels
wat baie langsaam heel.
                        Uit wondweefsel
Is ons lewens saamgestel.



[Verse uit: Verse vir Ernst, Tafelberg-Uitgewers: 1991]