W.H. Auden @ St. Mark's Place
Musée des Beaux Arts
W. H.
Auden
Wat lyding aanbetref was hulle nooit verkeerd nie
die Ou Meesters: hoe goed begryp hulle
sy menslike posisie; hoe dit gebeur
terwyl iemand anders eet of ’n venster oopmaak of net domweg
aanstap;
hoe, wanneer die bejaardes eerbiedig, smagtend wag
op die wonderbaarlike geboorte, daar altyd kinders moet wees
wat dit nie besonder graag begeer nie, skaatsend
op ’n dam aan die rand van die woud:
hulle het nooit vergeet
dat selfs die verskriklike martelaarskap sy gang moet gaan
nie
sommerso in ’n hoekie, die een of ander slordige plekkie
waar die honde voortgaan met hulle hondelewens en die
martelaar se perd
sy onskuldige agterent staan en skuur teen ’n boom.
In Breughel se Ikarus,
byvoorbeeld: hoe alles heel tydsaam
wegkeer van die ramp; die ploegman mog
die plons gehoor het, die wanhopige skreeu,
maar vir hom was dit nie ’n belangrike mislukking nie; die
son het geskyn,
soos dit moet, op die wit bene wat verdwyn het in die groen
water; en die kosbare delikate skip wat iets ongeloofliks
moes gesien het, ’n seun wat uit die lug uit val,
was iewers heen op pad en het rustig aangeseil.
(Vertaal deur Johann de Lange)