Each memorable verse of a true poet has two or three times the written content.
– Alfred de Musset, Le Poète déchu, 1839
Die skryf van dié tipe artikel is selde sonder slaggate: dit is onvermydelik voorskriftelik & as sodanig druis dit in teen álles wat ek in verband met poësie geleer het; dis beperkend, kan patroniserend klink, & laat nie genoeg speelruimte vir die individuele talent nie. En dan is dit ook noodgedwonge vereenvoudigend van iets so kompleks as die skryf van ’n gedig. Daar is geen reëls in die poësie nie. Wys my ’n reël & ek wys jou ’n gedig wat dit vindingryk oortree. Ek storm nietemin in waar engele huiwer om voet neer te sit, want ek glo dat niks op aarde werklike talent kan onderkry nie.
Die skryf van dié tipe artikel is selde sonder slaggate: dit is onvermydelik voorskriftelik & as sodanig druis dit in teen álles wat ek in verband met poësie geleer het; dis beperkend, kan patroniserend klink, & laat nie genoeg speelruimte vir die individuele talent nie. En dan is dit ook noodgedwonge vereenvoudigend van iets so kompleks as die skryf van ’n gedig. Daar is geen reëls in die poësie nie. Wys my ’n reël & ek wys jou ’n gedig wat dit vindingryk oortree. Ek storm nietemin in waar engele huiwer om voet neer te sit, want ek glo dat niks op aarde werklike talent kan onderkry nie.
Wat hier volg, is indrukke & gevolgtrekkings wat ek deur die jare versamel het uit my eie bemoeienis met die medium, uit so wyd as moontlik poësie lees, uit my deelname aan skryfwerkswinkels (aan beide kante van die lessenaar), & uit my rol as keurder vir uitgewers. Dan is daar ook die folio’s wat soms op die vreemdste plekke in my hand gestop word, dik intimiderende koeverte wat in my posbus beland, of deesdae e-posse met aanhegsels. Skryf is nié – soos baie meen – die tydverdryf van sensitiewe siele nie: die skeppingsdrang is ’n universele, byna instinktiewe impuls – & onverwoesbaar daarby.
I. Die vereiste van vakmanskap
A poet is, before anything else, a person who is passionately in love with language.
– W. H. Auden
Gedigte is die resultaat van 1% inspirasie & 99% perspirasie. ’n Dictum waarmee alle skrywers bekend is. Daarbenewens moet jy ook jou medium, jou vák ken. Vakmanskap is nodig om daardie eerste impuls deur te sien. Waar dit ontbreek, misluk die beste idees.
Hoewel gedigte meer dikwels deur die een of ander kreatiewe inval of idee van die digter ingegee word, kan die jong skrywer gerus in die oog hou dat gedigte uit woorde & nie uit idees bestaan nie. Cesare Pavese het geskryf: “When writing poetry, it is not inspiration that produces bright ideas, but the bright idea that kindles the fire of inspiration.” Dit is wanneer die digter oor die nodige vakmanskap beskik om iéts van die “bright idea” te máák, dat skryf werklik ’n geïnspireerde aktiwiteit word. Oftewel: chance favours the prepared mind.
Alhoewel dit deesdae die mode is om Engels in Afrikaanse gedigte te gebruik, & dit in bedrewe hande hoogs funksioneel kan wees, wil ek die jong digter aanraai om baie spaarsamig met hierdie modegier om te gaan. Gedagtig aan Auden se uitspraak hierbo, is ’n digter iemand wat in die allereerste plek lief is vir sy taal. Die versoeking om te gryp na kitsklaar frases in Engels is meer dikwels as nié die resultaat van luiheid.
Deel van die plesier van skryf is júis daardie soek na die regte woord of beeld. Onlangs het Loftus Marais se gedig rondom kersfees in die spervuur beland vanweë sy gebruik van Engels in die teks. Ek vermoed dit was sy bedoeling om met die Engelse cliché’s kommentaar te lewer op die banaliteit, die ontluistering van kersfees. En hoewel mens seker ’n argument daarvoor sou kon uitmaak, kan ek nie help om te wonder of daar dan nie Afrikaanse cliché’s rondom kersfees is nie, & of die digter nie met ’n bietjie ekstra werk daarby sou uitgekom het nie.
Ek wil beklemtoon dat ek nie onnodig puristies wil wees hieroor nie, maar ek glo wél dat 'n digter respek vir sy medium moet hê. Ek gebruik sélf by geleentheid Engels, maar net wanneer ek voel dat ek nie ’n bevredigende Afrikaanse eweknie vir die begrip kan vind nie, of wanneer ek na ’n Engelse teks of konsep wil verwys. Besluit maar self. Hier is die gedig:
Studie met krismisboom en kat
Kersfees 2009
die swart kat jessy (pragtig so dragtig)
is uitgestrek langs ’n krismisboom
van goedkoop plastiek:
oh nativity for the 21st century
eers dink jy niks kan méér verskil nie:
die kalm feit van ’n ronde kat
en die cross-dressing boom
se metafisika van kitsch
om gelyk te kyk na die ritme van die kat se asem
én die ritme van die elektriese liggies
is ’n visuele weergawe
van om “she sells sea shells on the sea shore” te sê
die pels (fyn soos ystervylsels
in magnetiese patrone) teenoor die kleurvolle boom
wat terselfdertyd homself
én ’n kindertekening van homself is.
maar jessy staan nou op, en strek die feather boa van haarself lank uit
en stal haar gaap ook uit
stadig, op haar pote, die ene vampira
vain en versadig . . .
ja daai conception was alles behalwe immaculate
sy’s effe lam, haar maag ’n soort gewas
terwyl g’n wind my evergreen boompie ooit hiér sal kan aantas of om-
waai nie
teenstellings self: die hopie helder donkerte
van die kat wat weer gaan lê
en die boom ’n flashing arrow
wat histeries wys na niks
'tis the season van sterre en pompoms
en al die dinge wat mens “netelig” kan noem
ja hemelboom en heksekat
is eintlik ewe grillerig
om aan te vat.
Antjie Krog se verdediging van die gebruik van Engels in haar gedigte (& sy doen dit meestal funksioneel & verantwoord) was die kondonering waarop ’n hele skool jonger digters gewag het wat dit nou onnadenkend & onkrities gebruik. Dit herinner nogal aan die gebruik van klein letters in die Sestiger-sewentigerjare, waarskynlik in navolging van die Amerikaanse digter e.e. cummings se idiosinkratiese poësie.
Cummings het egter al so vroeg as 1923 met tipografie begin eksperimenteer, & sy tipografiese manewales het heelwat in gemeen met die taalgebruik tipies van skisofrenie. Hier ter plaatse was die leestekenloosheid in bittermin van die gevalle werklik onontbeerlik funksioneel. Daar is nog steeds digters wat dit gebruik, maar daar is bittermin digters wat dit uitsluitlik gebruik. Dit sal altyd deel uitmaak van die skrywer se tegniese arsenaal. Een van die digters wat dit m.i. werklik betekenisvol & betekenis-sképpend gebruik, & weer nuut gemaak het, is T.T. Cloete.
Terug na perspirasie. Talent alléén is nie voldoende nie. Die voornemende digter moet deursettingsvermoë hê & ’n dik vel. Moet nie ontmoedig word deur gemene opmerkings in skryfklasse, kritiese keurverslae of die plaag afsêbriewe waarmee jou aanvanklike pogings begroet word nie. Bou ’n stewige verwysingsraamwerk op deur soveel & so wýd as moontlik te lees. Jy kan nóóit te veel lees nie. Wanneer jy van ’n gedig hou, probeer verstaan wát presies dit is waarvan jy hou in die gedig, & stel vas hoe die digter die effek bereik.
’n Jong digter (& met jonk bedoel ek beginners van enige ouderdom) behoort, soos Antjie Krog by geleentheid voorgestel het, ten minste Groot verseboek heeltemal deur te werk voordat hy of sy weer ’n hand aan ’n gedig waag. Dis belangrik vir ’n digter om te weet wat reeds in sy taal gedoen is.
Baie jong digters begin verkeerdelik met die vrye vers, vermoedelik omdat dit téén die gevestigde orde inbeweeg & die rebelse nuk van die jeug bevredig. Maar dié versvorm is baie moeiliker om baas te raak as wat dit op die oog af mag lyk. Die vrye vers is alleen vry in die sin dat elke gedig sy eie vorm skep, ’n vorm wat as ’t ware al skrywende & organies saam met die gedig ontstaan. Dit is vry in die sin dat dit nie ’n vaste vorm as struktuur gebruik nie, soos in die geval van die sonnet, villanelle of sestina nie. Geen gedig, hoe “vry” ook al, is sonder vorm nie. Daar bestaan nie iets soos ’n “vormlose gedig” nie – dis ’n oksimoron. Dis veel eerder ’n geval van presies hóé vorm in verskillende soorte poësie gedefinieer word. Die register hier is so wyd as die Heer se genade & regverdig ’n hele aparte artikel.
Ek beveel altyd aan dat beginnerskrywers ’n tyd lank vaste vorms beoefen. Die ervaring & dissipline wat hierdeur opgedoen word, sal die digter in latere skryfwerk goed te staan kom. Vorm stuur ’n gedig ook soms in verrassende rigtings, & op vondse af wat die digter andersins nie sou maak nie. Struktuur is nie ’n struikelblok nie, verre daarvan: struktuur bevry.
II. Drie stadia in die totstandkomingsproses
Die skryf van ’n gedig kan rofweg in drie stadia verdeel word: 1) die versamel van rou materiaal, 2) seleksie, 3) ordening & afronding. Hierdie drie stappe is net bedoel as hulpmiddel, & nie as onbuigbare “wette” nie. Die jong digter sal, soos hy groei, weldra agterkom dat die verskillende stadia nie so maklik te skei is nie, & dat hulle deurmekaar loop, oorvleuel.
Ek wil hierdie drie stadia aan die hand van Elisabeth Eybers se sonnet “Muse” (Kruis of munt, 1973) illustreer:
Die doel van sy gedrag word nou en dan
waarneembaar; uit die rommel en afbraak
van elke dag wat hy deursif herwin
hy stukkies glas en splinters kwarts en tin
om ’n flikkerende mosaïek te maak
met urelange martelende getuur,
’n kop wat klop en oë soos klodders vuur.
O hierdie hardepad – geen sterfling kan
by sy verstand die selfbedagte taak,
die langsaam blootlê, kies en konstrueer
volvoer, was daar nie iewers ’n oerplan
wat sy geheue nog steeds hipnotiseer,
wat hy nie meer uit sy breinkronkels ban...
Die staat versorg intussen sy gesin.
Hoewel Eybers hier sterk klem lê op die harde werk wat in die skeppingsproses ingaan, erken sy die rol van die oorspronklike inspirasie wat tot die skryf van die gedig aanleiding gegee het: die “oerplan / wat sy geheue nog steeds hipnotiseer”.
Die frase “die langsaam blootlê, kies & konstrueer” ondervang presies die drie stappe van die skryfproses: die boustof vergader, die seleksie, & die uiteindelike ordening & afronding.
1. Die rou materiaal is die eerste weergawe op papier & is uiters selde perfek. Soms word ’n digter begenadig & skryf ’n gedig in een sitting uit, perfek sonder om ’n woord te wysig. Maar hierdie oomblikke is nie genoeg om ’n loopbaan van te maak nie.
Die Amerikaanse digteres Sylvia Plath skryf in haar pragtige vers “Black Rook in Rainy Weather” oor hierdie verhelderende oomblikke:
Miracles occur.
If you care to call those spasmodic
Tricks of radiance
Miracles. The wait's begun again,
The long wait for the angel,
For that rare, random descent.
Met die eerste weergawe is daar altyd ruimte vir verbetering. Die digter kan hiér so uitgebreid & woordryk wees as wat hy wil, & alles invoeg wat enigsins bruikbaar mag wees vir die gedig. Eybers stel dit só:
uit die rommel en afbraak
van elke dag wat hy deursif herwin
hy stukkies glas en splinters kwarts en tin
Hierdie “rommel en afbraak” maak die rou materiaal uit vir die gedig. Die woorde “rommel” & “afbraak” is interessant omdat dit verwys na ruwe materiaal, na dit wat afgebreek, uitmekaar gehaal, weggegooi is. Dié woordkeuse is eweneens belangrik omdat die skeppingsproses onder meer die bymekaarbring van hierdie disparate elemente in ’n nuwe verband behels. Maar meer daaroor láter.
In hierdie stadium is daar waarskynlik nog geen patroon nie, of net vaagweg; daar is nog min samehang. Die resultaat van “die langsaam blootlê” is net los “stukkies glas en splinters kwarts en tin”. Let op die verskeidenheid (die “amount and diversity of materials integrated” waarvan Wellek & Warren praat) aan boustof vir die gedig, of dan die “mosaïek”: glas, kwarts (wat in ’n wye verskeidenheid kleure voorkom), tin. Glas & tin (alreeds kultuurprodukte, alreeds verfyn uit growwer boustof), kwarts (steeds in natuurlike vorm). Sou dit verkeerd wees om in dié boustowwe ’n toespeling te sien op Van Wyk Louw se “gevormde” & “ongevormde”?
2. Vervolgens selekteer (“kies”) die digter uit die rou materiaal nét dit wat nodig is vir die gedig. Die aanvanklike “deursif (en) herwin” maak nou plek vir ’n meer doelgerigte aktiwiteit. Eybers verwys hier na die “urelange martelende getuur”, die skryf van die gedig word ’n soort selfopgelegde strafarbeid (“hardepad”). Die “verstand” kom nou in die spel, & die digter se aktiwiteit word as “die selfbedagte taak” beskryf. Die digter selekteer uit wat hy versamel het. ’n Herkenbare “vorm” mag in hierdie stadium begin duidelik word. Wat nie bruikbaar is nie, word uitgegooi, selfs al is dit van jou mooiste reëls of beelde.
3. Dit bring ons by die laaste stap, naamlik ordening: die “konstrueer” waarvan Eybers praat. Die digter fokus nou sy aandag om ’n patroon te ontdek of te skep in die geselekteerde materiaal, die “oerplan”.
Nou is die tyd om te besluit watter vorm die gedig gaan aanneem (dikwels is dit nie die digter nie, maar die materiaal sélf wat in ’n spesifieke rigting dwing). Gaan dit ’n vrye vers wees, of gaan die digter dit ’n tradisionele vorm gee soos ’n sonnet of ’n villanelle? Die digter besluit oor metrum, rym (sou hy op rym besluit, dan ’n rymskema wat iets bydra tot die tema & nie maar net versiering is nie). Hy identifiseer progressies waarvan hy dalk nie in stap 1 bewus was nie, maar waarop hy nou wil voortbou of wil versterk. Daar word voorts gekyk na ander klankpatrone, na strofe-indelings, na waar reëls afgekap word, of die metafore klop. Enige stoplappe, gewoonlik die gevolg van die dwang van rym of metrum.
Sodra die materiaal gesnoei & georden is, is dit tyd om aandag te gee aan die finale afronding. Die digter bekyk & beluister elke woord in die gedig. Pas die woorde bymekaar, of is daar woorde wat uit die toon val? Elke woord word opgetel & teen die lig gehou, omgedraai & ingeskat na karaat. Hoewel ek skepties is oor die idee van die onvervangbare woord, glo ek die digter moet probeer om so ná as dêmmit daaraan te kom.
Laastens, maar uiters belangrik: lees die gedig hardop vir jouself voor. Wat jy voor jou het, kan weliswaar die “flikkerende mosaïek” wees waarvan Eybers praat, maar ’n voorlesing sal enige verskuilde swakhede wat betref klank, ritme, of toon onmiddellik uitwys. Gedigte het nie net ’n skrifbeeld nie, maar ook ’n klankbeeld. Ánders as met kinders, moet hulle nie net gesien word nie, maar ook gehoor word.
Bibliografie
Eybers, Elisabeth. 1973. Kruis of munt. Kaapstad : Human & Rousseau.
(C) Johann de Lange, 2010