Friday, March 19, 2010

In Memoriam: Sheila Cussons (1922-2004)

Selfportret


My eerste kennismaking met Sheila was deur haar skryfwerk, meer spesifiek Plektrum. Dit is waar my bewondering van & waardering vir Sheila begin het. Sy het in daardie stadium nog in Barcelona gebly & in 1981 het ek moed bymekaar geskraap & vir haar ‘n bewonderaarsbrief geskryf. Dit was Meimaand in Barcelona met die onluste op ‘n spits gedryf toe sy op my skrywe reageer met ‘n lang brief: haar handskrif bitterklein maar gedrewe, swart vulpen op dun uiepapier:

“Ek geniet ook baie die kontak en geleentheid tot gedagtewisseling met jonger skrywers soos jy en Johan van Wyk, op ‘n heel ander manier as met die bankvas-gevestigdes. Aanraking met julle vernuwe my, help om te verhoed dat ek gefikseer word in ‘n tydperk of generasie... Ek dink ek bedoel seker: ek wil tydloos wees, en blý. ‘n Onmoontlikheid natuurlik... Al wat mens kan doen, intussen, in dié rigting, is om seker maar so oop en eenvoudig en direk op die man af, as moontlik te skryf; om te waak teen tydelike modes en grille: om dié te kan herken vir wat hulle is, en jou eie taal te suiwer van al die tydelike, efemere allures waarvan mens se oor vanselfsprekend ook vol van sal wees. Geen maklike selfopdrag nie, want terselfdertyd wil jy, móét jy, ook die taal-van-die-oomblik deeglik verken, benut, mee speel. In laaste instansie hang dit van jou vermoëns, jou eie aanleg, jou talent, die “drive” van jou kreatiewe “make-up” af. Miskien is al wat nodig is om te “oorleef”: dat jy skryf, altyd, met die volle inset van jou hele eie menslikheid, “full out”, óf, “flat out”, uit jou “guts”. The rest is up to the gods.”

Op my versoek stuur sy ‘n gedig vir Ensovoort, een wat sy sopas oor die onluste geskryf het & uit die Spaans vertaal het. “Ou Homeros van ouds loop nog breed hier rond”, skryf sy. “Spanje is ‘n Digter, met room en heuning en die byt van staal in sy taal. Ek het iets daarvan probeer oordra in die gedig”:

Barcelona, 23 Mei 1981

O onhoudbare land, ek bemin jou!
Ja, ek het jou lief.
Gramskap is jy van die gode,
Donder, weerligte, wondere –
dodes wat nie wil rus nie,
lewendes wat nie weet waarheen nie –
ou drome, ewige onruste
wat aan niemand rus wil gun nie;
land van paradokse, arend
en duif, tegelyk brandende staal
en asem van meisies en angeliere.
Ek het jou lief, Spanje,
Digter van die ontnerfde vlees.

Haar tweede brief gedateer 16 Junie bevat nóg ‘n nuwe gedig, “Divertissement”, maar wat dit kosbaarder gemaak het, was die feit dat dit ‘n uitgebreide ‘ars poetica’ bevat het, ‘n lang besinning oor die praktyk van skryf:

“Small digression first: jare gelede, in Engeland – ek sal dit altyd onthou – het ‘n kunstenaar deur een van my sketsboeke gekonsentreerd geblaai en plek-plek ‘n tekening uitgewys en gesê: “this one!” en “and this!” en toe daarna verduidelik: “you are clever, but it isn’t the cleverest drawings always that strike me; it’s the little ones drawn with sympathy; the ones that come out of an in-living into the subject. Technique, head, are fine, but art only happens in the heart.” Ek sal die middag by hom aan huis seker nooit vergeet nie, en hy het my ‘n kosbare “padkos” vir die toekoms gegee. “Drawn with sympathy” – geteken of geskryf uit ‘n algehele “immersion” in die onderwerp, uit ‘n intense deurléwing; al is dit net ‘n sketsie van ‘n ui op ‘n tafel teen die lig – hy was tóé al ‘n ou heer – requiescat in pace! Dit het ‘n lewensreël geword, tot nóú toe, ‘n strewe: al weet ek dat mens moet blý beur en beur daarna... En dan: Johann, voor jy oor enigiets skryf, sink jou totaal in die tema, ding of fenomeen in. Jy wil skryf oor ‘n bepaalde kwaliteit van sonlig op ‘n sekere uur, soos jy dit sien teen of op iets? Of ‘n klip? Goed, en hier poog ek om die haas onsegbare te probeer sê: kýk, kyk baie lank, tot jy vergeet van álles behalwe hierdie ding: word die sonlig, word die klip. Dis meer as vlugtige vereenselwiging met, vir ‘n oomblik: dis empatie, transmigrasie byna. Dis wat my Engelse kunstenaar-kennis bedoel het. Verloor jou gans in die ding: die geboë hoof van die meisie; die vlieg teen die ruit, die gekreukelde servet – of wat ookal. Ontgin daarin alles wat jy moontlik kan; soek die innerlikste essens, die kwintessens, en dit kan jy nie net met jou kóp, nie net denkend, serebraal doen nie. Jy moet selfs ophou dink! Sodat jy die gesienene kan wórd, tot jy dit is... Wat jy dán op papier sit sal die “drawn with sympathy” wees wat my ou heer bedoel het. Moenie “fotografeer” nie; of liewer (want die fotografie het óók al iets meer as ‘n kamera geword) moenie net “kiek” nie, nie net “beskryf” nie... Skryf boweal waarlik eenvoudig; vermy “effekte”; moenie probeer “verras” nie. As jou, sê maar, onderwerp, werklik “met simpatie” deurleef is, sal die verrassings vanself, volop, daar wees... Dus, basta met “modern” skryf, met “effek-bejag”, met streef na slim-wil-wees. Dínk ja; o ja, jy móét dink: bereken, wik en weeg, maar eers as jy met hart en sinne (sintuie) die hele ding ondergaan het. Dán sorteer jy uit! Verskoon my asseblief vir die volgende, maar een van die mees “cherished” uitsprake wat iemand my ooit mee gevlei het, omtrent sekere eie verse, is hierdie: “dis vry van enige effek of slimmigheid: dis versheuning wat deur die hele lyf getrek het.” En dalk is dit wat die ou kunstenaar indirek bedoel het: “deur die hele lyf gegaan”.

Sheila se briewe was sonnig, vol lewe, & nuuskierig na die lewe. Sy had min geduld vir neerslagtigheid & ‘n somber lewensuitkyk. Haar raad was om úit te gaan, in die natuur in, & stip na dinge te kyk sodat jy sommer gou van jouself vergeet. Sy was nooit suinig met haar waardering nie, maar sy het ook nie gehuiwer met kritiek nie, hoewel sy dit altyd probeer versag het. Haar waardering vir Johan van Wyk & Wilma Stockenström se werk, haar opgewondenheid oor Theunis Engelbrecht se gedigte, het sy sonder voorbehoud gedeel. Oor Opperman skryf sy aan die einde van haar brief van 16 Augustus 1981: “Bid vir Opperman, wat so siek en in ‘n koma in die Tygerberg-hospitaal lê. Ons het hom nog nodig.”

Gebore onder die sterreteken van die leeu “wat graag wil speel” soos sy in ‘n brief skryf, maar ook ‘n loner. Sy stuur vir my ‘n foto wat haar man, Juan, geneem het van haar waar sy by hulle eetkamertafel sit & werk aan die vertaling van Borges se verhale. Oor die foto skryf sy op 19 Januarie 1982: “Dis verlede jaar geneem. Die brandwonde van die ongeluk wat ek in ’74 gehad het, het littekens op my gesig gelaat, veral mond, voorkop, een kant van neus. Daar was amputasies, linkervoet en van my vingers... Mens raak gewoond daaraan, die mense wat my ken, en ekself. Net soms onthou ek hoe mooi ek was, voor die ongeluk.” En mooi wás sy.

Ek het ‘n klompie wit & swart foto’s wat iemand van haar in die Amsterdam-tyd geneem, twee daarvan sou later die basis vorm van ’n gedig oor haar & Van Wyk Louw:

Wordende naak

I
Gevonnis sit jy stil en tuur
– herinnering se wit-en-swart –
by 'n tafeltjie, twee glase bier
voor jou, alles helder en apart,
geen skuim wat oor 'n glasrand stort,
een sagte Nederlandse dag:
sou jy op iemand sit en wag?

Regs van jou 'n skraal man uitgevat
asof vir 'n bruilof in 'n blink
swaelstertpak, swart hare plat-
gekam. Een bier bly ongedrink.
Terwyl die son al hoer sink
– 'n vaal swaard bo die sloom kanaal –
paar vuil duiwe bo 'n katedraal.

Balling van 'n somerland immer
bewus van die bibberende pool
– 'n Stalingrad wat vyandig glimmer –
in afstand doen reeds vroeg geskool.
Ligtende iepe 'n nerf op die horison.
Die stoele se windverbleikte verf
is deur die skilferende son bederf,

maar jy sou heelhuids nog opstaan,
jou van daardie middag losmaak
en deur 'n paar ervarings gaan:
gedigte skryf, 'n man versaak,
'n sterfte of twee deurmaak,
'n vuurproef in 'n vreemde land,
'n Spook het Emily Brönte gebrand?

Was dit die moeite werd, of nie?
Sou jy dit anders nou beplan,
of wag jy soos in 'n kiekie
op die grys gestalte van 'n man
wat wel sou opdaag as hy kon,
maar neergepen tot spookgesig
loop in elke slaaplose gedig?

II
Halflyf na die kamera gedraai
glimlag jy swartogig, uitdagend,
die stoel teen jou waai,
een hand half ingedagte
onder jou hare ingesteek,
son wat in jou brons glas sak.
Die ander staan onaangeraak.

Die dag het omgeswaai, tref jou
uit 'n ander hoek. 'n Skadu val lankuit
oor die gruis. Dis koeler nou.
Die man sit by sy eerste bruid;
en jy sit smeulend waar jy sit
hierdie verminderende uur wat yk,
vermink, maar bly, en nie sal wyk.

Dan kry ek ‘n kort brief geskryf 7 Maart 1982. Sheila se Die woedende brood is met die W.A. Hofmeyrprys bekroon (die bundel het uiteindelik meer as 1000 eksemplare in 3 maande verkoop – ‘n rekord) & sy is op pad Suid-Afrika toe. Haar reisplan is baie vol, maar dalk kan ons mekaar te siene kry in Johannesburg. Ons ontmoet mekaar dan ook vroeg in Mei aan huis van vriende in Linden. Ek onthou dat ek benewens die bundels wat ek onderteken wou hê ook ‘n kamera saamgeneem het maar wat ek nie eens uit my rugsak gehaal het nie. Die letsels het my met groot vertedering gevul. ‘n Kamera sou ‘n growwe oortreding wees. Sheila was hartlik, nes in haar briewe, maar ek was, ánders as in mý briewe, heel op my bek geval, bevrees dat sy teleurgesteld sou wees met die ontmoeting. Maar op 20 Junie 1982 skryf sy uit Kaapstad om my gerus te stel.

Twee weke ná haar terugkeer na Spanje het sy opgepak om “ná 25 jaar, vaarwel te sê aan Europa en terug te keer na my oorspronge en hierdie land waaraan ek deur die lang jare steeds geheg gebly het, en niks my ooit van kon vervreem nie.”

Na haar intrek by St. Martini Gardens bly ons korrespondeer, maar begin om mekaar ten minste een keer per maand bel. Op ‘n poskaart van 10 Julie 1983 skryf sy: “Eindelik het ek jou debuutbundel vir my aangekoop: ek sien nou erg uit na die lees.” Wanneer die keurders vir die Ingrid Jonker-prys ‘n impasse bereik, is dit Sheila as buitekeurder wat aanbeveel dat die prys aan Akwarelle van die dors toegeken moet word.

As digter was Sheila Cussons se bydrae tot die Afrikaanse poësie onberekenbaar. Haar begeerte om tydloos te wees, is vervul. Vir my eie vorming as digter was & blý haar gedigte kosbaar. Sy was vir my ‘n leermeester sonder dat sy dit geweet het, ‘n standvastige vriend in ‘n wêreld waar ek myself dobberend gevoel het. En sy was van ons eerste kennismaking (op papier & in die vlees) sonder twyfel jonger van gees as ekself & die meeste van my tydgenote. Sy het ‘n ewige jeugdigheid behou & ‘n onblusbare nuuskierigheid na die lewe. Met die gerfie briewe aan my het sy my op haar beurt met padkos gelaat vir die jare wat voorlê.

Sheila se poësie is vol van die onvergeetlikste suiwer waarnemings, verse waar “kuns en beskouing... één aktiwiteit” is, waar die digter as’t ware met sy oog dink. Dink maar aan die klassieke gedig oor ’n pou.

Tuin

Ek het meteens onthou
dat ek gelukkig is; langsaam, statig kom 'n pou
uit blonde tonnels van die tuin en sleep 'n blom-
bont vereveld waaroor blink luiperd-oë die blou kolom,
die blou en brose buiging van sy nek bekruip – en dan ontvou,
rank op, sprei oor – tril – 'n honderd oë spring!
en wilde glanse bewe oor sy bors, 'n Leda-gril,
'n blou en koper floute in die diep namiddagson.

(Uit: Plektrum, 2)

of die pragtige vers oor ’n eekhoring:

I Eekhoring

Asof hy kwik vir spiere het
golf hy boom op, stol elektries, skrikplet
hom platgesprei teen die bas tussen
sy behoedsame ogies en rilling op rilling
sidderende pluimstert –
Loer, bespied 'n vallende akker,
stroom vaal teen die vaal stam af,
bondel hom bolletjie, en met heeltemal handjies
ontdop hy sy vonds gejaag en knabbel
dit op, skoon stuipbevange van angs en genot.

(Uit: Membraan)

Hierdie visuele vermoë het hom baie daartoe geleen tot uitdrukking in kwatrynvorm. Uit die reeks ‘Kwatryne’ (Plektrum, 11) die volgende twee:

Die nag val soos 'n brons bokaal
galmend ver die storm in
ek glimmer aan die kringende rand
water wyn ontliggaming.

*

Die rats weerligte los die reën,
'n vreugde wierook uit die steen,
en modderbel se padda-oog
spat stukkend in my voet se boog.

En wie kan dié vroeë vers vergeet?

Vy

Hy voel soos maagvel van 'n slang
en as ek bietjie druk aan hom,
dan tussen in my vingers in
laat by 'n taai, sloom druppel kom,
en as ek harder knyp, splyt hy
meteens grynslaggend oop
asof die ou grap van die Tuin
nog pittig prikkel in sy stroop.


(Uit: Omtoorvuur, 125)

Ek moet egter erken dat ek as groot katliefhebber nie baie erg het aan haar beskrywing van ’n kat in ‘Manicheër’, hoewel sy, soos altyd, akkuraat was:

O laat my uit: ek het genoeg
aan die verwantskap met selfs 'n kat
met sy stupiede agterpote soos 'n haas s'n
en die simpele oplossing van sy gat.

(Uit: Die skitterende wond, 78)

Die laaste keer wat ek Sheila gesien het, was ‘n ete by Amanda Botha op 8 Augustus 2003. Ook aanwesig was Hennie Aucamp, Elsa Joubert & Wilma Stockenström. Die mollige, bruingebrande Sheila van St. Martini Gardens wat op ‘n warm dag in 1983 vir ons ‘n paella op haar tweeplaatstofie aanmekaar geslaan het, was net ‘n herinnering. Sy het klein & tenger geword, wasbleek, met die een oog byna geblus. Die ander een steeds priemend. Haar gesonde, byna swart oog... Sy was broos, breekbaar. Die jare het swyend tussen ons kom lê. Tydens die ete het ek haar telkens betrap dat sy stip na my kyk.

Onder die huldeblyke ’n haar dood was dié van Wilma Stockenström vir my die treffendste: “‘n Vriendskap meet jy nie in jare nie, veral nie as ‘n mens reeds in die eerste oomblikke ‘n affiniteit voel gegrond op ‘n respek vir mens, dier en ding nie. Haar aardse humorsin het my aangetrek. Sy bly vir my die vrou van die onverminkte gees. Haar liggaamlike gebrek het jy sommer dadelik vergeet, want haar gees was helder, so deurstraal soos haar verse.”

Sy het ’n groot waardering vir Wilma se poësie gehad. ’n Gedig van Wilma waarvan sy báie gehou het, was ‘Aankoms en vertrek’ – sy het dikwels daarna verwys. In ’n brief van 14 September 1985 skryf sy vir my: “Ek bewonder haar werk baie, maar sukkel plek-plek nog met haar Monsterverse.” In die laaste maande het Wilma ’n paar keer vir haar gedigte gaan voorlees. Sy was baie verknog aan Afrikaans, om dit te hóór toe sy dit nie meer kon skryf nie.

Onverminkte gees. Ek móés dit eenvoudig in my huldigingsvers gebruik. Wilma, my apologie!

Sheila Cussons (1922 - 2004)

In die ruig-soet vlees setel
ons aardse verknogtheid
aan die lyflike geneugte.
Maar vir jou was lyf méér:
‘n sintuig vir geloof,
die vlammende tong,
spraak & teenspraak.

Deur vreugde & pyn
bly jy Hom verken:
léér-ken met jou
verminkte lyf
Sy sengende vat.
Jy wis die mens
is én helder én obskuur.

Hy hét jou toe oplaas gewen,
jou Christ of the burnt men,
vir die groter avontuur
van gees: jou uit die klein
& donker vlees bevry
dat jy kan volg met angelus
& engele aan jou voet.

In wat jy skryf, jou woord
vir woord aan-
hobbel in Sy haastige
spoor hérken ons jou,
in die lewende perkament,
jou onverminkte gees:
digter van die ontnerfde vlees.

(Uit: Die algebra van nood)

Ek kry baie dikwels gedigte via drome, gevoed met "melk en brood van die Anderkant" soos Opperman in "Penwortel" skryf, & is baie gevoelig vir die inhoud van my drome & die rol wat dit het in die kreatiewe proses. Sheila het dikwels vertel van gedigte wat sy gedroom het, een só 'n gedig was "Die fret" waarin die fret vir haar simbool was van haar psige:

Die fret

Genoeg, fret: wees vry. Jou nie meer
vasloop in stoephoeke nie, beton of
marmer onder jou pootjies wat moet grawe –
Jy, self, langgelyfde tonnelaar,
jou stert gebos van hoop teen alle hoop in,
dapper klein angstige self – Ek het my
ander verwese selwe gesê ek sien jou soek
na uitkoms, hulle gemaan om roerloos te sit
op die treetjies wat afloop na die wye meer,
opdat jy kan draai en vreesloos vlug
verby ons die treetjies af: hoe bittermooi
is jou pels – Kom, en welkom, en vaarwel,
en red my in die fynbos, die meerduine.
Tonnel vir my, tonnel: eindelik verloste fret.

(Uit: Membraan, 21)

Ek was dus nie verbaas toe ek een nag van haar droom nie, & so tipies van Sheila gebruik sy die droom om aan my vir oulaas nog 'n waarskuwing oor te dra:
Laaste bieg
vir Sheila

1
In ’n droom lê jy nadoods
pasgebore op ’n enkelbed.
Op die nagtafel ’n kalfsleer-
notaboek waarin jy vir oulaas
nog invalletjies noteer.
Flets in jou kamerjas
wil jy my waarsku,
’n laaste keer genaak: wie luister
na die duiwel se gelag
sien later nie meer die duiwel ráák.

2
Vasgevang soos ’n vlieg
in die dood se goue amber-
stroop lê die woorde
van jou laaste bieg gedoop.

(Uit: Die algebra van nood)


Kaapstad, 25 Maart 2009-19 Maart 2010


(C) Johann de Lange, 2010