So gebeur dit dat ek verlede week, een aand terwyl ons besig is met ons jaarlikse voorraadopname by een van ons takke ’n boek optel waarvan die titel my oog gevang het: The poem I turn to (2008), saamgestel deur Jason Shinder & met ’n voorwoord deur Billy Collins.
Die uitgangspunt van die boek is die vrugbare wisselwerking tussen die filmbedryf & die poësie. Digters wat oor rolprente, regisseurs of akteurs skryf, of regisseurs & akteurs wat hulle hand aan die poësie waag. Maar wag, voordat julle dink dis ’n boek met ’n spul vervelige, onhandige gedigte deur glanspersoonlikhede wie se talent nié by die skryf van gedigte lê nie – hierdie boek bevat gedigte wat om die een of ander rede op spesifieke tye in die lewe van hierdie mense tot hulle gespreek het. En hulle het goeie smaak. Daar is lieflike gedigte in, soms met ’n paragraaf of twee waarin die akteur of regisseur verduidelik wat die betrokke gedig vir hom of haar beteken & waarom hulle daarna blý terugkeer. Want ’n goeie gedig is een waarnatoe jy in verskillende stadia van jou lewe kan terugkeer & telkens ander nuanses vind.
Wanneer dit gaan oor die gedigte van anderstalige digters word net die allerbeste vertalings gebruik. So werk ek tydsaam die boek deur. En dan, op bladsy 65 staan dit: ‘The shipfitter’s wife’ deur Dorianne Laux. Ek lees dit & toe, soos Sheila Cussons so mooi skryf in haar kwatryn ‘Pasêla’, is die trane skielik daar:
Kaalvoet herinnerinkie van ver vandaan
wat skielik voetseer voor my staan:
onder hulle klippe uit vlug die klein akkedissies
en onder my ooglede, vinnig, die trane.
Ek lees Dorianne Laux se gedig weer, & weer. En daardie aand vat ek die boek huis toe, bang ek kan die gedig dalk nie op die internet opspoor nie.
Dorianne Laux is gebore in Augusta, Maine, in 1952. Sy was ’n tyd lank mede-professor aan die Kreatiewe Skryfskool van die Universiteit van Oregon, maar woon tans in Raleigh, North Carolina saam met haar man, die digter Joseph Millar. Sy is professor verbonde aan die kreatiewe skryfprogram van die North Carolina State Universiteit, & bied ook die M.A. in Kreatiewe Skryf aan by die Pacific Universiteit.
Van Laux het tot dusver verskyn: Awake (1990), What we carry (1994), Smoke (2000), Facts About the Moon (2005), Superman: The Chapbook (2008), & sy is mede-outeur van Poet's Companion: A Guide to the Pleasures of Writing Poetry (1997). Van haar gedigte is vertaal in onder meer Frans, Italiaans, Koreaans, Roemeens & Braziliaans-Portugees.
Een van my ánder gunstelingdigters, Tony Hoagland, het die volgende te sê oor haar gedigte: "Her poems are those of a grown American woman, one who looks clearly, passionately, and affectionately at rites of passage, motherhood, the life of work, sisterhood, and especially sexual love, in a celebratory fashion."
Maar genoeg hiervan. Die internet is propvol inligting oor hierdie digter & na ’n uur of wat se soek het ek nóg 40 gedigte by my versameling kon voeg.
The shipfitters wife
I loved him most
when he came home from work,
his fingers still curled from fitting pipe,
his denim shirt ringed with sweat
and smelling of salt, the drying weeds
of the ocean. I would go to him where he sat
on the edge of the bed, his forehead
anointed with grease, his cracked hands
jammed between his thighs, and unlace
the steel-toed boots, stroke his ankles,
his calves, the pads and bones of his feet.
Then I'd open his clothes and take
the whole day inside me – the ship's
gray sides, the miles of copper pipe,
the voice of the first man clanging
off the hull's silver ribs, spark of lead
kissing metal, the clamp, the winch,
the white fire of the torch, the whistle
and the long drive home.
En nou gaan ek eers verder lees aan die res van haar gedigte.
Bronne
1. Dorianne Laux – Poets.org - Poetry, Poems, Bios & More. Beskikbaar by: http://www.poets.org/poet.php/prmPID/742
2. Dorianne Laux - Wikipedia, the free encyclopedia. Beskikbaar by: http://en.wikipedia.org/wiki/Dorianne_Laux
3. Shinder, John (Ed.). The poem I turn to. Sourcebooks Mediafusion: Illinois. 2008
(C) Johann de Lange, 2010