12 Mei 2014
Johann de
Lange beleef ’n baie vrugbare tyd. Stil punt van die aarde, sy derde bundel in net soveel jaar, het
onlangs verskyn.
Die bundel
is jou derde sedert jy in 2011 die Hertzogprys ontvang het. Het dié prys ’n
invloed gehad op hoe gereeld jy sedertdien publiseer?
Nee. Net vóór die bundel waarvoor ek die
prys gekry het, Die algebra van nood,
het ek om en by 14 jaar lank nie gepubliseer nie. Maar ek het wel aanhou skryf
en afrond, en ek het ’n geweldige klomp verse bymekaar gehad. Ek was ook in
daardie tyd op soek na ’n styl waarin ek nuwe inhoude kon oordra. So, ná Algebra, nadat ek die prys ontvang het,
het ek ’n groot aantal verse oorgehad waaruit ek vir die volgende bundels kon
put, maar ek het ook met elke bundel nuwe verse bygeskryf.
Ek moet erken ek beleef ’n vrugbare tyd:
die stroom nuwe gedigte het selfs nóú, vier jaar later, nie opgehou nie. Die
muse plak by my, maar ek kla nie.
Is die
verse in dié bundel almal nuut geskryf?
Die oorgrote meerderheid van die verse is
nuut geskryf, maar daar is ook verse wat van vorige fases dateer, verse wat ek
ten tyde van die vorige bundels nie bevredigend kon afwerk nie, of wat nog van
kiem af moes ontwikkel. Selfs van die verse wat uit ’n vorige fase dateer word
herskryf en aangepas om deel te word van ’n betrokke bundel.
Waarna kan
die “stil punt” in die titel van die bundel verwys?
Daar is verskillende moontlikhede, maar die
mees voor die hand liggende betekenis is daardie oomblik van insig, van
verheldering. Vir my het die poësie ’n epifaniese aard. Die stil punt is die
oomblik wanneer waarneming oorgaan in verheldering, of in ’n wending. Vir my is
die poësie ’n ars poetica, en handel alle gedigte uiteindelik oor die skryf van
gedigte, oor die aard van taal.
Op die
voorblad sit jy jou “vennootskap” met die kunstenaar Judith Mason voort. Waarby
vind jy in haar werk aanklank?
Ek het groot bewondering vir haar werk, ’n
waardering wat teruggaan na my laerskooljare. Ek het onmiddellik aanklank gevind
by haar werk sonder om dit te kon verduidelik of selfs, glo ek, te verstaan. Sy
is vir my ’n poet’s painter. Sy dink visueel soos ’n digter. Haar werk is vol
transformasie, haar styl is metafories, die ooreenskuif van betekenislae.
Die bundel
bevat talle nadigtings. Op grond waarvan besluit jy om ’n ander digter na te
dig?
Die meeste toespelings op die werk van
ander digters in my werk gebeur onbewustelik. Ek lees geweldig wyd, en daar is
ook plaaslike digters wie se werk ek jaarliks herlees. Ek glo daaraan om die
tradisie te verstaan waarbinne ek werk en daarbinne voort te dig.
In ander gevalle is die gesprek met digters
of gedigte bewustelik, soos byvoorbeeld die werk van N.P. van Wyk Louw en
Sheila Cussons. Albei digters vir wie se werk en denkwêreld ek groot affiniteit
voel.
Die begeerte om op sommige gedigte te
“antwoord” is so oud soos die poësie sélf. Ek is ook lief daarvoor om verse te
skryf waarin ek met skilderye, foto’s of beelde in woorde omgaan, eweneens deel
van oertradisies.