Tuesday, March 19, 2013

Wystan & Chester: Epifanie

W.H. Auden & Chester Kallman


Epifanie*
Nor sorrow take
his endless look.

W.H. Auden, “This lunar beauty”

In Athene sterf Chester
intestaat.
Warm, gevatte, opregte,
slordige, kamp Chester
(Wystan se vriend).
Ek onthou ’n toneel (1950?)
in Venesië: drankies by Florian
– Chester, Wystan & Cecil (dink ek).
Toe, in die middel
van die gesprek, Chester
wat opstaan & ’n matroos
volg oor die plein.
Wystan het voortgegaan
asof niks gebeur
terwyl trane oor sy wange stroom.

Op die vergane plein
waar die middag
soos ’n hart leegklop
lag Liefde gul & lig
sy pragtige kop.


* Gebaseer uit 'n episode in Dorothy J. Farnan se boek Auden in love, 'n móét vir Auden liefhebbers.

[Uit: Vleiswond, 1993]

(c) Johann de Lange