Stephan Bouwer (1948 - 1999)
I
Daar is nie baie boektitels waarop ek jaloers is nie, maar een van hulle is Stephan Bouwer se Portrette, private dele & kanttekeninge (hierna PPD&K), & die ander is Zirk van den Berg se Ekstra dun vir meer gevoel. Stephan Bouwer was egter op baie ánder maniere belangrik vir my ontwikkeling as digter, & vir die Afrikaanse poësielandskap soos dit vandag daar uitsien.
Stephan Bouwer debuteer met So sal ons uitpasseer (Perskor, 1969). Dis die werk van ’n jongmens wat nog sy eie stem moet vind. Sy debuut het nog swaar gedra aan die invloed van Ingrid Jonker & was verstegnies onbeholpe.
Vir baie jare ná haar dood was Jonker ’n soort Lorelei figuur wat menige jong digter afgetrek het in die dieptes van haar wanhoop & die bekoring van haar unieke stem. Ek het self as ’n jong digter vir ’n tyd lank daardie aantrekking baie sterk gevoel, in só ’n mate dat ek ’n bewuste besluit geneem het om haar vir byna ’n dekade lank glad nie te lees nie. Ek moes eers my eie stem vind voordat ek daardie soort swaartekrag kon trotseer.
Om te beweer dat Stephan Bouwer as digter nie eintlik gegroei of ontwikkel het nie, soos onder meer A.P. Grové gedoen het, is om hom ’n groot onreg aan te doen. Hoewel hy waarskynlik primêr vir Soldag & PPD&K onthou sal word (méér so vir lg.), het sy werk oor die algemeen ’n stygende kurwe gevolg, met die grootste sprong tussen sy debuut & Soldag.
II
Soldag, Bouwer se tweede bundel, verskyn in 1973, & dis duidelik dat hy sy stem gevind het. Die invloed van Jonker is verwerk, & die gedigte getuig van groter tegniese beheer & meer selfvertroue. Méér nog, die bundel is sonder twyfel die wegbreider vir PPD&K, soveel so dat sommige van die gedigte daarin ewe tuis in lg. bundel sou wees. Ek dink hier bv. aan “Ek wens ek was ’n banneling”, & “In my aandse huis”:
In my aandse huis
met net drie mure
weet ek wat my bestemming is
weet ek dat jy altyd
op die gegewe oomblik moet weggaan
maar op die regte oomblik weer sal terugkom
In hierdie vierkantige kamer
is daar geen aanwysings nie
ek weet nie waarheen om te beweeg nie
jy reageer verkeerd op al my skakelwoorde
en ek weet nie eens of ek en jy
’n gelukkige afloop gaan hê nie
In hierdie vers het ons die metafoor van die teaterwêreld, die enscenering van ’n drama-in-die-kleine wat so prominent in PPD&K sal figureer, & ánder Bouwer-handelsmerke soos die spel met teenstellings, die ommekeer waar die twee dele van ’n vers teenoor mekaar gestel word & die ironiserende slot.
Soldag bevat ook die pragtige “Graham Greene” wat begin:
Mnr Greene
jy wat jou private lewe so jaloers beskerm
teen loeroë
wat hardkoppig in die coulisse wegkruip
kan maar net sowel uitkom na die middelverhoog:
geen held kan verewig volhard nie
’n Ander vers wat ook goed in PPD&K sou kon pas, is “Notas gemaak by ’n geslotebaantelevisie-demonstrasie” met die pragtige slot waarin Opperman se bantam ten tonele gevoer word:
Ta’ Bellie in die hoek
– “dertig jaar onafgebroke op dertien deser D.V.” –
beskou die hele affêre as ’n sameswering van die jeug
kloek agterdogtig (soos ’n bantam) en
kyk met onverbloemde haat na
die triumviraat kollege-ou(d)meisies
wat hul wysheid ’n geurtjie gee van déjà-vu
Dan is daar die hunkering na ánder plekke wat onder meer die reismotief in sy werk inlei. “Eklips” is hiervan ’n besondere mooi voorbeeld:
Ek moet wegkom uit hierdie kontrei
waar bome teen die Oostewind beur
en beesgeraamtes in die soutpanne kom lek
Hier is die son ’n spons
wat groen uit die bossies suig
en bruin oor die aarde drup
In my streek is die son ’n goudkwas vir hare
’n strandbal ’n vriend
Heerlike bondgenoot wat jou bene verander in brons
Die herkenbare stemtoon wat tegelykertyd vertedering & die pyn van onbeantwoorde of onmóóntlike liefde so skrynend kombineer in PPD&K kan ook al in “Exit” afgelees word:
Ek het net vir jou kom sê dat ek weggaan
jou beer
jou grapjas
jou slimkop
het kom afskeid neem
jy kan maar skryf –
jou briewe sal terugkom:
bestemmeling onbekend
jy kan maar bel –
die outomatiese antwoordmasjien sal sê:
so iemand bly hier nie
as jy dus skielik
jou al-om-die-ander-weekse gemis begin voel
drink ’n tonikum
of klim in die bed met
’n teddie
’n strokiesprent
of Roget se Thesaurus
die verlore stukkie in jou legkaart
die seeroog op jou landskap
dít is my polfyntjie aan jou
Of “Oktober-blues” waar die uitgelatenheid van jong liefde lepellê met ontnugtering:
...
ek onthou jou
en ek onthou die knoop wat jy daardie aand
in my laat lostrek het
hoe ons dinge gedoen het
wat visse nooit in die blomme doen nie
en hoe ek later heelnag deur die strate
op my motorfiets moes jaag
sodat die bome hul confetti
op dié bruidegom kan bombardeer
ons was toe net nóg vis nóg vlees
en onskuld was reeds nie meer
’n verskoning nie
en nou sit ek heeldag al dikbek en wonder
wat de hel van jou geword het
Ek kan nóg verse noem: “dié aand sal ons mekaar van kop tot tone fynkam”, “Oktober-blues”, “Sondag”, “Isebel”, “Afskeid”, “Broeikas”. En wat ’n heerlike ontdekking om met die herlees weer dié juweeltjie raak te lees in ’n vers waarin Stephan sy ouma se onskuldige dagboekinskrywings afwissel met sy eie, meer wêreldse kommentaar:
I had the nicest of boys whom I flirted
with – in fact my heart has been stolen
and although I can get it back, I won’t
take it because I love to slay.
Skaam jou!
dis natuurlik daardie wit rok
met die blou strikkie
wat van Mrs. Clarke af kom
wat jou so harteloos maak
(“Diary”, 46)
III
Met die herlees van Soldag – die eerste keer in seker dertig jaar – word dit vir my duidelik presies wát Stephan op persoonlike vlak vir my vorming as digter beteken het, maar ook in welke mate sy werk die landskap voorberei het vir verál gay digters wat later sou kom, onder meer myself & ook Joan Hambidge.
Sy verse, verre van onskuldig of inkennig soos so maklik aangeneem word, was eintlik nogal heel uitgesproke vir sy tyd. Hoewel hy nie die gay element voorop gestel het soos ons later sou doen nie, is dit oral aanwesig vir die ingeligte leser (“everywhere present but nowhere apparent”, om Flaubert aan te pas).
Hy het bv. nie teruggeskrik daarvoor om die Onse Vader te herdig in “’n Nuwe liedjie op ’n ou deuntjie”:
By jou is ek in die hemel
Jy laat my elke oomblik geheilig word
Jy laat my koninkryk kom
Want jy laat my wil geskied
Jy is my daaglikse brood
Jy vergeef my my skulde
Soos ek jou jou skulde vergewe
Jy lei my keer op keer in versoeking
Maar verlos my dan
By jou is die heerlikheid
Tot in die ewigheid
En jy min my salig lot
Of om “Requiem” af te sluit met:
Op ’n verlate Kerkplein
tussen die kannas
het ek Saartjie afgeskil
’n vlag oor haar gesig gegooi
En dit vir volk en vaderland gedoen
Of hy nou die spot dryf met die dubbelsinnighede van kru kroegpraatjies in “Dionysia in Wolmaransstad”, of die “kultuurmoffie” betrek in “Macbeth in Wes-Transvaal”, of “laasjaar se terloopse kieliekoekie” in “By die tweede asem van middeljarige skrywers”, dit was altyd getemper met sy bittersoet humor & sy satiriese aanslag. Hierdie meer “gewaagde elemente” lyk, vir ’n moderne oog gewoond aan véél meer, nou heel onskadelik.
Stephan het eweneens op ander maniere die weg berei: sy gebruik van motto’s uit die werk van Amerikaanse skrywers soos Gore Vidal & Anne Sexton by sy gedigte (nié die mode in 1973 nie), verwysings na figure soos Arthur Frommer & Paul Cadmus, of die skryf oor kultuurfigure soos Graham Greene - alles aspekte wat later in die werk van onder meer Joan Hambidge ’n belangrike & byna vanselfsprekende faset sou uitmaak.
As onversadigbare reisiger het hy deur sy reisverse ander kultuurswêrelde & verwysings deel van die poëtiese verwysingsraamwerk gemaak (iets waarin hy ’n nogmaals ‘n voorganger was vir Joan), & ook hierin is daar vir die oplettende leser kodes ingebed wat van ’n gay sensibiliteit getuig. Hierdie kodes gekoppel met taalspel & besoeke aan plekke soos België, Frankryk, Holland & later Ysland het aan sy verse ’n soort Eurosentriese sensibiliteit gegee.
Stephan het vir die eerste keer liefdesgedigte geskryf waarmee gay lesers kon identifiseer, & is daarin ’n belangrike pendant vir onder meer die heteroseksuele liefdesverse van Lina Spies & Antjie Krog.
IV
Die publikasie van PPD&K was ’n waterskeiding vir die Afrikaanse poësie, vir die gay poësie, & definitief vir my. As gay leser & skrywer was daar géén manier wat ek daardie omslagontwerp met die mooi blonde jongman wat sy private dele so toehou met ’n handdoek wat sinspeel op die gay vlag, & die suggestiewe titel kon misverstaan nie. Ek onthou dat ek gedink het hoe dapper dit was vir Stephan om sulke “openlike gay” verse te publiseer & vir H&R om dit uit te gee, & nogal met dáárdie omslag! Onthou, dit was ’n tyd toe homoseksualiteit nog onwettig was, & selfs die letterkunde nie baie ontvanklik vir dié soort ding nie.
Met die eerste ademlose lees daarvan het ek meteens besef dat dit die begin was van ’n nuwe era, dat niks ooit weer dieselfde sou wees nie, & ek het opeens geweet watter koers ek sou & wóú inslaan: ek wou ongetwyfeld verse skryf wat dieselfde waagmoedigheid aan die dag lê. Ek het nooit, of nie op daardie oomblilk, kon weet waarheen hierdie besluit my uiteindelik sou lei nie – & hoe vér ek van die ideaal sou afdwaal nie in my soektog na ’n eie stem & na persoonlike bevryding.
Stephan se bundel was ’n belangrike wegwyser vir die pad waarop ek my teen wil & dank wou begewe, & die grootste enkele invloed op die vorm wat my gay gedigte uiteindelik sou aanneem. Daar was vele ander leermeesters. Ek het élke Afrikaanse digbundel waarop ek my hande kon kry gelees. Mettertyd het die groep uitgedun geraak & óm die séance-tafel het uiteindelik net Sheila Cussons & Van Wyk Louw oorgebly. Maar vóór hulle het ek báie geleer by Opperman, Blum, Eybers, Spies, Krog, Johan van Wyk, fanie olivier, oneindig baie by Ina Rousseau.
Wanneer dit egter gekom het by die gay faset van my skryfwerk, by aspekte wat later kontroversieel sou word, was dit die Stephan van PPD&K wat my gewys het wat moontlik is. Later sou ek my verdiep in die letterkundes van Amerika & Brittanje op soek na voorgangers, op soek na ’n tradisie waarby ek kon aansluit & waarteen ek kon reageer.
Hoewel daar gay skrywers & uiters subtiele gay tekste in Afrikaans bestaan het in daardie tyd (verál in die prosa van Hennie Aucamp) was daar nie eintlik sprake van ’n gay tradisie nie, definitief nie wat die poësie aanbetref nie. Ek het besef dat dit was iets wat ek sélf sou moes help skep. PPD&K het egter altyd vir my die suiwer oomblik van selfherkenning gebly.
Selfs tóé nog het dit ’n tyd gevat voordat ek dapper genoeg sou wees om te skryf oor wat ek gevoel & ervaar het. Die druk van die poëtiese tradisie & die kanon was intimiderend, & daar was ook persoonlike & sosiale konsekwensies wat ek rekening mee moes hou wat betref familie, vriende & werk, met die gevolg dat Akwarelle van die dors nog heelparty verse oor meisies & vrouens bevat het. Wat die liefdesverse aanbetref, het ek die “tried & tested” tradisie gevolg van wegkruip agter ’n ongespesifiseerde “jy”.
Met Waterwoestyn het ek effens meer gewaag, maar o, hoe het ek gebránd om daardie “jy” by sy naam te noem, & sy private dele te beskryf, & basta met die apologetiese “vreemde liefde” & die “liefde sonder naam”! Ek wóú & móés dié liefde & die geliefde ondubbelsinnig & baldadig by die naam roep, alle vyeblare afruk & die manslyf besing & beskryf, na die lewe & ten voete uit.
Dit was my taak, my opdrag aan myself, & ek het besef dat dit nie maklik sou wees nie, dat ek familie, vriende & uiteindelik potensiële lesers sou vervreem, maar dit was 'n prys wat ek bereid was om te betaal. Ek was ’n penis met ’n pen, & ek sou seker maak dat die belewenis van ’n gay man in al sy geur & kleur op papier beland, dat geen faset daarvan & geen woord daavoor taboe sal wees nie. Dit was ’n wilde onderneming & sou beslis nie Stephan se goedkeuring weggedra het nie.
My kontak met Stephan was skraps, & hoewel hy ondeund & waagmoedig was, dink ek hy het nogal ferm idees gehad oor wát in goeie smaak was & wat nié. Maar die geleentheid om ’n terrein wat braak gelê het, ’n landskap wat geroep het na ’n pionier, te ontgin, óóp te skryf & vir myself toe te eien was onweerstaanbaar. Wat nie beteken dat ek nie ook my Getsémane-oomblikke gehad het nie. Ek het maar alte goed geweet dat wat ek op papier sit konsekwensies sou hê in die werklike lewe waarvan name calling die geringste was.
Dit wás after all ’n tyd waar paartjies lángs jou op die dansbaan gearresteer is omdat hulle gesoen of ge-close-dans het, & drag queens met hulle gebruiklike joie de vivre, hoë hakke & selfgemaakte tabberts sonder seremonie & al hekelend agter in vangwaens geboender is – die ware helde van die gay scene, soos John Rechy tereg opmerk in The Sexual outlaw.
In my ontginning van die tema was ek onapologeties & gedrewe. Ek het die intimiderende male gaze omgekeer & op máns gerig. Dit kon nie anders nie. Doen dit vóluit, of los dit. Ek hoor vandag nog besware van lesers dat van die gedigte sg. in die seksuele bly vassteek – wel, daar ís gedigte wat nét oor die seksuele gaan, waar die lyf nie simbool of metafoor word nie, waar daar nie die pretensie van literêre “diepte” is nie. Sommige seksuele ervarings kan transenderend wees, maar soms is dit gewoon net ’n lekker blow job in ’n park. Sometimes a cigar is just a cigar.
Die seksuele is ’n belangrike aspek van die blote lyf-wees van bestaan, ervarings waarvoor ek nie maskers nodig het nie, of wat ek nie in die trant van vorige generasies agter metafore wou verhul nie. Vir my was die metafoor eerder ’n manier om te ónthul, al het dit soms die kritiek die harnas ingejaag of besware van “direkte beelding” uitgelok. (Ek was & is nie ongevoelig vir kritiek nie, & glo dat mens uiteindelik meer leer uit negatiewe reaksies as uit lof. Gebruik wat nuttig is & ignoreer die res.)
Seks uit ’n manlike persektief ís anders, & uit ’n gay perspektief nog méér so, & dis hierdie ándersheid waarin begeerte vir my setel. Dit is presies in hoe dit verskil van die norm, in hoe die manlike liggaam ánders is as dié van ’n vrou wat vir my die locus van begeerte lê.
En dan is die lyf – man óf vrou – nie altyd ’n kliniese, geur- & smaaklose ding nie. Dit het reuke & kleure, dit het stemmings & buie, dit het hare & allerlei uitskeidings – & dit móét deel uitmaak van my gedig anders is ek nie getrou aan die ervaring nie.
V
Kritiek teen kruheid of ’n geobsedeerdheid met seks of met die lyf of met cruising het my eerlikwaar nog nooit ’n lor geskeel nie. Ek het my geloofsbriewe gehad & ek sou nie toestemming vra of goedkeuring soek nie. Skryf was self-ont-dekking & alles & almal was geoorloofde wild.
Daar is ’n tyd wanneer jy ryp is om sekere gedigte te skryf, & as jy nie daardie geleentheid aangryp nie, is dit vir altyd verby. Wat ek hiermee bedoel, is dit: die unieke perspektief & ervaring wat jy op enige gegewe oomblik besit, wanneer dít alles bymekaarkom & die kreatiewe vonk is daar, dan moet jy die geleentheid aangryp & skryf.
Ek sou 10 jaar kon wag & dán eers die seksueel eksplisiete gedigte wat in Nagsweet verskyn, geskryf het. Maar die gedigte sou ánders gelyk het. Hulle sou dalk selfs béter gewees het. Maar hulle sou ánders gewees het. Hulle sou nie langer my ervaring & perspektief op dáárdie ouderdom kon uitdruk nie. ’n Eenvoudiger vergelyking: as jy nie foto’s neem van jouself terwyl jy jonk is nie, maar wag tot jy ’n beter fotograaf is, sal jy geen foto’s van jouself hê as jongmens nie. En met die beste tegniek op aardse sal jy hulle ook nie agterna kan neem nie. Die oomblik is verby. Dis hoe dit vir my was met Nagsweet. Ek kon wag, maar ek wou juis daardie kwaliteite vasvang wat ek weet verlore sou gaan as ek wag.
Daar is parallelle tussen my lewe & my skryfwerk & dis nie toevallig nie. Dis frustrerend op ’n wonderlike manier, maar ek voel, 28 jaar later, dat ek nog steeds nie heeltemal daarin geslaag het om reg te laat geskied aan die skoonheid & krag van die manlike liggaam & sy kapasiteit vir genot nie. Ek vind dat ek nou anders daarna kyk, & dis ook goed want geluk kry eers betekenis wanneer dit in die konteks van verlies beleef word.
(c) Johann de Lange, 2010
Dat ek nou op hierdie manier kontak moet maak. Ek is op soek na 'n gedig van hierdie man, met die naam "Weer op Ouma Pollie se plaas" Dis nie in Soldag nie, nie in PPD&KA nie - dis in 1985 aan my voorgelees deur Prof. Theunis Botha van Puk se dramadepartement. Dis beslis Bouwer. Ek vermoed dit was miskien in 'n lit.-tydskrif. Dog maar net ek vra. Ek hou skool en wil my kinders by die gedig uitbring. Bouwer het ook matriek geskryf waar ek werk, ons is volgende jaar 50 en ek wil iets rondom hom en Danie Marais doen. As jy kan help met hierdie baie toeganklike gedig.
ReplyDeleteHans
DeleteJammer dat ek nóú eers jou vraag sien. Ek het Comments op my blogs geblok (of so het ek gedink) & met die gevolg kyk ek nooit vir comments nie. Nietemin.
Die gedig waarna jy soek, kom uit sy debuut SO SAL ONS UITPASSEER:
WEER OP OUMA POLLIE SE PLAAS
Kersfees is nie meer dieselfde nie... en tog
Dis dieselfde ou plaas
En dieselfde ou boom
Wat weer vanjaar in die voorhuis staan
Maar die tertjies en die gemmerbier
Het saam met my ouma minder geword
En vanjaar was daar niks
Net die liedjies van die volkies.
Maar die vlaktes
En die lug wat te veel sterre het saans
Laat my keel toetrek
Ek verlang na die grootstad
En my vriende.
Kersfees en ek
Is nie meer dieselfde nie.