Monday, May 3, 2010

Sheila Cussons: Fabrieksgeheime




“Vandat ek kan onthou, skryf, teken en skilder ek. Die poësie het bygekom toe ek klein was. Voor ek kon praat, het ek glo geteken,” (1) sê Cussons in ’n onderhoud.

Benewens uitsprake teen sensuur & ’n pleidooi vir die vrylating van Breyten Breytenbach, is Cussons nie sku om in die pers oor haar werkswyse of ‘fabrieksgeheime’ te praat nie. Sy lê verál klem op die rol van die sintuie:

“Die ontwikkeling in my werk is doodgewoon 'n ontplooiing, 'n desarrollo. Van die vroeë jeuggedigte wanneer 'n mens impressionisties jou eerste gewaarwording vertolk deur sommiges van die ‘ages of man’ tot 'n tyd wanneer jou sintuie al skerper word.”
Sintuie of intellek?
“O nee. Sintuie. 'n Digter bly altyd sintuigmens. Selfs wanneer jy rasionaliseer doen jy dit op grond van jou sintuie. Die mooiste beskrywing van 'n digter wat ek ooit teëgekom het, is die deur Dylan Thomas: 'four elements and five senses, and man a spirit in love.’”
...
“Die katolisisme betrek die héle mens – die emosionele, die sintuiglike én die intellektuele mens. Toe eers het ek die Christendom in die grote begryp. Dinge wat vroeër nie gerym het nie, het tóé geklop.” (2)

Baie van haar uitsprake het te doene met die balans wat sy tussen skilderwerk & skryf probeer handhaaf, iets wat sy ook in verál haar korrespondensie met Johan van Wyk aangeroer het:

“Dis moeilik. Wanneer jy skryf, verbeel jy in woorde. Wanneer jy skilder verbeeld jy in formules op doek. Jy’t te make met ritmes in vorm, lyn en kleur. Op die oomblik vind ek dat wanneer ek skryf en ek probeer dan tussendeur skilder, ek stram is. Ek maak klein vignettes in plaas van groot vrye bewegings en vorms.
Ek dink om die digkuns en die skilderkunste kan versoen moet 'n mens meer abstrak skilder. Jy moet die ekwivalente vir idees in vorms vind. Dit is nou vir my 'n ideaal: om die poësie en die skilderkuns te integreer.”

Om skeppend te kan werk – miskien moet 'n mens liewers sê om skeppend te wéés – is Sheila Cussons se hele lewe.

“Al dig of skilder ek nie daagliks nie, wil ek in my kyk en sien en ervaar skeppend wees. Ek wil graag sonder pretensies, soos Opperman kan sê: ‘ek gee my daeliks aan die skepping oor’”. (3)

Dig is nie 'n aktiwiteit wat losstaan van die alledaagse bestaan nie:

'n Digter is altyd 'n digter, sê Sheila.

“Selfs wanneer jy nie dig nie, dan leef jy miskien digtende, wat jy sien en hoor – jy ervaar, jy ondergaan dit tog digtend. Ek leef vreeslik baie deur my oë. Daar boeke wat daar lê...” Sy kyk deur die vertrek waar ons sit. “Banale dinge, maar jou verbeelding raak besig en voor jy weet waar jy is, word dit 'n gedig. Dit kan twee eierdoppe wees. Dit is verbasend wat kan lewensvatbaar wees vir 'n gedig. Ek kyk na die rooi van jou hempsmou, daai rooi met die wit daar. Dit bly voor jou oë, bly by jou en later sien jy hier swem die ding weer terug, en elke keer as hy weer opkom, het hy gegroei.

Dirk Opperman het gesê, ‘ontwikkel jou sintuie, hulle is ook jou werktuie’. Dis ook Dirk Opperman wat gesê het ‘daar’s poësie in 'n oopgesnyde konfytblik’. Of dit nou 'n sublieme ding is of 'n plassie melk wat op die tafel lê, dit kan vir jou 'n beeld wees van iets wat baie ingewikkelder is.” (4)

Vir Cussons is die skilderkuns & daarmee saam die visuele 'n integrale deel van haar skryfwerk, & sy erger haar wanneer André P. Brink haar op 'n keer daarvan beskuldig dat sy skilders in gedigte betrek bloot vir die effek:

“Wanneer ek na 'n skildery verwys, is dit omdat 'n ervaring my bepaald aan dié werk herinner het, omdat die skildery en die ervaring mekaar aangevul het. Die gedig groei uit die vergelyking.” (5)

Baie word gemaak van haar brandongeluk & die begeesterde skryfjare wat daarop gevolg het. In 'n gesprek met Johan Bruwer verduidelik sy hoe die ongeluk & die veranderinge wat dit in haar lewenstyl meegebring het, gelei het tot die konsentrasie & digterlike opbloei:

“Ek was stil. Ek kon natuurlik niks doen nie. Ek kon nie toe skryf of skilder (6) nie. Maar dit was 'n tyd van geboorte. Toe het dinge skielik losgekom. Nie dinge van die hospitaal of die onmiddellike hede nie – maar dinge van ver af, van kleintyd en die verlede. Toe kon ek hulle werklik sien en die werklikheid agter hulle.

Ons is bang vir pyn. Niemand wil graag ly nie. Maar pyn voltooi ons bestaan. As alles voor die wind gaan, mis jy eintlik iets, jy word so maklik oppervlakkig, want jy skaats ongeërg (7) oor dieper dinge. As jy die hele lewe wil verken, kan jy nie hoop om sy duister aspekte te vermy nie. Hoe kan jy daarsonder die vreugde ken?” (8)

Op 'n vraag van André le Roux of sy die stortvloed van verse aan die ongeluk toeskryf, antwoord sy:

“Ek skryf dit nie toe aan die ongeluk self nie, eerder aan die gevolge van die ongeluk, nl. dat my beweegruimte ingeperk was. Waar ek vroeër byvoorbeeld kilometers geloop het, en vreeslik baie tyd gemors het in die stad rond… die ongeluk het my gedwing om op my werk te konsentreer, om myself te dissiplineer.”

“Ek het soms gesê my ongeluk was in 'n sekere sin 'n goeie ruil – so het ek dit gestel: ek is eintlik meer bevoordeel daardeur.” (9)

“Kyk, ek is 'n inspirasie-digter. Verse moet by my opkom, jy weet. Ek moet 'n paar reëls gegee word. Dan werk ek daaraan. Ek word altyd 'n reël of twee ingegee, en dan broei ek daarop totdat die ding vanself verder oopgaan, soos daardie wonderlike papierblommetjies wat die Japannese maak: jy gooi so 'n klein klontjie sneespapier in 'n bak water en dan ontvou die blare, soiets ongeveer.” (10)

Sy beklemtoon ook dat die kunstenaar die verwondering, die oopheid & oopgesteldheid van die kind moet behou, of soos sy dit akkuraat beskryf, “die primitiewe oog”:

Haar skilderkuns kan haar digkuns aanvul, voel sy. In alles wil sy groei. “Jy ontwikkel voortdurend, hoe ouer jy word. 'n Mens sien dit ook in talle kunstenaars – Titiaan, Rembrandt. Jou rede word ryper en ryker. Maar die kind, die kind moet die kunstenaar nie verloor nie: daardie oop eerlikheid van die sintuie. 'n Mens kan maklik woordspele speel, slim wees, maar die ware kunstenaar moet die hart behou. Hy ontdek die wêreld soos die kind dit doen, of die primitiewe oog.” (11)

Elders beklemtoon sy dit nogmaals:

“Miskien is daar in die kunstenaar iets van die kind, miskien daarom dat hulle so direk, so oop en spontaan kan wees. Die kind het mos 'n wonderlike instink wat 'n mens dikwels later verloor.”
...
“Solank die weerloosheid nog daar is, solank jy nog nie toegegroei het nie, is jy wonderlik ontvanklik. Jy is nie lekker toegesluit in 'n pantser nie. In so 'n pantser leef 'n mens miskien makliker. 'n Kunstenaar moet daardie wonderlike wakkerheid behou. Ek kan nie sê of dit 'n te duur prys is om te betaal nie. Want as jy so is, is daar letterlik niks wat jy daaraan kan doen nie – it’s just too bad.” (12)

Hierdie tema keer telkens terug in haar digkuns (stellig met die meeste variasies in Die skitterende wond): die gedagte van weer sien met die oë van 'n kind, & op dié manier te paradys te herwin (“Paradys-stasie”; Die skitterende wond, 3); om:

als wat helder verlore is in die oorlewende
oog terug te straal

(“Die geskenk van die spieël”; Die skitterende wond, 7)

Of:

'n Nuwe aarde: wéér vir die sien,
hoor, ruik, proe en betas.

(“Eenvoudige vrae van 'n vroeë Christen”; Die skitterende wond, 48)

Oor die skryfproses self, laat sy haar dikwels uit. Baie gedigte het drome as basis, party kry sy in hulle geheel, ander moet sy lank aan peuter:

Die swart kombuis het eensklaps gekom, sê sy.

“Af en toe kry jy 'n gedig wat 'n bevlieging is, hy kom in sy geheel. Die eerste reëls is jou ingegee. Ek het eenvoudig weer die droom ervaar en die rymskema het saam met die ding gekom. Ander kere loop jy miskien in die straat of bak eiers endan kom daar sommer net een of twee ritmiese reëls in ou kop en dan skryf jy dit neer en jy broei daarop. Ek hou van die woord ‘broei’, jy gaan sit letterlik. O, jy kan soms lank rondloop met net vier of ses reëls, en dis miskien nie eens die beginreëls nie. Dis dalk die slotreëls of sommer êrens tussenin, en jy wag dat hy as’t ware lote moet uitskiet.” (13)

Charles Fryer bring 'n interessante perspektief op die rol van drome in haar digkuns:

As digter met ’n sterk metafisiese inslag weet sy dat dit nie altyd die woord as vangriem is wat die ontwykende aankeer nie; soms is dit die net van die slaap wat die vis vang “wat in die onbewuste swerm” (14).

Maar altyd bly daar die ontglippende. In die gedig “Id” beweeg woorde in ’n halwe slaap “steels na mekaar toe” en vorm verbande wat weer vlug voor die wakker aandag en niks verklap van “wat ek alles waag om te praat / as ek dink ek beluister my nie”. (15)

Nes in haar korrespondensie, verwys Cussons ook in koerantonderhoude na T. S. Eliot se uitspraak oor die ontstaan van gedigte:

“Mine is considered metaphysical poetry, the poetry of contemplative thought where a philosophical or religious concept will inspire a poem. From this kernel the concept expands into lines and metres to become a poem. As T. S. Eliot says, ‘an idea grows into a poem either by expansion or by accretion.’ The idea expands and draws ideas towards itself.

My work has been described as very sensuous, very earthy. I clothe my thoughts in concrete images, images from the kitchen, from nature, from human relationships, images of stone or bread or water, everyday images.” (16)





Of sy gebruik die beeld van teesuiker (17) om die proses te beskryf:

“Soms openbaar ‘n gedig hom soos teesuiker,” vertel sy. Daar is dan ook ‘n gedig met dié naam in Verwikkelde lyn. “Die gedagtes en goed pak aan. Ons het as kinders suikerwater met cochenille pienk gekleur en garedraadjies daarin gehang. En ná so 'n week – jy moet weet 'n week is lank vir 'n kind – het jy daardie pienk klont. So is die gedig wat uitsit en jou wêreld, die wêreld inneem.

“Ander moet jy oopdink. Jy kloof tot op die essensie. Soms tuimel hy feitlik in sy geheel uit jou. Dan weer moet 'n mens hom rafel…”(18)

Sy praat ook dikwels van die gedigte as mirakels wat “net kinders en skawagters” besoek, & nie meer vir haar nie “gebreinspoel en gevonnis tot / nugterheid lankal.” (19) Vir haar is “die hele skeppingsproses & die voltooide werk ... ’n misterie.” (20)

In gesprekke met Amanda Botha laat Cussons haar by geleentheid uit oor die besinnende aard van haar skeppende aktiwiteit:

Sheila is 'n digter – dit is haar totale belewenis; sy lééf net as sy werk – en werk beteken vir haar skryf, maar ook gebed, meditasie en geestelike voorbereiding op die ontvangs of geboorte van idees of frases. Soms is dit haar ‘dinktogte’ (thinking trips) wat haar lei na besieling, want om te kan dink, is vir Sheila die grootste avontuur in die lewe. Dit word vir haar 'n spoor waarmee sy binnewêrelde van die gees verken.

Haar verse ontstaan uit iets konkreets en ontwikkel as ‘'n reis van die siel na God’. Dikwels is die vertrekpunt iets baie algemeens en eenvoudigs, want dit is juis in die eksplisiete eenvoud waarin Sheila se verwondering aan die lewe lê. Dit is ook 'n sintuiglike waarneming wat feitlik na aanbidding van die Skepper lei.

Wanneer Sheila, soos sy dit stel, 'n gedig ‘kry’, is afronding haar enigste werk. Baie gedigte is feitlike weergawes van drome. Sulke verse is ‘Die swart kombuis’ (uit Die swart kombuis), ‘Pastoraal’ en ‘Fret’ (uit Membraan). Ander gedigte word ‘in 'n ruwe staat’ aan haar gegee. Wanneer sy dan daaraan werk, choreografeer sy die ritmes en klanke en word dit gereduseer om van elke onnodige woord ontslae te raak. In die ruwe vorm is daar baie gedagtes of woordassosiasies wat die gedig aanvanklik langerig maak. Hierna kom Sheila, die vakmens, op die toneel. Sy skaaf en snoei krities die weelde van woorde en gedagtes sonder om lieflingstrofes of reëls te probeer beskerm. Sy doen verbasend maklik afstand van reëls en strofes wat op sigself heeltemal aanvaarbaar is, maar wat volgens haar insig die vers sal versterk as dit wegval. Haar strewe is eenvoud en impak.

Sulke strofes of reëls word vir haar ‘afvalmateriaal’. Sy gebruik dit nooit weer om 'n ander vers daaruit te bou nie. (21)

Cussons se oog is visueel opgelei deur 'n hele reeks mentors & oor 'n lang periode.

Sheila Cussons is egter as visuele kunstenaar opgelei. Sy het aan die Universiteit van Natal onder Rosa Hope gestudeer. Voordat sy haar studie in 1946 in London onder Victor Passmore voortgesit het, het sy ook aan die Hugo Naudé Kunsskool onder Jean Welz ’n ruk lank klas gegee.

Vanaf 1948 het sy in Amsterdam onder die beroemde etser Theo Beerendonck studeer en tydens haar verblyf in Spanje het sy kontak gehad met die skilder Antoni Tapies. Sy het verskeie solo-uitstallings in Suid-Afrika aangebied wat deur kritici hoog aangeprys is. (22)

In haar bundel Die woedende brood skryf sy ’n herinneringsgedig oor Harry Rozema, ’n argitek & vriend uit haar Amsterdam-periode wat deel gehad het aan die opvoeding van haar oog. Sy sê in die gedig dat Rozema haar leer sien het: “Hy het my gewys dat geen twee vensters in ’n gebou eenders is nie – ’n insig wat ek hom altyd dankbaar voor sal bly.” (23)

Hy was ook ’n kunstenaar
en elke huis en venster van hom
was ’n wese, ’n indiwidu.
Hy’t my leer sien. Meer nie. Tot nou:
toe die uil roep. Harry Harry Rozema.

(Die woedende brood, 4)

“Wanneer ek werk, is ek die kuns. Ek is die tekening of skildery of die gedig waarmee ek besig is. Slegs wanneer die werk afgehandel is, kry die gedig, tekening of skildery ’n eie lewe, ’n eie individualiteit. Asof dit vanself ontstaan het, sonder my,” soms sy haar eie werk op & voeg dan by: “Die hele skeppingsproses en die voltooide werk is ’n misterie.” (24)

Waarneming is by haar tegelyk ook besinning, begrip:

die lig is skuiner van bedoeling
die woorde skadu verder

(“Sirkel”; Die skitterende wond, 28)

As jy kreatief lééf, is kuns & beskouing nie los te dink van mekaar nie.


Voetnotas

1. Le Roux, André. 1988. “Sheila Cussons”. Die Burger, Jg. 23, p. 6, 11 Junie.

2. Coetzer, Jeanne. 1979. “Sy wil poësie en skilderkuns integreer: Sheila Cussons aan die woord.” Die Burger, Jg. 65, p.8, 15 Augustus.

3. Ibid.

4. “Sheila Cussons...”. Rooi Rose. Jg. 37, Nr. 14, p. 132, 13 Februarie 1980.

5. Bruwer, Johan. 1979. “Alledaagse vensters op 'n ander wêreld”. Rapport, Jg. 9, Nr. 38, p. 16, 19 Augustus.

6. Vir albei het sy haar hande nodig gehad, & sy het in die brandongeluk vingers aan beide hande verloor.

7. In “’n Kleindorpse fragment” skryf die jong Cussons hoe sy “met spitse kaalvoet kennis hier / en daar net grondgevat” het (Plektrum, 12). Veel later, & na baie pyn, in “Christ of the burnt men” (Die swart kombuis, 81), word dit ‘n “eenvoetig-springende begrip”. Die “haelwit selfgeregtigheid” het plek gemaak vir “’n verskriklike akkoord”.

8. Bruwer, Johan. 1979. “Alledaagse vensters op 'n ander wêreld”. Rapport, Jg. 9, Nr. 38, p. 16, 19 Augustus.

9. 'n Uitspraak wat sy eggo in 'n onderhoud met Charles Fryer: “In ’n onderhoud in Rapport het sy oor dié traumatiese ingryp in haar lewe gesê: “Dis asof ’n mens jou eers deur pyn – of dit nou fisiek is, of geestelik – volkome kan vereenselwig met die hele komplekse seer maar heerlike ding wat menswees is.” (Charles Fryer. “Cussons op 70 nog onblusbaar”. Insig, p. 6, Augustus 1992.)

10. Le Roux, André. 1988. “Sheila Cussons”. Die Burger, Jg. 23, p. 6, 11 Junie.

11. Bruwer, Johan. 1979. “Alledaagse vensters op 'n ander wêreld”. Rapport, Jg. 9, Nr. 38, P. 16, 19 Augustus.

12. “Sheila Cussons...”. Rooi Rose. Jg. 37, Nr. 14, p. 132, 13 Februarie 1980.

13. Ibid.

14. Die net van die slaap vang die vis –
      antieke gesegde wonderlik waar
      want wat in die onbewuste swem
      spoel more in die lig uit, blinkend, dáár.

      (Die knetterende woord, 14)

15. Fryer, Charles. 1992. “Cussons bly uitreik na die Onsêbare”. Die Burger, Jg. 78, p. 6, 8 Augustus.

16. Taylor, Gorry Bowes. 1982. “Sheila Cussons ‘82”. The Argus, p. 11, 23 April.

17. Sien die gelyknamige gedig in Verwikkelde lyn (12).

18. Van Rooyen, Marietjie. 1983. “Sheila Cussons is terug en aan’t dig”. Sarie, Jg. 35, p. 171, 14 September.

19. “Die roos in die glas”, Die woedende brood (1981.)

20. Botha, Amanda. 2002. “Cussons se kuns ‘ ’n straal sekerheid’ ”. Die Burger, 4 Maart.

21. Botha, Amanda. 1988. “Verwonderd oor die lewe”. De Kat, Jg. 3, Nr. 10, p. 84, Mei.

22. Botha, Amanda. 1997. “Sheila Cussons (75) het naas Afrikaans liefde vir argitektuur”. Die Burger, p. iv, 9 Augustus.

23. Ibid.

24. Amanda Botha. “Cussons se kuns ‘’n straal sekerheid’ ”. Die Burger, 4 Maart 2002.


(c) Johann de Lange, 2010