Die roeping van St. Mattheus © Caravaggio, ca. 1600
Die roeping van Mattheus
Caravaggio
Hoekom juis hy? Daar is so baie ander
wat hul skoonmaak, aspris vir 'n openbaring,
deur mildheid en 'n kuise lewenswandel
(soos, sê maar, binne-egtelike paring)
– maar hy het hom nog altyd goed verskans
agter sy neuk-maar-op filosofie,
en sy hardvogtige ingaring
van tolgeld vir die staat se tesourie.
Het hul hul nie misgis nie, dié twee mans,
ruig-bebaard, aangetrek soos ‘n takhaar?
Hy sit betrap en verleë op sy stoel
terwyl die groen seuns vraend opkyk: Wie?
Maar twyfel word verdryf deur dié gebaar –
dis hy, net hy, wat die vreemdeling bedoel.
En daardie lig, daardie vreeslike lig!
Soos ‘n asgaai steek dit in hom en tril:
hy wou dit nie hê nie! hy het hom mos verbêre,
domgehou, in sy kantoor, sy verfoeide bedryf,
sy wyn, sy wywe, sy losbandige lag –
hy was juis besig om taksgeld te tel,
en waar munt blink, is dié glans meestal vér!
Te laat nou – hy is ingehaal.
Maar
sy sterk lyf
soek alreeds die teenoorgestelde krag
(van een wat wakker word, téén en mét die dag)
vir opbeur, opstaan en gaan in daardie lig
wat op sy donker kop druk soos ‘n groot gewig.
Peter Blum
(Uit: Steenbok tot Poolsee,
Tafelberg: 1955/1981