Grafskrif vir liberale
digters
Louis MacNeice
Wanneer ten einde laaste
– heel binnekort – ons leefwyse oor die muur is
en party sal sê Wat
daarvan en ander Maak dit saak,
gereed om onder nuwe name uit te buit of uitgebuit te word,
wat – straks beter óngesê – sou ons wou hê die geskiedenis
moet sê
oor ons wat geslaaploop het en tydens ons Soektog gesterf
het?
Ons wat altyd, maar dit nooit wou erken, ‘n meester had,
van wie verwag is – en daarvoor betaal is – om onsself te
wees,
gewoond daaraan om vry te dink, hoe kan ons
ons gebroke harte en gedagtepatrone met pleister lap
en in chroombeslaande verhale dié verheerlik
wat op ons sal volg en ons nie sal nodig hê nie –
die swygsame tegnokratiese Ontdekkersreisigers?
Die individu het vantevore al gesterf: Catullus
is jonk dood, om plek te maak vir dié wat oud gebore is
en meer aanpasbaar was, & nie eens jaloers
op sy wilde lewe en lirieke nie. Al was ons liedere
nie so warm as syne, is ons lot nie minder koud nie.
Soveel stilte dus vóór ons, rug teen die muur,
waarom sou ons kla? Daar is geen uitweg nie, die voëls
sal ons niks meer vertel; ons sal eerste verdwyn,
en tog bepaalde bevrore woorde nalaat
wat eendag, daar is geen waarborg, mag ontdooi
en, vir ’n oomblik of twee, ’n dors beklemtoon.
[Vertaal
deur Johann de Lange]