Daar is geen stad wat nie droom nie
Anne Michaels
Daar is geen stad wat nie droom
in sy fondasies nie. Die verlore meer
wat wegkrummel in die hande van die steenmakers,
die vloer van die kloof waar die lig gebroke lê
met die geheue van riviere. Al die winters
opgeberg in daardie geologiese
tuin. Dinosourusse slaap in die moltreintonnel
op die hoek van Bloor en Shaw, bed van beendere
onder die verbrokkelende spoor. Die storm
wat die stad verlig met die stroomspanning
van lente, toe ons agtien was
op die skoon aarde. Die veerbootrit in die reën,
wind nat met troumusiek en als wat
sing in die koolstof en klip en been
soos ’n bladsy liefde, windverlore uit ’n hand, ongelees.
[Vertaal
deur Johann de Lange]