Sunday, August 12, 2012

C P. Kavafis - In die vervelige dorpie


Constantine P. Kavafis


In die vervelige dorpie
C P. Kavafis

In die vervelige dorpie waar hy werk –
klerk in ’n tekstielwinkel, baie jonk –
en waar hy die twee of drie maande wat voorlê omwag,
nog twee of drie maande voordat besigheid opdroog
en hy kan vertrek stad toe en hom voluit kan onderdompel
in die aksie, die vermaak;
in die vervelige dorpie waar hy die tyd omwag –
gaan hy vanaand bed toe vol seksuele verlange,
sy jeugdigheid oplaaiend met die lyf se passie,
sy lieflike jeug oorgegee aan ’n delikate intensiteit.
En in sy slaap word hy deur genot besoek;
in sy slaap sien hy en besit hy die gestalte, die vlees wat hy begeer…


[Vertaal deur Johann de Lange]