Die vlieg
Miroslav Holub
Sy’t op 'n wilgertak gesit
en kyk
na 'n deel van die stryd van
Crecy,
die geskreeu,
die gesnak,
die gekreun,
die vertrap en die neertuimel.
Gedurende die veertiende
aanslag
van die Franse Kavallerie
het sy gepaar
met 'n manlike bruinoog-vlieg
van Vadincourt.
Sy het haar pootjies
saamgevryf
terwyl sy op 'n ontweide perd
sit en mediteer het
oor die onsterflikheid van
vlieë.
Met verligting het sy geland
op die blou tong
van die Hertog van Clervaux.
Toe die stilte neergedaal het
en die fluistering van verval
sagkens om die lyke gedraal
het
en slegs
'n paar arms en bene
nog trillend gesidder het
onder die bome
het sy haar eiers begin lê
op die enkele oog
van Johann Uhr,
die Koninklike Wapensmid.
En dis hoe
sy gevreet is deur 'n windswael
op vlug
van die vure by Estrées.
[Vertaling deur Johann de Lange]