Thursday, October 11, 2012

Sheila Cussons oor die verhouding tussen skryf & skilder in haar werk

Die jong Sheila Cussons


1. Aangesien ek 'n kunstenaar is, is die beeldende kunste vir my baie belangrik. Veral wanneer ek werk is ek die kuns. Ek is die tekening of skildery of die gedig waarmee ek besig is. Slegs wanneer die werk afgehandel is, kry die gedig/tekening/skildery 'n eie lewe, 'n eie individualiteit asof dit vanself ontstaan het, sonder my. Die hele skeppingsproses en die voltooide werk is 'n misterie.

2. Die verbintenis tussen my visuele werk en die digkuns is baie intiem, asof die twee eintlik een uitingsvorm in een gestalte is, met nóu die klem op klank en dán op sigbare beeld.

3. Daar sal wel 'n "osmose" wees tussen my kunstenaarskap en my digterskap. Die twee kunsvorms werk in op mekaar. Iets wat ek geteken of geskilder het word een of ander tyd weer vergestalt in woordvorm, of anders om.

4. Daar is te veel kunstenaars wat ek bewonder het om hier op te noem, van middeleeus, Renaissancisties en modern maar ek self meen dat my werk, hetsy poësie, hetsy teken- en skilderkuns weinig beïnvloeding toon. Ek het altyd te veel my eie sê gehad om te sê.

Januarie 2002