Carlos Drummond de Andrade
Sewe-kantige vers
Carlos Drummond de
Andrade
Toe ek gebore is, het ’n verdraaide engel,
die soort wat leef in skaduwees,
gesê: Gaan, Carlos! Wees taktloos in die lewe.
Die huise sien die mans
wat agter vrouens aan is.
Miskien as die middag blou was
sou daar nie so baie begeertes wees nie.
Die tram beweeg verby propvol bene:
wit swart geel bene.
Waarom so baie bene, God, vra my hart.
Maar my oë
vra nooit enigiets nie.
Die man agter die snor
is ernstig, eenvoudig, en sterk.
Praat omtrent nooit nie.
Het ’n paar goeie vriende,
daardie man agter die brille en die snor.
Here, waarom het u my versaak
as u geweet het ek is nie God nie?
As u geweet het ek was swak.
Wêreld wêreld ontsaglike sfeer
as my naam Heer was
sou dit ’n rym gewees het, nie ’n oplossing nie.
Wêreld wêreld ontsaglike sfeer
my hart is nog ontsagliker.
Ek behoort jou nie te vertel nie,
maar hierdie maan
maar hierdie konjak
gee ons ’n smart soos die duiwel alleen weet.
[Vertaal deur Johann de Lange]