Man en vrou
Robert Lowell
Makgemaak deur Miltown lê ons op ma se bed;
die son herrys en vlek ons rooi in oorlogsverf;
in die helder daglig straal haar koperkatel
in oorgawe, byna Dionusiaans.
Die bome in Marlborough straat is oplaas groen,
bloeisels aan ons magnoliaboom ontbrand
die oggend met hul moorddadige vyf-dae-wit.
Heelnagdeur het ek jou hand vasgehou,
asof jy ’n vierde keer
die koninkryk van die malles moes trotseer –
sy geradbraakte taal, sy moordlustige oog –
en my lewend huis toe gesleep het… O my Kleinding,
skoonste van God se wesens, nog suiwer lug en senuwee:
jy was in jou twintigs, en ek,
eens hand op die glas
en hart in die mond,
het die Rahys onder die tafel in gedrink in die hitte
van Greenwich Village, en flou voor jou voete neergeval –
te geblakerd en sku
en poker-gesig om by jou aan te lê,
terwyl die fel geesdrif
van jou smaad die tradisionele Suide geskroei het.
Nou twaalf jaar later, draai jy jou rug.
Slaaploos, hou jy
jou kussing teen jou holtes soos ’n kind;
jou outydse tirade –
liefdevol, vinnig, genadeloos –
breek soos die Atlantiese oseaan oor my kop.
[Vertaal
deur Johann de Lange]