Rutger Kopland (1934 - 2012)
Poskaart van ’n
Griekse eiland
Rutger Kopland
Palaiokastritsa,
27 Augustus 2005
Herman, ek wou jou nog ’n poskaart skryf,
so ’n snaakse foto, met ’n grap daarby,
oor, nou ja, jy weet wel waaroor,
maar ek het gehoor dat jy al dood was
voordat ek ’n grap kon opspoor.
Ek leef nog, ons gesprek is nie klaar nie,
maar ek leef die laaste dae geboë, oor woorde
wat ek deurhaal, weer neerskryf –
Waaroor het ons dit gehad, waar
het ons gebly, sonder om die dood te verwag
skryf mens geen poësie, oor dit was ons
dit hartroerend eens,
poësie was geluk, die geluk om ’n paar woorde
te vind wat selfs by mekaar wil hoort
voor die dood ons kom haal,
’n grap, ’n sorgvuldig versweë grap
om die dood, hierdie deurhaal en weer neerskryf,
so was poësie.
Ek sal jou dus nooit weer sien nie.
Ek leef hierdie laaste dae geboë, oor álles,
oor die verleë liggaam, die weemoedige kop
waarmee jy gepraat het, voor dit alles
lewend begrawe word,
ek bedoel, ek leef geboë oor die poskaart,
jy snap wel, so ’n veels te blou see,
so ’n veels te blou hemel:
Happy days in Greece.
[Vertaal deur Johann de
Lange]