Sunday, September 18, 2016

Resensie. Johann de Lange – ’n Hunkering se grein (Daniel Hugo)

18 September 2016 00:00

De Lange is een van die fynste formuleerders in die Afrikaanse digkuns, skryf Daniel Hugo.

’n Hunkering se grein deur Johann de Lange. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R175.

Die Hertzogpryswenner Johann de Lange se jongste digbundel het eintlik twee titels: ’n Hunkering se grein (’n versreël van Sheila Cussons) en Pulvis et umbra sumus (ons is stof en skaduwees).

Die laasgenoemde is ’n uitspraak van die Latynse digter Horatius (65-8 v.C.) en vorm ’n deel van Judith Mason se skildery Roman Africa, wat op die omslag van die bundel verskyn.

Hierdie twee titels, die amptelike en nieamptelike, vat die temas en toonaard van die gedigte goed saam. Die hoogtepunt van die bundel is inderdaad ’n lang nostalgiese en ontnugterde gedig, “Twee vryverse vir Joan op 60”, oor die digter se viriele verlede en valer hede in die styl van Allen Ginsberg. Die afname van seksualiteit in sy lewe noem hy “die eerste dood”. De Lange se slotsom is: “vir wié of wát, in gódsnaam skryf ek nog?”

Hierdie gedig is terselfdertyd ’n ongeëwenaarde uitbasuin van De Lange se ongeremde gaywees. Later in die bundel staan daar ’n gedig met die titel “Allen Ginsberg se boeke”, waar dié Amerikaanse gay beat poet in ’n droom aan hom verskyn. En dié ontmoeting loop ook op ’n ontnugtering uit.

In die Horatiaanse gees van die mens wat net stof en skaduwees is, skryf De Lange in memoriam-gedigte aan T.T. Cloete, prinses Diana, Marilyn Monroe, Michael Jackson, Nelson Mandela en Hennie Aucamp. Aan laasgenoemde wy hy ’n hele afdeling: “Rust-mijn-ziel: ’n hartseerwals”.

Rust-mijn-ziel is die plaas in die Oos-Kaap waar Aucamp grootgeword het, en “Die hartseerwals” een van sy bekendste kortverhale. Die beste van die Aucamp-verse is “Dagreis” wat so eindig:

Met Rust-mijn-ziel ’n soet spesmaas,
het jy ingekruip onder ’n grou karos
& met jouself gaan lepellê op langelaas.

In “Binêr” vrees die digter vir sy eie “weg-raak in die niet, / die niks-wees / ná die dood”.

Maar dit is nie ’n morbiede versameling gedigte nie. Niks wat goed verwoord is, kan ’n mens werklik bedruk maak nie, selfs al gaan dit oor die verganklikheid en dood. En Johann de Lange is een van die fynste formuleerders in die Afrikaanse digkuns. In “Standaardtoer” (na Robbeneiland) staan byvoorbeeld die volgende treffende beskrywing: “In die hawe lê die ­seiljagte vasgemeer in visgraatsteek”.

As antidoot teen enige moontlike swartgalligheid is daar ook uitbundige boutades in die bundel, soos die besonder plesierige “Die mafia-wywe”: “Hulle suip soos Kosakke / & spandeer geld soos Dominikaanse koppelaars.” Vir sy vriendin, die digter Joan Hambidge wat vanjaar 60 word, skryf hy die kwatryn “Joan on the town”:

Die dinge wat jy aanvang!
Die plekke waar jy uithang!
Vir jou jare nog steeds
die ene Sturm und Drang!

Die groot getal kwatryne in die bundel is nogal opvallend, nadat De Lange vyf jaar gelede reeds Weerlig van die ongeloof, ’n bundel wat uitsluitlik uit vierreëllige verse bestaan, die lig laat sien het. Vir my gevoel is die kwatryne in die jongste bundel oor die algemeen ’n bietjie flou – blote nawater van daardie vorige versameling.

Veel boeiender is die twee sonnette met ongewoon lang versreëls waarin hy Nelson Mandela huldig.

De Lange is ’n uitmuntende natuurdigter, en die gedigte in die eerste afdeling getuig weer van sy uitsonderlike beskrywingsvermoë. Veral “ ’n Murmurasie van spreeus”, ’n vrye sonnet, is ’n meesterstuk. In die selfportret “Die digter as ronkedoor” (’n alleenloperolifant of ongesellige man) sê De Lange: “Gestaak / kontak met medemens, selfs die natuur / vervang met hoëdefinisie-TV uur na uur”.

Maar dit maak uiteraard nie saak waardeur die digter geïnspireer word nie – die vrye natuur of digitale natuurbeelde – ­solank die vers die leser oortuig. Hierdie leser is beslis oortuig.

Die gedig oor die hoenderhaan “Blink Stefaans” is een van die min werklik geslaagde villanelles in Afrikaans.

Die villanelle is ’n vaste versvorm van 19 versreëls met ’n ingewikkelde refreinpatroon en slegs twee rymklanke. Om dit in die rymarm Afrikaans te laat slaag, verg bomenslike vernuf. “ ’n Haan soos Blink Stefaans / laat die ander hoenderhane ­eierdans”. Inderdaad.

In byna al sy bundels klink daar bewuste eggo’s van N.P. van Wyk Louw op. Ook hier in “Blink Stefaans” vertoon die parmantige haan ’n ooreenkoms met Louw se “Beeld van ’n jeug: duif en perd” waarin “die goue haan wat al sy henne trap” sy verskyning maak. By De Lange trap die blink haan met “sy geel geskubte pote elke lê-hen op die werf”.

In ’n Hunkering se grein word die Louw-interteks aangevul met verwysings na Boerneef. Soms word dié spel darem net te oordadig en selfs gedwonge, soos in die herskrywings van onderskeidelik ’n Boerneef- en Louw-gedig in “Twee blaaie geskeur uit Groot verseboek”. Dié intertekste help wel om die bundel tot ’n eenheid saam te bind. Die digter is self, soos die swermende spreeus in die openingsgedig, “ ’n energie wat dink en weef”.

Ondanks my bedenkinge oor heelwat van die kwatryne sal ek nie die volgende een, met die veelseggende titel “Weef”, wou mis nie. Gedigte in ’n bundel vorm ’n weefwerk wat aan die digter skuiling bied tussen hemel en aarde, tussen tyd en ewigheid:

Die vinkneste wieg bo die watervlak
soos druppels immer gereed om te val.
Ons drome reik deur tydlose ruimtes
terwyl ons geanker bly aan ’n wal.

(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Onderhoud. Rudolf Stehle - Die muse plak by digter De Lange – en hy kla glad nie


12 Mei 2014

Johann de Lange beleef ’n baie vrugbare tyd. Stil punt van die aarde, sy derde bundel in net soveel jaar, het onlangs verskyn.

Die bundel is jou derde sedert jy in 2011 die Hertzogprys ontvang het. Het dié prys ’n invloed gehad op hoe gereeld jy sedertdien publiseer?
Nee. Net vóór die bundel waarvoor ek die prys gekry het, Die algebra van nood, het ek om en by 14 jaar lank nie gepubliseer nie. Maar ek het wel aanhou skryf en afrond, en ek het ’n geweldige klomp verse bymekaar gehad. Ek was ook in daardie tyd op soek na ’n styl waarin ek nuwe inhoude kon oordra. So, ná Algebra, nadat ek die prys ontvang het, het ek ’n groot aantal verse oorgehad waaruit ek vir die volgende bundels kon put, maar ek het ook met elke bundel nuwe verse bygeskryf.
Ek moet erken ek beleef ’n vrugbare tyd: die stroom nuwe gedigte het selfs nóú, vier jaar later, nie opgehou nie. Die muse plak by my, maar ek kla nie. 

Is die verse in dié bundel almal nuut geskryf?
Die oorgrote meerderheid van die verse is nuut geskryf, maar daar is ook verse wat van vorige fases dateer, verse wat ek ten tyde van die vorige bundels nie bevredigend kon afwerk nie, of wat nog van kiem af moes ontwikkel. Selfs van die verse wat uit ’n vorige fase dateer word herskryf en aangepas om deel te word van ’n betrokke bundel. 

Waarna kan die “stil punt” in die titel van die bundel verwys?
Daar is verskillende moontlikhede, maar die mees voor die hand liggende betekenis is daardie oomblik van insig, van verheldering. Vir my het die poësie ’n epifaniese aard. Die stil punt is die oomblik wanneer waarneming oorgaan in verheldering, of in ’n wending. Vir my is die poësie ’n ars poetica, en handel alle gedigte uiteindelik oor die skryf van gedigte, oor die aard van taal.

Op die voorblad sit jy jou “vennootskap” met die kunstenaar Judith Mason voort. Waarby vind jy in haar werk aanklank?
Ek het groot bewondering vir haar werk, ’n waardering wat teruggaan na my laerskooljare. Ek het onmiddellik aanklank gevind by haar werk sonder om dit te kon verduidelik of selfs, glo ek, te verstaan. Sy is vir my ’n poet’s painter. Sy dink visueel soos ’n digter. Haar werk is vol transformasie, haar styl is metafories, die ooreenskuif van betekenislae.

Die bundel bevat talle nadigtings. Op grond waarvan besluit jy om ’n ander digter na te dig?
Die meeste toespelings op die werk van ander digters in my werk gebeur onbewustelik. Ek lees geweldig wyd, en daar is ook plaaslike digters wie se werk ek jaarliks herlees. Ek glo daaraan om die tradisie te verstaan waarbinne ek werk en daarbinne voort te dig.
In ander gevalle is die gesprek met digters of gedigte bewustelik, soos byvoorbeeld die werk van N.P. van Wyk Louw en Sheila Cussons. Albei digters vir wie se werk en denkwêreld ek groot affiniteit voel.
Die begeerte om op sommige gedigte te “antwoord” is so oud soos die poësie sélf. Ek is ook lief daarvoor om verse te skryf waarin ek met skilderye, foto’s of beelde in woorde omgaan, eweneens deel van oertradisies. 

Tuesday, August 23, 2016

Onderhoud: Joan Hambidge, Johann de Lange oor skrywerskap

Joan Hambidge aan Johann de Lange


Johann de Lange (Foto: Edrea Cloete)

Jy verwys na Roland Barthes se werk A lover’s discourse in jou bundel soos volg: “Language is a skin: I rub my language against that of the other. It is as if I had words instead of fingers, or fingers at the tip of my words. My language trembles with desire . . .” Die titel roep weer The grain of the voice (Le grain de la voix) op. Hoe moet die leser die idee van ’n hunkering se “grein” verstaan?
Vir my het die poësie net een onderwerp en dis taal sélf. Die “herinneringe” van die titel gaan nie net oor ’n terugblik op die verlede nie, maar ook ’n terugreis deur jou eie skryfwerk. Taal sélf het ’n tekstuur. Wanneer jy ander skrywers lees, is dit daar, onverwoordbaar, maar voelbaar. En wanneer jy skryf, werk jy met verskillende registers, verskillende teksture, en as jy suksesvol is, voel jou leser die grein van jou taal, van jou unieke stem. En vir my, ná ’n leeftyd van eroties skryf (eerder as erotiek skryf), is ek bewus daarvan dat taal léwend is, dat praat ’n lyflike ervaring is, en dat woorde en klanke by my ’n lyflike dimensie by skryf bring.

Watter invloed het Van Wyk Louw op jou digkuns gehad en meer in die besonder by die skryf van hierdie bundel?

Tristia met dagbreek

Deur die blindings val skag op skag
lig wat my Tristia ophelder, & die lyf
se warm terracotta; & die nag
se triestige wintergedagtes verdryf.

Soos ’n mens begin lees, gaan skrywers vir jou in verskillende stadiums van jou ontwikkeling oop. Louw was nie een van die digters wat vroeg reeds met my gepraat het nie. En hy het mý gekies, nie ek vir hom nie. Hy het my só vasgevat, en ’n gesprek begin wat nou al meer as 30 jaar duur. By hom het ek akkuraat leer skryf. Hy het my veral geleer wat die uitdrukkingsmoontlikhede van Afrikaans is. Hy is die Poolster, hy rig my, en hy bly immer onbereikbaar.

Die gesprek met Hennie Aucamp verdien vermelding. Lykdigte, besinnings, en die volgende mooi in memoriam. Watter invloed had hy op jou lewe en digkuns?

In memoriam: Slampamperman

Vir vriende & vreemdes was jy ’n gewer,
van raad, geskenke, ’n toespraak met jenewer.
Die jare bly van gewers vat, tot einde-
lik die gewer niks meer het om te gee
as ’n handvol gruis & gedroogde blare,
waboom-blare, ghnarrabos-blare, reg
om te strooi na jou Hantam onderweg.

Ek het Hennie Aucamp ontmoet vóór my debuut, en ek het geen idee gehad hoe ’n belangrike rol hy in my lewe sou speel, hoe hy dit sou verryk, of dat ons vriendskap tot en met sy dood sou duur nie. Hy was ’n mentorsfiguur, ’n vriend, ’n geesgenoot, ’n besadigde balans by my meer heethoofdige natuur. Hy het my aan sóveel nuwe dinge bekend gestel. Hy het ’n groot verwysingsraamwerk gehad, wat dit heerlik gemaak het om met hom te gesels. Die ganse taalregister is bestryk, en níks was taboe nie. Hy het by my ’n liefde vir ou woorde en uitdrukkings gestig.

Hennie het my, nes Louw, geleer dat helder denke in die eerste plek jou styl moet rig. As jy helder dink, sal wat jy skryf helder wees. As daar ’n fout is met ’n gedig moet jy dit gaan soek in die dinkwerk daaragter, en/of in die taal.

Dit was ’n vreugde om in die laaste 15 jaar van sy lewe sy ontwikkeling as digter te kon meemaak. Dit het ’n verdieping in ons vriendskap gebring. Vir ’n Hunkering se grein het ek gehoop om minstens één gedig te kon skryf om hulde te bring. Wat gevolg het, was ’n stortvloed van gedigte oor hom en vir hom. Uiteindelik kon ek ’n hele afdeling in die bundel aan hom wy, en só weer die gesprek met hom hervat.

*

Johann de Lange aan Joan Hambidge

Joan Hambidge

Ons is almal bekend met die gedagte dat jy ’n leeftyd eintlik aan een boek of een vers bestee, dat jy jou met een tema bemoei. Maar daar is ook laat in ’n mens se lewe ’n terugkeer in die tyd, ’n bestekopname. Jou laaste twee bundels (Meditasies en Matriks) nooi trouens so ’n lesing uit. Hoe beskou jy jou nuwe bundel, Indeks?
In die sin dat ek ’n oorgang beleef: sestig is waarskynlik ’n tydvak van bestekopname. ’n Mens kyk terug na die mens wat jy was en jy ervaar (sowel as mens as digter) ’n gevoel van verspeelde kanse en dalk dat jy tyd verspil het op temas (soos die liefde). Terselfdertyd is hierdie ondergrond ook dit wat die proses paradoksaal bly voortstu.

Jy gee kreatiewe skryfwerk. Hoe verhoed jy dat jy jou skryfstyl op jou studente afdruk? Wat kan geleer word en wat nie? En met wat tans op kampusse gebeur, wat is die toekoms van kreatieweskryfskole op kampusse?
Ek leer my studente tegnieke van dig, die tradisie van skryf en ek leer hulle om ’n eie stem te ontdek. Die studente wat deur my begelei is, het elk ’n beduidende “eie stem”. Jy kan net iemand leer om beter te skryf, nader aan die eie identiteit te kom. Ek laat nie pastiches van my toe nie en wanneer ek dit optel, wys ek dit uit. Die proses werk soos psigoanalise: daar is ’n kontrak tussen mentor en mentee. Alles is vertroulik in hierdie slypskole en ek skep ’n veilige ruimte vir selfontdekking. Die toekoms van skryfskole is deel van die geesteswetenskappe se toekoms. Niemand weet hoe dinge vorentoe sal lyk nie.

Benewens lees, is reis die ander groot stukrag in jou lewe. Albei voed jou skryfwerk. Kyk maar na die voedende krag daarvan by D. J. Opperman en N. P. van Wyk Louw. Maar dan is daar ’n figuur soos Emily Dickinson wat binne die klein bestek van haar leefruimte ’n heelal oopgeskryf het. Is reis onontbeerlik? Of moet ’n mens eerder leer om in die oomblik te leef en fyn waar te neem en te dink?
Reis is lewensbloed. Ek gaan haal my gedigte ver, soos TT Cloete eenkeer opgemerk het. Ek is altyd in die oomblik, maar reis maak jou nog meer bewus van wie jy is, waar jy vandaan kom, omdat jy niks het om aan vas te hou nie. My gedigte is “visums by verstek”. Ek het baie gelees oor Neruda en die besoeke aan sy huise het bevestig wat ek waarskynlik reeds geweet het. Maar ek kon my gedigte fyner instel, beter kalibreer.

Human & Rousseau gee Indeks en ’n Hunkering se grein uit.

(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)

Saturday, June 25, 2016

In Memoriam: Adam Small (1936 – 2016)


Vir die meeste van my generasie was die gedigte van Adam Small op skool die eerste kennismaak met bruin Afrikaans. As ek aan hom dink dan hoor ek immer daardie effens navrante klank in die stemme van sy sprekers. Wat kon verval het in bitterheid en woede het hy getemper met humor en wysheid, en teregwysing. 

Die toekenning van die Hertzog prys aan hom het ’n laakbare oorsig reggestel, maar sy hertoetrede tot die literêre toneel het vir my iets van ’n Rip van Winkel-kwaliteit gehad: dinge het geweldig baie verander in die lang seisoen van sy swye. Sy opkoms vir Afrikaans, sy liefde vir Van Wyk Louw en Opperman, was deel van ’n intellektuele soort bestaan wat verby is, & hy is deur van die jonger bruin skrywers aangeval. Steeds het hy nie bitter geraak nie, maar met optredes, voorlesings, en e-pos korrespondensie bly uitreik na mede-skrywers.

In ‘n vroeë &-pos vra hy, “noem my asseblief Adam”, ‘n versoek waaraan ek nie gehoor kon gee nie, maar vergun my om nóú, uiteindelik, te sê, “Wel te ruste, Adam.”

Adam Small in Distrik Ses

Johann de Lange
25 Junie 2016