Vir die meeste
van my generasie was die gedigte van Adam Small op skool die eerste kennismaak
met bruin Afrikaans. As ek aan hom dink dan hoor ek immer daardie effens
navrante klank in die stemme van sy sprekers. Wat kon verval het in bitterheid
en woede het hy getemper met humor en wysheid, en teregwysing.
Die toekenning
van die Hertzog prys aan hom het ’n laakbare oorsig reggestel, maar sy
hertoetrede tot die literêre toneel het vir my iets van ’n Rip van
Winkel-kwaliteit gehad: dinge het geweldig baie verander in die lang seisoen
van sy swye. Sy opkoms vir Afrikaans, sy liefde vir Van Wyk Louw en Opperman,
was deel van ’n intellektuele soort bestaan wat verby is, & hy is deur van
die jonger bruin skrywers aangeval. Steeds het hy nie bitter geraak nie, maar
met optredes, voorlesings, en e-pos korrespondensie bly uitreik na
mede-skrywers.
In ‘n vroeë
&-pos vra hy, “noem my asseblief Adam”, ‘n versoek waaraan ek nie gehoor
kon gee nie, maar vergun my om nóú, uiteindelik, te sê, “Wel te ruste, Adam.”
Johann de Lange
25 Junie 2016