Tuesday, December 25, 2012

Sportgedigte



Ernst van Heerden kan met reg Afrikaans se sportdigter genoem word. Geen ander digter het soveel gedigte & so bestendig oor sport geskryf nie. Voor die operasies waardeur hy beide sy bene verloor het, was Van Heerden ’n kranige sportman. Reeds as skolier & later as student was sport 'n belangrike deel van sy lewe, & gewigoptel was sy passie. Ek het, soos die meeste anders lesers, op skool & deur die gedig “Die gewigopteller” kennis gemaak met sy werk:

Gewigopteller Ian Droze © Chris Kulp

Die gewigopteller

Die taai klou van die grond
vermenigvuldig elke pond,

die ruie vlegsel van die spier
is – triomfantelik! – ’n dier

wat met één kap blitssnel
die swaartepunt verstel.

 Maar Van Heerden het verse oor 'n wye verskeidenheid sportsoorte geskryf: hardlopers, swemmers, boksers, fietsryers, stoeiers, tennisspelers, rugbyspelers, skiërs, branderplankryers, steltlopers, diepseeduikers, valskermspringers, skaatsers, hangswewers, sweefstokartieste & valkeniers onder andere. Interessant genoeg, vir sover ek kon vasstel, het hy net oor sportmanne of vanuit ’n manlike perspektief geskryf – dit was die “ruie vlegsel”, die brute krag, sowel as die grasie van die sportman wat hy bewonder het.

In 1948 by die Kunsfees ten tyde van die Olimpiese spele in London word ses van sy Afrikaanse sportgedigte met 'n silwer medalje & ere-diploma bekroon. ’n Pamflet van die gedigte, getiteld Ses gedigte / Six poems, is gepubliseer. Die gedigte daarin opgeneem, is: "The runner/Die hardloper", "Diving board/Duikplank", "The swimmer/Die swemmer", "The boxer/Die bokser", The weight-lifter/Die gewigopteller", & "Cycle race/Fietswedren".

Op 19 Maart 1993, ’n dag voor sy 77ste verjaarsdag, het die Sportburo van die Universiteit van Pretoria hom met ’n spesiale toekenning vereer vir al sy sportgedigte. By dié geleentheid is die eerste eksemplaar van Sportgedigte, ’n eenmalige oplaag van 350 genommerde eksemplare, aan hom oorhandig. Uit dié bundel wil ek graag ’n paar van my gunsteling sportgedigte deur julle deel.

Justin Wilcox © Foto: Harry How / Getty Images

Duikplank

’n Wenteltrap teen wolkpatroon
wat oor ’n omgekeerde wiegelhemel welf…
O fyn-geveerde boog,
die eindpunt van die sekerheid,
wat hierdie brose pyl – die blanke lyf –
die helder ruimtes in sal skiet…
O yle, selfaanvaarde hoogskavot,
waarteen die laaste ewewig moet stuit;
maar voor die blinde skerpgepunte noodlotsprong
eers nou die swaartekrag magneties tart
en dunnerig wieg op toon en hak…
Nou trek hy suiwer-wyd
sy sierlike sentrifugale boog
wat wolk en blinking bind
en wriemelende waterbeeld wat flits
en toesnel op die skraal spies…

Tamboerslag: skuim en siltigheid,
en dooie water in ’n aardesuil verstar.

Wat my by my eerste besoek by Ernst aan huis opgeval het, was die swembad waarop sy studeerkamer uitgeloop het. Ernst het wanneer weer en seisoen dit toelaat elke dag geswem. Van die studeerkamer se oop skuifdeure het ‘n sementpaadjie met ligte helling af na die swembadrand geloop. Hy het die rolstoel in die studeerkamer gelos & dan met handdoek oor die skouer & in swembroek, sy lyf behendig tussen stewige arms geswaai, tree vir tree, tot by die blou flikkerende watervlak. Dit was die medium waarin hy vry kon wees & vir die oomblik van sy gestremdheid kon vergeet & kon swem & buitel.

Hy het stewige arms gehad, waarskynlik te danke aan sy gewigoptellerdae, maar ook omdat hy as gestremde sonder bene álles met sy hande & arms moes vermag. Hy het sy motor laat modifieer sodat hy dit kon bestuur met handkontroles. Ek het my verwonder oor hoe behendig & kragtig hy die motordak sou vasvat met beide hande & hom met een swaai uit die rolstoel kon lig tot op die sitplek. Hy het groot hande gehad en sy handdruk was stewig. Later in ons vriendskap is die handdruk vervang met ’n soengroet op die wang.

Michael Phelps © Al Bello / Getty Images

Die swemmer

Dit is ’n vryheid meer volkome
as die ligte veerstap oor die grond:
om diep op ademtogte van die see
soos wier te dryf en roer,
willoos soos die seegras-slierte,
en lyfsbeweging en gedagte hier te skei
– vergete huls, verlore spaan,
en meeu wat wit en verre horisonne soek – ;

Om dan met snelle spierverbinding
en hale, rats die ondersee
se listige gryp en sleep te ontwyk,
en vry-uit bo die eerste branderroering,
bo die onmeetlik-diepe watersugte,
na die wit sand koers te kry.

O blou-rooi huisies, vriendelike rook,
o baai en strand wat immer, immer wyk!


Swemvreug

Behep steeds met en deur
die ou wiskunde van die pyn,
wil ek in water
die primêre leniginge soek –
om vry en kettingloos
’n slinkse lyflike maneuver
uit te vier.

Hier kan ek beenloos sprankel, buitel,
gallopteer en harlekynerig dans,
en uitreik na
nuwe droom-betrede strande
met ’n oewerlike ras.

So kan ek steeds ontdekker speel,
gedwing tot nuwe helderte:
hoe sanerend, manties water spoel
en my uit
’n wilde, lukraak wêreld
wurmsgewys terugdu –
snakkend
na die stoting
van die amniotiese vog.

In sy sportgedigte word die sportman altyd gestel in stryd teen ’n opponent, & dié kan wees  van vlees en bloed, of dit kan die dood wees, of natuurkragte, of die self. In “Die bokser” gebruik Van Heerden die distigon-vers om hierdie tweestryd uit te beeld, ’n versvorm waarmee hy baie behendig was.

Julio Diaz & Pavel Miranda © AP Photo / Carlos Osorio

Die bokser

Die grense van die klein kryt
is hellende onvastigheid,

waar wit bors fier teen wit bors staan
en skim teen skim die skynhou slaan;

die lyf word wieging – ritmies, sterk –
tot skerm en liemaak ingeperk;

vier donker oë blits fel en woes,
wyl twee gedaantes mik en koes;

maar elk groteske vuis se smak
laat lis en weerstand verder knak…

die liggaam is so rank gebou
en weerloos teen die man se hou;

tog sal my mokerslag hom tref
waar hy hom vaag en grynsend hef,

sy beeld versplinter in die glas
waar netnou my gestalte was;

’n flikker-weerskyn word verskerf,
’n lyf stort soos ’n koring-gerf…

Wie is die man wat roerloos lê,
wie’t ’n bekende naam gesê?

Waarom die skaar aan’t roep en fluit,
en waarom flakker ligte uit…?


Bokser wat uitgeslaan is

Verblindend gloei die pyn se vuurkolom:
hy hoor tien tellings soos ’n dowwe trom
wat deur sy oë beuk, buk aarde-laag,
laat in die kryt sy bloed se rooiste blom.

Die sport self word by Van Heerden dikwels simbool van die lewe, van die stryd tussen lewe & dood, van die mens teen natuurkragte soos swaartekrag.

Brons Fietsloop © Getty/Beijing, 2008

Fietswedren

Demone hurk die skuinste langs
– bo outomaties soem en flits –
al wilder en waansinniger:
dyspier, voet, pedale ewewigtig
en in magtige gang fyn vasgewoel
met ruisend-starre meganiek…

hoe draai die ratte van die lot,
hoe sing die witblink sirkels in hul
ligte aanraak van die hellingraam;
hul skeer, en sak, vloei saam, en rys:
wrakhout uit die draaikolk vrygepuur
en sierlik uitgewentel bo die tregtervrees.

Stoeiers © Ed Wray/Associated Press

Stoeiers

Hier beuk ’n borskas met geweld
teen ribbes waar ’n krag
soos vuurbrand agter tralies uit wil slaan;

die krygers snak-hyg op die veld
en beur met draadsterk mag
om vyandsklem en wurggreep te weerstaan;

(word kwaad met kwaad of goed vergeld?)
o onbeslegte dag,
drie Laokoöns se stryd hou ewig aan.

’n Ander onvergeetlike sportgedig (of eerder, gedig oor 'n sportfiguur) is Peter Blum se “Die ou bokser”:

Die ou bokser

Wat word van boksers wanneer hulle oud word?
Geleidelik verdor ook die lourier,
verslap die forse houding, spog en swier,
terwyl die geesdrif van die skare koud word.

In kroeë proe hy soms nog die ou roem,
of as ’n sportliefhebber hom herken
en hom help onthou hoedat hy eens gewen
en weer gewen het. Dít is nou sy doem –

om alles heerliks agter hom te weet:
die vrouens wat glibberig oor hom geraak het,
dawerende applous waarin hy trots geblaak het,
omkrans met kalklig, skreeue, lof en sweet.

Net in gimnasiums het hy nog ’n tuiste
waar die jongeres gretig sy wenke afkyk,
onbekommerd na sy trofeë reik
met ongeskonde koppe en vars vuiste.

En wat bly oor? Herinnerings wat verflou,
’n bankbalans wat krimp, ’n dowwer beker,
’n suwwe brein en swaar gestel, jaarliks weker
– net geel koerantknipsels bly nog getrou.

Verbanne koning, Simson werkgeboë,
droom jy van ’n terugkeer na ou glorie?
Dít gebeur net in die Bybel of historie:
Verniet vonk soms ’n felheid in jou oë.

Gaan lê, ou bul, jóú tyd is nou verstreke,
jou harsings is geskud, jou spiere pap.
Voel jy die jeug se opmars oor jou trap?
Vir hulle hou die noodlot nog sy steke.

Gaan lê, maar waak teen selfbejammering:
ofskoon kortstondig, het jy tog gesmaak
waarna hulle almal dors. Dit was jou taak –
dié plaasvervangende regverdiging

van hulle wat kragteloos na die groot luister
tas – ag, net één keer! – en tog telkens faal,
terugsink – elke doelwit onbehaal –
en naamloos voorgesleur word in die duister.

Van Heerden se “Rustende atleet” sou daarmee saamgelees kon word:

© Michael Maloney, The Chronicle

Rustende atleet

Vroeër nog bewus
van ongesiene makkers in die loop,
kry soveel gans ontspanne spiere
en hul stroewe werwelmeganismes
nou die kans
vir ’n ander, edeler bedryf:

om daagliks
kwesbaarheid te weer –
pyle wat die hakskeen tref
en messe wat arteries kerf en las –
met aanvaarding susgemaak
vir die tweede man se ewige triomf.

Al beurend weet
die hart uiteindelik:
die bo-nerf is
as pantser onvolmaak,
volmaak vermink.

Waaraan Hennie Aucamp sy pragtige bundeltitel, Volmink, ontleen het.

Brady Ellison © Paul Gilham / Getty Images

Vraag van die boogskutter

Wat is die verste wat die boog kan span,
hoeveel kan hierdie taai pees vedra…?
sal die vering van geloof
nou nog ’n laaste pyl
laat spring en stort
(waar konsentries-swart die sirkels van die brein
’n klein heelal omspan),
en feilloos tot die kern dring…?

In “Steltloper” gee Van Heerden ’n rare perspektief op ’n aktiwiteit wat alreeds in sigself raar is. Sy sportverse steek nooit vas in blote beskrywing nie, maar eerder simbolies van bekende magte in “haglike ewewig” (om ’n frase van Ina Rousseau te gebruik), van goed teen kwaad, lewe teen dood, en dikwels verras hy met buitengewone perspektiewe wat disparate wêrelde by mekaar uitbring.

Steltlopers

Steltloper

Om die aarde weg te stoot is nou sy lis:
’n pik-pik-spoor laat sy vervolgers gis;

op kuise selfverheffing word gedra
geen Kiriloff, maar een wat deemoed vra;

en as hy ongestut fantasties staan
(vertraagde paalsprong wat nie verder gaan),

reik hy verlangend na die son se wit:
maar waarvoor sou die hotnotsgot nog bid?

Diepseeduiker by skeepswrak © Ty Sawye

Diepseeduiker

Huilwind, hoë stormsee en stroom
is tot ’n wêreld van glasuur verstil:
’n traer ritme in die wiere oorgeplant
en oë flikkerloos tot lens verkil.

By ou skelette van galjoene langs
waar krewe geil in slierte hou,
trek seesterpunte tot ’n roosblom saam
voor tokkelossie aan die borreltou.

In kwik vind hy sy voel-voel-gang vertraag,
’n groen liaan verstrik die grootoog-tor,
die by wat blindelings met die voelhorings tas
na goue meeldraad van die Grosvenor.

Of dit kan die vorm aanneem van historiese perspektiewe, ’n museumbesoek, waarin die tradisie van jag oorskou word, binne die paradigma van jagter & prooi:

A Merry Hunting Party Resting Near An Inn With Hounds In 
The Foreground - Simon Johannes van Douw (1630 - 1677)

Die jagter
“…zal de jager prooi worden?
A. Roland Holst

’n Gewelddadige tyd.
Oorloë, gerugte van oorloë, relletjies,
moorde en brandstigting,
en die pluime van rookvure orals…
en die ou agtervolging van een wat ek ken;

ek loop van vlaktes na berge,
en in ’n grot
met opgetrekte skouerskaal
staan ek by wande
waar grotesk
die leërskare van ’n vroeër tyd ontplooi:
geel mensies, elande, ’n wit volstruis,
en ’n gilpylreën in oker-rooi;
en grabbel in vlermuismis
en snuffel waar die luiperdruik nog vars is…

Later, op die sooidik rooi tapyt
van ’n ou museum,
sien ek die hoë, goud-omraamde doek
van ’n vossejag
met rooibaadjie-ruiters en uitgelate brakke
en ek staan onthuts en pyn-bewus…

die lug
en alle engtes van die vrees
is grou;
maar, met die lem van tande ontbloot,
gevaarlik-snel
sal ek my eie spoor
oor alle hindernisse
bloedhond-seker
agtervolg.

Teen die agtergrond van sy eie verminktheid & ouderdom word in die sportgedigte dikwels gefokus tussen die spanning tussen jeug & ouderdom, volmaaktheid & verminking.

Yuri © By Rachael Taylor

Skaatserswals

Tyd het sy krag verloor:
sekondes tamp nie meer
maar smelt met eeue saam;

die vlees is glad geen las,
lê dons-lig op ’n jong skelet
wat buig en pronk in dodedans;

die lem sny agt en agt en agt –
die boemerang en parabool
oor feëspieël en swanemeer;

en altyd – van die wydste es –
weer terug en in, magneties-
aangetrokke terug en in…

in ys en lig trek jare saam:
ons oë en Brueghel-swaeltjies
sentripetaal en koud gestol.

Meester valkenier, Tom Smylie, met 'n peregrynse valk 
(© 2012 Forum Communications Co)

Sy vers "Die valkenier" kan met vrug saamgelees word met Thom Gunn se "Tamer and Hawk" (Gunn se vers tree eweneens weer in gesprek met Robert Duncan se onvergeetlike "My mother would be a falconress").

Die valkenier

Onder die dagboog
het die edelvalk met sy gehuikte oë
’n trotse onderdanigheid geleer;

as hy sy keiserlike skedel rukkerig draai,
word uit die moederlug
deur die vrye vlerkvolk
van bloedvink, mossie, kerkkraai
reeds die gefnuikte se ver verraad vermoed.

Al word ’n vleisklos bekoorlik rondgeswaai,
sy perke bly steeds uitgestippel
en hy meegéwend met ’n nawelstring verbind;
die vryheid loop net treë ver –
tot in die eerste wipsprong
waar hy die enge ruimte mag verken.

Al is die lokaas mals en rooi,
al is die klowe groen bebos,
al is sy wêreld ryk bekwetter,
die onderhorige hoor net ’n enkel stem,
en keer geseglik en deemoedig
na die Groot Pols terug.

Gehuikte valk


Tamer and Hawk
Thom Gunn

I thought I was so tough, 
But gentled at your hands, 
Cannot be quick enough 
To fly for you and show 
That when I go I go 
At your commands.

Even in flight above 
I am no longer free: 
You seeled me with your love, 
I am blind to other birds? 
The habit of your words 
Has hooded me.

As formerly, I wheel 
I hover and I twist, 
But only want the feel, 
In my possessive thought, 
Of catcher and of caught 
Upon your wrist.

You but half civilize, 
Taming me in this way. 
Through having only eyes 
For you I fear to lose, 
I lose to keep, and choose 
Tamer as prey.


Bibliografie

Peter Blum. Steenbok tot poolsee. Tafelberg uitgewers: 1955/1974]
Ernst van Heerden. 1993. Sportgedigte. Tafelberg-Uitgewers Bpk

Monday, December 24, 2012

W. H. Auden - Musée des Beaux Arts

W.H. Auden @ St. Mark's Place 


Musée des Beaux Arts
W. H. Auden


Wat lyding aanbetref was hulle nooit verkeerd nie
die Ou Meesters: hoe goed begryp hulle
sy menslike posisie; hoe dit gebeur
terwyl iemand anders eet of ’n venster oopmaak of net domweg aanstap;
hoe, wanneer die bejaardes eerbiedig, smagtend wag
op die wonderbaarlike geboorte, daar altyd kinders moet wees
wat dit nie besonder graag begeer nie, skaatsend
op ’n dam aan die rand van die woud:
hulle het nooit vergeet
dat selfs die verskriklike martelaarskap sy gang moet gaan nie
sommerso in ’n hoekie, die een of ander slordige plekkie
waar die honde voortgaan met hulle hondelewens en die martelaar se perd
sy onskuldige agterent staan en skuur teen ’n boom.

In Breughel se Ikarus, byvoorbeeld: hoe alles heel tydsaam
wegkeer van die ramp; die ploegman mog
die plons gehoor het, die wanhopige skreeu,
maar vir hom was dit nie ’n belangrike mislukking nie; die son het geskyn,
soos dit moet, op die wit bene wat verdwyn het in die groen
water; en die kosbare delikate skip wat iets ongeloofliks
moes gesien het, ’n seun wat uit die lug uit val,
was iewers heen op pad en het rustig aangeseil.

(Vertaal deur Johann de Lange)