Monday, September 19, 2011

William Matthews - ’n Aand by die opera


William Matthews [Foto: Ted Rosenberg]

’n Aand by die opera
William Matthews

“Die tenoor’s te vet,” kla die mooi jong
vrou, “en die sopraan
vaal en oud.” Maar wat as Othello
nie swart is nie, of Rigoletto se boggel oorhel,
as lugtige Gilda en haar entourage
van vlees die tjello seksie oorstem?


In sprokies, het die prins ’n goeie hart,
en dus as ’n uiterlike en sigbare
teken van ’n innerlike, onsigbare grasie,
is sy gesig sonder plooie, en sy ledemate glad.
Ons tenoor hou in sy lewergevlekte
hande die sopraan se breë, stralende gesig.


Hulle gekombineerde ouderdom is 97; daar’s
spoeg in beide hoeke van haar mond;
’n aar in sy slape spartel soos ’n wurm.
Hulle gesigte is ’n voet van mekaar. Sy oë
rek wyd van vrees soos hy klim na die hoë
B-mol wat hy moet haal en hou vir vyf


vreeslike sekondes. En dan bly hulle in hul gestolde
omhelsing vir so lank as ons applous gee. Franco
Corelli het op ’n keer Birgit Nilsson se oor gebyt
in nét so ’n gala-omhelsing want
hy’t gevoel sy’t sy kalklig gesteel. Hulle kostuums weeg
vyftien pond stuk; hulle is gestowe in sweet


en ruik soos gistende swyne; hulle stemme styg
en strengel nie uit skoonheid nie, nóg uit die gebrek
daaraan, maar uit die hoop vir trefsekerheid
en passie, beide. Hulle moet die noot haal
én die emosie, beide, met die enkele skamel
pyl van die stem. Skoonheid is vir amateurs.



[UitL Search Party: Collected Poems. © Houghton Mifflin, 2004.]
[Vertaal deur Johann de Lange]

Friday, August 26, 2011

Ted Kooser - ‘n Digter lees voor








’n Digter lees voor
Ted Kooser

Eens op 'n tyd was jy jonk langs 'n rivier, van boom na boom,
met vaartbelynde vlerke en rooi skouers.
Jy het vir jouself gesing maar almal het na jou geluister.

Nou is jy ’n ou blou reier met geel oë
en ’n nek grys en taai soos 'n ratelslang.
Jy kraak jou boek oop langs sy rug, ’n gekloofde vis,
en kluif aan die netelige ribbes,
korrel met jou beter oog gefokus op die taak
van jou woorde verorber soos jy vorder.


[Vertaal deur Johann de Lange]


Tuesday, August 23, 2011

Die vlieg - Miroslav Holub






Die vlieg
Miroslav Holub

Sy’t op 'n wilgertak gesit
en kyk
na 'n deel van die stryd van Crecy,
die geskreeu,
die gesnak,
die gekreun,
die vertrap en die neertuimel.

Gedurende die veertiende aanslag
van die Franse Kavallerie
het sy gepaar
met 'n manlike bruinoog-vlieg
van Vadincourt.

Sy het haar pootjies saamgevryf
terwyl sy op 'n ontweide perd
sit en mediteer het
oor die onsterflikheid van vlieë.

Met verligting het sy geland
op die blou tong
van die Hertog van Clervaux.

Toe die stilte neergedaal het
en die fluistering van verval
sagkens om die lyke gedraal het

en slegs
'n paar arms en bene
nog trillend gesidder het onder die bome

het sy haar eiers begin lê
op die enkele oog
van Johann Uhr,
die Koninklike Wapensmid.

En dis hoe
sy gevreet is deur 'n windswael
op vlug
van die vure by Estrées.

[Vertaling deur Johann de Lange]

Friday, July 29, 2011

Günther Grass - Oorlog ter see

Günter Grass


Oorlog ter see
Günther Grass

’n Amerikaanse vliegdekskip
en ’n Gotiese katedraal
het mekaar gelyktydig gesink
in die middel van die Stille Oseaan.
Tot op die laaste
het die jong onderpastoor die orrel gespeel.
Nou hang vliegtuie en engele in die lug
met nêrens om te land.

[Vertaling deur Johann de Lange]

Saturday, July 23, 2011

Miroslav Holub - Die onderrig van die Meester


Miroslav Holub

Die onderrig van die Meester
Miroslav Holub

Hy het gepraat
en die klere van die boetelinge
het swanger op die grond geval.

Dit was die Keisersnee van denke,
fluweelpoppe is gebore, jubelend.
Dit was ’n profiel van Alleman,
geknip uit swart papier.
Liewenheersbesies het onder ons vingernaels uitgekruip.
Trompette is gehoor op die mure van Jerigo.
Ons gene het gesis.

Dit was groots, terwyl hy gepraat het.
Dis net dat ek nie kan onthou
waaroor hy gepraat het nie.

(na die vertaling van David Young & Miroslav Holub)

Monday, July 11, 2011

Martín Espada - Die republiek van poësie

Martín Espada

Die republiek van poësie
vir Chili

In die republiek van poësie,
ry ’n trein vol digters
suid in die reën
soos pruimbome wieg
en perde opskop in die lug,
en dorpsorkeste
in die straat af marsjeer
met trompette, met hardebolkeile,
gevolg deur die president
van die republiek
wat elke hand skud.

In die republiek van poësie,
druk priesters verse oor die nag
op dose kloostersjokolade,
kombuise in restaurante
gebruik odes vir resepte
van aal tot artisjok,
en digters eet gratis.

In die republiek van poësie,
lees digters vir bobbejane
by die dieretuin, en al die primate,
die digters soos die bobbejane, skree van vreugde.

In die republiek van poësie,
huur digters ’n helikopter
om die nasionale paleis te bombardeer
met gedigte op boekmerke,
en almal in die binnehof
storm om ’n gedig te gryp
wat uit die lug fladder,
verblind deur trane.

In die republiek van poësie,
sal die wag by die lughawe
jou nie toelaat om die land te verlaat nie
totdat jy ’n gedig vir haar voordra
en sy antwoord Aah! Lieflik.

[Vertaal deur Johann de Lange]

Martín Espada - Swart eilande

Martín Espada

Swart eilande
vir Darío

By Isla Negra,
tussen Neruda se graf
en die anker in die tuin,
het’n man met klipkapperhande
sy seun van vyf opgetel
sodat die seun se oë myne kon deursoek.
Die seun se oë was swart olywe.
Seun, het die pa gesê, dié is ’n digter,
soos Pablo Neruda.
Die seun se oë was swart glas.
My seun se naam is Darío,
na die digter van Nicaragua,
het die pa gesê.
Die seun se oë was swart klippe.
Die seun het niks gesê nie,
en my gesig deursoek vir poësie,
my oë deursoek vir sy eie oë.
Die seun se oë was swart eilande.

[Vertaal deur Johann de Lange]

Monday, June 27, 2011

W.S. Merwin - By die herdenking van my dood

W.S. Merwin tuis, voorheen ’n pynappelplantasie aangelê 
bo-op ’n dormante vulkaan op die noordoostelike kus van Maui


By die herdenking van my dood

W.S. Merwin

Elke jaar sonder dat ek dit besef gaan die dag verby
Wanneer die laaste vure vir my sal wink
En die stilte sal vertrek
Onuitputbare reisiger
Soos die straal van ’n liglose ster

Dan sal ek myself nie langer
In die lewe bevind soos in ’n rare kledingstuk nie
Verwonderd deur die aarde
En die liefde van een vrou
En die skaamteloosheid van die mens
Soos vandag skrywend na drie dae van reën
Om weer die flap te hoor sing en die bui wat ophou
En te buig voor ek weet nie wat

[Vertaal deur Johann de Lange]

Thursday, June 23, 2011

Percy Bysshe Shelley - Ozymandias

Ozymandias, Egypt

Ozymandias
Percy Bysshe Shelley

Ek ontmoet ’n reisiger uit ’n antieke land
wat sê: Twee magtige klipbene sonder romp staan
in die woestyn. Daarnaas, in die sand,
half versonke, lê ’n gehawende gelaat, en aan
die frons, die kil grimas deur mag na vore gebring
blyk duidelik: sy skepper ken die passies goed
wat voortleef (afgedruk op die dood van elke ding),
die hand vol hoon, en die hart wat dit voed;
op die voetstuk is hierdie woorde aangebring:
“My naam is Ozymandias, van konings die koning,
slaan gade my werke, O Grotes, laat vaar alle hoop.”
Niks anders is behoue. Rondom die puinhoop
van dié gebroke kolos, strek alkant heen vaal
die sand, oneindig, eensaam, kaal.

[Vertaal deur Johann de Lange]

Friday, June 17, 2011

John Berryman - Droomgesang 1. Knorrig kruip Henry weg heeldag

John Berryman (1914 - 1972) © Life

Droomgesang 1. Knorrig kruip Henry weg    heeldag
John Berryman

Knorrig kruip Henry weg    heeldag,
onversoenlik pruil Henry.
Ek sien sy punt, – ’n trag om dinge af te skud.
Dis die gedagte dat hulle dag
hulle kan dit doen wat Henry kwaad maak & veraf.
Maar hulle moes na vore gekom & gepraat het.

Die ganse wêreld soos ’n wol-liefhebber
was oënskynlik eens aan Henry se kant.
Toe kom ’n skeiding.
Daarná het niks uitgedraai soos dit kon of moes.
Ek weet nie hoe Henry, oop-
geforseer vir almal om te sien, oorleef het nie.

Wat hy nou te sê het, is ’n lang
wonderwerk wat die wêreld kan verduur & wees.
Eens in ’n wildevyboom was ek bly
op die kruin, & ek’t gesing.
Hard op die land verweer die magtige see
& leeg raak elke bed.


[Vertaal deur Johann de Lange]

Thursday, June 16, 2011

Kim Addonizio - Muse



Muse
Kim Addonizio

Wanneer ek instap
koop mans vir my drankies nog voor ek by die kroeg kom.

Hulle raak verlief op my na een nag,
selfs al raak ons nie eens aan mekaar nie.

Ek sê jou ek het dié stront tot ’n kuns verfyn.

Hulle sweet wanneer hulle my onthou,
alleen in goedkoop kamers luister hulle

na kreune deur die muur
& wonder of dit ek is,

laat ’n skreeu uit as die trein verby fluit.

Maar ek is alreeds twee provinsies weg, bly saam met ’n seun
wat ek reën laat drink van die polsslag in my kuiltjie.

Niemand los mý nie, ek is die een wat besluit.
Ek verskyn skielik, soos geld op die sypaadjie.

Luister, hartjie. Dis mý hoëhakke wat aan die telefoondrade hang.

Ek is die raaf wat neerfladder,
dis my swart onderrok

wat jy gesien het toe die pyn
so diep in jou wegwring

dat jy jou oë toemaak & huil soos ’n bleddie vroumens.


[Vertaal deur Johann de Lange]

Wednesday, June 15, 2011

T.S. Eliot - Die reis van die drie wyse manne

T.S. Eliot

Die reis van die drie wyse manne
T.S. Eliot

“Ons het 'n koue oortog gehad,
absoluut die slegste tyd van die jaar
vir die reis, en boonop so 'n lang reis:
die paaie was diep slote & die weer onguur,
in die hart van die winter.”
En die kamele bliknêrs, hoefseer, balhorig,
gaan lê in die smeltende sneeu.
Daar was tye dat ons berou had
oor somerpaleise teen die heuwels, die terrasse,
& die jongmeisies in sy wat suikerbier bedien.
Dan die kameeldrywers wat swets en mor
en wegloop, en hulle drank en vrouens mis,
en die kampvure wat doodwaai, en die gebrek aan skuiling,
en die stede vyandig en die dorpe stuurs
en die gehuggies vuil en onbehoorlik duur:
ons het 'n moeilike tyd gehad.
Uiteindelik het ons verkies om deur die nag te trek,
net vir kort tye te dut,
met die stemme wat altoos in ons ore sing, en sê
dat dit als sotheid was.

Met dagbreek het ons afgedaal in 'n gematigde vallei,
nat, onder die sneeulyn, met die geur van plantegroei;
met 'n lopende stroom en 'n watermeul wat klots in die donker,
en drie bome teen 'n lae lug,
en 'n ou wit perd wat weggallop in die weiveld.
Toe kom ons af op 'n herberg met druiweblare oor die kroonlys,
ses handlangers wat voor 'n oop deur sit en dobbel vir silwerstukke,
en voete wat die leë wynsakke skop,
maar kan geen aanwysings kry nie, en dus trek ons verder
en bereik teen donker, en nie 'n oomblik te gou nie,
ons bestemming; dit was (mens kan seker sê) aanneemlik.

Dit was alles baie lank gelede, ek onthou,
en ek sal dit weer doen, maar skryf neer
skryf dit neer
dít: is ons al daardie pad gelei
vir Geboorte of Dood? Daar was 'n Geboorte, sonder twyfel,
ons het bewyse gehad en geen twyfel. Ek het al geboorte en dood aanskou,
maar altyd gedink hulle was verskillend; hierdie Geboorte was
swaar en bitter pynlik vir ons, soos Dood, ons Dood,
ons het na ons lande teruggekeer, hierdie Koninkryke,
maar voel nie langer tuis nie, in die ou bedeling,
met 'n vreemde volk wat aan hulle gode vasklou.
Ek sou 'n ander soort dood verwelkom.

[Vertaal deur Johann de Lange]

Monday, June 13, 2011

Die literêre polemiek as bestraffing?

Joan Hambidge, Karnak

Nou onlangs het ek gereageer op Danie Marais se stuk in BY oor Allen Ginsberg (“’n Roerende chaos”, 14 Mei). Inmiddels het BY die polemiek afgesluit en ek maak graag die volgende punte na aanleiding van sy brief “’n Selfaangestelde spietkop?” (11 Junie).

Hy meen o.a. dat ek nie weet van die verdeling tussen kritici sedert 1956 nie. Hy beweer ook dat ek die man eerder as die bal speel, dit terwyl hy my ‘n selfaangestelde spietkop van die boekjoernalistiek noem. Natuurlik is ons geregtig op verskille – ek was nie uit die hoogte nie. Ek het gewoon vrae gevra, soos hoekom dink hy die vers is een van selfbejammering en of hy die vertaling van “Howl” deur Johann de Lange ken?

Om ‘n polemiek as bestraffing te ervaar en ewe hooghartig te meen dat ek iets die polemiek kon leer? Vir die rekord: ek het van Bloom se lesings aan Yale bygewoon in Desember 1985.

Maar dis eerder die beelde van bestraffing en spietkop wat my interesseer en as navolger van Jacques Lacan is dit opvallend dat hy my sien as ‘n skoolmeester en dalk as ‘n falliese moeder in Lacan se terme.

En die falliese moeder staan vir lewe, dood, betekenis, identiteit – gaan lees maar self die Ėcrits. Vir Marais is die fallus steeds die groot betekenaar: daarom iets voor stok kry, nie waar nie?

Dat hy ‘n polemiek (by wyse van skrywe) sien as kastrasie?

Want anders sou hy nie briewe met vrae op so ‘n angstige wyse as ‘n aanval vertolk het nie. Hy noem reaksie “skoolmeesteragtig”: slippage uit die onbewuste; ek is immers ‘n vrou en verder moet ek Bloom voor stok kry?

Die mag van die fallus en die vrees vir kastrasie op simboliese vlak oorwoeker hierdie skrywes. Want as ‘n skrywer seker van hom / haarself is, ervaar jy ‘n reaksie of kritiese vraagteken met blydskap, omdat iemand belangstelling toon. Dis ‘n intellektuele kwessie; nie ‘n motorryer wat beboet word nie, omdat hy sonder ‘n lisensie bestuur nie. (Daar is talle voorbeelde van skrywers wat dig of resenseer sonder grade in die letterkunde).

As iemand Marais wil “beboet” vir die gebruik van kolonialisties in plaas van kolonisties of sy siening van Ginsberg, gaan dit nie ek wees nie. Ek lees die digkuns ter verryking en lesings (en voorlesings) aan Yale en Harvard het op kort navorsingsreise my lewe oneindig verruim (verrym?).

Ek is spyt ek het Ginsberg nooit ontmoet nie. Waterskeidende verse veroorsaak altyd verdeeldheid binne die kritiek net soos verse wat omstrede, on-veilige temas aanpak, nie applous by almal ontlok nie.

Die verwyt dat ek die man nie die bal speel nie, word deur my briewe weerlê. En ‘n selfaangestelde kritikus is ek nie; ek word gevra om boeke te skryf en binnekort begin ek met ‘n tweeweeklikse boekeprogram vir RSG. Genader, nié selfaangestel nie.

Endnote:

Hier is my twee volledige briewe.

1. In BY van 14 Mei skryf Danie Marais (“’n Roerende chaos”) onder andere oor die Beat-skrywers en hy meen met groot stelligheid dat Allen Ginsberg se “Howl” lyk na ‘n oorskatte, mistifiserende voetnoot tot Walt Whitman en ‘n idealiserende beskrywing van pretensieuse daggarokers wat vrot verse skryf, terwyl hulle op ander se nekke lê.

‘n Mens wonder of hy die skitterende vertaling van Johann de Lange ken én of hy Ginsberg se digkuns verstaan? Die onlangse verskyning van Letter to South Africa: Poets calling the state to order (uitgegee deur Umuzi) word daar antwoorde geskryf op Ginsberg se “America”, wat bewys hoe tersaaklik Ginsberg bly. Hierdie gedig, soos “Howl”, bly bakens in die digkuns verskuif en min van die antwoorde in die onlangs verskene bloemlesing kan kers vashou by Ginsberg.

“Howl” oorskat? Onverkwiklike selfbejammering en selfverheerliking in Ginsberg in “Howl”? ‘n Mens moet altyd ‘n skrywer binne sy konteks evalueer en begryp. Behalwe dat “Howl” nog steeds, na soveel jare, bly imponeer met die slim toespelings op William Blake en die Boeddhisme. Dit is nie net ‘n gedig oor seks en waansin nie. Daar is steeds gedugte navorsers wat werk publiseer oor Ginsberg en referate oor sy werk lewer by internasionale kongresse, soos nou onlangs in Seoul by die Internasionale Komparatisme. 

‘n Slotwoord uit Ginsberg:

"I saw the best minds of my generation destroyed by madness, starving hysterical naked".

Of:

”who passed through universities with radiant eyes hallucinating Arkansas and Blake-light tragedy among the scholars of war,
who were expelled from the academies for crazy & publishing obscene odes on the windows of the skull”

Hoeveel digters kon en kan soiets onthoubaar presteer?

2. Hierdie brief verskyn op 4 Junie in BY.

Dit is jammer dat my verskil met Danie Marais deur hom as “bestraffing” ervaar word. Om iets te publiseer, beteken tog dat reaksie mag volg? Ek verwys na die debat oor “Howl” tussen my en Marais (BY, 28 Mei: “Kry Bloom dan ook voor stok”). Die feit dat ek Bloom as ‘n letterkundige reus beskou, beteken nie dat ek met alles wat hy geskryf het, saamstem nie. Ek dink The anxiety of influence en A map of misreading is bakens, soos die studies oor Wallace Stevens en Yeats, o.a. Hy kan m.i. nie oorskat word nie - dit bewys die onlangse boeke ook.

Daar is egter ook ‘n groot aantal lesers en digters wat “Howl” as ‘n belangrike gedig ag.

‘n Mens skryf sekerlik vir gesprek. (Anders moet ‘n mens maar omstrede uitsprake vir die braaivleisvuur hou of vir die bandopnemer.) ‘n Kritikus moet weet indien jy Leonard Cohen en Valiant Swart vergelyk (soos Marais gedoen het) en meen dat laasgenoemde nes eersgenoemde gekanoniseer behoort te word, mag vraagtekens ontlok. Om egter ‘n reaksie onmiddellik gelyk te stel aan straf, beteken net een ding: onsekerheid. En om ontsteltenis aan my toe dig, is gewoon laf binne die konteks van ‘n polemiek of dit nou handel oor Wopko Jensma of Fernando Pessoa. Terloops, Danie Marais tipeer hómself as ‘n arrogante klein ketter. Vir Bloom gaan ek beslis nie voor “stok” kry nie. Dis heeltemal te Freudiaans vir my en boonop maak hy sy opmerkings binne 'n bepaalde konteks.

Professor Joan Hambidge

Thursday, June 9, 2011

Neil Rollinson - Die Ekstase van St. Saviourslaan

Neil Rollinson

Die Ekstase van St. Saviourslaan
Neil Rollinson

   (Valentynsnag)

Vanaand ruik die woonstelblok na oesters
en semen, sjokolade en roosblare.
Die vensters van elke woonstel is oop
om ons af te koel, die geluide van ons opwarmings
ontsnap uit elke vensterraam asof die gebou
hiperventileer in die koue
Februarielug. Ons kan die kreune hoor
van die Rossiters, die Hendersons,
die kinderoppassers in nommer 3; ’n sagte
pornografie wat ons aanpor soos ’n seksstimulant.
Vanaand is die huis harmonieus, ons skommel
in ons beddens; ons maatslae neurie
in die klipfondasies.
                          Ons sal versigtig moet wees;
soos soldate wat uit pas oor ’n brug moet mars.
Ons sprei ons klimakse een na die ander,
van die grondverdiepingwoonstel tot die solderkamer,
beweeg ’n huppelry van matrasse deur die huis
in ’n lang, veelvuldige, kommunale orgasme.
Die gebou sug soos ’n hoerhuis.
Ons lê onder lakens, en kyk hoe die gloed
van die straatligte die uitspansel kleur; die skoorstene
hulle rook blaas soos die malse uitasemings
van post-naai sigarette.


[Vertaal deur Johann de Lange]

Dorianne Laux - Die skeepsbouer se vrou

Dorianne Laux

Die skeepsbouer se vrou
Dorianne Laux

Ek het hom die liefste
wanneer hy huis toe kom ná werk,
sy vingers steeds gekrom van pyp lê,
sy denimhemp met 'n sweetring
wat ruik na sout, na seewier en -gras
wat uitdroog. Dan sal ek na hom toe gaan
waar hy op die bedrand sit, sy voorkop
gesalf met ghries, sy gebarste hande
diep tussen sy dye ingedruk,
en die staalpunt stewels losryg, sy enkels streel,
sy kuite, die sole en beentjies van sy voete.
Dan sal ek sy klere oopknoop
en die hele dag in my vat – die skip
se grys wande, die myle koperpyp,
die stem van die eerste man wat kletter
van die romp se silwer ribbes, die vonk as lood
metaal soen, die klamp, die windas,
die wit vuur van die sweisdraad, die skoffluit
en die lang rit huis toe.

[Vertaal deur Johann de Lange]