Monday, July 11, 2011

Martín Espada - Die republiek van poësie

Martín Espada

Die republiek van poësie
vir Chili

In die republiek van poësie,
ry ’n trein vol digters
suid in die reën
soos pruimbome wieg
en perde opskop in die lug,
en dorpsorkeste
in die straat af marsjeer
met trompette, met hardebolkeile,
gevolg deur die president
van die republiek
wat elke hand skud.

In die republiek van poësie,
druk priesters verse oor die nag
op dose kloostersjokolade,
kombuise in restaurante
gebruik odes vir resepte
van aal tot artisjok,
en digters eet gratis.

In die republiek van poësie,
lees digters vir bobbejane
by die dieretuin, en al die primate,
die digters soos die bobbejane, skree van vreugde.

In die republiek van poësie,
huur digters ’n helikopter
om die nasionale paleis te bombardeer
met gedigte op boekmerke,
en almal in die binnehof
storm om ’n gedig te gryp
wat uit die lug fladder,
verblind deur trane.

In die republiek van poësie,
sal die wag by die lughawe
jou nie toelaat om die land te verlaat nie
totdat jy ’n gedig vir haar voordra
en sy antwoord Aah! Lieflik.

[Vertaal deur Johann de Lange]