Muse
Kim Addonizio
Wanneer ek instap
koop mans vir my drankies nog voor ek by die kroeg kom.
Hulle raak verlief op my na een nag,
selfs al raak ons nie eens aan mekaar nie.
Ek sê jou ek het dié stront tot ’n kuns verfyn.
Hulle sweet wanneer hulle my onthou,
alleen in goedkoop kamers luister hulle
na kreune deur die muur
& wonder of dit ek is,
laat ’n skreeu uit as die trein verby fluit.
Maar ek is alreeds twee provinsies weg, bly saam met ’n seun
wat ek reën laat drink van die polsslag in my kuiltjie.
Niemand los mý nie, ek is die een wat besluit.
Ek verskyn skielik, soos geld op die sypaadjie.
Luister, hartjie. Dis mý hoëhakke wat aan die telefoondrade hang.
Ek is die raaf wat neerfladder,
dis my swart onderrok
wat jy gesien het toe die pyn
so diep in jou wegwring
dat jy jou oë toemaak & huil soos ’n bleddie vroumens.
[Vertaal deur Johann de Lange]