Neil Rollinson
Neil Rollinson
(Valentynsnag)
Vanaand ruik die woonstelblok na oesters
en semen, sjokolade en roosblare.
Die vensters van elke woonstel is oop
om ons af te koel, die geluide van ons opwarmings
ontsnap uit elke vensterraam asof die gebou
hiperventileer in die koue
Februarielug. Ons kan die kreune hoor
van die Rossiters, die Hendersons,
die kinderoppassers in nommer 3; ’n sagte
pornografie wat ons aanpor soos ’n seksstimulant.
Vanaand is die huis harmonieus, ons skommel
in ons beddens; ons maatslae neurie
in die klipfondasies.
Ons sal versigtig moet wees;
soos soldate wat uit pas oor ’n brug moet mars.
Ons sprei ons klimakse een na die ander,
van die grondverdiepingwoonstel tot die solderkamer,
beweeg ’n huppelry van matrasse deur die huis
in ’n lang, veelvuldige, kommunale orgasme.
Die gebou sug soos ’n hoerhuis.
Ons lê onder lakens, en kyk hoe die gloed
van die straatligte die uitspansel kleur; die skoorstene
hulle rook blaas soos die malse uitasemings
van post-naai sigarette.
[Vertaal deur Johann de Lange]