Venesiaanse maskers
Die raaisel
Gerrit Komrij
Sy haal haar masker af en wat ek sien
is nog ‘n masker. Ook dit haal sy af.
Wat dan verskyn, is masker nommer drie.
Vier, vyf, ses, sewe volg mekaar nou op ‘n draf.
‘Die laaste masker,’ sê sy. Nommer ag.
Ek sal die waarheid sien. Kan ek dit verduur?
Maar die gelaat wat loskom lyk verdag
baie na die eerste masker. Dit maak nege.
Sy het gelieg. Haar laaste masker is dit nie.
Elf duisend en elf. Steeds keer die eerste terug.
‘n Naak gesig is ‘n staaf dinamiet.
Daar gaan veel helderheid van uit. Eén keer.
[Vertaal deur Johann de Lange]