T.S. Eliot
Die reis van die drie wyse manne
T.S. Eliot
“Ons het 'n koue oortog gehad,
absoluut die slegste tyd van die jaarvir die reis, en boonop so 'n lang reis:
die paaie was diep slote & die weer onguur,
in die hart van die winter.”
En die kamele bliknêrs, hoefseer, balhorig,
gaan lê in die smeltende sneeu.
Daar was tye dat ons berou had
oor somerpaleise teen die heuwels, die terrasse,
& die jongmeisies in sy wat suikerbier bedien.
Dan die kameeldrywers wat swets en mor
en wegloop, en hulle drank en vrouens mis,
en die kampvure wat doodwaai, en die gebrek aan skuiling,
en die stede vyandig en die dorpe stuurs
en die gehuggies vuil en onbehoorlik duur:
ons het 'n moeilike tyd gehad.
Uiteindelik het ons verkies om deur die nag te trek,
net vir kort tye te dut,
met die stemme wat altoos in ons ore sing, en sê
dat dit als sotheid was.
Met dagbreek het ons afgedaal in 'n gematigde vallei,
nat, onder die sneeulyn, met die geur van plantegroei;met 'n lopende stroom en 'n watermeul wat klots in die donker,
en drie bome teen 'n lae lug,
en 'n ou wit perd wat weggallop in die weiveld.
Toe kom ons af op 'n herberg met druiweblare oor die kroonlys,
ses handlangers wat voor 'n oop deur sit en dobbel vir silwerstukke,
en voete wat die leë wynsakke skop,
maar kan geen aanwysings kry nie, en dus trek ons verder
en bereik teen donker, en nie 'n oomblik te gou nie,
ons bestemming; dit was (mens kan seker sê) aanneemlik.
Dit was alles baie lank gelede, ek onthou,
en ek sal dit weer doen, maar skryf neerskryf dit neer
dít: is ons al daardie pad gelei
vir Geboorte of Dood? Daar was 'n Geboorte, sonder twyfel,
ons het bewyse gehad en geen twyfel. Ek het al geboorte en dood aanskou,
maar altyd gedink hulle was verskillend; hierdie Geboorte was
swaar en bitter pynlik vir ons, soos Dood, ons Dood,
ons het na ons lande teruggekeer, hierdie Koninkryke,
maar voel nie langer tuis nie, in die ou bedeling,
met 'n vreemde volk wat aan hulle gode vasklou.
Ek sou 'n ander soort dood verwelkom.
[Vertaal deur Johann de Lange]