David Hockney - Paul Kasmin & Jasper Conran, 1982
David Hockney
Joan Hambidge
Jy is elke digter se droom: ’n mens droom tog in beelde
jou reële asuurblou swembaddens
laat mens wonder: is dit ’n skadu
of lê ’n ander man op die bodem
dood (geskiet in haat?)
’n metafoor is so deel van my bestaan: soos spoeg in die mond
hierom gryp jy my aan
want ek het spoeg in my mond nou
en spoeg in my mond word ’n metafoor
vir skryf
toevallig vanaand op ’n Sondag verveeld
sien ek Paul Kasmin en Jasper Conran (geliefdes, meen ek,
van jou?) beide moffiemooi (te goed om waar te wees)
gekiek links regs links
honderd-en-twintig keer geblokkie-
raaisel ’n neus ’n hand ’n mond word selfs drie
maal weergegee dit lyk amper asof jy mens wil dwing
om gom te neem te knipper knapper
spoeg en plak om ’n ander
prent te maak die seun links stap kompleet uit
’n Raphael-skildery a, ek volg
die seun regs dan modern só gepolaroid
metaforiseer jy
’n ou en nuwe werklikheid
Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.