Valentyn
Carol Ann Duffy
Nie 'n rooi roos
of 'n hart van satyn.
Ek gee jou 'n ui.
Dit is 'n maan
toegedraai in bruin papier.
Dit belowe lig
soos die
versigtige onthulling van liefde.
Hier.
Dit sal jou
verblind met trane
soos 'n minnaar.
Dit sal jou weerkaatsing
'n foto maak
wiegelend van smart.
Ek probeer die
waarheid te vertel.
Nie 'n oulike
kaartjie of soen-o-gram.
Ek gee jou 'n ui.
Sy vurige soen
sal aan jou lippe bly kleef,
besitlik en
getrou
soos ons is,
vir so lank as
wat ons is.
Vat dit.
Sy platinumringe
krimp tot 'n trouring,
as jy so daarna
kyk.
Noodlottig.
Sy geur sal aan
jou vingers kleef,
kleef aan jou
lem.
[Vertaal deur Johann de Lange]