Wednesday, March 23, 2011

Notule Afrikaanse skrywersvergadering



Notule van Afrikaanse skrywersvergadering gehou op Saterdag 12 Maart 2011 om 16:30  by Protea Boekwinkel, Stellenbosch.

Teenwoordig: Christine Barkhuizen-Le Roux, Andries Bezuidenhout, Zandra Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Kerneels Breytenbach,  Willemien Brümmer, Karin Brynard, Marga Collings, Braam de Vries , Izak de Vries, Louis Esterhuizen, Engemi Ferreira, Francis Galloway, Rachelle Greeff, Marlise Joubert, Anna Kemp, Amanda Lourens (notule), Danie Marais, Martie Meiring, Petrovna Metelerkamp, Johan Myburg, Pieter Odendaal, Desmond Painter, Jo Prins, Nicol Stassen, Hein Viljoen en Ingrid Winterbach.

Konstituering

Louis Esterhuizen (LE) verwelkom alle teenwoordiges.  Hy noem dat die vergadering nie ‘n Protea-inisiatief is nie en dat hy in sy persoonlike hoedanigheid teenwoordig is. Hy doen enkele bedankings, o.a. Delheim wat wyn beskikbaar gestel het, Amanda Lourens (AL) wat die notule hou om na belanghebbendes  te versprei asook die Protea-personeellid wat beskikbaar sal wees om te help met boekverkope.

LE  sê dat die aanwysing van ‘n gespreksleier die eerste stap is en vra voorstelle in hierdie verband. Nadat Kerneels Breytenbach (KB) aandui dat hy nie beskikbaar is nie, word LE eenparig deur die vergadering as gespreksleier aangewys.  ‘n Presensielys word gesirkuleer.

Agtergrond

LE stel dat die agtergrond en aanloop tot die vergadering bekend is, naamlik die debat wat ontstaan het na Media24 se besluit om een nasionale boekeredakteur aan te stel.  Hy stel voorts dat hierdie besluit as ‘n fait accompli beskou moet word, maar dat hierdie vergadering gefokus moet wees op hoe skrywers hulle gaan posisioneer in ‘n veranderende mark.  Die vergadering word voorts gestruktureer deur ‘n aantal besprekingspunte wat vooraf deur LE geformuleer is.

Besprekingspunte

3.1 Behoefte aan ‘n organisasie wat as mondstuk vir skrywers kan funksioneer

As eerste besprekingspunt stel LE voor dat die vergadering besin oor die vraag of daar wel ‘n behoefte is aan ‘n organisasie as mondstuk vir skrywers.

KB wys daarop dat die Afrikaanse Skrywersgilde met die verdwyning van sensuur ontbind het omdat daar geen rede vir die organisasie se voortbestaan was nie.  Daar is tans egter geen liggaam  wat skrywers se stem verteenwoordig nie, en dus is daar tans ‘n behoefte aan so ‘n liggaam.

Izak de Vries (IdV) wys op die moontlikheid om Pretoria-PEN, wat lid is van die internasionale PEN-organisasie , as moontlike liggaam in te span.  Breyten Breytenbach sluit aan by IdV en wys daarop dat PEN as internasionale organisasie met internasionale resonansie in ‘n aantal lande bestaan.  In sommige lande bestaan daar ‘n “uitgeweke” liggaam naas die amptelike organisasie, sodat PEN as ‘n groot huis met allerlei vlakke beskou kan word.  Die organisasie is baie doeltreffend in lande soos Swede en die VSA.

BB stel aan die vergadering dat ‘n beoogde groepering vanuit die geledere van Afrikaanssprekende skrywers behoort te kom; dat dit nie enige taalgroep sal uitsluit nie, maar dat dit wel ‘n bepaalde vertrekpunt behoort te hê.

As eerste punt in sy betoog stel BB dat so ‘n organisasie skrywers in ‘n beter posisie sal plaas, bv. ten opsigte van Media24/Naspers, wat op ‘n patriargale wyse optree en skrywers beledig deur voor te gee dat hulle besluite vir die beswil van die literatuur sou wees, terwyl dit in wese ‘n afskaling is.  Met so ‘n organisasie sal skrywers ‘n beter kans hê om hul stem te laat hoor en gedeelde belange kan gedien word, deurdat die organisasie byvoorbeeld oor tantieme sal kan onderhandel.

As tweede punt noem BB dat Suid-Afrika hom tans in ‘n drukgang na totalitarisme bevind, met ‘n afname in dissidente en alternatiewe denke.  Skrywers moet individualiteit lewend hou en protes nie prysgee nie.  ‘n Skrywersorganisasie wat gemandateer is om namens skrywers te praat, is die enigste opsie.  Internasionale koppeling behoort ook aandag te geniet.

As laaste en belangrike punt noem BB dat sowat ‘n derde van die wit bevolking hulle tans in ellende en armoede bevind, sonder enige beskerming.  Skrywers kan byvoorbeeld wit plakkerskampe besoek om ‘n mate van waardigheid aan hierdie mense se bestaan te verleen - dus wisselwerking met die gemeenskap, maar nie as bloot ‘n eenvoudige vorm van politieke betrokkenheid nie.

Die vergadering steun hierdie drie sprekers se standpunte en kom tot die besluit dat daar wel ‘n behoefte is aan ‘n organisasie wat skrywers se belange verteenwoordig.

3.2 Die oogmerke van die beoogde organisasie

LE stel die oogmerke van die beoogde organisasie as tweede besprekingspunt aan die vergadering. Enkele vrae klink in hierdie verband: Sal skrywers en/of hulle belange bevorder word, of sal die boek bevorder word? Sal die organisasie uitsluitlik Afrikaans wees, of sal dit ook Engels insluit?  Hy wys daarop dat antwoorde op hierdie vrae lidmaatskap sal bepaal.  Indien die belange van die boek gedien word, sal uitgewers, resensente, akademici ens. ook betrek word.  Hierdie kwessies word later tydens die vergadering weer geopper en bespreek.

3.3 Die haalbaarheid van die beoogde organisasie

LE stel dat die kwessie van haalbaarheid aandag moet kry, aangesien so ‘n organisasie byvoorbeeld ‘n administratiewe persoon, ‘n kantoor, infrastruktuur en befondsing sal nodig hê, soos deur BB te kenne gegee is. Francis Galloway (FG) vra deur wie die Skrywersgilde befonds is, waarop BB antwoord dat die Gilde deur Naspers gefinansier is. Marga Collings (MC) vra watter moontlikhede daar wel bestaan om befondsing te verkry, waarop BB antwoord dat die amptelike steun van uitgewers nie wenslik is nie en dat dit stellig moontlik is om ‘n weldoener te vind. BB noem ook dat Charles Malan van mening is dat baie vermag kan word sonder ‘n vaste infrastruktuur, byvoorbeeld deur ‘n  gesentraliseerde webtuiste en ‘n  aanduibare persoon met ‘n telefoonnommer.

Hierop sê LE dat daar wel besin moet word oor die volle impak van ‘n moontlike organisasie, soos byvoorbeeld sigbaar kan raak in projekte, biblioteekdienste en betrokkenheid by die voorskryfmark. In so ‘n geval sal ‘n webtuiste nie voldoende wees nie en ‘n organisasie  met ‘n infrastruktuur sal nodig wees om dinge tot uitvoer te bring. LE noem as voorbeeld van ‘n doeltreffende organisasie die Vlaams Fonds voor de Letteren, wat vir hom die een uiterste op ‘n skaal van moontlike aksies verteenwoordig.  Die ander uiterste is om gewoon niks te doen nie.  Die beoogde organisasie se posisie op so ‘n skaal sal deur moontlike befondsers bepaal word.

FG noem dat die institusionalisering van die literatuur steeds toeneem.  Sy vra of NALN as moontlikheid oorweeg kan word om energieë bymekaar te bring - daar is ‘n bestaande infrastruktuur en sowat R500 000 beskikbaar vir navorsing.  MC sê dat ideologiese konnotasies liefs vermy moet word, waarop FG antwoord dat die ideologiese aspek altyd teenwoordig is.  MC noem as ideaal om by ‘n bestaande organisasie in te skakel; in wese gaan dit oor wat in die belang van boeke is.

LE som die verloop van die vergadering tot dusver op as: 1.) Daar is ‘n besliste behoefte aan ‘n organisasie; 2.) dit is haalbaar; en 3.) befondsing sal verkry kan word, gesien ook teen die agtergrond van die drasties verbeterde gesindheid teenoor Afrikaanse boeke. Ten opsigte van befondsing noem LE die volgende belangrike kwessies: 1.) Bronne moet geïdentifiseer word; 2.) befondsing moet korrek en professioneel benader word; 3.) die grootte van die verlangde befondsing sal afhang van die oogmerke van die organisasie; 4.) die mark vir befondsing sal vergroot word deur die insluiting van projekte, bv. geletterdheid; en 5.) ‘n loodskomitee sal die strategie ten opsigte van befondsing ondersoek.

KB noem op hierdie punt dat die probleme wat skrywers in die gesig staar, verreikend is. Staatspublikasies, veral op onderwysgebied, het die potensiaal om Afrikaanse skrywers te marginaliseer.  Dit gebeur toenemend dat skrywers van gehalte geïgnoreer word, terwyl mindere skrywers se werk as teksmateriaal uitgegee word.  ‘n Skrywersorganisasie sal so ‘n toedrag van sake kan teenstaan.

In antwoord op KB noem MC dat uitgewers se gebrek aan mag om teen die Suid-Afrikaanse regering op te staan, die sentrale probleem is. Omdat groot opvoedkundige uitgewers die risiko loop om aansienlike verliese te ly, is hulle huiwerig om hulle teenkanting te kenne te gee. 

Martie Meiring (MM) opper die punt dat befondsing nie ideologiese koppelings moet hê nie, waarop LE beaam dat die onafhanklikheid van die beoogde organisasie uiters belangrik is.  Die organisasie moet op eie bene kan staan, sonder uitgewers aan wie verantwoording gedoen moet word.  Dit sal die taak van die loodskomitee wees om befondsing te verkry, en hulle sal o.a. fondse, trusts en befondsing deur welgestelde persone in hierdie verband moet ondersoek.

3.4 Fokus van die organisasie: eksklusief Afrikaans of inklusief vir alle tale?

LE stel hierdie vraag aan die vergadering as ‘n kritieke besprekingspunt en noem dat die antwoord hierop implikasies vir befondsing het.  Daar is tans byvoorbeeld ‘n sterk patriotiese gevoel jeens Afrikaans. Die antwoord sal ook die struktuur en aard van die organisasie bepaal.

Danie Marais (DM) se gevoel is dat die beoogde organisasie  Afrikaans moet wees, maar gekoppel aan ‘n groter affiliasie.  Die organisasie moet Afrikaanse skrywers verenig en namens hulle praat, maar skakeling na buite is belangrik. Nicol Stassen (NS) wys die vergadering daarop dat die onmiddellike rede vir hierdie vergadering juis die marginalisasie van Afrikaanse skrywers deur Afrikaanse koerante is.  Ook kan daar nie namens Engelse skrywers gepraat word nie.  Engemi Ferreira (EF) meen dat die organisasie Afrikaans behoort te wees, en dat Engelse skrywers dan daarby kan affilieer.  Haar opinie is dat iets bereik kan word indien daar saamgegaan word met diegene wat reeds betrokke en aktief is.

Pieter Odendaal (PO) is nie ten gunste van ‘n Afrikaanse skrywersvereniging nie, en sê ook dat die kans skraal is om befondsing vanuit ‘n “suiwer” bron te verkry.  Hy noem dat Leon de Kock  en die SLiP-inisiatief ‘n skrywersorganisasie volkome steun, maar op voorwaarde dat skrywers in alle tale betrokke is.  Hierop antwoord EF dat sy ten gunste van ‘n Afrikaanse organisasie is.  BB wys die vergadering daarop dat ‘n nostalgie na verlore mag geen rol speel in die besluit om ‘n (Afrikaanse) organisasie op die been te bring nie. Die organisasie is nodig vir praktiese doeleindes in ‘n Stalinistiese omgewing waar Naspers en Media24 hulle mag probeer afdwing; so ook die Regering.  Skrywers deel dieselfde belange, en sal sonder ‘n organisasie wat hulle belange op die hart dra, aan die spreekwoordelike agterspeen suig.  BB reken dat daar iewers begin moet word, en dat geen verteenwoordigers van ander tale hierdeur verhoed word om saam te werk nie.  Skrywers durf egter nie die etiek van stilte toepas nie. BB pleit dan ook vir skrywers se betrokkenheid by die groter gemeenskap, en verwys in hierdie verband na suksesvolle gemeenskapsprojekte deur bv. Solidariteit Helpende Hand.

Andries Bezuidenhout (AB) noem dat daar twee dinge is wat Afrikaanse skrywers se omgewing spesifiek maak, naamlik: 1.) Die openbare ruimte word deur een maatskappy beheer, en 2.) ‘n groot deel van Afrikaanse lesers is vervreem van die lees van boeke.  Laasgenoemde moet reggestel word, en ‘n fundamentele rol van die organisasie sal wees om die probleme van ras te oorkom en nierassigheid in die praktyk uit te leef (as alternatief ten opsigte van die Regering se klem op ras).

IdV wys die vergadering op die versterkende rol van toegewyde werksaamhede  tesame met affiliasies, met spesifieke verwysing na die voorbeeld van RuDASA, wat ‘n stem gee aan mediese dokters wat in landelike gebiede werk. 

Die vergadering gesels vir ‘n wyle oor die kwessie van ‘n vakbond (word genotuleer onder punt 3.5), waarna KB voorstel dat die werksaamhede van die beoogde organisasie eers op Afrikaans en ‘n stem vir Afrikaanse skrywers fokus. Daarna kan die gesprek geopen word betreffende die insluiting van Engelse skrywers (wie se posisie eintlik slegter daar uitsien as dié van die Afrikaanse skrywers).  Daar sal dus ruimte gelaat word om ander in te sluit, maar Afrikaans sal die vertrekpunt wees.

LE sluit hierdie besprekingspunt af deur sy persoonlike mening te gee.  Die uitdagings waardeur die Afrikaanse letterkunde in die gesig gestaar word, verskil radikaal van die uitdagings voor die deur van die Suid-Afrikaanse Engelse of nasionale letterkunde.  As boekhandelaar bedien LE veral  Afrikaanse lesers en is ook op hulle gerig, vandaar dus die fokus op Afrikaans. Ook ten opsigte van Versindaba was daar druk om hierdie poësieblad oop te gooi vir ander tale en genres, maar die “pers koei”-beginsel geld hier: Wat jou onderskei, moet beskerm word.  Geen organisasie kan alles vir almal wees nie.  Die Afrikaanse letterkunde met ons lesers moet beskerm word.  Verskillende inisiatiewe kan ondersoek word, maar primêr moet Afrikaans as vertrekpunt geld.

LE vra hierop dat die vergadering stem oor die kwessie van ‘n Afrikaans gefokusde organisasie.  Die meerderheid van die vergadering is ten gunste daarvan, maar IdV en PO versoek dat hulle teenstem (m.a.w. vir  ‘n inklusiewe organisasie) genotuleer word.  PO stel voor dat ‘n verdere vergadering gehou word en dat ‘n ope uitnodiging aan alle Suid-Afrikaanse skrywers gerig word.  Johan Myburg (JM) stel voor dat ‘n werkkomitee spesifiek kyk na samewerking met ander organisasies, en dat hierdie komitee tydens ‘n volgende vergadering verslag doen oor moontlikhede in hierdie verband.

3.5 Die aard van die beoogde liggaam

LE stel die volgende kwessie aan die orde, naamlik wat die aard van die beoogde organisasie moet wees: ‘n unie, ‘n organisasie, ‘n vereniging, ‘n gilde of ‘n vakbond?

LE wys daarop dat ‘n vakbond regsimplikasies het - daar is byvoorbeeld hofaansoeke nodig en die organisasie het regsgeldigheid.  LE het reeds met Solidariteit geskakel en terugvoer van een van hulle senior bestuurders ontvang, wat behels dat die beoogde organisasie nie as vakbond kan registreer en dan by Solidariteit affilieer nie.  In so ‘n geval sal die organisasie as professioneledienstebedryf onder Solidariteit ingedeel word, naas byvoorbeeld die chemiese en rekenaarbedryf. Elk van hierdie bedrywe funksioneer onder ‘n bedryfshoof en ‘n bedryfsraad wat deur die lede genomineer en verkies word.  Telkens is die regte en belange van die betrokke bedryf egter die oogmerk, en nie ontwikkelingsprojekte nie.

Braam de Vries (BdV) som die situasie op deur te noem dat Media24 ‘n besluit geneem het sonder raadpleging.  Die klem moet dus wees op ‘n organisasie wat na die belange van skrywers kan omsien.  Ter sake is die volgende: Die belange van die Afrikaanse skrywer moet só gehoor word dat laasgenoemde inspraak het by groter organisasies.  Die twee dinge wat deur so ‘n organisasie benodig word, is geld en regshulp om die belange van die skrywer te dien.

DM sê dat hy ten dele met BdV saamstem.  Alhoewel hy persoonlik gekant is teen groeperings en vergaderings, is daar nou ‘n behoefte aan ‘n drukgroep.  Die vraag raak egter: Hoe ver moet daar gegaan word om druk uit te oefen?  Sonder druk sal daar egter niks gebeur nie. In ‘n land soos Brasilië is gevind dat die meeste koerantlesers slegs die koppe van kunsblaaie lees.  Ingeligte lesers mis egter ‘n onafhanklike publikasie soos Vrye Weekblad.  Groot korporasies sal egter aanhou funksioneer met markbeginsels in gedagte, en dus is ‘n drukgroep nodig.  Hierdie groep kan egter nie almal insluit nie.

LE vra hierop of daar dus nou afstand gedoen word van die idee van ‘n vakbond?  Nicol Stassen (NS) meld hier dat vakbonde optree vir die belange van werkers teenoor hulle werkgewers.  AB verduidelik dat dit by vakbonde veral oor mag gaan, byvoorbeeld draaiboekskrywers wat staak en die filmbedryf daardeur seermaak.  Hy is egter onseker of ‘n skrywersorganisasie oor mag gaan beskik.  AB verduidelik ook kortliks dat die wortels van Solidariteit in die yster- en staalbedryf gevind kan word.  Belangrik ten opsigte van ‘n skrywersorganisasie is dat indien daar op ‘n boikot besluit sou word, dit afgeforseer moet kan word met sanksies teenoor diegene wat nie daarmee saamgaan nie.  AB noem dat ‘n vakbond goeie regsgeleerdes en ander hulpbronne sal benodig, dus affiliasie ook met ‘n groter beweging.  Morele of simboliese mag moet egter nie uit die oog verloor word nie, en die beoogde organisasie moet hierop bou.

LE som op en stel dat daar nie duidelikheid bestaan oor die aard van die beoogde organisasie nie, maar dat dit duidelik is dat daar behoefte is aan ‘n organisasie wat bedingingsmag aan skrywers sal gee.  AB stel voor dat  ‘n loodskomitee hierdie kwessie verder ondersoek en rapporteer.  LE noem dat dit ook ‘n kwessie van benaming is en dat die verskillende moontlikhede mekaar nie noodwendig uitsluit nie.

3.6 Lidmaatskap: Skrywersbelang of boekbelang?

LE stel die kwessie van lidmaatskap aan die vergadering as volgende punt.  Daar moet besluit word of die beoogde organisasie ‘n skrywersorganisasie of  ‘n boekorganisasie sal wees, en dit sal lidmaatskap asook projekte bepaal.  ‘n Keuse vir boekbelange sal indirek ook skrywersbelange insluit, terwyl ‘n keuse vir skrywersbelange ander belanghebbendes sal uitsluit.  LE vra die vergadering of hulle ten gunste van ‘n groter belangegroep is.

BdV stel ‘n inklusiewe liggaam voor, naamlik ‘n Afrikaanse boekorganisasie.  Die kwessie van opponerende belange word geopper, maar BdV wys daarop dat gesprekke oor botsende belange dan juis in die oopte gevoer kan word; BB noem ook dat daar ruimte vir debat sal wees.  BB wys ook daarop dat die insluiting van leeskringe en hulle lede die ledetal van die beoogde organisasie aansienlik kan vergroot, wat die stem na buite verder sal versterk.  Die vergadering aanvaar die voorstel van ‘n inklusiewe organisasie.

Loodskomitee en werksaamhede

Karin Brynard (KB) stel voor dat ‘n loodskomitee daargestel word en Ingrid Winterbach (IW) sekondeer die voorstel.  LE noem agt moontlike werksaamhede van die organisasie wat deur die loodskomitee ondersoek kan word, naamlik: 1.) Kommunikasie (persverklarings, omsendskrywes ens.); 2.) onderhandeling ten einde skrywersbelange te verteenwoordig; 3.) skakeling met ander rolspelers in die boekbedryf en ander deelgenote; 4.) koördinasie van leerskole, seminare ens.; 5.) daarstelling en instandhouding van betroubare bronne; 6.)verkryging en administrasie van ‘n ontwikkelingsfonds; 7.) verspreiding van relevante inligting d.m.v. ‘n nuusbrief en ander kennisgewings; en 8.) die werf van lede en administrasie van ledegeld.

Die vergadering stel 12 persone voor wat moontlik op die loodskomitee kan dien, mits hulle daartoe bereid is.  Hulle is (in alfabetiese volgorde): Andries Bezuidenhout, Gerrit Brand, Breyten Breytenbach, Kerneels Breytenbach, Willie Burger, Marga Collings, Willem Fransman, Amanda Lourens, Danie Marais, Desmond Painter, Steward van Wyk en Andries Visagie.  Die persone wat nie by die vergadering teenwoordig is nie, sal deur LE genader word.  BB word voorgestel as sameroeper van die loodskomitee.  Die notule sal binne ‘n week beskikbaar wees en onder die teenwoordiges gesirkuleer word.

Amanda Lourens
(Notuleerder)

22 Maart 2011