Monday, November 8, 2010

Mutsuo Takahashi - Drie portrette

Mutsuo Takahashi



Portret van myself aan die begin
Mutsuo Takahashi

’n Jongman hurk om sy veters vas te maak
Hoe delikaat lyk sy agternek nie
Die vlees van sy skouers beweeg lui & sloom
& die twee dye wat opstaan uit sy lendene is jonk & rond
(Die man-tepel styf vasgedruk tussen lieste is blaspienk)
Die helder openhartige kykers van ’n stil jong dier
stip op die vingers wat die veters knoop
Maar die knopende vingers droom verdiep
van die gebied ’n entjie hoër op
van die fles van sy buik lenig soos dié van ’n honger wolf
waar hulle sal speel met sagsinnige Eros wat skuil in sy dun huid
wat nou sluimer in sy luisterryke sagte grasse
Die jongman staan op & begin loop heeltemal kaal
behalwe vir sy opgerygde stewels
Hy hou aan met loop & word oud
’n ou man wat sy gesig verhard & nooit terugkyk nie
Maar agter die ou man buk ’n jonge dikwels om sy veters vas te knoop
& staan op & begin loop
vir die soveelste keer.


[Vertaal deur Johann de Lange]



Portret van myself by ‘n loergat
Mutsuo Takahashi

Here, wanneer sal dit gebeur?
Hoe lank nog voor u besoek?
Ek kniel hier op die smadelike vloer, wagtend;
voor my prente van gevlerkte engele & heiliges.

In die middel van die muur & versier
met heilige inskripsies in silwer & goud
’n gloriegat: u stralende besoek –
het die tyd daarvoor nog nie gekom nie?

O dán sal ek voor U kniel,
koorsig my lippe oopmaak, droog & gebars van dors,
soos daardie skrikwekkende profeet gesê het,
& my mond vul met U.

U gewyde gulp sal gul oorvloei,
reën in my oopgesperde oë, my mond,
oor my kortgeskeerde kop met jong gryshare.

In u weergalose medelye sal ek, soos een verkrag,
my oë toemaak asof ek ly, & snak. . .
Wanneer sal dit gebeur? Hoe lank nog voor U kom?

Met dié woorde het die gesig soos ’n wynsak
waaruit die wyn gelek het in plooie teruggesak.
Met dié openbaring skaars verby,
nog knielend voor die toilet,

die muur bedek met banale graffiti,
het van die ander kant deur die gloriegat
in die middel van die muur
’n droë oog vurig teruggegluur.


[Vertaal deur Johann de Lange]



Myself met ’n motorfiets
Mutsuo Takahashi

Motorfiets, die rytuig van langhaar gode.
My god spog met ’n eikelvormige versierde kroon wat ons ’n valhelm noem,
steek sy bene met lang skene in asuurblou jeans
trek swaar stewels aan beslaan met baie goue klinknaels,
& snel deur die skemer van purper gode.
Juis nou, halfpad op die kliptrappe agter ’n teater, byvoorbeeld,
is my god in die middel van ’n bloedgeurende sameswerende gesprek met ander langhaar gode.
Hulle jeugdige sameswering is te stralend, te welriekend
vir my, wat aan die onderpunt van die strappe verbystap, om helder te onderskei.
Onder die trappe, is dit net die god se saal van staal wat straal soos ’n lewende ding.
Ek raak aan die motorfiets, veral die deel van die saal wat sopas vasgegom was aan die sitvlak van my god,
steeds die hitte van sy boude behou.
My god eet Kentucky fried chicken, drink Coca-Cola,
& uit die gleuf van sy lieflike boude die kleur van dagbreek werp hy stront.


[Vertaal deur Johann de Lange]