Friday, November 19, 2010

Abraham Sutzkever - Drie verse

Abraham Sutzkever


Ure
Abraham Sutzkever

Jy onthou toe jou ure
een vir een gebore is:
elke uur – ’n ander tint en lot.

Nou staan jy voor die ure, krom:
all die giwwe saamgemeng
deur ’n gek apteker.

In ’n vysel, in die donker,
meng hy blindelings en in haas:
yster, pêrels, kruie, narkotika,

al die Daar’s en al die Hier’s,
in een konkoksie wat oorweldig –
Hy laat jou drink vir ure.

***

Van myself na myself
Abraham Sutzkever

Hoe lank is die pad van myself na myself?
Soms ’n halwe oomblik,
dis al. Hier is heelheid. Maar ’n slang
op die pad tussen twee hekke.
En soms is sewe wêrelde, sewe winters lank
die korste pad van jouself na jouself.

***

uit Ekstases
Abraham Sutzkever

Toe ek met oë toe
’n gedig skryf, is my hand
meteens verbrand,
& toe ek weer begin
vanuit die swart vuur,
het die papier ’n naam
geadem soos ’n lelie: God.
Maar my pen, in ontsag & verwondering,
het die woord uitgekrap
& in die plek daarvan
’n bekender woord geskryf: Mens.

Sedertdien spook ’n ongehoorde stem
by my soos ’n onsigbare voël
wat pik, pik aan die deur van my siel:
– Het jy my vir dit verruil?


Vertaal deur Johann de Lange